Om die goedheid van God te hanteer in dieselfde asem as die soewereiniteit van God is bitter moeilik. Nie omdat die twee eienskappe met mekaar niks uit te waai het nie, maar omdat die soewereiniteit van God in ons dag so verdraai is dat daar in menslike opinie niks van God se goedheid in te vinde is nie.

Die polarisering tussen Calvinisme en Arminianisme het ook nie baie bygedra tot ‘n nugtere verstaan daarvan nie. Aan die een kant staan die Calvinisme so sterk gegrond op die “soewereiniteit” en aan die ander kant wikkel die Arminiane hulle voortdurend los om vry te wees om te kan kies. Uit hierdie debat hoor ons baie min van die goedheid van God in sy soewereiniteit, wat eintlik baie jammer is.

Die liberale teologie is dan ook nou maar eenmaal baie vry in hulle denke oor God, mens en die verhouding tussen die twee. In ‘n teologiese mondering wat die emansipasie, of mondigwording van die mens voorhou, is daar maar min plek vir ‘n soewereine God, laat staan nog ‘n God wat sy goedheid wys deur sy soewereiniteit. 

Dit bly nou maar eenmaal so dat wanneer ‘n mens te menslik oor God begin dink, jy al hoe minder die realiteit en nodigheid van God se soewereiniteit raaksien. Die rede hoekom dit so ‘n kontroversiële eienskap is, is omdat die wesenlike van God se soewereiniteit dwars insny teen die mens en sy natuurlike uitkyk. Soewereiniteit veronderstel drie uiters belangrike aspekte, naamlik vryheid, posisie en outoriteit. Dit lê aan die basies van soewereiniteit, of dit nou dié van God is, van ‘n regering, van ‘n bestuurstelsel, of wat ook al. Waar daar verwys word na soewereiniteit, daar kom hierdie drie aspekte op die dansvloer.

Nou as ons kyk na hierdie drie aspekte vanuit die mens se siening oor homself, kan ons natuurlik baie vinnig agterkom hoekom hy ‘n probleem met die soewereiniteit van God sal hê, want op elkeen van hierdie terreine kom die menslike natuur daarteen in opstand.

Vryheid

Om soewerein te wees, vereis dat die persoon ook vryheid sal hê om soewerein te kan optree. God is vry om te doen wat Hy wil. Hy hoef aan niemand verslag te doen oor sy besluit nie, en Hy is perfek in die keuses wat Hy maak. Psalm 135:6 verduidelik dan ook God se vryheid:

Alles wat die HERE behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes;

Jesaja 46:10:

My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen …

en Psalm 115:3:

Hy doen alles wat Hom behaag.

Hy is vry om keuses te maak en vry om daardie besluite uit te voer. Hy het niemand se raad, kennis, wysheid en leiding nodig daarin nie. Hy is verantwoordbaar slegs teenoor Homself en teenoor geen ander wese nie. Dit beteken egter nie dat God se vryheid die “grense” van sy wese, of dan wie Hy is, verontagsaam nie. Dit beteken wel dat Hy in die uitoefening van sy vryheid getrou is aan Homself. Sy vryheid is dus in perfekte harmonie met wie Hy is. Omdat Hy dus goed is, oefen Hy sy vryheid uit om sy goedheid sigbaar te maak; omdat Hy heilig is, kom dit na vore as Hy sy vryheid beoefen. Omdat Hy goed is, sal sy vryheid Hom nooit die kwade laat doen nie, want dan sou Hy die grens van sy eie goedheid oorsteek en nie meer getrou wees aan Homself nie. Paulus lig hierdie punt vir ons uit in 2 Timotheus 2:13:

As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.

Op aangrypende wyse lees ons hoe vry Christus was oor sy sending, sy dood en sy lewe:

Daarom het die Vader My lief, omdat Ek my lewe aflê om dit weer te neem. (Johannes 10:17)

Vir Pilatus het Hy gesê:

U sou geen mag teen My hê as dit u nie van bo gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u oorlewer, groter sonde. (Johannes 19:11)

Pilatus, wat “soewerein” was in sy posisie, was nie vry voor die plan van God nie, terwyl Hy wat veroordeel gestaan het Homself in sy vryheid aan die plan van God onderwerp het!

Posisie

Soewereiniteit veronderstel ook posisie. Daar moet ‘n posisie wees vanwaar daar opgetree word. Oor God se soewereiniteit sê Arthur Pink onder andere:

“The sovereignty of God may be defined as the exercise of His supremacy”1

God is die Heerser oor die heelal, ver verhewe bo enigiets in sy ganse skepping! In Psalm 50:21 sit Hy ons goed op ons plek:

Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy!

Paulus loof Hom in 1 Timotheus 1:17:

Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen.

en in Openbaring 5:13 hoor ons:

En elke skepsel wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde en wat op die see is, en alles wat in hulle is, het ek hoor sê: Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam kom toe die lof en die eer en die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!

Job moes hierdie duur les leer na hy en sy drie vriende se heen-en-weer oor waarom Job se swaarkry oor hom moes kom. God stuit Job in sy woorde, maak hom stil en wys vir hom wie Hy is uit die skepping rondom hom. In Job 42 lees ons Job se reaksie was een van bekering en erkenning van sy dwaasheid om die God van die heelal aan te vat.

Seker een van die mooiste gedeeltes oor die wese van Christus is dié in Kolossense 1:15-21 wat die Here Jesus se heerskappy oor hierdie heelal besing. Na Sy opstanding uit die dood hoor ons dan “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op die aarde.” Lees ook maar Efesiërs 1 oor sy posisie wat Hy bekleë.

Jesus sê ‘n ongelooflike belangrike ding vir Pilatus oor sy Koningskap:

My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie.  Pilatus sê toe vir Hom: Is U dan tog ‘n koning? Jesus antwoord: U sê dat Ek ‘n koning is. Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig. Elkeen wat uit die waarheid is, luister na my stem. (Johannes 18:36-37)

Hier sien ons die goedheid van God in die deurbreek van sy koningskap tot op so ‘n vlak dat die mens daaraan kan deel kry deur die dood en opstanding van sy Seun. Onthou die woorde waarmee Jesus sy bediening op aarde begin het? “Bekeer julle, want die koninkryk van God het naby gekom.” Ook sy koningskap openbaar sy goedheid. Die reëls van sy koninkryk fokus op sy goedheid. As God se vryheid om te doen wat Hy wil die goeie wil, dan kan sy koningskap nie anders nie.

Outoriteit

Een definisie sê die volgende oor outoriteit:

the power to determine, adjudicate, or otherwise settle issues or disputes; jurisdiction; the right to control, command, or determine.2

Die Skrif sê baie oor van God se outoriteit oor in die algemeen sy skepping, maar in die besonder sy volk. Nie selgs die Ou Testament nie, maar die Nuwe maak baie van goddelike gesag. Jesus is duidelik oor die gesag wat Hy as opgestane Here oor alles uitoefen (Mattheus 28). Die hele Markus Evangelie is ‘n tentoonstelling van die gesag van Christus oor alles waarvan die mense die verlede, hede en toekoms Hom bevraagteken. Kolossense 1 besing sy mag en oor alles wat bestaan, sigbaar en onsigbaar. 

Aldrie hierdie boustene is teenwoordig by God. Hy is absoluut vry sonder enige beperkinge, Hy is heerser or alles en sy gesag strek oor alles. Daarom is Hy die soewereine God wat optree soos Hy wil. Hy doen egter niks wat sy eie wese sal verdraai nie, want dan is Hy nie meer wie Hy sê Hy is nie. Hy is absoluut vry om met sy koninkryk te maak soos en wanneer Hy wil en dinge so te bestuur dat dit gebeur. Dit doen Hy dan in ooreenstemming met sy aard, wat goed is, wat die goeie vir sy kinders soek.

Moses vra om God se heerlikheid te sien, en God sê dit is reg, Hy sal sy goedheid aan hom wys (Eksodus 33:19). Sy goedheid word gesien in sy Naam en in sy soewereiniteit. Dit is deel van wat Hy aan Moses sal openbaar as sy goedheid:

Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig wil wees, en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm.

Sy soewereiniteit maak seker dat sy goeie wil waar word en dit is nie ons plek om dit in twyfel te trek nie. Arthur Pink sê hieroor:

God is sovereign. His will is supreme. So far from God being under any law of “right,” He is a law unto Himself, so that whatsoever He does is right. And woe be to the rebel that calls His sovereignty into question: “Woe unto him that striveth with his Maker. Let the potsherd strive with the potsherds of the earth. Shall the thing say to Him that fashioned it, What makest Thou?” (Isa. 45:9).3

Spurgeon sê dievolgende:

He will show mercy, but He will take care so to grant it that His own absolute prerogative shall be conspicuous. He exercises a right of His own in every act of mercy—it is not of debt, but of Grace—therefore, no flesh shall glory in His Presence. … We thank God that He is King. We delight in His absolute Sovereignty, knowing as we do that He is too wise to err, too good to be unkind. Therefore, we say, “Let His will be done on earth even as it is in Heaven” — and in all things let His counsels prevail — for in submission to Him we find all the purposes of His heart on our side, while in resistance to Him we find all His de-crees set in array against us! Let not the creature, therefore, ask account fromthe Creator! Let not the subject call in question his rightful Lord! Above all, let not the disciple havea scruple about His Master’s teaching. Not, indeed, that we should gaze at this one attribute till our eyes are so blinded with its dazzling splendor that we cannot perceive other attributes of the Almighty. All His perfections blend and harmonize — none of them clash or contradict one another!4

 

Voetnotas

1. Arthur W. Pink,  The Sovereignty of God
2. http://dictionary.reference.com/browse/authority
3. Arthur W. Pink, The Sovereignty of God
4. Charles Spurgeon se preek uit Exodus 33:18-23 God’s Glory and His Goodness 

 

Bronne

Sermon 77 – Psalm 119:68 – Thou art good, and doest good: teach me thy statutes. (Preek van Thomas Manton oor die Goedheid van God) 
Charles Spurgeon se preek uit Exodus 33:18-23 God’s Glory and His Goodness 
The Goodness of God A.W. Pink

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *