Jesus Christus het die gesag van die Ou Testament (soos ons as Christene dit ken) bevestig en onderskryf. Hiervoor is daar voldoende bewyse uit die Nuwe Tesatementiese geskrifte. Vir Hom was dit sonder twyfel dat die Ou Testament (die Tanach) goddelike gesag gehad het en dan verder oor Hom geskrywe was. Die vraag is egter wat dan van die gesag van die Nuwe Testament? Die kanon van die Nuwe Testament is eers afgesluit lank na sy hemelvaart. Hoe kan ons sê die Nuwe Testament dra dieselfde gesag as die Ou Testament? In Die Gesag van die Bybel – Jesus Christus bevestig die gesag van die Ou Testament het ek daarna verwys dat Jesus nie net die Ou Testament nie, maar die volledige Bybel se gesag beklemtoon. Hoe Hy die Ou Testament hanteer is na verwys in daardie artikel. 

Om te verstaan hoe Hy die gesag van die Nuwe Testament bevestig, is dit nodig om te verstaan hoe Hy oor sy eie outoriteit in verhouding tot die Ou Testament dink, want dit is ‘n sleutel aspek wanneer ons verder dink oor die gesag van die Nuwe Testament.

In die sogenaamde Bergpredikasie lees ons  hoedat Jesus sekere beskouings uit die Ou Testament hanteer. Tog is daar ‘n belangrike aspek wat ons hier moet raak lees. In Matteus 5:17-19 sê Jesus:

Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.

Weereens die bevestiging van die gesag van die Ou Testament. Hierop volg nou sy uitleg van sekere aspekte van wat in die Ou Testament geleer word. Hy begin elkeen met “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is” (met so paar variasies), met dan die aanhaling uit hulle geskrifte. Nou kom die verassende egter. Na elke verwysing na wat aan die mense “van die ou tyd gesê is”, kom Christus se skokkende opmerking:

Maar Ek sê vir julle … (5:22, 28, 32, 34, 39, 44)

Met hierdie woorde, het Hy nie die gesag van die Ou Testament ondermyn nie (dit sou Hy nooit kon doen nie, aangesien dit na Hom verwys). Hy het hiermee sy eie gesag bevestig, nie as in teenstelling met dié van die Ou Testament nie, maar as gelyk, en selfs bo-oor die van die Ou Testament. Sy interpretasie van die Ou Testament het nou gesag gehad. 

‘n Interessante verdieping van hierdie gedagte kom in Matteus 7:24:

Elkeen dan wat na hierdie woorde van My luister en dit doen, hom sal Ek vergelyk met ‘n verstandige man wat sy huis op die rots gebou het.

Sy woorde, sy lering, het nou gesag. Hiermee kry ons dus ‘n uitbreiding op die gesaghebbende woorde van die Jode. Tot nou toe, was dit slegs die Wet, die Profete en die Geskrifte. Met Jesus se bediening word dit nou uitgebrei om ook “Sy Woorde” in te sluit. Dit moes geweldige opspraak gemaak het. Veral ook gesien in die lig van die uiteinde van hierdie Bergpredikasie:

En toe Jesus hierdie woorde geëindig het, was die skare verslae oor sy leer; want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het, en nie soos die skrifgeleerdes nie. (Matteus 7:28-29) 

Van nou af sou die Skrifgeleerdes, die Fariseërs, die Wetsgeleerdes, nie meer gemaklik kon wees nie, want in Jesus het die volk iemand ontdek wat die verpersoonliking was van die gesag van die die Tanach. Die belangrike is dat Jesus dit nie teengestaan het nie, maar juis na sy eie woorde verwys het as gesaghebbend. Hierdie konsep is belangrik om te verstaan vir die gesag van die Nuwe Testament.

In Lukas 4 lees ons vanaf vers 16 hoedat Jesus in Násaret op die sabbatdag in die sinagoge die boekrol lees. Hy het daardie dag uit Jesaja 61 voorgelees. Hier sien ons weereens sy onderworpenheid aan die gesag van die Profete (deel van die Tanach). Hy het nie geweier om dit te lees en sy eie lering geforseer nie. Nou kom die skokkende weer: 

En nadat Hy die boek toegemaak en aan die dienaar teruggegee het, gaan Hy sit, en die oë van almal in die sinagoge was op Hom gevestig. Toe begin Hy vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul.  En almal het vir Hom getuienis gegee en was verwonderd oor die aangename woorde wat uit sy mond kom; en hulle sê: Is Hy nie die seun van Josef nie? (4:20-22)

Belangrik om hier te sien is aan die een kant Sy aanduiding dat Hy die vervulling van die profesie is wat Hy daar gelees het, en die reaksie van almal op dit. Alles dui op ‘n positiewe reaksie van die Jode se kant. Hulle het sy woorde as aangenaam ervaar. Die ondertone hiervan is die gunstige, voordelige woord (charis in die Grieks). Punt is dat die sinagogegangers Hom en sy uitleg positief en gesaghebbend ervaar het.

Nou vanaf vers 23 kom Hy met ‘n verdere toepassing van sy Skrif op Homself. Hierna was die reaksie nie so positief nie:

En almal in die sinagoge is met woede vervul toe hulle dit hoor; en hulle het opgestaan en Hom uit die stad uitgedryf en Hom gebring tot op die rand van die berg waarop hulle stad gebou was, om Hom van die krans af te gooi. (4:28-29)

Sy woorde was dus nou nie meer so “genadig” en “aangenaam” nie, maar profeties en verdoemend (in die gees van die Ou Testament wat Hy onderskrywe het). Tog sien ons sy outoriteit voorop daarin dat hulle Hom nie kon doodmaak nie:

Maar Hy het tussen hulle deur geloop en weggegaan. (4:30)

Van hier af is Hy na Kapérnaüm, waar Hy dieselfde roete loop na die sinagoge en gereed om te leer (4:31) Kyk na die reaksie hier:

En hulle was verslae oor sy leer, want sy woord was met gesag. (4:32)

Sy woorde is as gesagvol erken. Dit gaan hierna oor in die bevryding van ‘n man wat met ‘n onrein duiwel besete was. Interessant dat hierdie duiwel weet wie Jesus is, maar Jesus maak hom stil en bevry die man. Die reaksie van almal hierop is aangrypend:

Toe kom daar verbaasdheid oor almal, en hulle praat met mekaar en sê: Wat vir ‘n woord is dit, dat Hy met gesag en mag die onreine geeste gebied, en hulle gaan uit! (4:36)

Jesus se woorde en lewe is as gesaghebbend ervaar deur dié wat dit ontvang het – of dit nou positief of negatief was, die hoorders kon nie anders as om sy bediening te sien as gesagvol nie.

In Johannes 6 is Jesus besig om Homself as die Brood van die Lewe aan te bied. Natuurlik sou daar konflik hieroor wees vanuit dié wat sy lewe en bediening geopponeer het. Ons tel die verhaal op in vers 59:

Hierdie dinge het Hy gesê in die sinagoge toe Hy in Kapérnaüm onderrig gegee het. En baie van sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister? En Jesus het in Homself geweet dat sy dissipels hieroor murmureer, en Hy sê vir hulle: Is dit julle tot ‘n aanstoot? Hoe dan as julle die Seun van die mens daarheen sien opvaar waar Hy tevore was? Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe. Maar daar is sommige van julle wat nie glo nie. Want Jesus het van die begin af geweet wie hulle was wat nie glo nie, en wie hy was wat Hom sou verraai. En Hy sê: Om hierdie rede het Ek vir julle gesê dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie. Hieroor het baie van sy dissipels teruggegaan en nie meer saam met Hom gewandel nie. Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie? En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God.

Interessant is dat hierdie gebeure afspeel in dieselfde Kapérnaüm waar die gebeure in Lukas 4 afgespeel het. Hier is dit belangrik om te sien dat daar van Jesus se volgers was wat sy woorde moeilik gesluk het. Ten eerste was dit “hard”. Jesus se antwoord: “die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe”. Net voor dit sê Hy die Gees maak lewend, nou maak Hy dit van toepassing op sy eie woorde. Die uiteinde was dat baie van sy dissipels Hom verlaat het, want hulle kon dit net eenvoudig aanvaar dat die woorde wat Hy gepraat het deur die Vader aan Hom gegee is en deur die Gees met gesag bekragtig is en daarom lewe gee nie.

Die punchline kom toe Jesus vir die twaalf vra of hulle nie ook maar wil gaan nie? Petrus antwoord Hom:

na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe. En ons het geglo en erken dat U die Christus is, die Seun van die lewende God. 

Met hierdie woorde is dit duidelik dat daar ten minste by die twaalf apostels – die toekomstige draers van Christus se gesag en boodskap in die kerk – ‘n erkenning was, nie net van die gesag van Christus nie, maar ook van die gesag van sy boodskap en dit is ‘n belangrike moment vir die vestiging van die gesag van Christus se woorde in die vroeë kerk. As hierdie twaalf dit nie sou glo nie (tegnies elf, as ons in ag neem wat Judas Iskariot sou doen en Jesus net hierna na hom sou verwys), sou die kerk nie gebou kon word op die “leer van die apostels” nie.

Ons sien ook iets hiervan in die gebed van Jesus in Johannes 17. In vers 6 bid Hy:

Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het. Hulle het aan U behoort, en U het hulle aan My gegee, en hulle het u woord bewaar.

Hy bevestig hier dat dié wat die Vader aan Hom gegee het het die Vader se woord bewaar. Die vraag is na watter woord hier verwys word. Vers 8 neem dit verder:

Want die woorde wat U My gegee het, het Ek aan hulle gegee; en hulle het dit ontvang en waarlik erken dat Ek van U uitgegaan het, en hulle het geglo dat U My gestuur het.

Die betekenis is duidelik. Die woorde van Jesus, wat as so gesaghebbend ervaar en aanvaar is, is die woorde van God. Dit is ‘n geweldige aanspraak wat Jesus hier maak. Sy woorde kom van sy Vader, met ander woorde dit dra die gesag van God en het daarom die volste reg om onderworpenheid en gehoorsaamheid te vereis! Wat ons hier sien is dat Jesus self erken dat dié wat teen dié tyd sy dissipels was, het sy woorde as die woorde van God self aanvaar. Nou kom vers 17:

Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.

en vers 19:

En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.

Die Vader het sy woorde aan Jesus gegee, wat dit weer op sy beurt aan verkondig het en dit is deur die dissipels aangeneem as die woorde van God en op grond daarvan Jesus se identiteit as die Messias, die Gestuurde van God aanvaar. Nou maak Jesus ‘n verdere aanspraak oor hierdie woorde, naamlik dat dit die waarheid is, wat krag het om die dissipels te heilig

Al hierdie uitsprake van Jesus het geweldige implikasies vir die gesag van die Nuwe Testament, omdat die sentrale boodskap van die Nuwe Testament sou wentel om Jesus wat die gesagvolle woorde van God kom aankondig het. 

Die Here Jesus praat met sy dissipels voor sy lydenspad en belowe aan hulle die Heilige Gees. In Johannes 14:23-26 lees ons:

As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het. Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

Hier kry ons ‘n paar insiggewende aspekte oor die gesag wat Jesus se woorde vereis, maar ook oor die voortbestaan daarvan. Oor die gesag, is daar vir Jesus ‘n korrelasie tussen die liefde van die gelowige vir Jesus en die gehoorsaamheid aan Christus se leringe. Dit op sy beurt bring weer die liefde van die Vader en die inwoning by die gelowige in die spel. Alles wentel hier om die boodskap wat Jesus kom verkondig het. 

Oor die voortbestaan daarvan kom die rol van die Heilige Gees in die prentjie. Sy rol ten opsigte van die gelowiges volgens Jesus sal wees lering aan die hand van die woorde van Jesus. Vir ‘n groep mense, wat aan die vooraand gestaan het van ‘n beweging wat die geskiedenis van die mensdom vir die toekoms radikaal sou verander, is hierdie voorwaar gewigtige woorde. Hulle sou reeds die Hebreeuse Tanach hê, maar met hierdie uitsprake van Christus, sien ons reeds die embrio van ‘n kanon van gesaghebbende dokumente vir die kerk.

Kyk na die woorde van Christus in Matteus 28:18 en 19:

Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde… maak dissipels van al die nasies … en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

Let op die verband tussen die outoriteit van Christus en die rol van sy leringe hier. Dit is die inhoud van die kerk se lering aan die dissipels.

Jesus se gesag en die gepaardgaande boodskap waarmee Hy as mens kom bedien het, staan sentraal as ons dink aan die gesag van die Nuwe Testament. Terwyl Hy op aarde was, was die Nuwe Testament nog nie gevorm nie, trouens, daar was nog geen dokument op skrif oor Christus nie. Daarom was dit belangrik dat Hy in sy persoon en lering die gesag sou verteenwoordig wat later weer die gesag van die Nuwe Testament sou bevestig.
 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: