Daar is veral twee momente in die aardse lewe van die Here Jesus wat sy koms na die wêreld as mens uiters betekenisvol maak. Wel, dit is ten minste die beskouing van diegene wat nog vashou aan die belydenis dat die Bybel is die Woord van God en dit is geloofwaardig. Onder die liberale teoloë word hierdie momente natuurlik bevraagteken en selfs afgewys as onwaar. 

Ek verwys na die gebeurtenis wat Jesus se geboorte oorskadu, naamlik die maagdelike geboorte en aan die ander kant van die spektrum die gebeurenis wat die geloof van die gelowige sin gee, naamlik die opstanding uit die dood. Die aard van albei hierdie gebeure is niks minder nie as onmoontlik – dis nou uit ‘n menslike oogpunt beskou. Tog bely gelowiges deur al die eeue heen dat juis hierdie twee momente van onmoontlikheid sin en betekenis gee aan die geloof. Die maagdelike geboorte bevestig Jesus as die Seun van God, wat gekom het as die vervulling van al die profesieë wat op die Messias betrekking het. Die opstanding, omdat juis dit die hoop van die gelowige op ‘n ewige toekoms saam met Christus verseker. Neem een of beide hierdie twee weg, en daar is nie meer ‘n Evangelie nie. Hierdie twee momente aan die begin en einde van die Here Jesus se lewe omarm sy hele menslike bestaan op so ‘n unieke wyse dat dit onmoontlik is om ‘n Evangelie daarsonder te bedink. Tog word albei hierdie momente deur die liberale teoloë deur die eeue al in twyfel getrek. 

Dr Ben du Toit maak ‘n interessante keuse tussen die twee onmoontlikes, wat dui op die inkonsekwentheid waarmee liberale teoloë die Skrif beskou. Daar moet onthou word dat Du Toit wegbeweeg het van die geloof dat die Skrif die Woord van God is, en dit dan spesifiek in die sin van die inspirasie deur die Heilige Gees. Dit is vir hom slegs woorde van mense oor God. Ek het al daarna verwys dat dit die eerste punt van dwaling is vanwaar alle ander dwalinge gewoonlik kom. As die Skrif dan nou nie meer vir hom die geïnspireerde Goddelike Woord is nie, dan moet hy noodwendig ‘n ander hermeneutiese sleutel aanwend om die bybel te interpreteer. Hiervoor gebruik hy die wetenskap, en dan spesifiek die postmoderne hantering daarvan. Dit is nie plek om hier die postmodernisme op sy eie te analiseer nie. Wat wel van belang is, is dat die postmodernisme uitgaan van die standpunt dat daar nie meer so iets soos ‘n absolute waarheid kan wees nie. Die Skrif, as geopenbaarde bron van waarheid vir die kerk, word dus geheel en al onttroon en betwyfel. Hoe meer onsekerheid en twyfel in hierdie denkraamwerk, hoe beter!

‘n Verdere eienskap van die postmodernisme is die dekonstruksionisme, waar taal basies ontrafel word en ‘n ander betekenis aan terme gegee word. Daarom is dit nie vreemd om ander inhoud aan konsepte soos maagdelike geboorte, opstanding en hemelvaart te gee nie. Die oorspronklike verstaan van hierdie terme deug in die postmoderne denke nie meer nie, dus word dit nou afgebreek om van voor af nuwe inhoud te ontvang wat meer verstaanbaar én aanvaarbaar is vir die postmoderne mens.

Dit is teen hierdie agtergrond dat Du Toit se hantering van hierdie twee momente van maagdelikheid en opstanding verstaan moet word. Hy gebruik die postmodernisme as sy verstaansraamwerk. Tog is hy inkonsekwent aan sy eie manier van uitleg. Daar is wesenlik geen verskil tussen die twee nie. Nie een is menslik moontlik nie. In die geskiedenis gebeur swangeskap slegs op een manier en uit die dood opstaan is nou nie juis ‘n normale tydverdryf vir die mens nie! Tog maak Du Toit die keuse om die maagdelikheid van Jesus se geboorte niksseggend te maak, terwyl die opstanding vir hom werklik kon gebeur! Ja, Christus het wel uit die dood opgestaan! Hierdie ontmoontlikheid in die postmoderne denke het skielik moontlik geword. 

Die vraag is onmiddelik op wat sy keuse vir die opstanding as waar en die maagdelike geboorte as onnodig vir die geloof behels. Oor die maagdelikheid van Maria by Jesus se geboorte hanteer hy ‘n spul twyfelagtige vrae (nie een beantwoord uit die Skrif nie). Vir Du Toit is die maagdelike geboorte nie “fundamenteel” tot die Christelike geloof nie, terwyl die opstanding wel is. Dit is dan op grond van hierdie “fundamentele” plek wat die opstanding volgens hom speel, dat hy besluit om dit te ondersteun. Die opstanding is “behoort … tot die kern van die boodskap van die Christendom”[1] Hy sluit aan by Wolhard Pannenberg se standpunt om sy standpunt te bevestig, naamlik dat die opstanding juis die “waarmakende oomblik van die evangelie van Jesus van Nasaret”[2] is. Pannenberg verwys na die Skrifgetuienis oor die feit dat Jesus weer gesien is as historiografiese gesproke ‘n bewys van die egtheid van hierdie ervarings[3].

Du Toit regverdig die opstanding verder op grond van sy beskouing van God as die “bron van energie” en energie kan nie “vernietig of geskep word nie”[4]. Dus is Jesus se opstanding niks anders nie as die “voortbestaan” van die “energie van Jesus”[5]. Dit maak natuurlik die hele vraag na die dood van Christus in sy beskouing problematies, want as energie nie vernietig kan word nie, en Jesus se energie in die opstanding voortbestaan, dan wonder ‘n mens of Hy werklik volgens Du Toit se beskouing sou kon sterf. Myns insiens spring Du Toit hier na ‘n mistieke bestaanswêreld waarmee die opstanding van Christus verstaan moet word. Hiervoor gryp hy na Hennie J de Villiers se hantering van die mens as spirituele wese. Volgens hom is jy “nie jou liggaam nie, jy is jou siel met liggaamlike, betekenisvolle ervarings”[6]. De Villiers is ook van mening dat “jou siel is deel van die kosmiese siel, wat ons God kan noem”[7]. Hierdie beskouing van die mens doen niks anders nie as om die mens as deel van God te maak in ‘n panteïstiese sin. Die siel is dus nie meer geskep nie, maar deel van God, die bron van energie. Nie net De Villiers nie, maar ook Wayne Dyer word ingespan om hierdie panteïsme te bevestig. Volgens Dyer is jy innerlik “that formless astral thought, you are pure and devoid of the obstacles that rule in form”[8]

Du Toit se gevolgtrekking oor die opstanding van Christus? Duidelik nie wat die Skrif daarmee bedoel nie, maar ‘n mistieke, geestelike, opneem in God. Hoor wat hy sê:

“Wanneer die Christendom daarom die opstanding van Jesus as die voorloper van die opstanding van die mens … bely, is dit binne die postmoderne konteks niks vreemds of onrealisties (soos dit in die rasioneel / logies behepte wetenskaplike era was) nie. Welliswaar word hiermee nie teruggekeer tot ‘n premoderne wêreld- en lewensbeskouing nie, maar is die spirituele voortbestaan van die mens na die dood, as onvernietigbare energie wat op die een of ander manier opgeneem word in die dimensie van die Bron van alle energie (God), aangedui.”[8]

Dit reken hy tas nie die boodskap van die evangelie aan nie. Juis dat hy op so ‘n inkonsekwente wyse die maagdelike geboorte verwaarloos en die opstanding aanvaar, is genoeg rede om te sê dat Du Toit tog juis die kern van die Evangelie aantas. Albei momente lê op dieselfde vlak. Ons noem Christus die “Seun van God” juis omdat Hy op hierdie wyse in die wêreld ingekom het, en Paulus skrywe in 1 Korintiërs duidelik oor die liggaamlike opstanding as ‘n werklikheid tot ‘n ander verheerlike lewe. Die Skrif buig nie die liggaamlike opstanding van Christus om tot ‘n geestelike energiesaak nie. Jesus is as Seun van God gebore, het as Seun van God uit die dood opgestaan en gee as Seun van God lewe aan die mens juis op grond van beide hierdie kernmomente in sy eie lewe.

 

Voetnotas

1. Dr. Ben du Toit, God? Geloof in ‘n postmoderne tyd, CLF Uitgewers, 2000, p150
2.  Ibid
3.  Ibid
4.  Ibid
5.  Ibid, p151
6.  Ibid
7.  Ibid, p152
8.  Ibid, p152

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *