Jesus het ‘n baie hoë doel gehad met die groep dissipels wat Hy rondom Hom versamel het. Hy was ook met hulle baie duidelik van die begin af oor wat hulle rol sou behels in die wêreld, maar die volheid hiervan het hulle eers besef nadat die Heilige Gees oor hulle uitgestort is.

In Handelinge 1 is Hy besig om laaste lering aan hulle deur te gee, toe hulle met ‘n skuins vraag inkom:

“Here, gaan U in hierdie tyd die koninkryk vir Israel weer oprig?”

Jesus antwoord hulle onmiddelik anti-postmodern, teen die “Koninkryk Nou en Hier” ideologie van die Ontluikende Kerk en sê vir hulle die saak van die aanbreek van die koninkryk vir Israel is nie hulle oogpunt nie, maar God se domein. Maar daar laat Hy dit nie. Hy gee vir hulle ‘n ander fokus wat sou strek vanaf die uitstorting van die Gees tot en met wanneer God dan sy plan vir die koninkryk vir Israel begin uitrol. Dit behels twee sake, naamlik bekragtiging en taak.

“Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom …” (Handelinge 1:8)

Dit is bekragtiging vir die taak. Die feit dat hulle hiervoor moes wag dui duidelik aan dat die taak wat sou volg nie iets is wat uit die menslike vermoëns suksesvol kan wees nie. Hierop moes hulle fokus, om voortdurend vanuit die krag van God se Gees hulle taak uit te voer. Die taak is ook duidelik:

“en julle sal my getuies wees …” (Handelinge 1:8). 

Die kerk moet dus vanuit die krag van die Gees van God getuienis lewer oor Christus. Hulle sou nou die bediening van verlossing wat Hy kom inlui het, verder voer deur onder die leiding van die Gees te verwys na Christus se werke vir die verlore mensdom.

Hieroor lees ook ook in al vier die Evangelies wat op een of ander wyse hierdie roeping van die Kerk van Christus verwoord in geen onduidelike terme nie. Uit wat gevolg het in Handelinge 2 en verder is dit duidelik dat hierdie taak nie slegs ‘n oppervlakkige fokus op die mens se sosiale welsyn was nie, maar ‘n ingrypende verkondiging van verlossing van sonde, vrymaking van ewige oordeel, ‘n oproep tot bekering van vorige goddelose leefwyses en ‘n noue wandel met en onder die direkte heerskappy van die Here van die Kerk, naamlik Christus self.

Verder verdiep die Skrif ook hierdie rol van die Kerk wanneer dit in 1 Timotheus 3:15 oor die kerk sê dit is

“wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid.”

Die Kerk het verseker ‘n hewige taak op sy skouers om die wêreld te wys na die Waarheid en om self die waarheid te koester en te beskerm met aalle mag en krag. Alle dwaling en valsheid wat hierdie waarheid bedreig moet uitgewys en tereggewys word. Sonde moet met waarheid aangespreek word. Gelowiges moet opgebou word in hiedie waarheid. Daarom dat die Apostels in die vroeë kerk so gesteld was op die vaslê van die waarheid. Ons lees ook dat die eerste kerk volhard het in die “leer van die Apostels”. Die kerk moet waarheid wees en leef omdat dit beheer word deur die Gees van Waarheid, wat herinner aan Jesus, die Waarheid, wat die Ware God kom bekend maak het.

Die postmoderniste binne die kerk kan nie hiermee saamgaan nie. Hoe kan jy waarheid wees vir ‘n mensdom as waarheid nie vir jou ‘n hoë waarde het nie? Dis onmoontlik. Die oomblik wanneer waarheid nie meer ‘n absolute is vir die kerk nie, kan dit nie meer kerk wees nie. Hoe kan die Ontluikende kerk met sy relativisme sê “So spreek die Here, Here” en dit as die waarheid deurgee? Ek reken dit is nie moontlik nie. Die Ontluikende Kerk se hele beskouing van wat waarheid is, maak die Kerk ‘n kragtelose instrument wat nie meer opereer vanuit die krag van God se Gees nie, maar eerder vanuit sosialisme, humanisme, pragmatisme, en ja selfs ateïsme.

‘n Interessante ding gebeur met Petrus en Johannes in die tempel. Hulle stap verby ‘n kreupel man wat bedel. Petrus stop by die man, ontleed sy situasie, bring ‘n projek op die been om alle kreupeles van kos en blyplek te voorsien. Almal word ook genooi na gemaklike byeenkomste waar daar oor die wêreld se fisiese nood gesels word en spanne gevorm word hoe hierdie nood verlig kan word (Aldus die Onluikende kerk se missionale bediening).

Inteendeel, Handelinge 3 vertel duidelik wat petrus doen. Hy stop by hierdie man en gee vir hom wat hy het – nuwe lewe in die naam van Jesus Christus. Hoe anders as die bediening van die Ontluikende kerk. Sien, Petrus het die waarheid geken, en Hom aan hierdie man gegee uit die krag van die Gees soos Jesus hulle beveel het. Beteken dit die sosiale welstand was minder belangrik? Nee, daar is ook verligting hiervan in Handelinge, maar dit is vanuit die primêre roeping van die kerk verrig en nie as die doel op sigself nie.

1 Petrus 2:9:

“Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig …”

Die kerk getuig oor die deugde van God, omdat dit bestaan uit mense wat in valsheid en donkerheid en oordeel (duisternis) was, maar deur God geroep is tot nuutheid, verlossing, waarheid, hoop, liefde. As ons dit nie meer doen as Kerk van Christus nie, is ons nie meer Kerk van Christus nie. Dit is die bedreiging van postmoderne leuen waarteen die Kerk moet opstaan as ‘n pilaar en grondslag van waarheid.

 

Sien ook

Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 1 – Objektiewe Waarheid word afgebreek
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 2 – Objektiewe Waarheid word afgebreek
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 3 – Objektiewe Waarheid word afgebreek
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 4 – Duidelikheid van Skrif word afgebreek
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 6 – Die wêreld word bedrieg
Dans Nelus Niemandt met die Ontluikende duiwel? 
Waarom al die klem op “waarheid”?

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: