Met die Algemene Sinode se sitting in 2011 is daar onder ander die volgende besluit geneem oor die duiwel en demone:

Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer. (BESLUITE RONDOM DIE BEDIENING VAN BEVRYDING – ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERK – 12 OKTOBER 2011)

Op die oog af lyk dit na ‘n onskuldige akkommodasie van verskeie standpunte (wat opsigself ‘n probleem is), maar die onlangse uitspraak van die Ring van Kuilsrivier wys dat dit ‘n gevaarliker besluit is as wat gereken word. Hierdie Ring het besluit dat Dr Ben du Toit onskuldig is aan die klag teen hom, aangesien hy nie teen die besluit van die Algemene Sinode gehandel het nie.

Dit is juis hier waar die probleem inkom, naamlik dat ‘n standpunt wat geen Skriftuurlike gronde het nie, as behoudend beskou word en daarom dus dwaalleer toelaat. Omdat die Algemene Sinode iets besluit het, beteken nie dat die Bybels gefundeer en dus geldend is nie. In hierdie besluit soos hierbo uiteengesit, is daar geen Skrifgronde nie, slegs ‘n toelatende benadering waar menslike opinies toegelaat word om Skrif te oorheers, selfs te herinterpreteer. Dit is wat dwaling doen. Dit herinterpreteer, dit laat toe dat die opinie van die mens in die pad staan van die Skrif se waarheid. 

Met hierdie besluit het die N.G. Kerk homself baie skade berokken, want die agterdeur (of is dit nou die voordeur, of moontlik al die deure) is nou oopgegooi vir die inbring van menslike standpunte. Die skrif is tog duidelik: “die duiwels glo ook in God en hulle sidder”. Hoeveel duideliker kan ‘n mens kry!

Trek mens die besluit in sy konsekwentheid deur, dan kan dit selfs ook toegelaat word dat die persoonlike aard van engele ook geloën word. Hulle is tog immers op dieselfde vlak as die demone in die Skrif. Dan is Christus se koms nie aangekondig deur ‘n engel nie, so-ook is die herders dan op een of ander mistieke wyse gelei tot by die baba. Dan moet die rol van enegele anders verklaar word, en ek sidder om te dink wat dit kan wees.

Ek dink “chaos” is die regte begrip om te gebruik vir waarheen die N.G. Kerk oppad is as gevolg van hierdie besluit. As hulle dan nie hulle leeraars met die leer kan vertrou en beheer nie, wat hou die toekoms dan in? Die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 12 handel hieroor. Gaan hulle nou hierdie artikel skrap? Hulle sal moet, want dit is lynreg teen hulle besluit in 2011. Of gaan hulle die belydenis handhaaf? Ek wonder. Ten minte het die belydenisse basis in die Skrif hiervoor, en die besluit in 2011 nie.

Die vergadering in Handelinge 15 het gesê: “Ons én die Heilige Gees het besluit”. Die Sinode van 2011 het met hierdie besluit gesê: “Ons het besluit”. 

Ons moet nie hierdie uitspraak en die appél uitspraak ligtelik opneem nie. Dit het geweldige konsekwensies vir die suiwerheid van leer binne die NG Kerk.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: