Inleiding

[Onlangs het ons begin met ʼn studie van die Apostoliese Geloofsbelydenis. Wat volg is die eerste sessie hiervan, Hierdie sessie is inleidend oor belydenisskrifte.] 

Waarom Belydenisse?

Voordat ons kan inspring in die studie van die Apostoliese Geloofsbelydenis (AGB), is dit eers nodig om uit te klaar waarom die belydenis van die kerk, en daarom dan die gelowiges, so belangrik is – eintlik noodsaaklik – is. Aan die begin van hierdie studie wil ek die stelling maak dat die kerk nie sonder ‘n belydenis kan funksioneer nie, en verder dat geen kerk homself sonder een of ander vorm van ‘n geloofsbelydenis bevind nie. Dit is duidelik wanneer ons die aard van belydenis reg verstaan. Op ‘n baie eenvoudige vlak is ‘n stelling soos “Ek glo Jesus is die Seun van God”, of “Jesus het aan die kruis gesterf vir my sonde”, of “Jesus is uit ‘n maagd gebore” niks anders nie as geloofsbelydenisse. Daardeur verklaar die persoon wat dit uitspreek ‘n sekere oortuiging waarvan hy of sy oortuig is, en moontlik waarvolgens daardie persoon sy lewe inrig.

Om hierdie stelling verder uit te brei en beter te verstaan, is dit nodig om ‘n paar aspekte te ondersoek, onder andere die voorkoms van belydenisse in die Bybel, die verband tussen die Bybel en die geloofsbelydenis, en die belangrikheid van leerstellige suiwerheid.

Belydenisse in die Skrif

Die openingswoorde van die Bybel is alreeds ‘n kort en bondige belydenis oor die oorsprong van die skepping (Genesis 1:1). Sonder vreeslike omhaal van woorde word aan ons meegedeel dat alles wat bestaan hul oorsprong te danke het aan die Skeppergod. Soos hierdie belydenis in die eerste woorde van die Skrif, wemel die Skrif van sulke belydenisse. Ons kan onmoontlik op almal hier ingaan, maar dit is nodig om ‘n paar daarvan hier uit te lug, beide uit die Ou sowel as die Nuwe Testamente.

Deuteronomium 6:4, ook bekend as die Shema Jishrael (Hoor, Israel), is seker een van die bekendste belydenisse oor die wese van God en sy persoonlike betrokkenheid by sy volk. Die volk word dan ook opgeroep om ag te gee hierop:

Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE (sien ook Mark 12:29).

Op die vooraand van die volk se inname van die beloofde land, is hierdie die een waarheid waaraan hulle moet vashou: daar is geen ander God soos hierdie God wat Homself persoonlik aan die volk verbind het nie. Dit het Hy dan ook op verskeie wyses bewys, naamlik wonders, tekens, die verbond, en die gee van die Wet op die berg. Hierdie belydenis word in die Nuwe Testament herhaal, hierdie keer in die konteks van afgode en voedsel aan hulle geoffer. Paulus is baie duidelik dat ons weet “‘n afgod niks in die wêreld is nie, en dat daar geen ander God is nie, behalwe Een” (1 Korintiërs 8:4). Paulus verdiep egter die belydenis om dit op Christus van toepassing te maak:

tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom (1 Korintiërs 8:6).

Waar Moses in die Ou Testament net verwys na die een God, uniek en enig in sy soort, verduidelik Paulus dat hierdie God dit is in sy Drie-Enige gestalte.

‘n Tweede belydenis wat in die Ou Testament na vore kom, vind ons in 1 Konings 18:39. Die aanloop hiervan is die baie bekende verhaal waar Elia die Baal priesters uitdaag om te bewys wie die ware God is. Nadat hulle vir ure aaneen, van erg na erger aangegaan het om hulle gode oor te haal om tog net hulle mag te kom vertoon, tree Elia tussenbeide en na alle voorbereidings, steek God die offer op die altaar self aan die brand (1 Konings 18:38). Hierop val die volk Israel op hulle aangesig neer en bely:

Die HERE, Hy is God, die HERE, Hy is God! (vers 39)

In teenstelling met die (nie)gode wat die wêreld aanbied, is daar in der waarheid maar net een God, en dit is Jahwe, die God van Israel, en sal later duidelik word, die Drie-Enige God wat Homself aan die mens verbind deur die verlossing wat bewerk is deur Homself, of dan die tweede persoon in die Godheid, naamlik Jesus Christus. In die Nuwe Testament word ons geleer dit is Hy wat die bose magte onttroon en as ‘n openbare spektakel meesleur in sy triomftog (Kolossense 2:15).

Ons vind natuurlik in die boek Daniël aangrypende belydenisse van heidense konings wat tot kennis van die ware God gekom het, en dan kragtige verklarings uitgereik het. Nebukadneser is natuurlik die eerste hiervan. Nadat God hom verneder het om sy hoogmoed te breek, sê hy:

En ná verloop van tyd het ek, Nebukadnésar, my oë na die hemel opgeslaan, en my verstand het in my teruggekeer, en ek het die Allerhoogste geloof en Hom wat ewig lewe, geprys en geëer, wie se heerskappy ‘n ewige mag en wie se koningskap van geslag tot geslag is. En al die aardbewoners word as niks geag nie, en na sy wil handel Hy met die leër van die hemel en die bewoners van die aarde, en daar is niemand wat sy hand kan afslaan en vir Hom kan sê: Wat doen U nie?  Nou prys ek, Nebukadnésar, en ek roem en eer die Koning van die hemel: al sy werke is waarheid en sy paaie is reg, en Hy kan verneder die wat in hulle trotsheid wandel (Daniël 4:34-35, 37).

Die aard van hierdie studie verhoed ons om in te gaan op die detail van sy belydenis oor God, maar hierdie belydenis is bewys hoe God een mens se lewe kan omswaai.

Ons lees ook van koning Darius wat tot dieselfde daad van belydenis kom wanneer God Daniël uit die leeukuil red:

Deur my word bevel gegee dat hulle in die hele magsgebied van my koninkryk moet bewe en sidder voor die God van Daniël, want Hy is die lewende God en Hy bestaan in ewigheid en sy koninkryk is een wat nie vernietig kan word nie en sy heerskappy duur tot die einde toe. Hy verlos en red en doen tekens en wonders in die hemel en op aarde, Hy wat Daniël uit die mag van die leeus verlos het (Daniël 6:26-27).

Ons kan nie die gedeeltes in Jesaja verbygaan wat God as die Skepper besing en die konsekwensies daarvan vir die skepping uitspel nie. Vanaf veral hoofstuk 40 van sy profesie, wys Jesaja hierop, veral met die doel om God se onvergelykbaarheid met ander gode aan te dui.

Ons kan na nog vele soortgelyke belydenisse in die Ou Testament verwys, persoonlik sowel as kollektief, veral in die wysheidsliteratuur. Die Psalms is vol van getuienisse oor God en die geloofslewe, sowel as die individu of die volk se verhouding tot Hom. Ons skuif egter na die Nuwe Testament. In die Mattheus Evangelie lees ons Jesus se vraag aan sy dissipels wie hulle sê Hy is. Petrus se belydenis (16:16) is volgens Christus alleen moontlik deur die openbaring van die Vader deur sy Gees (16:17). Hierdie belydenis sal dan ook die basis vorm vir die bestaan van die kerk (16:18).

Oor Jesus skrywe Paulus die volgende:

Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red (1 Timoteus 1:15)

en ook:

Dit is ‘n betroubare woord; want as ons met Hom gesterf het, sal ons ook met Hom lewe (2 Timoteus 2:11).

Twee aangrypende belydenisse oor die inkarnasie van Christus, sy dood en opstanding en die effek op die gelowige se lewe. Hierby kan ons ook gedeeltes voeg soos byvoorbeeld Johannes 1:1, wat nou aansluit by Genesis 1:1, asook Kolossense 1:15-21 wat ‘n geweldige ryk belydenis is oor die wese van Christus. Verder Filippense 2:6-11 oor die vernedering waardeur Christus moes gaan in sy mensheid en die daaropvolgende verheerliking tot aan die regterhand van die Vader, wat natuurlik sal eindig in die universele belydenis dat Jesus die Here is.

Hierdie is maar ‘n paar gedeeltes waar daar in die Skrif spesifiek bely word oor die wese van God, Christus, die verlossingsplan en uitrol daarvan. Dit is dus duidelik dat die Bybel ‘n baie sterk belydenisgeoriënteerde boek is, waarin individue sowel as die volk Israel in die Ou Testament en die kerk in die Nuwe Testament kollektief, sekere waarheidsuitsprake maak van dit waarvan hulle oortuig was en wat hulle geloofslewe bepaal het. Kyk ons na hierdie gedeeltes is dit baie duidelik dat om te bely is in sy diepste wese om dit waarvan jy oortuig is op so ‘n wyse te verwoord dat dit nie slegs ‘n stelling is wat beïndruk nie, maar jou lewe te diepste raak en bepaal. ‘n Belydenis is dus leerstellige oortuiging sowel as ‘n gevolglike veranderde lewenswyse.

Belydenisskrifte se verband tot die Woord

Dit is egter nodig om te kyk na die verband tussen die geloofsbelydenisse wat in die verloop van die kerk se geskiedenis ontwikkel het, en hierdie belydenisse wat direk in die Skrif opgeteken is. Niemand sal dit ontken dat daar ‘n wesenlike verskil is tussen hierdie twee kategorieë van belydenisse nie. Die basiese beginsel van die Skrif as geïnspireerde Woord van God en die finale bron van gesag rakende sake van geloof en lewe (met ander woorde die gedagte van Sola Scriptura), dwing ons om op verantwoordelike wyse te vra waar pas die belydenisskrifte dan in. Is ons nie besig om die gesag van die Skrif te ondermyn deur hierdie belydenisse aan te neem en te ondersteun nie?

Die verhouding kom neer op die beskouing van gesag. Die beginsel van Sola Scriptura dwing ons om daaraan vas te hou dat die Skrif die finale gesag is en dat alle ander gesag hiervan afgelei word. Dus het die belydenisskrifte wat ontstaan het, slegs afgeleide gesag en nie primêre gesag nie. Dit is ‘n belangrike onderskeid wat nie verkeerd verstaan moet word nie. Die Bybel is die onfeilbare, geïnspireerde Woord van God en is daarom die vormende, of dan, normerende gesag. Dit beteken die Skrif se gesag word van niks anders buite homself afgelei nie en dit dra gesag omdat dit God se Woord is.

Hierteenoor is alle buite-bybelse dokumente, insluitende die belydenisskrifte, feilbare dokumente wat deur mense saamgestel is. Dit het slegs afgeleide gesag, en die bron hiervan is die Woord. Waar die Skrif normerend is, is die belydenisse genormeer. Die Bybel verleen dus gesag aan die belydenisskrifte en nie andersom nie. Daarom staan die belydenisse in gesagsorde onder die Skrif en nie gelyk, of selfs bo die Skrif nie.1

‘n Verdere belangrike beginsel wat hierby aansluit is dat dit aanvaar word as “in ooreenstemming met” die Skrif en nie as “in soverre dit ooreenstem nie.” Laasgenoemde sou dan ruimte laat dat in so ‘n belydenis daar wel gedeeltes kan wees wat nie skriftuurlik is nie, of dan nie die leer van die Skrif in al sy aspekte onderskryf nie. Slegs dié gedeeltes wat dan sou ooreenstem met die Skrif, sou dan aanvaar word. Die vraag hier sou ook kon wees watter gedeeltes sou ooreenstem, en dit kan vaag raak, aangesien daar nie altyd duidelike riglyne is deur diegene of groepe wat hierdie siening handhaaf nie. Dit behoort duidelik te wees dat dit ‘n gevaarlike posisie is om in te neem en maak eintlik so ‘n dokument niks anders nie as ‘n gewone dokument waarmee iemand kan saamstem al dan nie. As gevolg hiervan het hierdie benadering nie regtig ‘n bindende karakter op diegene wat hierdie tipe dokumente aanvaar nie, aangesien dit te enige tyd in twyfel getrek kan word. Dit is ook nie moeilik om te sien hoedat so benadering kan lei tot die verwerping van belangrike leerstellings nie, Verder maak dit ook die deur wyd ook vir die vorming van dwaalleer.

Hierteenoor is die beginsel dat belydenisse gewoonlik aanvaar word “omdat dit in ooreenstemming is” met die Skrif. Hierdie standpunt handhaaf die belangrike gedagte dat niks in die inhoud van die belydenisskrif enige leerstelling in die Skrif weerspreek nie, hetsy direk of indirek. Inteendeel, die positiewe word duidelik aanvaar dat dit ‘n korrekte en juiste weergawe en opsomming is van die leerstellings soos vervat in die Woord en hanteer in die belydenis. Gewoonlik het hierdie posisie ‘n bindende krag op die oortuigings en gewetens van diegene wat dit aanvaar, en daarom ontwikkel sulke dokumente mettertyd tot die status van belydenis binne ‘n geloofsgemeenskap. Hierdie posisie beteken hoegenaamd nie dat die belydenis onaantasbaar is nie. Dit hef geensins die menslike en feilbare aard daarvan op nie. Inteendeel, waar dit reg hanteer word, is diegene wat belydenisse op hierdie manier aanvaar, maar te bewus van die feit dat dit nie geïnspireer is soos die Bybel nie, nog minder dat dit onfeilbaar is.

Dit laat ons onmiddellik vra wat is dan die kriteria vir die aanvaarding van ‘n belydenis as ‘n bindende dokument binne ‘n geloofsgroepering? Om mee te begin, mag dit nie die gesag van die Skrif ondermyn deur of aanspraak te maak op onfeilbaarheid of deur die gesag van die Woord te ondermyn nie. Dit moet dus die gesag van die Woord op direkte of indirekte wyse handhaaf. Uit die bogenoemde is ‘n tweede kriteria dat die inhoud daarvan in geen opsig die leerstellings van die Skrif mag weerspreek nie, nie direk nie, en ook nie indirek nie. Dit mag daarom ook in geen opsig twyfel bring oor enige van die leerstellings wat dit hanteer nie. In die derde plek moet die inhoud daarvan kollektief deur die kerk getoets en aanvaar word. Dit beteken prakties dat die inhoud nie oornag ontstaan nie, en indien nuwe inhoud bygevoeg word, moet dit deur die kerk as geloofsgemeenskap getoets word aan die Skrif alvorens dit kan aanvaar word. ‘n belangrike beginsel hier is wat Paulus in 1 Timoteus 3:15 noem, naamlik dat die kerk die pilaar en grondslag van die waarheid is. Dit bring ons by ‘n vierde kriteria, naamlik dat dit voortdurend aan die Skrif getoets behoort te word. So word verseker dat die belydenis wel met die Skrif ooreenstem en dat die gesag daarvan aan die Woord ondergeskik is.

Leerstellige Suiwerheid

In die vorige afdeling is reeds daarna verwys dat ‘n belydenis in alle opsigte met die Skrif moet ooreenstem om enigsins aanvaar te word as ‘n belydenis. Ons moet hierop in bietjie meer detail ingaan, veral met verwysing na die rede vir die ontstaan van die belydenisse.

Daar is veral twee redes waarom belydenisse in die verloop van tyd ontstaan het. Die eerste is die onderrig van nuwe bekeerlinge. Namate die Christendom gegroei het, het die behoefte al groter en dringender geraak om die nuwe bekeerlinge te onderrig in die ware leer van die Christelike geloof. In ag genome dat die Skrif soos ons dit het, en dan veral die Nuwe Testament, in die eerste paar eeue na Christus nog nie vasgepen was nie, asook die feit dat die Christene ‘n vervolgde gemeenskap was, behoort dit duidelik te wees dat die vroeë kerk ‘n manier moes vind om die leemte aangaande nuwe gelowiges te kon hanteer. In die verskillende areas waar die kerk ontwikkel en gegroei het, is nuwe bekeerlinge dus onderrig in die waarheid en tydens doopgeleenthede getoets alvorens hulle as volwaardige lidmate aanvaar is. So sou die voorganger dan byvoorbeeld vra: “Glo jy in God, die Vader?”, waarna die antwoord as persoonlike belydenis sou wees: “Ja, ek glo in God, die Vader.” Hierdie was die ontstaan van meer uitgebreide stelsels van onderrig en ook die geboorteplek van die belydenisse.

‘n Tweede rede is natuurlik die ontstaan en groei in dwaalleer. Die kerk moes homself voortdurend beskerm teen die invloede van valse idees en filosofiese strominge, en moes so-ook die lidmate hierteen waarsku en leer. So is belydenisskrifte later gebruik as ‘n antwoord op verskeie dwalinge. So byvoorbeeld is die belydenis van Nicea aanvaar as ‘n antwoord op die dwaling van die Ariane, wat die godheid van Christus ontken het. Die belydenisse van die Gereformeerdes was onder andere bedoel om teen die Rooms Katolisisme die leer van die Skrif te verduidelik.

Daarom is dit belangrik dat ‘n belydenisskrif slegs as sodanig aangeneem behoort te word indien dit in sy volle omvang die suiwer leer van die Skrif ondersteun, onderskryf, en weergee. Waar dit nie die geval is nie, mag dit nie belydenis wees nie.

Voetnotas

1. Bogenoemde staan tegnies bekend as norma normans teenoor norma normata. Dit is Latynse begrippe wat die beginsel verduidelik dat die Bybel normerend is (norma normans) terwyl belydenisse afgeleide gesag het (norma normata).

Bibliography

Anonymous, “Apostles’ Creed.” Accessed Apr 12, 2014. https://www.biblicaltraining.org/library/apostles-creed

Aquinas, Thomas. “Thomas Aquinas: On the Apostles’ Creed.” Accessed Apr 12, 2014. http://dhspriory.org/thomas/Creed.htm

Baron, John. The Greek Origin of the Apostles’ Creed: Illustrated by Ancient Documents and Recent Research Oxford, London: Parker & Co., 1885

Calvin, John. The Institutes of the Christian Religion Grand Rapids, Michigan: Christian Classics Ethereal Library, 2002

Harnack, Adolf. The Apostles’ Creed edited by Thomas B. Saunders. Grand Rapids, Michigan: Christian Classics Ethereal Library, 1901

Hunt, Dave. How Close Are We?: Compelling Evidence for the Soon Return of Christ Eugene, Oregon: Harvest House Publishers, 1993

Jonker, Willie D. Bevrydende Waarheid: Die Karakter van die Gereformeerde Belydenis Wellington: Hugenote Uitgewers, 1994

Keith, Graham. “The Formulation of Creeds in the Early Church.” Themelios Volume 24 Number 1 (1998): 13-35

Kelly, J. N.D. Early Christian Creeds London, New York: Continuum, 1960

Knight, Kevin. “Apostles’ Creed.” Accessed Apr 12, 2014. http://www.newadvent.org/cathen/01629a.htm

Leith, John H. Creeds of the Churches New York: Anchor Books Doubleday & Company, Inc., 1963

Myers, Steve. “Three Days and Three Nights: Did Jesus Keep His Word?” Accessed Apr 12, 2014. http://www.ucg.org/doctrinal-beliefs/three-days-and-three-nights-did-jesus-keep-his-word/

Rufinus, Tyrannius. A Commentary on the Apostles’ Creed London: Methuen & Co. Ltd, 1916

Schaff, Philip. Creeds of Christendom, With a History and Critical Notes Vol.1 Grand Rapids, Michigan: Christian Classics Ethereal Library, 1877

—————— Creeds of Christendom, With a History and Critical Notes Vol.2 Grand Rapids, Michigan: Christian Classics Ethereal Library, 1877

Witsius, Herman. Sacred Dissertations on What Is Commonly Called the Apostles’ Creed Vol.1 A. Fullarton & Co. Edinburgh and Khull, Blackie & Co. Glasgow, 1823

——————— Sacred Dissertations on What Is Commonly Called the Apostles’ Creed Vol.2 A. Fullarton & Co. Edinburgh and Khull, Blackie & Co. Glasgow, 1823

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *