trojan horse

Na aanleiding van die huidige stemproses oor die Belhar dokument en die verduideliking waaroor dit gaan, wil ek ‘n paar vrae en opmerkings op die tafel neersit.

1. Die belydenisse as identiteit van die Kerk

Daar word duidelik gesê dat die huidige ses belydenisse behou word soos dit is, aangesien dit ten diepste die identiteit van die NG Kerk uitbeeld. Tereg so. Die belydenisse is verseker die uitdrukking van die identiteit van ‘n kerkgroepering. Hiermee word die plek van die Skrif geensins genegeer tot waardeloos nie. Dit bly die ankerpunt en bron van die belydenisse, aangesien hulle bely word as “in ooreenstemming met” die Skrif. Indien die ander kant gekies word om dit te bely as “in soverre dit ooreenstem”, is dit moeilik om te sien hoedat iets wat nie in alle aspekte hoef ooreen te stem nie, die ware identiteit kan bepaal. Hoogstens lei dit tot ‘n soort skisofreniese identiteit wat kan verander na gelang van die mate van ooreenstemming.
 
Dit bring die vraag na die aanvaarding van die Belhar dokument onder die vergrootglas. Die beginsel van identiteit behoort dan logies te geld vir enige nuwe belydenisdokument wat bygevoeg word. Dus behoort die aanvaarding van ‘n nuwe belydenis die identiteit van die NG Kerk te beïnvloed, aan te pas, of selfs te vediep, en verseker die onderlinge eenheid te versterk. Dit is egter hier waar daar ‘n paar probleme met betrekking tot Belhar opduik. Belhar se voorgestelde aanvaarding is nie op dieselfde wyse as die ander 6 nie. Hierdie bestaande belydenisse word aanvaar as verpligtend. In die geval van Belhar is dit egter “vrywillig”, of anders gestel “sonder dwang”. Dit beteken in praktyk dat lidmate kan kies of hulle Belhar aanvaar al dan nie. Hierdie besluit skep eerder ‘n verwronge identiteit as wat dit die bestaande verdiep. Dit lei tot ‘n “ja-moontlik-nee” identiteit, waar die “ja” geld vir die bestaande, terwyl die “moontlik” en “nee” verwys na Belhar. Daar word gesê Belhar is nie dan nie ‘n belydenis vir diegene wat dit nie aanvaar nie. Die (on)logiese hiervan is natuurlik dat die beginsel van belydenisse as identiteit van die kerk verontagsaam word. Kerklike identiteit is tog nie vloeibaar en onderhewig aan die willekeur van die lidmate nie. Andersom geld eerder, naamlik dat mense lidmate word juis omdat hulle saamstem met die identiteit.
 
My vraag is dan uiteindelik waarom deur so ‘n groot oefening gaan om die “identiteit” van die kerk aan te pas indien dit in elk geval gaan oorgelaat word aan die willekeur van die lidmate? Die argument dat die belydenisse die identiteit van die kerk is word met hierdie benadering totaal verongeluk ter wille van ‘n gesplete identiteit. Uiteindelik bring dit niks anders as verwarring en verdeeldheid nie. Myns insiens kan jy nie die belydenisse oormerk as die uitdrukking van die identiteit van die kerk, maar dit dan aan die lidmate oorlaat of hulle daardie identiteit wil aanvaar nie. Soos reeds gesê, is lidmate juis lidmate as gevolg van die identiteit, en nie andersom nie.

2. Die doel heilig die middele

Dit bring my by my tweede opmerking, wat ek in hierdie verduidelikings sien, en dit is die eenheid met die VGKSA (Verenigde Gereformeerde Kerk Suid Afrika). Dit is duidelik dat daar ‘n besliste dryf hieragter is, en die aanvaarding van Belhar is ‘n baie besliste, indien nie dié instrument hierin. Strauss is hieroor duidelik:
 
“Die voorstel spruit daaruit dat die Belydenis van Belhar op aandrang van die Verenigende Gereformeerde Kerk nou langer as 20 jaar op die tafel van die NG Kerk lê.1
 
Het ons nie hier met ‘n pragmatisme te make wat daarop neerkom dat die doel heilige die middele – al is die middele nie die beste roete om te gaan nie? Verder, is kerklike eenheid hoër op die ranglys as ‘n standvastige identiteit? Is dit nie eerder nodig om seker te maak dt daar ‘n diepgaande en gefokusde konsentrasie is op die huidige identiteit, eerder as om verdere skommelings te veroorsaak nie? Die NG Kerk het tans ‘n affiniteit vir die liberalisme waar ervaring hoër geag word as leerstellige suiwerheid. Die antwoord lê verseker nie in ‘n oordrewe dogmatisme nie, nog minder in ‘n strewe na eenheid met ander kerkgroeperinge net ter wille van eenheid.
 
Die interessante aspek oor hierdie strewe na kerkeenheid met die VGKSA, is hoe die hulle die belydenisse beskou. Volgens ‘n artikel in die Kerkbode skrywe Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel soos volg:
 
Die VGKSA verstaan dat gereformeerde kerke aanvaar dat die onderskrywing van belydenisse sonder dwang geskied.2
 
en verder:
 
Die VGKSA meen dat daar nie onderskeid gemaak word tussen belydenisse nie. Wat geld vir die ekumeniese belydenissse en drie Formuliere van Eenheid, geld onverswak ook vir enige bykomende belydenis, ook vir die Belhar-belydenis: dat dit sonder dwang onderskryf word deur diegene wat dit glo, sonder bykomende kwalifikasies.3
 
Hoe verstaan die VGKSA dan die konsep “sonder dwang”? Sy skrywe hieroor:
 
Dit wil sê die opsionaliteit van belydenisse is dus nie ’n opsie in gereformeerde kerke nie. Daarom word daar gewoonlik in kerkordes nie voorsiening vir opsionaliteit gemaak nie. Veel eerder word mense wat ’n belydenis nie aanvaar nie, tot aanvaarding begelei.4
 
Opsioneel is nie ‘n opsie nie. Begeleiding tot aanvaarding is die antwoord. Ten minste in die opinie van die VGKSA. Die aanvaarding van Belhar in die NGK word as volg verduidelik:
 
Die argument dat Belhar deel van die belydenisgrondslag van die NG Kerk word, of jy nou daarvoor of daarteen is, hou ook nie rekening met die voorstel nie. Die voorstel lui dat Belhar in die belydenisgrondslag van die NG Kerk ingetrek word “op so ’n wyse” sodat dié wat wil, dit kan onderskryf en dié wat dit nie as belydenis onderskryf nie, die vryheid daartoe het. Vir hulle is dit nie ’n belydenis nie.5
 
Dus, “Belhar word op só ’n wyse aanvaar dat dié wat dit as belydenis aanvaar, dit kan doen en dié wat dit nie as belydenis aanvaar nie, dit ook kan doen.”6
 
Strauss verklaar hierdie posisie verder:
 
Die laaste puntjie in die voorstel lui dat daar by die aanvaarding van nuwe belydenisskrifte – anders as die huidige ses wat nie geraak word nie – geen dwang sal wees nie. Nie eens van my eie kerkraad of sinode nie.7
 
Dit klink vir my baie dat opsioneel tog ‘n opsie gaan wees in die NGK, en “sonder dwang” beteken “opsioneel” vir die NGK. Hierdie lyk vir my asof die strewe na kerkeenheid van die begin af beweeg van verskillende verstaan van kernbegrippe.
 
Daar is natuurlik die status van die bestaande belydenisse binne die twee kerkgroeperinge. Volgens Strauss raak die voorgestelde veranderinge nie die status en wyse van aanvraading nie. Dus bly dit in plek. Volgens die VGKSA behoort daar nie onderskeid gemaak word tussen belydeniss nie. In hierdie selfde asem word al 6 die bestaande belydenisse saam met Belhar in die VGKSA dus aanvaar “sonder dwang” (soos hierbo verduidelik). Watter impak gaan hierdie stand van sake hê op die siening van die NGK, en gevolglik dus die poging tot kerkeenheid? Wie sal buig ter wille van kerkeenheid?
 
Dit wil vir my voorkom dat hierdie pragmatiese stormloop binne die NGK nog groot kopsere vorentoe gaan veroorsaak. Dit oogmerk van eenheid tussen die kerke blyk alreeds na ‘n poging om ‘n dooie perd lewendig te probeer maak – selfs voor te gee dat hy lewe. Ek dink net dit gaan moeilik wees om ‘n dooie ding regop te hou – iewers val hy om en daarmee saam val hy ‘n paar mense dood. Ek wonder net of die NGK nie onwetend besig is om nog ‘n trojaanse perd toe te laat om die reeds wankelende denominasie nog swakker te maak nie.
 

Voetnotas

1 Strauss, Piet, 30 September 2014, Belhar: Waaroor presies moet NG Kerk stem?
2 Plaatjies-Van Huffel, Mary-Anne, 19 Maart 2014, Die VGKSA en Belhar
3 Ibid
4 Ibid
5 Strauss
6 Ibid
7 Ibid
 

Bibliografie

Plaatjies-Van Huffel, Mary-Anne, 19 Maart 2014, Die VGKSA en Belhar, Last Accessed 30 September 2014
Strauss, Piet, 30 September 2014, Belhar: Waaroor presies moet NG Kerk stem?, Last Accessed 02 October 2014

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *