Al die gedebat oor die duiwel en sy bestaan laat my nogals dink aan die bekende en gewilde speletjie wegkruipertjie. Die geheim is mos om so diep as moontlik weg te kruip en einde ten laaste almal te verras met daardie gevreesde triomfkreet: “1-2-3, Blok myself!” Dis nooit cool vir die een wat moes soek nie, want sy vernuf is uitoorlê. Dis wel goed vir die een wat so briljant kon wegkruip.

Die tergende hiervan is daardie ervaring van die een wat die heeltyd soek. Dit speel tussen frustrasie (“ek weet hy / sy moet hier iewers wees”) en bekommernis (“hoop net nie hy blok homself nie”). 

Nou lees ek daar is hierdie soektog na die duiwel. Sommige geleerdes soek hom in die mens self. Ja, hulle reken hy is nie ‘n werklikheid nie, maar die uitdrukking van boosheid wat in die mens te vinde is. Dit kan natuurlik met allerhande tipes behandeling en medikasie uitgesorteer word. 

Dan sien ek daar is dié wat hom jou wrintiewaar in die bladsye van die Ou Testament gaan soek, maar helaas, kry hulle hom net nie mooi vasgevat nie. Dr Gerda de Villiers skryf ‘n artikel hieroor en kom tot die volgende slotsom:

Die konsep van die satan as ‘bose’, as die Here se aartsvyand in die Ou Testament moet afgewys word. Selfs waar die hy die mens leed aandoen of beskuldig, staan hy steeds onder gesag van die Here, en tree nie as sy teenpool op nie. Satan as persoon, as vyand van die Here was nie deel van Ou Israel se geloof nie. Wanneer ons die Ou Testament lees, moet ons hierdie wêreld in gedagte hou, en versigtig wees om die latere duiwel van die Nuwe Testament en Christelike kerk in tekste in te lees. Want die Ou Testament ken hom nie.”[1]

Met hierdie gevolgtrekkings skep sy natuurlik ‘n spanning tussen die Ou en Nuwe Testamente, asof hulle dan nou niks met mekaar te make het nie. Dit is duidelik dat die Nuwe Testament vir haar nie gebruik moet word om die Ou Testament verder te belig nie, en ook te verstane, want dit sou te moeilik wees om al die gegewens weg te argumenteer. Tensy jy natuurlik Dr Ben du Toit se benadering volg, naamlik dat die Bybel ‘n voorwetenskaplike versameling geskrifte is en die wetenskap nou uiteindelik in ‘n postmoderne samelewing die duiwel bestaan nie. Hiervolgens is alles net die taal van die voorwetenskaplike denke.[2] Stroop dit weg, dan het jy nie meer die probleem nie! Ons lees die benadering natuurlik in hierdie slotsom van De Villiers hierbo: 

Wanneer ons die Ou Testament lees, moet ons hierdie wêreld in gedagte hou …

Tipiese postmoderne denkproses wat hier toegepas word op antieke tekste. Tog dink ek nie ‘n ernstige benadering tot hierdie vraag kan gedoen word sonder om die eenheid van die Skrif in gedagte te hou nie. Daar loop nogals ‘n goue draad deur die Skrif oor ‘n hele paar temas. Dit is insiggewend dat Openbaring 12:9 na die draak verwys as 

die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei … (sien ook Openbaring 20:2).

Duidelik verwys Openbaring ons terug na Genesis 3 waar die slang met Eva praat. Openbaring identifiseer verder die draak in vers 10 is hy “die aanklaer van ons broeders”. Wat ‘n uitstekende verklaring bied die Bybel self nie oor hierdie wese wat in Genesis 3 met Eva aan die klets raak nie! De Villiers soek die duiwel in die Ou Testament, en maan nogals ewe braaf dat ons nie die Nuwe Testament moet betrek by die soektog nie – dit is geen wonder nie dat sy hom nie daar raaksien nie! Amper dieselfde as Ben du Toit wat reken ons moet nie die Bybel as ‘n geheel lees om daaruit sekere sake te verstaan nie.[3] Hoe anders! Dit is ons eeue oue belydenis dat die Skrif verklaar homself en daar is ‘n duidelikheid en eenheid in die samestelling van die Skrif wat moeilik ontken kan word. Jy kan nie die Nuwe Testament uitsluit as jy die duiwel wil vind nie. Die Nuwe Testament werp lig vanuit die persoon van Christus op hierdie tema.

Behalwe vir die plekke waar Jesus duidelik met die duiwel in konfrontasie was, is daar talle ander plekke wat probleme skep vir die interpretasies van Du Toit en De Villiers. Een so ‘n gedeelte vind ons in 1 Johannes 3:9:

Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore. Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.

Johannes is hier besig om te skryf oor die fantastiese groot liefde van God wat daarin geopenbaar is dat ons kinders van God kan wees en ‘n ander toekoms en nuwe natuur het deur Christus. In vers 7 kom die vermaning dat die gelowiges hulle nie moet laat mislei oor die oorsprong van iemand se optrede nie. Dit verduidelik Johannes dan deur die onderskeid te tref tussen die kinders van God en die kinders van die duiwel.

Wat opval is wat ons oor die duiwel self leer in hierdie gedeelte:

  • hy word as ‘n persoonlike wese beskrywe met eienskappe wat vir die mens verstaanbaar en beskryfbaar is

  • hy sondig van die begin af (v8)

  • Christus het gekom om sy werke te verbreek (v8)

  • sy werke word in die mens geopenbaar as sonde (v8), ongeregtigheid (v10) en liefdeloosheid (v10)

  • hy word gestel as direk teenoor God, alhoewel nêrens ‘n aanduiding van gelykheid nie

Konsekwentheid in uitleg skep natuurlik ‘n bietjie van ‘n probleem vir dié wat sy persoonlike aard ontken, want dan moet jy natuurlik ook die persoonlike aard van God ontken. Sien, as Johannes met ‘n primitiewe wêreldbeeld hier geskrywe het en na God en die duiwel met persoonlikheidseienskappe verwys, dan moet dieselfde ook geld vir die regstelling wanneer die “korrekte”, postmoderne wetenskaplike benadering gevolg word. Dit sal dan neerkom op: 

die duiwel bestaan as persoonlike wese nie, dus bestaan God ook nie as persoonlike wese nie …

Tog, lees ons in die Bybel dat God wel bestaan en dat sy onsigbare eienskappe van die skepping af kenbaar is vir die mens. Die Hebreërskrywer is nogals duidelik oor geloof in die bestaan van God:

Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie… En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek. (11:3,6)

Natuurlik is die geloof gerig tot God soos ons Hom in die Skrif leer ken en soos Christus Hom aan ons kom openbaar en kenbaar kom maak het, en nie soos die talle ander buite-bybelse sienings oor God nie. 

Kom ons dus terug by ons gedeelte in 1 Johannes 3, moet ons hier oor die beginsel van konsekwentheid toepas: indien God as persoonlike wese bestaan, en die bybel in hierdie gedeelte die duiwel teenoor Hom stel, dan is die logiese konsekwensie dat die duiwel ook as persoonlike wese bestaan. Diegene wat die duiwel op grond van postmoderne denkprosesse wil herinterpreteer, moet daardie redenasies deurvoer na die bestaan van God as hulle konsekwent wil wees in hulle uitleg. 

Dit lyk dus dat die Skrif vir ons leer dat die duiwel wel te vinde is, en nie ‘n figuurlike versindsel nie. Diegene wat so ernstig probeer om die duiwel nie te kry nie, moet weet dat hul eie inkonsekwente skrifhantering hulle wreed ontnugter gaan laat. Ek is bevrees dat die soektog van die dwaalleraars na die duiwel (of probeer hulle hom juis wegsteek!) vir hulle gaan eindig in die wrede ontnugtering van 

1-2-3, Blok myself!!

en dan is dit helaas te laat.

Voetnotas

1. Satan in die Ou Testament?
2. Dr. Ben du Toit, God? Geloof in ‘n postmoderne tyd, CLF Uitgewers, 2000.
3. ‘Wat sê die Bybel?’

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *