Die Ontluikende Kerk se siening oor wat waarheid is, naamlik dat daar nie so iets is soos objektiewe waarheid nie, het geweldige groot implikasies vir die Evangeliese Kerk. Dit was nog altyd die belydenis van die Evangeliese Kerk dat die waarheid waaraan dit vashou en glo, ononderhandelbaar is. Trouens, Christus is die Waarheid. In die eerste deel het ek daarop gewys hoedat hierdie aftakeling van ‘n objektiewe waarheid ‘n reuse effek op die belydenis van die Bybel as God se onfeilbare Woord het. ‘n Logiese uitvloeisel van hierdie eerste effek is die verandering van die identiteit van God na ‘n god waarvan ons nie in die Skrif lees nie, maar wat nou in diens van die mens en sy onsekerhede is. Hierna het ons in deel 2 gekyk. Al hierdie dinge lei na ‘n volgende punt, naamlik

– Pilare van sekerheid word afgetakel

Die eerste twee pilare is fundamenteel, naamlik die Skrif as Woord van God en God as die Een wat Homself in die Skrif openbaar. Waar hierdie twee pilare laat val is, val die derde pilaar ook en daarmee saam alle ondersteunende strukture. Hierdie derde pilaar verteenwoordig die leer van die kerk, met ander woorde wat glo die Kerk oor sekere kernsake wat ononderhandelbares is. 

Wat is die leer – of dan die vloekwoord dogma – van die kerk? Dit is daardie fundamentele stel oortuigings waarvan ‘n bepaalde groep oortuig is dat dit in ooreenstemming is met die Skrif. Hierdie leerstellings is gewoonlik nie iets wat oornag ontstaan het nie, maar is iets wat die toets van die tye kon deurstaan. ‘n Paar aspekte hier is belangrik oor die dogma van die kerk (ter wille van bondigheid verwys ek net vlugtig hierna):

 

  • Ten eerste behels dit identifikasie, met ander woorde wie is ons, wat glo ons, wat glo ons nie. 
  • In die tweede plek die verhouding tot die Skrif. Daar is konsensus (of so hoop ons) daaroor dat die Kerk se leer “in ooreenstemming” met die Woord van God is. Dit dra dus bepaalde gesag, alhoewel nie dieselfde as wat die Skrif self het nie. Die Skrif is immers geinspireer en die die leer van die kerk stem daarmee ooreen. 
  • Derdens is daar ook ‘n eksklusiwiteit aan die leer van die kerk. Ja, dit sluit uit. Wie nie daarmee saam stem nie, kan nie deel van die kerk wees nie. Dit is tog so duidelik soos daglig. Straatlogika moet vir jou sê as jy nie ‘n golfklub se reëls en oortuigings wil aanvaar nie, dan kan jy nie aansluit nie. Ekslusiwiteit is nooit in die sin van wegwysing nie, maar eerder toelaat om die groep / kerk te ondersoek in die hoop dat die persoon sal kom tot konsensus oor die leer wat gehandhaaf word. 
  • Daar is ook ‘n historiese moment in die leerstellings van die kerk. Hierdie historisiteit daarvan kan nie sonder meer verwaarloos word nie. Die teenwoordigheid van ‘n leerstelling het ‘n lang aanloop tot aanvaarding.
  • Daar is ook ‘n beskermings aspek in die dogma, naamlik die bewaring van die suiwerheid van beide LEER en LEWE. 
  • Dan is daar ook die beginsel van verantwoordelikheid, met ander woorde met die onderskryf van die leer van die kerk, aanvaar jy ook verantwoordelikheid om die leer en lewe van die kerk te beskerm en uit te dra.
  • Hiermee saam is daar ook aanspreeklikheid. Jy stem dus in dat jy bereid is om deur die leerstellings van die kerk gemeet en beoordeel te word.
  • Dan moet ons ook nie die lerende / didaktiese eienskappe van die dogma onderskat nie.

Die onderbou van enige dogma van die kerk, is juis dat daar absolute en objektiewe waarheid is waarteen die dogma getoets kan word, en dit is die Woord van God.

Die dogma van die kerk word ten sterkste beveg deur die Ontluikende Kerk. Daar is ruimte vir sogenaamde “conversations”, maar gesien in die lig daarvan dat daar nooit by absolute waarhede uitgekom kan word nie, is hierdie gesprekke die deel van subjektiewe, kultuur- en sosiale ervaringe. Ek lees die volgende by een van die liefhebbers van die Ontluikende Kerk:

“There is a hill on which we are willing to die, and it is called conversation. We don’t think of conversation as a method of communication. Or as an agent of change, or even as a virtue. We see conversation as the teaching, the truth, the doctrine. We confess it. Conversation is deeply biblical, rooted in Christian history and theology, and, importantly, in the life and teachings of Jesus. Conversation involves incarnation, life, death, and resurrection, both God’s and ours. If you think of faith as something that can be lived outside of a continual experience of living and dying through conversation with the divine and human other, we emergents maintain that you are wrong, terribly wrong.

We believe in a conversation with our God, scripture, strangers, friends, enemies, saints, heretics, committee chairpersons, evangelists, our own soul, brother sun and sister moon!” (Aanlyn Bron)

‘n Gesprek wat redelik prominent veral in die NG Kerk baie op die voorgrond tree, is dié van die Belydenisskrifte. Elkeen wat lidmaat word, en elke predikant wat aangestel word bely die die leer van die Kerk vervat is in die drie belydenisskrifte. Daar is dan verder die vraag na die plek van die Belhar belydenis. Ek lees dievolgende op ‘n blog deur Prof. Stefan Joubert. Ek lewer my kommentaar tussen vierkantige hakies.

“Ek het groot geword met belydenisskrifte en allerhande kerklike dogmas wat ek uit die kop moes ken. Tot my skade moet ek bely dit was vir my moeilik, indien nie dood vervelig nie. Seker omdat ek dit nie verstaan het nie. Vandag nog verstaan ek baie van daardie ingewikkelde taal en begrippe nie. Voordat jy my verkeerd verstaan, ek weet al te goed hoekom dit nodig is om ons geloof in belydenisse saam te vat. Ook verstaan ek die historiese redes hoekom geloofsgemeenskappe deur die loop van die eeue dit nodig gevind het om hulle eie verstaan van God uit te druk in bepaalde belydenisskrifte. [Wat bedoel hy hier met “hulle eie verstaan van God”? Beteken dit dat God Homself dan so onduidelik openbaar in sy Woord dat elke era weer opnuut moet kyk of God nou anders verstaan moet word?]Nooit onderskat ek die waarde of mooiheid hiervan nie. Maar wat ek egter nie verstaan nie, is dat baie mense wat “diep” kerklik is vandag steeds meer waarde aan “die belydenisskrifte” heg as aan die Bybel. [Is dit werklik ‘n kwessie van meer waarde daaraan heg, of ‘n versigtig omgaan met die leer van die kerk?]

Ek het al ‘n paar maal agtergekom dat as ek dit waag om te sê dat ‘n bepaalde belydenisskrif iewers die pot ietwat mis sit (let wel, nie verkeerd is nie, net iets oorbeklemtoon of onderbeklemtoon!), dan is ek in diep moeilikheid. ‘n Paar maal is ek ook al vermaan dat ek die belydenisskrifte oortree (selfs deur mense wat op hoorsê reageer) en dat ek iewers aangekla gaan word. Elke keer het ek my dan na my Handboek, die Bybel, gewend en daardie persone met die nodige beskeidenheid gevra om my vanuit die Bybel te wys waar ek nou sogenaamd sou “dwaal.” Een keer, toe ek dit gewaag het om te sê dat die Dordtse Leerreëls Romeine 11 eksegeties nie ‘n guns aangedoen het nie, het iemand my so ewe beveel om ‘n gravamen op te stel, of om my woorde terug te trek. Doe ergste van alles, ek het nie eens mooi geweet wat vir ‘n ding ‘n gravamen is nie. Maar ek wou nie; ek wil nie, en ek gaan ook nie ‘n gravamen opstel nie. Hoekom moet ek? Ek het immers die Bybel waaragter ek skuil. [Amper wil ek sê dankie Stefan vir hierdie vote of confidence in die belydenisse van jou kerk, en veral vir die wyse waarop jy agter die Bybel skuil – selfs dit weet ons kan gevaarlik wees in ‘n postmoderne wêreld waar die Bybel nie meer God se Woord is nie.]” (Aanlyn Bron)

My vraag hieroor is dit: waarom so ‘n negatiewe indruk skep oor die belydenisse van die kerk. Hulle is nie veronderstel om teen die Skrif in te werk nie, maar onder toesig van die Skrif gebruik te word. As leiers van die kerk soveel negatiwiteit oor hulle eie belydenisse uitspreek, watter voorbeeld moet die kudde dan volg – moet ons ook nou die belydenisse brandstapels toe stuur? Ja, ons moet altyd die leer van die kerk toets en ondersoek, en ons weet mos nou dat ons altyd moet hervorm in die rigting van die Skrif, en nie weg daarvan nie. 

In Maart 2011 maak Fritz Gaum ‘n paar uitlatings in hierdie verband na aanlyding van sy boek “Fluit-Fluit die kerk is uit?”. Hier is ‘n paar stellings wat hy maak (Aanlyn Bron). 

“As die NG Kerk nie radikaal verander nie, gaan hy nie die wederkoms beleef nie,” 

Die kerk het deur die geskiedenis baie wonderlike dinge gedoen, sê Gaum, “maar ek skryf ook die kerk het in baie opsigte misluk”. Van die foute wat die kerk se voortbestaan nou bedreig, sluit in die onvermoë van kerkverbande om te verenig (selfs die verdeling tussen die NG Kerk, Hervormde Kerk en Gereformeerde Kerk is volgens Gaum verregaande). Dan is daar ook konserwatiewe besluite oor homoseksualiteit en ’n engheid wat dogma betref.

“Die kerk sal moet leer om dinge met minder sekerheid te sê.”

Hy verwys onder meer na die boek Die eerste vyf minute ná die dood deur dr. Izak Burger, president van die AGS, waarin die hiernamaals beskryf word. Volgens Gaum sal teoloë moet ophou om voor te gee of hulle vaste antwoorde op sulke kwessies het en meer erns met twyfel en onsekerheid moet maak.

 

“Wat gebeur as jy in Hongkong loop en jy sien derduisende mense wat nie Christene is nie? Kan ons nog glo hulle gaan reguit hel toe? Ek glo nog dat Jesus die Een is, maar ons moet dit dalk eerder aan God oorlaat om te besluit hoe Hy die finale situasie gaan hanteer.”

“Daar moes eers goed in my ­lewe gebeur het wat my op dié bepaalde pad gebring het. As ek van die preke lees wat ek destyds geskryf het, kan ek dit nie meer oor my hart kry dat ek sulke dinge geskryf het nie.”

“Maar ’n mens verander voortdurend.”

Hy meen ook dit sou ’n groot fout wees as die kerk meer fundamentalisties raak ten einde siele te werf.

“Fundamentalisme – ’n onverdraagsame, letterlike verstaan van die Bybel – sal daar altyd wees, maar dit word ’n ernstige probleem vir die kerk.”

Dit is skokkend om dit te hoor uit die mond van ‘n prominente leier in die NG Kerk. Let ook daarop hoedat sy eie situasie die verstaan van die Skrif en dogma verander het. Dit is geen wonder nie dat die kerk in soveel chaos gedompel is nie. Teenstrydig met Openbaring 2-3 se dwalinge, lei hy die kudde in ‘n valse godsdiens in.

Ons dogma bevat kern aspekte wat ons bely omdat ons glo dit word in die Skrif vir ons so geopenbaar. Laat val die Skrif as bron van waarheid, begin twyfel in die God van die Skrif en die derde pilaar van die Evangeliese Kerk, naamlik sy leer tuimel inmekaar. ‘n Kerk wat nie konfessioneel kan bestaan nie, verval vinnig in ‘n koffiekamer. Ons mag dit nooit vergeet nie. 

 

Sien ook:

Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 1 – Objektiewe Waarheid word afgebreek
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 2 – Objektiewe Waarheid word afgebreek 
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 4 – Duidelikheid van Skrif word afgebreek
Is die Bybel die “Woord van God”?
Het die Bybel nog gesag? 
‘n Kykie in Jesus se hart oor dwaling

 

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: