In ons dink oor die Gesag van die Bybel, is dit onmoontlik om hieroor na te dink sonder om met meer fokus te kyk na hoe Jesus die Skrif benader het. Die liberale stemme wil deur die eeue hê dat die Bybel nie inherent gesag het nie, en wil gesag daarom anders interpreteer en in ander nie-goddelike aspekte gaan soek.[1] Ons het alreeds verwys na die interne getuienis van die Helige Gees wat aan die Skrif gesag gee. Dit is egter nie slegs die Heilige Gees wat getuig oor die gesag van die Skrif nie, Jesus het dit op ‘n baie besonderse wyse gedoen tydens sy aardse bediening.

Wanneer ons sê Hy het die Bybel se gesag bevestig, dan lê dit op ‘n paar vlakke (waarvan ek die eerste hier sal hanteer):

1. Jesus bevestig die Gesag van die Ou Testament

Ons praat hier van die Ou Testament omdat dit die bekende term is vir die versameling geskrifte wat die Joodse volk as gesaghebbende openbaring van God beskou het. Dus verwys ons hier na die 39 boeke wat in ons weergawes begin met Genesis en strek tot Maleagi. 

Teen die tyd wat Jesus sy openbare bediening begin het, was die versameling geskrifte vir Israel reeds vasgestel en afgesluit. Daar was ‘n duidelike groepering binne hierdie bundel geskrifte (24 in totaal[2]), naamlik die Wet (Tora), die Profete (Nebiim) en die Geskrifte (Chetuvim) In sy totaliteit staan dit bekend as die Tanach. Hierdie bundel geskrifte het vir die Jode begin met Genesis (die eerste boek van die Tora, of dan die Wet) en geëindig met 2 Kronieke (die laaste boek van die Chetuvim, of dan die Geskrifte). Hierdie volgorde is belangrik, omdat dit die volgorde is wat Jesus self hanteer het.

In sy bediening het Jesus telkens na hierdie bundel kanonieke geskrifte terug verwys as sy eie bron van die gesaghebbende Woord van God. Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:

Lukas 24:44

En Hy sê vir hulle: Dit is die woorde wat Ek met julle gespreek het toe Ek nog by julle was, dat alles wat oor My geskrywe is in die wet van Moses en die profete en die psalms[3], vervul moet word.

Hierdie woorde het Jesus met sy dissipels gepraat na sy opstanding. Hulle was bang en benoud en onseker oor hulle toekoms, en skielik verskyn Hy tussen hulle. Hulle natuurlik erg geskrik, dink Hy is ‘n spook en moet Hy hulle eers kal kry hieroor deur hulle te wys dat Hy werklik opgestaan het (24:36-43). Nou begin Hy met hulle praat oor Homself en begin met die woorde hier aangehaal. Dit is belangrik om 2 dinge hier te sien, naamlik dat die Tanach (die Joodse versameling van die Wet, Profete en Geskrifte) oor Hom skrywe het en tweedens dat Jesus na Homself verwys as die vervulling daarvan. Dit is opgesluit in die woorde “dat alles wat oor My geskrywe is … vervul moet word”. Dit was dan ook die inhoud van sy lering aan die dissipels. Opgesom, Jesus het oor Homself uit die Tanach geleer en in sy lewe (koms, dood en opstanding) die waarheid en gesag daarvan bevestig.

Lukas 24:25-26

Wat hierdie gedeelte in Lukas 24:44 ook nog verder belig is die gebeure rondom die Emmaus gangers ‘n entjie terug. Jesus moet hierdie ouens berispe met die woorde:

o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het. 

Dit is duidelik dat Hy weereens hier geen ander bron verkies om na Homself en die doel van sy lewe en bediening te verwys nie, as die volledige versameling gesaghebbende geskrifte. Toe Hy van hulle verdwyn, getuig hulle teenoor mekaar:

Was ons hart nie brandende in ons toe Hy met ons op die pad gepraat en vir ons die Skrifte uitgelê het nie? (24:32)

Lukas 11:49-52

Daarom het die wysheid van God ook gesê: Ek sal profete en apostels na hulle stuur, en van dié sal hulle doodmaak en vervolg, sodat van hierdie geslag afgeëis kan word die bloed van al die profete wat vergiet is van die grondlegging van die wêreld af, van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaría wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God. Ja, Ek sê vir julle, dit sal afgeëis word van hierdie geslag. Wee julle, wetgeleerdes, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem; self het julle nie ingegaan nie, en vir die wat wou ingaan, het julle verhinder.

Jesus is hier besig om teen die wetsgeleerdes te praat. Een van hulle was erg beledig deur Hom:

Toe antwoord een van die wetgeleerdes en sê vir Hom: Meester, as U só spreek, beledig U ons ook. (11:45)

Jesus is nie hieroor bekommerd nie, want Hy weet waar sy gesag vandaan kom. Nou gaan Hy verder om die Fariseërs op hulle korruptheid te wys. Die belangrike hier is dat Jesus verwys na die volledige Tanach (Wet, Profete en Geskrifte) om vir hulle te wys daarop dat die Skrif teen hulle getuig. Hy noem dit nie by die naam nie, maar verwys daarna as die bloed van die profete, met ander woorde dan van Abel tot ‘n sekere Sagaria, wat van hulle geëis gaan word. Abel is die eerste in die Wet, dan spesifiek Genesis. Na die profeet Sagaria word vewys in 2 Kronieke 24:20-21:

Toe het die Gees van God Sagaría, die seun van die priester Jójada, vervul, en dié het voor die volk gaan staan en aan hulle gesê: So spreek God: Waarom oortree julle die gebooie van die HERE en wil julle nie voorspoedig wees nie? Omdat julle die HERE verlaat het, het Hy julle verlaat. Daarop smee hulle ‘n sameswering teen hom en stenig hom op bevel van die koning in die voorhof van die huis van die HERE.

Wanneer Jesus dus hier verwys na “van die bloed van Abel af tot op die bloed van Sagaría wat omgekom het tussen die reukaltaar en die huis van God” verwys hy na die volledige bundel gesaghebbende geskrifte wat dien as getuienis teen die Jode en hulle verwerping van die waarheid, veral dan soos vergestalt deur die wetsgeleerdes.

Matteus 22:29

Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.

Jesus is hier besig om die Sadduseërs op hulle dwalinge te wys rakende die opstanding en die engele. Vir Hom lê die rede vir hulle dwaling daarin dat hulle nie ag gee op die Skrifte – ‘n verwysing hier na die volledige Tanach, en nie slegs die Wet waarop die Sadduseërs hulle beroep het nie, en hulle gebrek aan kennis oor die krag van God. Die punt is duidelik hier dat Jesus weereens die Wet, die Profete en die Geskrifte onderskryf as gesaghebbend.

Johannes 5:39-47

Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie. Eer neem Ek van die mense nie aan nie. Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God in julle nie het nie. Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem. Hoe kan julle glo wat van mekaar eer aanneem, en die eer wat van die enige God kom, soek julle nie? Moenie dink dat Ek julle by die Vader sal beskuldig nie. Daar is een wat julle beskuldig—Moses op wie julle gehoop het. Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe. En as julle sy geskrifte nie glo nie, hoe sal julle my woorde glo?

Die Jode was weereens ontevrede met Jesus oor sy optrede oor die Sabbat en dat Hy God sy Vader genoem het. Jesus hanteer hulle ontevredenheid deur hulle terug te bring by die Skrifte en hulle hantering daarvan. Hiermee onderskryf Hy weereens die kanon van die Jode as die geskrifte wat uiteindelik na Hom verwys. Hy eindig met ‘n geweldig gelaaide aanklag: Verwerping van die waarheid van die Skrifte, by name die Wet (Moses), lei tot ‘n verwerping van Hom as die gewer van die lewe waarna hulle soek in die Skrifte!

Dit is duidelik dat Jesus in sy bediening die Joodse kanon, te wete die Wet, die Profete en die Geskrifte as gesaghebbend beskou het. Hy het Homself onomwonde daaraan verbind. Hy was duidelik. Hierdie bondel dokumente was die primêre bronne wat oor Hom geskrywe het. Sy bediening en lewe was die vervulling daarvan. 

 

Voetnotas

1. Sien Dr. Ben du Toit, God? Geloof in ‘n postmoderne tyd, CLF Uitgewers, 2000, p80-81 vir onder andere Dr Ben du Toit se siening waarin die Bybel se gesag lê.
2. Baie van die geskrifte is gekombineer in die Joodse geskrifte, wat die volle getal van 39 soos ons dit in ons Ou Testament het volmaak.
3. Die uitdrukking “die psalms” is hier sinoniem vir “die geskrifte”.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *