Die kerk is ‘n draer van hoop, omdat Hy ontstaan het uit ‘n belofte wat met hoop gevul was. Reeds in Genesis 3 sien ons die hoop wat God bring midde in ‘n nou hopelose situasie. Die eerste twee mense het liederlik gefouteer en daarmee God se oordeel op hulle self, die ganse mensdom en die ganse skepping gebring. Wat soveel belofte ingehou het volgens die eerste 2 hoofstukke van Genesis, word verpletter deur misleiding, leuens, ongehoorsaamheid, rebellie. Nou hou ons asems op, want alles is gedoem. Tog weerklink hierdie woorde van hoop:

“En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” (3:15)

Die hoop is hier volgens God nie in iets nie, maar in iemand, die saad van die vrou. En deur die eeue loop God se bewaring van hierdie belofte en daarmee saam die bewaring van die saad van die vrou as ‘n baken van hoop, nie slegs vir die volk Israel (uit wie Hy sou kom) nie, maar vir die ganse mensdom. 

Beide Maria en Sagaria besing hierdie hoop in Lukas 1. Vir hulle was daar geen twyfel nie dat dit waarmee God in Maria en Elisabet se liggaam besig was, die vervulling van beloftes en beloftes. Dit waaraan hulle vir soveel eeue moes vashou, sou begin in vervulling gaan in die geboorte van Christus.Toe Christus gebore word, het hierdie hoop vleis gekry – letterlik, en Simeon profeteer oor die baba Jesus:

“Nou laat U, Here, u dienskneg gaan in vrede volgens u woord,  omdat my oë u heil gesien het,  wat U berei het voor die oë van al die volke —  ‘n lig tot verligting van die nasies en tot heerlikheid van u volk Israel.” (Lukas 2:29-32)

Die geboorte van Chritus het juis die geldigheid van die hoop bevestig, daarin dat die geboorte die vervulling was van soveel van die profesieë van die Ou Testament. As mens het Christus se lewe hoop uitgestraal. Kyk hoedat mense na Hom stroom in verwagting, gevul met geloof en hoop omdat hulle in Hom iets ervaar het wat hulle nog by niemand anders kon vind nie. Vir sommige was Hy wel die hoop op die bevryding van die Romeinse juk, vir ander veel dieper. 

In sy kruisiging is die hoop weer aangeblaas, omdat daar nou die belofte op vrymaking van sonde en oordeel na vore sou tree. Die kruis skreeu ‘n nuwe lewe van vryheid tot die mensdom in sy verlore toestand uit.

Sy opstanding het hierdie hoop net nog verder kom vasmaak in die lewens van die wat Hom volg as hulle Here en Koning. Nou is die hoop nie meer net op die hede nie, maar op dit wat gaan gebeur na hierdie aardse lewe. Tog is dit nie iets nuuts nie. Die Ou Testament praat baie hieroor. Job sê hy weet sy Verlosser leef en dat Hy op die ou einde sal heers. Die profete praat almal van ‘n dag wat alles verby sal gaan en nuut sal wees. Die opstanding van Christus uit die dood staan as die moment in die geskiedenis waar God Drie-Enig vir die ganse mensdom sê dat sedert die tuinverhaal in Genesis is Hy besig om te werk aan die eindverhaal waar alles nuut sal wees, en alles wentel om sy Seun. Petrus skrywe:

“Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode,  sodat ons ‘n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons  wat in die krag van God bewaar word deur die geloof tot die saligheid wat gereed is om geopenbaar te word in die laaste tyd.  Daarin verheug julle jul, al word julle nou—as dit nodig is—’n kort tydjie bedroef onder allerhande beproewinge, sodat die beproefdheid van julle geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat vergaan maar deur vuur gelouter word, bevind mag word tot lof en eer en heerlikheid by die openbaring van Jesus Christus;” (1 Petrus 1:3-7)

Kolossense 1:5

“vanweë die hoop wat vir julle weggelê is in die hemele, waarvan julle vroeër gehoor het deur die woord van die waarheid van die evangelie,”

Hierdie hoop is gebou op die waarheid van God se Woord, geanker in die Here Jesus Christus, die Rots op wie die Kerk gebou is en waarvan die Woord ons leer en het definitiewe historiese momente wat dit ondersteun en krag daaraan verleen. Dit is hierdie hoop wat gelowiges deur die eeue laat swaarkry het, laat veg het vir die Waarheid, laat vashou het aan die geloof wat aan hulle oorgelewer is.

Hierdie hoop, wat die kerk ontvang en wat dit na die wêreld toe dra, word deur die leuens van die Ontluikende Kerk verwoes. Die kerk word daardeur kragteloos gemaak en die aandag gefokus op ander randsake, in plaas van die lewende hoop wat vir hom weegebêre is. 

Jürgen Moltmann, ‘n teoloog wat redelike voetspore trap in die teologie en filosofie van die Ontluikende Kerk, het sy Theology of Hope (1694, ET 1967) geskrywe in reaksie op die Marxisme van sy tyd. Volgens Woodbridge, het hierdie boek ‘n groot invloed op die Ontluikende Teologie:

“Jürgen Moltmann’s book, Theology of Hope,  is an influential document forming a foundation for the Emergent Church Movement’s revisionist, evolutionary eschatology. The ‘hope’ of Emergent/postmodern theology is based on the Hegelian idea that contradictions synthesize into better future realities. Emergent Church leaders recently published a book entitled An Emergent Manifesto of Hopethat cites and echoes Moltmann’s ideas.”1

Eskatologiese hoop vir Moltmann behels die Koninkryk van God op aarde met universele deelname.2 Onmiddelik sit ons hier met ‘n paar dwaalspore, naamlik in die eerste plek die “Koninkryk Nou” gedagte en in die tweede plek universalisme. In ‘n vorige artikel het ek daarop gewys hoe beide hierdie aspekte deur die Ontluikende Kerk ongelowiges in hulle verlorenheid hou. Vir dié wat reeds in die kerk is en veronderstel is om die hoop op ‘n lewe hierna te hê, word hierdie leuens ook nou opgedis. Die netto effek is, soos al soveel keer aangedui, ‘n social gospel wat sogenaamd missionaal van aard is en ‘n inklusiwiteit van alles en almal uit enige denkbare gosdienstige stroom.

“According to the theology of hope proclaimed by Moltmann and his Emergent disciples, ‘the truth will only be known with certainty in the future.’ Therefore, this uncertainty results in the consequent heresies that ‘God is re-creating the world now with our help’ and ‘the world has a universally bright future with no pending, cataclysmic judgment.’”3

Die kruks van die ware bybelse hoop is geleë in die liggaamlike opstanding van Christus. Volgens 1 Korintiërs 15 is diegene wat daaraan glo dat Christus liggaamlik opgestaan het, die ellendigste van alle mense indien dit nie histories waar is en werklik so gebeur het nie. Dit is juis ‘n lewende hoop omdat Hy uit die dood opgestaan het (1 Petrus 1). Sou Hy nie liggaamlik opgestaan het nie, was daar vir ons niks om na uit te sien nie.

Die postmoderne kerk hou natuurlik nie daarvan om te erken dat die liggaamlike opstanding ‘n historiese feit is nie, want daardeur sou hulle ‘n waarheidstelling maak – wat nie eie is aan hulle aard nie. Dus omseil hulle dit met die gedagte dat die historiese rondom Jesus geskei moet word van die geestelike Jesus en leer dat Christus in die mens opgestaan het. So word die panteïsme en panenteïsme aan die lede van die kerk bekendgestel, natuurlik met ‘n eie stel reëls vir spiritualiteit. Dit is dus nie moeilik om te sien dat die hoop van die kerk nie meer gesetel is in die liggaamlik opgestane Christus nie, maar op valsheid.

Die dilemma van die liggaamlike opstanding vir die Ontluikende Beweging is die baie nou samehang met die fisiese kruisiging en dood van Christus. Die liggaamlike opstanding veronderstel noodwendig die liggaamlike dood en dan ook daarby die kruisdood van Jesus. Sou jy dus die liggaamlike dood ontken, dan is daar een van twee opsies wat oorbly: 1) Jesus se lyk is soos alle ander lyke ontbind en tot stof en argeoloë sou potensieël dit kon opgrawe, 2) Jesus se kruisdood is ook slegs ‘n mitologie om sogenaamde dieper geheimenisse bekend te maak.

Leiers van die Nuwe Hervormers huldig die volgende gedagtes hieroor:

“Op ‘n seminaar van hierdie nuwe reformasie wat Saterdag in Johannesburg gehou is, verklaar dr. Piet Muller dat dit ondenkbaar is dat ‘n God van liefde sy enigste Seun aan die kruis sou laat spyker.

Die einste Spangenberg verklaar dat God nie die outeur van Die Bybel is nie, en antwoord op ‘n vraag dat iemand wat nie aan die kruisdood en in die opstanding van Christus glo nie, desondanks nog Christen kan wees.” 4

Sakkie Spangenberg interpreteer die kruisdood van Jesus as die dood van ‘n martelaar vir sy saak om God se heerskappy te vestig eerder as dié van die Romeinse Ryk:

“Jesus se kruisdood was eintlik die dood van ‘n martelaar vir die saak waarvoor hy gestaan het, naamlik God se regering. Hy het onwrikbaar geglo dat as God in Palestina sou regeer het en nie die Romeinse keiser nie, die wêreld anders sou gelyk het.”5

Vir Spangenberg is die opstandingsverhale in die Skrif slegs herverskyningsverhale. Oor die liggaamlike opstanding sê hy dievolgende:

“Wat maak ons tans met die herverskyningsverhale? Binne my verwysingsraamwerk staan mense nie uit die graf op en ek beleef nie herverskynings nie. Dit vir my moeilik om aan ‘n fisiese opstanding te glo, want in my leefwêreld staan mense nie op nie. Voorts weet ek dat dood deel is van lewe op hierdie planeet. Die ervaring van herverskynings kan ek wel verklaar as dat die eerste dissipels só intens met Jesus saamgeleef het, dat Hy na sy dood vir hulle steeds reeël was. In die woorde van Paul Winter: ‘Crucified, dead and buried, [Jesus] yet rose in the hearts of his disciples who had loved him and felt he was near.’ Ek kan hierdie ervarings vergelyk met my ma se ervarings van my pa se teenwoordigheid na sy dood. Dit was vir haar ontstellend dat sy hom soms as werklik teenwoordig beleef het. Soveel so dat sy gevind het dat sy met hom begin praat het. Sy het hom ook in haar drome beleef. ‘n Psigiater moes haar help om met hierdie ervarings vrede te maak, want dit het haar geweldig ontstel. Vir die vroeë Christene was die herverskynings nie ontstellende ervarings nie. Dit was deel van hulle kultuur en die tradisie waarin hulle groot geword het. Moses en Elia kon weer verskyn (of teenwoordig wees).

Fisiese opstandings vind nie in my wêreld plaas nie. Lewe op die aarde het onafwendbaar ‘n sikliese gang. Alle lewende organismes word gebore en gaan een of ander tyd dood. Ook die groter kosmos wys uit dat dit funksioneer op die beginsel van hersirkulasie. Sterre word gebore, groei en sterf na miljoene jare. In dié proses word materie weer hersirkuleer. Nuwe sterre en planete word gebore. Die belydenis dat Jesus opgestaan het, beteken nie dat ons uitgesonder word van hierdie sikliese gang van lewe op aarde en in die kosmos nie. Ons spesie is nié die uitsondering op die reël nié — dit toon evolusionêre biologie. Ons was nie veronderstel om ewig te leef nie. 

Wanneer ek bely dat Jesus opgestaan het, bely ek dat sy opstanding deel van my lewensverhaal moet word. Ek gee soos Paulus en ander Nuwe-Testamentiese skrywers betekenis daaraan deur die verhaal te herinterpreteer. Die belydenis dat Jesus opgestaan het, kry nuwe betekenis wanneer ek breek met die slegte dinge wat ek geneig is om te doen en wanneer ek ‘n nuwe mens word (vgl Rom 6 en Kol 3). Ek kan dit ook soos volg herformuleer: Jesus moet in my as een van sy volgelinge opstaan en teenwoordig word in hierdie wêreld.6

Die dood is nou nie meer ‘n straf op die sonde nie, maar deel van die natuurlike proses. Lewe na die dood, met ander woorde die hoop wat die gelowige in Christus het, is volgens sy standpunte ongeldig binne die postmoderne denkraamwerk.

Hierdie beskouings en dwalinge het ‘n enorme effek op die die lewe binne die Evangeliese Kerk. Gelowiges word hierdeur lam gelê in hulle plek in die kerk, die roeping van die kerk, die bediening van die Woord, die uitsig op ‘n beter toekoms na hierdie aardse bestaan. Strepe word hierdeur getrek deur baie van die profesieë in die Skrif, Johannes 14, Romeine 8, 1 Korintiërs 15, Romeine 5, om maar slegs ‘n paar te noem.

Gedagtig daaraan dat die postmodernisme ateïsties van aard is, is dit dan ook nie vreemd dat hierdie leuens so sterk gepropageer word nie, want watter hoop het ‘n ateïs dan nou anders oor die lewe na hierdie lewe. Daarom, bring “god” se koninkryk vanuit die sogenaamde toekoms uit in die hede in, want daar is in elk geval niks wat wag hierna nie. 

Jürgen Moltmann se Theology of Hope, en daarom die Ontluikende Teologie van hoop is ‘n valse hoop. Die bybelgetroue kerk het die ware teologie van hoop, omdat dit ‘n lewende hoop is, omdat dit ‘n lewende persoon is, Christus Jesus, ons Here. Mag die ware kinders van God weer opstaan en begin leef in hierdie hoop en ook hierdie hoop begin uitdeel!

 

Voetnotas

1. Noel B. Woodbridge, Revisiting Moltmann’s Theology of Hope in the light of its renewed impact on emergent theology
2. ibid
3. ibid
4. Cassie Aucamp, Die Beeld, ‘Nuwe Hervorming’ rus op oneerlike skrifuitleg
5. Sakkie Spannenberg, Dogma oor die kruisdood van Jesus
6. Sakkie Spangenberg, Jesus se hellevaart en opstanding

 

Sien ook

Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 1 – Objektiewe Waarheid word afgebreek
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 2 – Objektiewe Waarheid word afgebreek
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 3 – Objektiewe Waarheid word afgebreek
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 4 – Duidelikheid van Skrif word afgebreek
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 5 – Die roeping van die Kerk word verdraai
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 6 – Die wêreld word bedrieg
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk Deel 7 – Die wêreld word bedrieg

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *