Daar is uiteenlopende sieninge en natuurlik dan ook reaksies oor die meriete, die voor- en nadele en die legitimiteit van die Ontluikende Beweging in die kerk. Hierdie reaksies is varieer van totale afwysing tot totale aanvaarding (en daar sal altyd diegene wees wat ‘n “gebalanseerde” middeweg of kompromie sal soek). Ek het al oor Prof. Nelus Niemandt se positiewe houding kommentaar gelewer. 

Jy kan seker emosioneel na die beweging kyk en dit emosioneel beveg of ondersteun. Dit is egter nie die gewenste manier nie, want dit eindig net in ‘n moddergooiery waar niemand en niks uitgesorteer raak nie. Ek wil tog ‘n bietjie kyk na ‘n paar punte (versprei oor ‘n paar artikels anders raak ons moeg om te lees) waar ek dink die Ontluikendes die kerk skade doen en ek redeneer dat as die kerkleiers dit nie vasvat nie, gaan die kerk in Suid Afrika spoedig sit met ‘n geweldige geloofskrisis wat nie oornag herstel sal kan word nie.

1. Dit breek objektiewe waarheid af

Wat beteken objektiwiteit vir die kerk? Wel, as ek die term reg verstaan verwys dit na eksterne geloofwaardigheid, met ander woorde daar is iets waarteen ek my opinie kan meet en toets om te weet of dit waarvan ek oortuig is waar is. 

Oor die eeue heen, ten minste in die vroeë kerk en by diegene wat teen die Rooms Katolieke stelsel geprotesteer het, was dit die Woord van God, die waarheid soos deur God geinspireer en neergeskryf deur mense. Die Ou Testamentiese profete, Christus, die Apostels, die vroeë kerk het dit almal so erken en bely. Die Reformatore het hiervoor gestry (en selfs hulle lewens daarvoor gegee).

Daar was natuurlik die bewegings in die geskiedenis wat dit subtiel probeer afbreek het. Hier dink ek byvoorbeeld aan die Rooms Katolieke wat die Skrif se gesag onder dié van die Pous en tradisie gestel het en die Bybel van die gewonde mens op straat weerhou het. Daar was die sogenaamde tyd van die Verligting, wat die rede van die mens in die plek van die Woord wou plaas. Dit het natuurlik die era van die modernisme ingelui waar rede absoluut was en nie meer God se Woord nie. Dan in die mees onlangse tye kry ons natuurlik die postmodernisme.

Dus het ons aan die een kant die vashou aan God se Woord as objekitiewe verwysingsraamwerk en maatstaf,  en aan die ander ekstreme die totale verwerping daarvan. Die Ontluikende Kerk, met sy voete stewig gevestig in die postmodernisme, hou nie daarvan om na die Bybel te verwys as ‘n eksterne raamwerk waarvolgens leer en lewe beoordeel en ingerig behoort te word nie. Vir hierdie groep is sulke objektiwiteit absurd, gesien in die lig van die afwysing van absolute waarheid. In hierdie beweging se denkraamwerk bestaan daar eenvoudig nie so iets soos absolute waarheid nie. Waarheid word bepaal deur jou ervaring van die skrif en selfs dan is dit nie ‘n absolute nie, aangesien iemand anders se ervaring daarvan anders kan wees. Dus is die gedagte aan Bybelse Waarheid hier nie moontlik as ‘n objektiewe maatstaf nie, maar eerder ervaarde waarheid van dit wat jy in die Bybel lees. Dit is natuurlik hoekom die neo-ortodoksie so ‘n impak kan hê op die denke van die ontluikendes.

Inherent tot postmodernisme is die gedagte dat daar geen absolute waarhede kan wees nie. So iets is ondenkbaar in die gedagtes van die postmoderne mens. Die Skrif kan in hierdie raamwerk nie meer beskou word as die Openbaring van God nie, maar eerder gedagtes van mense uit hul eie ervarings en kulturele agtergronde oor hul verhouding met God. Waarheid word in die postmoderne gees “waarheid van die mens soos hy dit beleef”, ‘n tipe van sosiale waarheid waar ons almal se gedeelde waarhede tot ‘n waarheid kan ontwikkel, wat dan op sy beurt nie absoluut kan wees nie.

Die gevaar hiervan vir die kerk is ongelooflik groot, en het die potensiaal om ‘n kerk te verkrummel tot ‘n dooie, klakkelose, kragtelose, humanistiese beweging. Kom ons lig so paar van die gevare uit wanneer daar nie meer absolute waarhede is nie:

– Die Bybel is nie meer God se geopenbaarde Woord oor Homself nie

Daar is al op hierdie webtuiste verwys na hoe sekere leiers binne die Ontluikende Kerk die inspirasie, gesag en onfeilbaarheid van die Skrif hanteer, selfs minag. Daar is ook verwys na die rol van die neo-ortodoksie hierin. 

Wanneer die waarheid van die Skrif se geinspireerdheid nie meer geld vir die kerk nie, het die kerk verval in dwaling. Waar die Skrif nie meer die objektiewe maatstaf is en mag wees nie, waaraan word suiwerheid dan gemeet? Dit open die kerk vir onsuiwerhede met vernietigende konsekwensies vir die kerk se roeping, bedieng en suiwere voortbestaan. Voorbeelde hiervan is legio binne die hudige kerklike konteks.

Baie van die leerstellings wat kern is tot die kerk word so afgewater, selfs tot die punt waar dit verwerp word. Daar is ‘n natuurlike aversie by die Ontluikende Kerk teenoor enigiets wat ruik of klink na leerstellige waarhede, juis omdat waarheid nie objektief is nie, maar die resultaat van die menslike ervaring. Leerstellings wat dus die kerk deur die eeue gedra het, word nou mooi morele gedagtes en is nie meer waarhede om aan vas te hou nie. Oor die hemel en hel sê Rob Bell byvoorbeeld dat sou daar genoeg tyd wees, sou God almal na sy kant toe oorwen. Hierdie tipe universalisme maak byvoorbeeld die leerstellings oor die erfsonde en die nodigheid vir ‘n redder en die uitverkiesing moeilike punte om te verteer vir die Ontluikendes. 

Hoe word mens dan nou lidmaat van die kerk waar die Skrif nie meer God se ware Woord is nie en leerstellige waarhede verwater is? Bely ons nie tog dat om deel van Christus se Kerk te wees beteken om deel te hê aan die verlossing wat Hy bewerk het nie? Waar die waarheid van Sy koms, die noodsaaklikheid van die kruis en die opstanding nie meer bindend is nie, wie word dan tot lidmaatskap toegelaat? 

Nog ‘n praktiese uitvloeisel sal ook natuurlik die kerklike tug wees. Hier is dit juis nodig om sonde teen ‘n objektiewe maatstaf te meet, maar as dit nie meer waar is dat homoseksualiteit sonde is nie, hoe kan daar dan getug word. In die raamwerk van die postmoderne mens maak sulke grense nie meer sin nie, derhalwe kan sonde toegelaat word onder die dekmantel van liefde en toleransie en menseregte.

‘n Mens kan nie help om te dink watter implikasies dit vir die prediking het nie. Is leraars nie geroep om Bedienaars van die Goddelike Woord te wees nie? Wat verkondig jy as jou waarheidsraamwerk ingeperk is tot wat jyself ervaar as waarheid? Hoe kan die bediening van die Woord dan enigsins aanspraak maak op die gehoorsaamheid en toewyding van dié wat na hierdie tipe prediking moet luister? Daar is na my mening min waarheid te preek uit ‘n sogenaamde bybel wat so dun is omdat dit gestroop is van objektiewe waarhede. Prediking het so nie ‘n ander keuse as om te verval in sedelessies en boodskappe wat die ore streel van die wat nie bybelse waarheid soek nie, maar wat twyfelagtighede aanhang.

Die roeping van die kerk kom verder ook in gedrang. Die draer van God se waarheid, van die bybelse waarheid, die liggaam van Christus wat Homself bekend stel as die Weg, die Waarheid en die Lewe, het nou skielik nie meer absolute waarhede nie. Waarmee bedien die kerk dan nou die wêreld as hy nou nie meer die opdrag mag gehoorsaam wat Christus gegee het nie: “maak dissipels … en leer hulle om alles te onderhou wat ek julle beveel het” (Matteus 28:19)? ‘n Kerk sonder waarhede kan nie anders nie as om ‘n social gospel te leef waar aksie en werke en verhoudinge onderling meer waarde het as die ewige lot van sondaar mense. Sending is nie meer die oproep tot bekering nie, want sonde en verlossing en wedergeboorte en bekering en oordeel is nie meer bybelse waarheid nie. Sending word nou die opheffing van die mens se sosiale omstandighede om ‘n soort van “koninkryk hier en nou” wêreld te skep wat al hoe beter kan word. Dit verval in ‘n romantiese universalisme.

Hierdie is maar slegs ‘n paar van die praktiese implikasies wat dit op die kerk kan hê wanneer die bybel nie meer as God se absolute, objektiewe waarheid beskou word nie. Dit lei dan ook tot ‘n volgende probleem naamlik dat die god wat ons ontmoet in die Ontluikende Kerk nie meer die God van die Bybel is nie, maar ‘n ontwerp van die mens. meer hieroor in deel 2 van hierdie tema.

 

 

Sien ook

Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 2 – Objektiewe Waarheid word afgebreek
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 3 – Objektiewe Waarheid word afgebreek
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 4 – Duidelikheid van Skrif word afgebreek
Dans Nelus Niemandt met die Ontluikende duiwel? 
Is die Bybel die “Woord van God”?
Het die Bybel nog gesag? 
Karl Barth se beskouing van die Skrif help die Ontluikende Kerk 
Waarom al die klem op Waarheid?

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: