Die proses in die NG Kerk om die Belhar Belydenis aanvaar te kry, word verder geneem deur ‘n stel van vrae wat opgestel is en binnekort versprei gaan word. Die vrae volgens hierdie berig is 
  • Wie is God?
  • Wie is ons in Christus?
  • Vir wie maak God ons ’n naaste?
  • Hoe gebruik God ons in hierdie wêreld?
  • Wat vra God nou van ons?

Die sosiaal-maatskaplike inkleding van hierdie belydenis word ook ondervang in hierdie vrae. Kyk maar net na die laaste drie vrae wat duidelik daarop gefokus is. 

My verstaan van ‘n belydenis is eenvoudig die volgende: wat glo jy (en kollektief dus ook die lidmate van ‘n geloofsgemeenskap) aangaande die Christelike leer? Eers daarna kom die vrae oor die praktiese uitwerking van hierdie leer. Vrae oor Drie-Eenheid, Christologie, Verlossing, die Skrif, die Kerk, die Ewigheid is onder andere belangrike vrae wat beantwoord moet word ten einde ‘n soliede belydenis te kan opstel wat ‘n kerk (of dan geloofsgemeenskap as jy wil) kan saambind in die waarheid.

Waarom kon belydenisse soos die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Belydenisse van Nicea en Athanasius die toets van die tyd deurstaan en nog steeds so geweldig relevant wees vir vandag? Myns insiens juis omdat dit die kern elemente van belydenis op so ‘n verstommend kort en bondige wyse kon vasvang. 

Hoe kon belydenisskrifte soos die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreëls en die Nederlandse Geloofsbelydenis vir so lank die kerke van Gereformeerde belydenis voorsien van ‘n instrument wat saambind en opvoed en toerus tot diens? Weereens, dit bevat die kern kwessies wat die leer van die Christelike geloof verwoord op ‘n wyse wat dit vandag nog laat geld. 

Ons kan ook verwys na die Engelse belydenisse en Kategismusse wat vir eeue die engelse Gereformeerde kerke bedien het.

Hierteenoor vra ek vir myself die vraag: hoekom kry die Belhar dokument dit nie reg om met oorgawe aanvaar en erken te word nie? Dit is al in die tagtiger jare van die vorige eeu opgestel en is tot vandag to nog ‘n verdelende faktor in die NG Kerk. Ek wonder of net dit nie vir dié wat so druk om dit aanvaar te kry as ‘n belydenisskrif die gevaarligte moet laat flikker nie. Amper dertig jaar later en dit wil maar net nie lekker afgaan by ‘n groot getal lidmate nie.

Die argument is onmiddelik dat die lidmate oningelig is oor Belhar. Moontlik so, maar dan is die vraag: watter werklike bydrae gaan Belhar byvoeg tot die leer en lewe van die NG Kerk wat die ander ses nie kon regkry nie? Kan ons so naïef wees om te dink dat nog ‘n belydenis die ding gaan doen? Maar, is die argument, ons kort ‘n EIETYDSE belydenis. Goed, definieer dan EIETYDS, en dan is die vraag of die leer soos dit deur die eeue aan ons oorgelewer is, wat ons glo in ooreenstemming is met die Woord van God, dan nou nie meer EIETYDS genoeg is nie? Het die kern waarhede dan nou verander dat dit nie meer relevant is nie? Of word ons dalk voorberei vir ‘n LIBERALE her-interpretasie van die evangelie. Ons weet almal dat die ses1 huidige belydenisse ALMAL van die basiese oortuiging uitgaan dat die Skrif die WOORD van GOD is. Hierdie uitgangspunt is vandag onder aanvegting, selfs BINNE die NG Kerk. Belhar maak nie duidelik wat bedoel word met “sy Woord” nie. Is dit hareklowery om dit te vra? Nee, want selfs binne die NG Kerk heers daar ‘n standpunt dat die Bybel die “Woord van God WORD” in elke gegewe konteks. Daar is ‘n groot verskil tussen “is” en “word”. Dit is duidelik dat Belhar nie hierdie verskil gaan ondervang en uitsorteer nie, maar eerder ‘n tipe akkommodasie sal toelaat.

Die EIETYDSE / OUTYDSE aanklag moet nie voor die deur van sogenaamde ou en uitgediende belydenisse geplaas word nie. Dit is nie die belydenisse wat uitgedien en oudmodies geraak het nie. Dit is die kerk wat gefaal het om sy lidmate te leer wat in die belydenisse staan. Gaan vra maar enige jong katkisant van vandag wat die kernwaarhede van die Dordtse Leerreëls is. Ek wil my amper verstout om te sê min gaan weet wat die Dordtse Leereëls is, wat nog te sê die inhoud daarvan. Waarom is die Arminianisme so springlewendig binne die NG Kerk – selfs onder leraars en leiers? Omdat die NG Kerk die belydenisse op die boekrak geplaas het ter wille van ‘n EIETYDSE interpretasie van die Skrif. Die postmodernisme het ons gedwing om ‘n ervaringsmentaliteit te hê, op sogenaamd “missionaal” te dink oor die Evangelie. 

Binne so konteks is dit vir my nie verbasend nie dat daar nou gesoek word na ‘n ankerpunt nie. Dit is egter moeilik om nou terug te gryp na wat nog altyd bely is, want daardeur erken jy die relevansie van die “ou en uitgediende” belydenisse. Nee, vorentoe moet ons gaan, al is dit te koste van soliede, Skrifgefundeerde waarheid. Ek sien hierin die rede waarom ‘n kerk wat meer en meer ervaringsgeoriënteerd raak nou skielik ‘n belydenis so wil forseer. Ten minste is Belhar nie 400 jaar plus oud nie! Of is dit dalk sy ondergang? Dat selfs selfs na amper 30 jaar hy nog nie uit die nes kon kom om te vlieg en dieselfde drakrag te hê as sy bewese voorgangers nie.

Of is dit dalk politiek? Veral gesien in die lig van die onlangse syfers van “kerkverlaters” raak dit al meer ‘n desperate situasie. Behoede ons as ons begin om belydenisse te druk om ‘n breër lidmaatplatvorm te kry! 

Na my mening is dit nodiger om die belydenisse wat daar is weer onder die knie te kry, as om ‘n nuwe belydenis te druk wat wesenlik GEEN dinamiese verskil gaan maak aan die leer en lewe van die NG Kerk nie. Spandeer eerder al die geld en tyd en energie aan die afstof van dit wat die kerk deur die eeue verenig het. Ja, sluk dan maar die trots en erken dat oud is nie noodwendig outyds en uitgedien nie. Indien ons so moet redeneer, moet ons maar die Bybel ook wegbêre, want selfs dit is ouer as die oudste belydenis wat ons het. Moet ook asseblief nie kom met kranksinnige interpretasies van die belydenisse soos wat met die Apostoliese Geloofsbelydenis gedoen word nie. Dit is ‘n gegewene dat die kerk altyd relevant moet wees, maar die belydenis moet die Skrif as basis hê en nie die kultuur nie.

Is ek besig om die belydenisse te verhef tot ‘n ongesonde status? Geensins. Belydenisse is daar omdat ons kollektief glo dit is IN OOREENSTEMMING METdie Woord van God, en waar ons kollektief tot die oortuiging kom dat dit nie meer is nie, word dit kollektief so aanvaar en verander. Tot nou toe het dit nog met geeneen van die huidige ses belydenisse gebeur nie. Dit wil tog blyk of kollektief en Belhar nie so goed met mekaar rym soos wat dié wat dit wil aanvaar hê gehoop het nie. Die punt is dat belydenisse is ondergeskik aan God se Woord, maar daar moet goeie rede wees waarom ‘n belydenis verwerp of verwaarloos word.

Is hierdie vyf vrae genoeg om Belhar te toets? Verseker nie. Plaas dit langs die bestaande ses en vra dan die vrae wat hulle moes vra. Dit sal die toets wees of Belhar se vlerke geknip of gesprei moet word.

Voetnotas

1. Vir die wat wonder, die NG Kerk bely die 3 Ekumeniese belydenisse (Die Apostoliese Geloofsbelydenis, Die Belydenis van Athanasius en die Belydenis van Nicea) en die 3 Formuliere van Eenheid (Die Heidelbergse Kategismus, Die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls).

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: