Die godheid van Christus is ‘n tema wat deur baie eeue vir baie stryd gesorg het. ‘n Knaap met die naam Arius het vroeg reeds al gereken die Christus is nie God nie. Hierteen het Athanasius baie sterk gereageer. In 325 n.C. het die Sinode van Nicea bymekaar gekom om hierdie leer te bespreek. Daar was dus twee teenoorgestelde kante hier verteenwoordig. Aan die een kant was daar dié wat saam met Arius gestem het in sy standpunt gekenmerk as “hetero-ousios”, of dan “van ‘n ander substansie”. Hierteenoor was daar die siening van Athanasius, ook bekend as “homo-ousios”, of dan “van dieselfde substansie”. Aan die einde van hierdie sitting, is die siening van Atanasius gehandhaaf en Arius is uit die kerk geban as ‘n ketter.

Tog moet ons nie dink dat die stryd om Christus se godheid te ontken laat vaar is nie. Daar sou nog telkens hierop teruggekom word in die verloop van die kerk se bestaan. Hiermee saam is natuurlik die leer van die Drie-Eenheid ook onder geweldige aanvegting, wat natuurlik direk verband hou met die godheid van Christus. Sou Christus se godheid ontken word, beteken dit die leer van die Drie-eenheid is ook ‘n dwaling.

Die studie en ondersoek na die historiese Jesus val natuurlik duidelik in hierdie debat. Dit is natuurlik gepopulariseer deur bewegings soos die Jesus Seminar en Westar, wat hulself die reg toegeëien het om die historiese Jesus te isoleer. Hulle invloed word ook gevoel hier in Suid Afrika en die kerk hier. Persone soos Marcus Borg, Richard Rohr, word as gesaghebbend aangehaal as dit by die historiese Jesus vraagstuk kom. Prof. Andries van Aarde van die Hervorde Kerk het dan ook baie nou bande met die Westar Instituut.

Die Skrif moet natuurlik vir Homself spreek in hierdie verband. Dit is tog die beginsel van die Duidelikheid van die Skrif asook dat Skrif verklaar word deur Skrif. Die vraag is natuurlik hoe. Dit is hier waar die nodigheid inkom om na die oorspronklike taal te gaan kyk of ons iets kan wys raak. Daar is ‘n paar gedeeltes wat ter sake is wanneer ons oor die godheid van Christus dink:
 

  • Johannes 1:1

  • Johannes 20:28

  • Romeine 9:5

  • 2 Thessalonisense 1:12

  • Titus 2:13

  • Hebreërs 1:8

  • 2 Petrus 1:1

  • Handelinge 20:28

  • Galasiërs 2:20

  • Efesiërs 5:5

  • Kolossense 2:2

  • 1 Johannes 5:20

  • Judas 4 

In 1798 verskyn ‘n baie interessante dokument geskrywe deur Granville Sharp. Hierdie dokument sou ‘n storm veroorsaak as gevolg van veral die toepassing van sy bevindinge op die godheid van Christus. Hy hanteer ses beginsels, maar dit is die eerste hiervan wat ‘n orkaan laat ontstaan het. Dit lui as volg:

When the copulative καὶ connects two nouns of the same case, [viz. nouns (either substantive or adjective, or participles) of personal description, respecting office, dignity, affinity, or connexion, and attributes, properties, or qualities, good or ill], if the article , or any of its cases, precedes the first of the said nouns or participles, and is not repeated before the second noun or participle, the latter always relates to the same person that is expressed or described by the first noun or participle: i.e. it denotes a farther description of the first-named person . . . .

Waarop dit dus hier neerkom is die volgende. Waar daar twee selfstandige naamwoorde van dieselfde tipe verbind word met die koppelwoord καὶ (en) en die eerste van die twee naamwoorde voorafgegaan word deur die lidwoord ὁ (die) en dit word nie herhaal voor die tweede nie, het die tweede betrekking op die eerste as ‘n verdere verduideliking van die eersgenoemde persoon. Sharp wys op 4 vereistes hiervoor:
 

  • dit moet persoonlik wees, met ander woorde verwys na ‘n persoon en nie ‘n ding nie;

  • dit moet gemeenskaplike byname wees en nie eiename nie;

  • dit moet dieselfde posisie / funksie in die sin beklee, met ander woorde voorwerp, onderwerp, besitlik, ens.;

  • dit moet in die enkelvoud wees.

Ek weet hierdie is nou kos vir die geeks, maar wat beteken dit alles vir ons vraag of Jesus God is? Die toepassing van hierdie reël het verrykende gevolge vir hierdie waarheid wat ons baie keer as vanselfsprekend aanvaar (dis nou gewoonlik totdat ‘n Jehova Getuie in sy swart pak en wit hemp op sy bicycle voor jou deur stop om jou kop vol van die Arianisme te prop).

Titus 2:13

In die 1953 vertaling lees hierdie vers as volg:

terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus

In die Netslé-Aland uitg. 26 Griekse teks lees dit so (as dit vir jou Grieks is, moenie bekommerd wees nie, want dit is):

προσδεχόμενοι τὴν μακαρίαν ἐλπίδα καὶ ἐπιφάνειαν τῆς δόξης τοῦ μεγάλου θεοῦ καὶ σωτῆρος ἡμῶν Ἰησοῦ Χριστοῦ

Die relevante gedeelte vir ons bespreking is die volgende:

τοῦ μεγάλου θεοῦ καὶ σωτῆρος ἡμῶν (letterlike vertaling: die grote God en Redder van ons).

Die reël van Sharp toegepas hierop is soos volg:

bepaaldie lidwoord: τοῦ (die)
selfstandige naamwoord: θεοῦ (God, wat verder gekwalifiseer word as groot – μεγάλου)
koppelwoord “en”: καὶ (en)
selfstandige naamwoord: σωτῆρος (Redder)

Hierdie vers kan op drie wyses verstaan word:
 

  • Jesus Christus is “die grote God en Redder”;

  • Die “grote God” en die “Redder” Jesus Christus is onderskei van mekaar;

  • In die breër konteks van die vers staan Jesus Christus in verband met die “heerlikheid” en “ die grote God en Redder van ons” verwys slegs na God.

Wanneer ons Sharp se reël hier toepas, staan dit soos ‘n paal bo water dat opsie 1 hierbo die betekenis van die uitdrukking die beste weergee, naamlik dat Jesus Christus “die grote God en Redder is”. Onmiddelik met hierdie interpretasie word die goddelikheid van Christus onderstreep. Ook die wyer konteks van verse 11-15 onderstreep dit, veral as na vers 14 gekyk word, wat baie bou op Ou Testamentiese agtergrond van God se handelinge met sy volk. Vers 14 sê duidelik dat Jesus vir “Homself ‘n volk as sy eiendom” gereinig het.

2 Petrus 1:1

‘n Volgende vers kom ook hier ter sprake, 2 Petrus 1:1. Die 1953 vertaling lees as volg:

Simeon Petrus, ‘n dienskneg en apostel van Jesus Christus, aan die wat net so ‘n kosbare geloof as ons verkry het deur die geregtigheid van onse God en Saligmaker, Jesus Christus

Weereens die Grieks:

Συμεὼν Πέτρος δοῦλος καὶ ἀπόστολος Ἰησοῦ Χριστοῦ τοῖς ἰσότιμον ἡμῖν λαχοῦσιν πίστιν ἐν δικαιοσύνῃ τοῦ θεοῦ ἡμῶν καὶ σωτῆρος Ἰησοῦ Χριστοῦ

Die relevante gedeelte vir ons bespreking is die volgende:

τοῦ θεοῦ ἡμῶν καὶ σωτῆρος (letterlike vertaling: die God van ons en Redder).

Die reël van Sharp toegepas hierop is soos volg:

bepaaldie lidwoord: τοῦ (die)
selfstandige naamwoord: θεοῦ (God)
koppelwoord “en”: καὶ (en)
selfstandige naamwoord: σωτῆρος (Redder)

‘n Soortgelyke frase kom voor in 2 Petrus 1:11 (sowel as in 2:20 en 3:18): τοῦ κυρίου ἡμῶν καὶ σωτῆρος Ἰησοῦ Χριστοῦ (letterlike vertaling: die Here van ons en Redder Jesus Christus). Hier is geen twyfel nie dat na Christus verwys word as die Here en Redder. Vergelyk ons die konstruksie met dié van vers 1 is dit identies, behalwe dat in vers 1 “God” en in vers 11 “Here” gebruik word. Die logiese gevolgtrekking is dus waarom sou ons 1:11, 2:20 en 3:18 op een manier lees en dit nie konsekwent toepas ook op 1:1 nie? Logiese toepassing van die Sharp beginsel dwing ons om volgens 1:1 te verstaan dat Christus is God.

Die bydrae van hierdie reël tot die verstaan van die oorspronklike Griekse taal konstruksie moet nie verby gekyk word nie. Alhoewel Sharp ook ander tekste gebruik om sy reël te staaf, staan hierdie twee uit. Alhoewel hulle nie op die oog af opval as tekste wat die godheid van Christus aandui nie, lig Sharp se reël hulle baie mooi as nuttig in die hand van die apologeet wanneer hierdie geweldig belangrike temas en leerstukke van die godheid van Christus en die Drie-eenheid op die tafel geplaas word. Wat ons hieruit opmerk is dat Christus wel God is soos bevestig deur twee van sy kern apostels en soos deur Homself ook toegeëien (Johannes 8:58).

 

Bronnelys

Granville Sharp, Remarks on the Uses of the Definitive Article, 1798
Sharp Redivivus? – A Reexamination of the Granville Sharp le Study By: Daniel B. Wallace
In Ephesians 4:11 where Paul links pastor-teacher, is this a valid link due to the “kai”? Some say that there are exceptions to this rule and that pastor and teacher can be seperated in this verse. Does the exception apply to this verse?Rules concerning the Greek conjunction “and” and the article “the” And The “Granville Sharp Rule Number One”

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *