Die kerk het deur die eeue nog altyd die oortuiging gehad dat die Bybel die Woord van God is en dus daarmee die finale gesag is vir leer en lewe. ‘n Basiese beginsel waarop hierdie oortuiging berus is die inherente, interne gesag van die Bybel self omdat dit God is wat daaraan gesag verleen en nie mense nie. Ons het al daarna verwys dat Jesus self die Ou Testament as gesaghebbend aanvaar en hanteer het. Daarby het ons ook gesien hoedat Hy Homself as gesagvol aangebied het, as die een wat die woorde van waarheid leer. Hiermee het Hy Homself in ‘n sekere mate bo-oor die gesag van die Wet, Profete en Geskrifte gestel – nie om dit af te breek of omver te werp nie, maar juis om dit verder as gesaghebbend te sanksioneer.

Maar wat nou van die Nuwe Testament? Hoe moet ons dit beskou? Jesus was nie daar om die 27 boeke wat ons as deel van die Nuwe Testament aanvaar, as gesaghebbend te sanksioneer soos met die Ou Testament nie! Ons moet hierdie probleem van ‘n paar hoeke af beskou en die eerste daarvan is die gesagsbasis van Jesus vir die Nuwe Testament.

Hierdie aspek is ongelooflik belangrik vir die verstaan van die gesag van die Nuwe Testament. Terwyl Jesus sy aardse bediening uitgevoer het, was Hy besig om ‘n gesagsbasis te vestig wat fundamenteel sou wees vir die pad vorentoe. Bo alles was dit nodig om sy eie outoriteit duidelik vas te maak. Hoekom was dit nodig? Omdat Hy die woorde van lewe en waarheid van die Vader moes kom aankondig en leer, en sonder sy inherente gesag as van die Vader, sou sy woorde leeg en niksseggend wees. Hy het dus self aan sy woorde ‘n goddelike gesag verleen wat geen mens kon ontken en wegneem nie. Kyk maar hoe verbaas die skares was oor die gesag waarmee hy geleer het.

‘n Deeglike lees van die Evangelie volgens Markus wys die gesag van Jesus, uitgeoefen deur die Woorde wat Hy spreek, baie mooi uit. Die interessante van Markus is dat dit inspring met ‘n verwysing na die Profete, en daarmee onmiddelik die aanspraak maak dat wat volg is nie iets wat uit die lug val nie, maar die vervulling van God se woord soos deur die profete aangekondig (1:2)! In 1:17, 20 roep Hy die dissipels en hulle het Hom dadelik gevolg (1:18, 20). Dit laat mens wonder hoe hulle so skielik kon volg as sy woorde (waarmee Hy hulle geroep het) sonder gesag sou wees? In Kapernaum is die mense verstom oor wat Hy leer (1:21-22). In die sinagoge het sy woorde gesag om duiwels uit mense te drywe (1:23-27, 39). Hy het gesag oor siekte (1:39-31, 40-42). Duiwels bly stil op sy bevel (1:34). So ver net Markus hoofstuk 1. Die evangelie wemel van aanduidings met watter gesag Hy gepraat en geleer het en dat dit effek gehad het op die geesteswêreld, in mense se lewens en selfs die natuur. Die verband is mooi uitgedruk in die skare se opmerking: wie is hy dat dit wat hy leer en sê gebeur? Ongetwyfeld het die mense Christus as gesagvol beleef en daarom dan ook die woorde wat Hy geleer het aanvaar as gesaghebbend. 

Hierdie gesag van Christus tydens sy aardse bediening is fundamenteel vir die verstaan van die Nuwe Testament wat later erken sou word as die gesaghebbende Woord van God. Die Nuwe Testament sou vir die kerk die openbaring, of dan spreke, van God by wyse van sy Seun Jesus Christus wees. Hierna verwys Hebreërs 1:1-2:

Nadat God baiekeer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun …

Dit is ‘n aangrypende kombinasie van die Ou en Nuwe saam om een en dieselfde boodskap te verkondig.  Ons lees reeds hiervan met die verheerliking van Christus in Matteus 17. In vers 5 word ons die volgende vertel:

Terwyl hy nog spreek, oordek ‘n helderligte wolk hulle meteens en daar sê ‘n stem uit die wolk: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ‘n welbehae het. Luister na Hom!

Met hierdie woorde het die Vader die gesag van die Seun en spesifiek dan ook sy woorde bevestig. Jesus sou ook dan vir sy dissipels leer dat die rol van die Heilige Gees onder andere sou wees om die kerk te kom herinner aan wat Jesus geleer het. Die boeke van die Nuwe Testament is die praktiese resultaat daarvan. Aangrypend hoedat God Drie-Enig, Vader, Seun en Heilige Gees saamwerk om hierdie hoek van gesag te beklemtoon en uit te rol. 

Naas Christus se gesagsbasis as hoeksteen vir die gesag van die Nuwe Testament, is daar ‘n volgende aspek waarna gekyk moet word, en dit is die gesagstrukture wat Jesus in plek gestel het vir die toekomstige kerk. Jesus het nie blindelings op aarde rongeloop nie. Daar is ‘n duidelike benadering waarmee Hy te werk gegaan het. Hy was besig om die “stelsels” in plek te kry vir die tyd wanneer Hy nie meer daar sou wees om sy volgers fisies te bedien nie. Van die begin af het Hy apostels aangestel. Nou, op die oog af sou ons dalk sê dit is dalk net goeie praktyk gewees, maar Jesus was hier besig om ‘n gesagsbasis op te bou, wat vanuit sy gesag sou funksioneer as die grondleggers van die kerk. Daarom dat Paulus in Efesiërs 2:19-20 kan skrywe:

So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is …

Vers 20 is hier belangrik. Voor die Here Jesus in die hemel in opgevaar het, het die dissipels nie mooi geweet wat hulle moet doen nie. Selfs in die tyd tussen sy opstanding en hemelvaart was daar nog onsekerheid, maar met die uitstorting van die Heilige Gees, het hulle deur die krag en innerlike werking van die Gees van Christus, alles onthou wat Jesus hulle geleer het, en hulle hoof doel was om nou uitvoering te gee aan die opdrag van Christus in Mattheus 28:18-20:

En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde. Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

Let weer op die prominente rol wat die Woorde (wat Hy geleer het) in die roeping van die kerk sou speel. Ons sien die rol van die apostels baie sterk na vore kom in Handelinge 2:42-43:

En hulle het volhard in die leer van die apostels … En vrees het op elkeen gekom, en baie wonders en tekens het deur die apostels plaasgevind. 

Ook Handelinge 4:31:

En toe hulle gebid het, is die plek geskud waar hulle saam was, en hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het die woord van God met vrymoedigheid gespreek.

In Handelinge 6 is daar struwelinge oor die “gemeentelike versorging”, waarop die oplossing as volg was:

En die twaalf het die menigte van die dissipels byeengeroep en gesê: Dit is nie reg dat ons die woord van God nalaat om die tafels te bedien nie. Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees en wysheid, wat ons oor hierdie nodige saak kan aanstel; maar ons sal volhard in die gebed en die bediening van die woord.

Die apostels het hulle rol duidelik verstaan – hulle moes die gesag wat hulle van Christus ontvang het en wat deur die Heilige Gees bevestig is uitoefen deur die Woord van God te bedien. Nou is die belangrike vraag: wat het hulle dus as die “woord van God” beskou wat hulle moes bedien? Uit Handelinge en die die briewe wat sou volg, is dit duidelik dat dit nou nie meer slegs die Wet, Profete en Geskrifte was waarmee hulle groot geword het nie, maar dit is nou aangevul met die leringe oor Christus, sy lewe, sy leringe, sy bevele, sy dood, sy opstanding, sy hemelvaart, sy terugkom en die nuwe lewe in Hom waarvan die Wet, Profete en Geskrifte so duidelik oor geskrywe het. Dus, was die gesaghebbende bronne vir die kerk besig om uit te brei terwyl die Apostels hulle bediening uitgevoer het. Daarom was die latere kriteria vir die erkenning van ‘n dokument (evangelie of brief) as God se Woord Apostoliese gesag, met ander woorde, ‘n apostel het dit self geskrywe of die skrywer was ‘n metgesel of dissipel van ‘n apostel.

Ons moet nie dink die gesag van die Nuwe Testament is eers vasgemaak met een of ander sinode later nie. Glad nie. Terwyl die Apostels bedien het, was die Nuwe Testamentiese dokumentasie se gesag al bevestig deur die Heilige Gees wat die gesag van die Apostels gebruik het om dit neer te skrywe wat nodig was vir die kerk om sy leer en lewe suiwer te hou.

Vir die Apostels was dit duidelik: wat hulle geleer het, was die woord van God. Kyk maar hoe Paulus na sy eie bediening verwys en na sy eie woorde as dié van die Gees (1 Korintiërs 2, 1 Korintiërs 14:3, 2 Korintiërs 4). Seker die duidelikste voorbeeld van die aanvaarding van die leer van die Apostels as God se Woord, is Petrus se verwysing na die briewe van Paulus:

En ag die lankmoedigheid van onse Here as saligheid, soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf. (2 Petrus 3:15-16)

Ons is geneig om vinnig na hierdie vers te verwys, en dan met spesifieke verwysing na dwaling. Maar kyk mooi wat hier staan. Aan Paulus is wysheid gegee. Paulus skrywe self oor hierdie wysheid in 1 Korintiërs 2:6-13:

Tog spreek ons wysheid onder die volwassenes, maar ‘n wysheid nie van hierdie wêreld, of van hierdie wêreld se heersers, wat vergaan nie. Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid, wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie—want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie—  maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.  Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God. Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.  Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.  Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

Verder verwys Petrus na al die briewe van Paulus, nie enkeles uitgesonder nie. Nou kom ‘n gewigtige stelling, naamlik dat dwaalleraars Paulus se leringe verdraai net soos die ANDER Skrifte. Petrus plaas met hierdie paar woorde die briewe van Paulus op die selfde vlak as die res van die Skrifte, bevestig met dieselfde Heilige Gees geïnspireerde gesag as die ander Skrifte (2 Petrus 1:19-21). 

Judas verwys in sy brief na “die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” (1:3). In ag genome dat ons hier reeds al die vorming van die kerk beleef, en dat Judas na die gelowiges verwys as die “heiliges”, is dit belangrik dat hy hier al verwys na “die geloof” wat aan die hulle oorgelewer is. Hieroor skrywe hy nou dat daar vir hierdie geloof gestry moet word. Die waarheid van die boodskap van Christus was dus so belangrik dat dit werd was om sy oorspronklike bedoeling met sy brief te verander ter wille hiervan.

Die dokumente vervat in die Nuwe Testament se gesag is dus nie later aan hulle deur mense toegedig nie. Dit het juis ontstaan vanuit die gesagsbasis wat Christus kom neerlê het, en gedrywe deur die Heilige Gees het die Apostels geleer en geskrywe onder die oortuiging dat dit wat hulle skrywe en leer niks minder is nie as die Woord van God.

Iets moet gesê word oor die lewe na die Apostels. Met die afsterwe van die Apostels, is daar geen nuwe apostels aangestel nie, met ander woorde, die fondament was dus klaar gelê en die Apostels het dit ook geweet dat hulle werk nie oordraagbaar is nie. Paulus het byvoorbeeld nie apostels aangestel om die kerke wat hy geplant het te bedien nie, maar ouderlinge en diakens (Handelinge 20 en die briewe aan Timotheus en Titus is sprekende voorbeelde hiervan). Daarom is ander dokumente wat nie Apostoliese gesag gedra het nie, dan ook nie ingesluit in die Kanon nie, en is die Kanon afgesluit en kan daar nie weer boeke en nuwe openbaringe bygevoeg word nie. 

Die aanvaarding van die gesag van die Nuwe Testament berus primêr op die gesag van Christus en die gesag wat Hy aan die Apostels gegee het. Dit was nie nodig om te wag vir ‘n amptelike vergadering om hierdie gesag te erken nie. Die interessante is dat die kerk vir eeue met die nie-amptelike Nuwe Testament gewerk het. Met die sondering van Hebreërs, Judas, 2 Petrus en 2 en 3 Johannes, was die res van die kanon redelik vas aanvaar as die gesaghebbende Woord van God. Eenheid van leer en dwalinge het natuurlik die amptelike vasstelling genoodsaak, maar dit het nie die gesag daaraan verleen nie. Hierdie amptelike besluit het die inherente gesag van die Nuwe Testament erken en aanvaar.

Weet dus dat wanneer jy die Nuwe Testament lees, dit ‘n versameling boeke is wat op bonatuurlike, goddelike wyse na die kerk gekom het. Hierdie bewustheid dwing jou eintlik tot ‘n hoë siening van God se Woord, en uiteindelik van God self!

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *