Die Algemene Sinode van die NG Kerk het van Sondag, 6 Oktober, tot Donderdag, 10 Oktober 2013, in Port Elizabeth vergader. By die vergadering is heelwat besluite geneem.

Op Maandag het die sinode alreeds besluit oor Artikel 1 van die Kerkorde. Artikel 1 handel oor die belydenisgrondslag van die kerk. Dit sluit in die Bybel en die drie Formuliere van Eenheid. Die wysiging wat aangebring is, is dat die Belydenis van Belhar ook ’n belydenis van die kerk is; op so ʼn wyse dat daar ruimte is vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit as in ooreenstemming met die Woord van God bely, sowel as vir lidmate, ampsdraers en vergaderinge wat dit nie as ʼn belydenisskrif onderskryf nie.

Die sinode het ook besluite oor kerkhereniging goedgekeur.

Woensdag. Die Sinode doen ’n beroep op lidmate om uit te reik na die vlugtelinge, om hulle met respek en waardigheid te behandel en om goeie bure te wees vir medemense.

Ook op 30 September 2009 het ’n aantal aangewese persone (deur die Algemene Sinode) op Stellenbosch bymekaar gekom om te werk aan ’n eietydse interpretasie van die Apostoliese Geloofsbelydenis. Dit het gebeur teen die agtergrond van die volgende opdrag van die sinode: Die daarstelling van ’n Eietydse interpretasie van die Twaalf Artikels. Dit was gou duidelik dat ’n interpretasie van die Apostoliese Geloofsbelydenis onafwendbaar sou lei tot ’n teologiese hantering van die verskillende uitdrukkings van ons geloof.

Oor die huwelik/saamwoon oordeel die Sinode dat gelowiges met reg die huwelik ’n gawe van God noem en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste, formele verbintenis/verhouding nie aan Christelike riglyne voldoen nie. Die Algemene Sinode is egter bewus daarvan dat daar ander redes is waarom sommige pare saamwoon. Sommige woon saam met die argument dat hulle seker wil maak dat hulle in alle opsigte by mekaar pas, voordat hulle trou. Tog is dit minder as wat die Christelike verstaan van die huwelik verwag en word daarom ontmoedig.

Die Algemene Sinode herbevestig sy standpunt oor die gesag van die Woord van God as enigste norm vir ons geloof; en die belydenisskrifte as normatief in die sin dat dit volgens die Skrif ons geloof bely. Die Skrif en Belydenis moet gelees word binne hulle historiese konteks en dat hulle met verantwoorde hermeneutiek (uitlegmetode) vertolk sal word, sodat ons die leiding van die Gees vir ons tyd kan hoor.

Donderdag Die Algemene Sinode bevestig opnuut dat die stryd teen armoede en ongeregtigheid ’n hoë prioriteit op die kerk se agenda moet wees.

Die Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ʼn wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is lidmate wat die persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar, en daar is lidmate wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar. Albei standpunte erken die realiteit van die bose.

Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.

Die Algemene Sinode versoek sy Taakspan vir Ekologie om die moderamen dringend met advies oor hidrobreking te voorsien met die oog op standpuntformulering.

Dit sover die besluite van die sinode.

Ons keer terug na die Besluit oor Artikel 1. Met hierdie wysiging van Artikel 1 het die Algemene Sinode kerkregtelik gedwaal. Volgens die Kerkorde kan Artikel 1 slegs gewysig word, as Artikel 44 eers toegepas word. Die belydenisgrondslag kan slegs, volgens Artikel 44, gewysig word as twee-derdes van al die verskillende sinodes dit goedkeur. 2011 se Sinode het besluit dat Artikel 44 toegepas moet word. Die Algemene Sinode, maar spesifiek die ASM (Algemene Sinodale Moderamen), het daardie besluit uitgestel. In werklikheid moes hulle die besluit toegepas het maar hul het hom uitgestel en hulle het beplan en hul het strategies gewerk en hulle het uiteindelik Artikel 1 verander gekry. Nou gaan hulle na die gemeentes toe met Artikel 1. (Deels Johan JvR)

Waar Artikel 1 aan die onderskeie instansies voorgelê moet word, is dit nou belangrik om te besef dat dit nie bloot om ‘n goedkeuring van Artikel 1 (soos gewysig) gaan nie. Waar die keuse vir lidmate en ampsdraers bestaan om Belhar te aanvaar of nie, kan die houding so maklik wees om Artikel 1 maar net goed te keur met die gedagte dat die keuse mos wel daar is. Die moontlikheid is egter nou vir ‘n volgende sinode oop om Belhar as volwaardige belydenisskrif te aanvaar sonder dat ‘n keuse aan lidmate en ampsdraers gelaat word. Die moderator van die VGK het reeds haar teleurstelling met die huidige besluit uitgespreek en gemeld dat die aspek van ‘n keuse vir aanvaarding voor eenwording van die kerke weer ter sprake sal kom. Daarom is dit noodsaaklik dat teen die gewysigde Artikel 1 gestem moet word. Wanneer die keuse aan lidmate gegee word om vir of teen Artikel 1 soos gewysig te stem, stem daarteen.

Hoekom kan Belhar nie as volwaardige belydenisskrif aanvaar word nie? Wanneer ‘n mens op die inhoud van die Algemene Ekumeniese Belydenisskrifte en die Drie Formuliere van Eenheid let, merk ‘n mens telkens dat dit in almal om Jesus Christus gaan, die Verlosser van die wêreld. In Belhar staan die mens in die middelpunt en dit kan doodeenvoudig nie van ‘n belydenisskrif waar wees nie. Laat Belhar as ‘n belangrike historiese dokument sy regmatige plek kry en inneem, maar nie as belydenisskrif nie.(Hennie)

’n Saak wat ook aandag vra, is die daarstelling van ’n Eietydse interpretasie van die Twaalf Artikels. (Dit word ook die Apostoliese Geloofsbelydenis of Apostilicum genoem.) Dit is duidelik dat dit sal lei na ’n interpretasie van die Apostoliese Geloofsbelydenis wat onafwendbaar sou lei tot ’n teologiese hantering van die verskillende uitdrukkings van ons geloof.

By die Sinode is ’n studiestuk van meer as 150 bladsye oor die eietydse interpretasie van die apostolicum voorgelê. Dit is al ’n aanduiding dat ons nie eers meer saamstem oor wat die kern, die hart van die belydenis is nie. Die tendens is om weg te beweeg van die idee dat ’n belydenisskrif vaste waarhede sê. Die bewoording van die inleiding is presies so dat dit beteken daar is ’n verskil van verstaan. En daarmee word die weg voorberei daarvoor dat belydenisskrifte se status in gedrang gebring word. ’n Belydenisskrif is nie meer in die nuwe benadering ’n vaste verduideliking van wat die Skrif sê nie en uiteindelik loop dit uit op dieselfde soort van willekeurigheid in die verstaan van die Skrif. Jy kan die belydenisskrifte ook verstaan soos jy wil. (Dit is omdat van ons teoloë bv. beweer dat hulle nie meer glo in die maagdelike geboorte van Christus nie, en ook nie in die opstanding van Jesus uit die dode nie. Daar is selfs van hulle wat nie meer glo dat Jesus die enigste Verlosser is nie! )

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *