‘n Hoë siening van die Woord van God behels allereers die aanvaarding van die gesag daarvan. Dit beteken dat die Christen sal moet buig voor die waarheid dat die Bybel is God s’n en dat die Bybel se inhoud die standaard vir leer en lewe moet wees. Gesag impliseer onderworpenheid en onderworpenheid lei weer op sy tyd tot gehoorsaamheid aan dit wat die gesagsdraer verlang. Die vraag is egter wat verleen gesag aan die Bybel. Op grond waarvan het die kerk deur die eeue daaraan vasgehou dat die Bybel gesag het? 

Om dit te antwoord is dit eers nodig om te vra hoekom dit nodig is om dit te bepaal. Vir my lê een van die groot redes hiervoor juis in die liberale teologie se bevraagtekening daarvan. ‘n Goeie voorbeeld hiervan in ons eie land en tyd is die boek van Dr. Ben du Toit.[1] Die rede hoekom ek na hierdie boek verwys, is vanweë die impak wat Du Toit se denke op die Algemene Sinode van 2011 gehad het en ook die meer onlangse tugsaak wat hieroor handel. Dit behels by name die standpunt oor die duiwel en die bose.[2] Tog is daar ook ‘n ander invloed op die beskouing van die NG Kerk oor die gesag van die Woord, soos in 2002 verwoord.[3] 

Vir Du Toit lê die gesag van die Woord nie in God nie, maar in ander faktore:[4]

  1. Eerstens het dit gesag omdat dit kronologies eerste staan in die ry van geskrifte wat die kerk het;

  2. Die bybel is histories nader aan die gebeure wat dit beskrywe;

  3. Dit is ons enigste primêre toegang tot Jesus van Nasaret, en daarom praat hy van die Christologiese gesag van die bybel. “Hier kan dus geen sprake wees van gesag sonder geloof in Jesus as Verlosser nie” (beklemtoning in die oorspronklike). Gesag word vooraafgegaan deur geloof.

Die doel is nie hier om in detail op hierdie punte in te gaan nie, maar om te wys dat Du Toit se beskouing op die Woord en die gesag daarvan sy wêreldbeskouing intens beinvloed, soos duidelik is uit sy verdere hantering van die onderskeie temas in sy boek. Vir hom is die siening dat die Woord inherent gesag sou dra buite die kwessie, inteendeel, so beskouing is die resultaat van voorwetenskaplike denke.[5]

Sy bevraagtekening van die Skrifgesag is nie so volksvreemd nie. Louis Berkhof som die historiese momentum goed op as hy skrywe:

Faith in Scripture as an authoritative revelation of God was discredited, and human insight based on man’s own emotional or rational apprehension became the standard of religious thought.[6]

Talle liberale teoloë doen dit. Die hele postmoderne benadering is daarop geskoei om gesag as sodanig te bevraagteken. Dit lei maar net logies dat selfs die Skrif se gesag bevraagteken sal word. Trouens, die reformatore het hiermee geworstel in hul stryd teen die Roomse gesagsbskouing. Daarom die klem op die “Sola Scriptura”. Hiermee was die boodskap van die Reformatore duidelik: selfs die pous en tradisies van die kerk moes ondergeskik wees aan die gesag van die Woord.

Daarom die uiters belangrike vraag: waarin lê die gesag van die Woord dan? Is dit in die geloof van die mens (soos Du Toit dit wil hê) of is daar iets anders? Johannes Calvyn hanteer hierdie vraag op ‘n baie interessante, maar ook insiggewende wyse. In sy Institusie skrywe hy die volgende:

But I answer, that the testimony of the Spirit is superior to reason. For as God alone can properly bear witness to his own words, so these words will not obtain full credit in the hearts of men, until they are sealed by the inward testimony of the Spirit. The same Spirit, therefore, who spoke by the mouth of the prophets, must penetrate our hearts, in order to convince us that they faithfully delivered the message with which they were divinely entrusted.[7] (beklemtoning myne)

Wat hy hier sê is in kort dat God alleen aan sy eie Woord gesag verleen, aangesien daar niks en niemand groter as Hy self is nie. Dit doen Hy deur die innerlike getuienis van sy Gees wat die Woord geïnspireer het. Dit word aanvaar in geloof en hierdie wisselwerking tussen die getuienis van die Heilige Gees en die geloof maak dit vir die Christen moontlik om die gesag van die Woord te aanvaar en daaraan te onderwerp. 

Die Heilige Gees getuig in die gees van die gelowige dat die Woord wat Hy laat opteken het nie mense woorde is nie, maar die woorde van God in die taal van die mens. Hierdie proses skep sekerheid in die gelowige oor die egtheid van die Skrif, die waarheid daarvan, die volkomenheid daarvan, die foutloosheid daarvan, die eenheid daarvan, die genoegsaamheid daarvan.

Uiteraard, vanweë die verwerping daarvan deur die ongelowige, beskou die verlore sondaar die Woord van God nie as gesaghebbend vir sy / haar lewe nie, maar dit neem nie die inherente gesag van die Woord weg nie. Dit sou die gesag daarvan in die hande van die mens plaas. Omdat dit die Woord van God Drie-Enig is en omdat Hy gekies het om mense deur sy Gees te inspireer om dit op te skrywe, en omdat die Seun die Woord kom bevestig het in sy menswording en bediening, en omdat die Gees die gesag daarvan bevestig in die geloof van die Christen, daarom het dit gesag. Geen wonder ook nie dat Paulus geskrywe het “die letter maak dood, maar die Gees maak lewend” (2 Korintiërs 3:6). Daarom weer Calvyn:

Hence, the highest proof of Scripture is uniformly taken from the character of him whose Word it is.[8] (my beklemtoning)

Die aanvaarding van hierdie waarheid, is die begin van ‘n hoë siening van die Woord van God, wat op sy beurt weer primêr is tot ‘n bybelse wêreldbeeld en ‘n lewe wat daarvolgens ingerig word. Liberale teologie misken dit, ongeloof verwerp dit, maar die Gees van God bevestig dit in die gees van dié wat die waarheid daarvan glo en daaraan onderwerp.

Voetnotas

1. Dr. Ben du Toit, God? Geloof in ‘n postmoderne tyd, CLF Uitgewers, 2000.
2. Sien o.a. http://www.ngkerkwynberg.co.za/skrifgesag.htm vir ‘n uiteensetting van die verslag en besluite van die Algemene Sinode van die NG Kerk van 2002. Dit is insiggewend dat die Algemene Sinode van 2004 ‘n onderskeid maak oor die grade van gesag in die Skrif. Sien  Besluite rondom die Bediening van Bevryding – Algemene Sinode 2011-10-12 hiervoor. Vir ‘n vollediger hantering van die verandering van die Skrifbeskouing in die NG Kerk oor die afgelope 2 dekades, sien Dr. Henrietta Klaasing, Dr. hennie Mouton, et al, Die Trojaanse Perd in die NG Kerk – die kanker van evolusie en liberalisme, Shumani Printers, November 2010, hfste 1-3.
3. Skrifgebruik en Skrifgesag 2004 
4. Du Toit, p80-81
5. Ibid, p84-87. Om te verstaan wat hy hiermee bedoel is dit nodig om veral hoofstuk 1 in sy boek te lees.
6. Louis Berkhof, Systematic Theology, Eerdmans Publishing Co., 1996, p20
7. Johannes Calvyn, The Institutes of the Christian Religion, vertaler Henry Beveridge, Christian Classics Ethereal Library, Grand Rapids, 2002, 1.7.4. Dit staan ook bekend as die testimonium Spiritus Sancti interna.
8. Ibid 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: