jona

Deur WJ Louw        (23 Junie 2014)

Daar word in die Bybelse wetenskap klem gelê op die verstaan van ‘n boek vanuit die literêre kategorie waarin dit val, vandag miskien nog meer as vroeër. Hieroor kan daar geen verskil van mening wees nie. Vanselfsprekend word ‘n brief anders gelees en verstaan as ‘n stuk poësie, geskiedenis anders as wysheidsliteratuur. Meeste van die Skrif se onderskeie literatuursoorte is duidelik. Volgens sommige geleerdes is die ware karakter van die boek Jona egter nie onbetwisbaar duidelik nie.

Deist (Die God van Jona, blse 1-12) pleit daarvoor dat die boek ‘n “voorbeeldvertelling” is. Daarmee bedoel hy ‘n verhaal wat naby aan ‘n gelykenis is, maar anders as ‘n gelykenis meer as een idee op ‘n keer tuisbring. Allen meen weer dat Jona wel ‘n gelykenis is en dat ‘n gelykenis tog meer as een betekenis kan hê en selfs lank kan wees (The New International Commentary on the Old Testament, p. 178).

Daar is drie argumente vir die historiese karakter van die boek

* Die boek bied dit self so aan: ‘n historiese persoon, Jona, die seun van Amittai (vlgs. 2 Kon. 14:25 ‘n profeet in die tyd van 2 Jerobeam); historiese plekke, nl. Tarsis en Nineve. Oor hierdie historiese gegewens bestaan geen twyfel nie.

* Die Joodse tradisie het deurgaans die boek as geskiedenis deurgegee.

Byvoorbeeld die apokriewe boek Tobias 14:4 Vertrek na Medië, my seun, want ek glo vas wat die profeet Jona aangaande Nineve gesê het, dat dit verwoes sal word.. (P.A. Verhoef Afrikaanse Vertaling van die Ou Testamentiese Apokriewe). Die Joodse geskiedskrywer Josefus vertel die verhaal van Jona as deel van sy geskiedenis van die Jode. Hy sluit dit af met Now, I have given this account of him as I have found it written in our books (AJ 1X 10, 2)Deist sien hierin dat hy moontlik kon getwyfel het oor die historiese waarheid van hierdie verhaal. Al sou Deist korrek wees, toon Josefus se verwysing na die boeke waaruit hy dit haal, dat dit deur sy volk as deel van hulle geskiedenis aanvaar word. Sy verwysing na sy bronne vir Jona se geskiedenis kan ook beteken dat Josefus besef het dat die verhaal van die vis vir die praktiese Romeine ongeloofbaar sou klink. Daarom beroep hy hom op die bronne om aan te toon dit iets is waarvoor daar bewyse bestaan.

* Jesus het van die gebeure in die boek Jona as histories betroubaar gepraat.

Die belangrikste bewys is dat Christus Hom op Jona se ervaring beroep het as teken wat na Sy opstanding uit die dode verwys (Matt. 12:38 – 41, 16:4; Luk. 11:16, 29-32): Soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, so sal die Seun van die mens drie dae en nagte in die hart van die aarde wees. Die manne van Nineve sal in die oordeel opstaan saam met hierdie geslag en dit veroordeel; want hulle het hul op die prediking van Jona bekeer en meer as Jona is hier!

Watter tekenwaarde sou Jona vir die mense van sy eie tyd gehad het? Ek glo dat sy ondervinding met die vis veral vir die Nineviete gegeld het as bewys dat God self hierdie man na hulle stuur. Of sou so ‘n grootse ervaring nie bekend geword het in die wêreld van daardie tyd nie? Is dit geloofbaar dat die matrose nie oral sou vertel het van hulle benouende ondervinding met hierdie profeet van God nie, veral in die lig van die groot indruk wat dit op hulle gemaak het: Hoe hy van God af gevlug het as gevolg van sy weiering om na Nineve te gaan en hoe hulle gedwing was om hom in die see te gooi? Die Nineviete se bekering kan verstaan word in die lig daarvan dat Jona se vorige ervaring oor hulle aan hulle bekend geword het. Dit sou aan sy boodskap groot gewig verleen het.

[Dit is ‘n vraag of Jona nie dadelik na hy uit die “dood” teruggekom het, na Nineve gegaan het nie. Dit sou die tyd vir die matrose se storie om Nineve te bereik te kort maak. Hoofstuk 3 sê dat Jona eers gegaan het nadat die woord van die Here vir ‘n tweede keer na hom gekom het. Geen aanduiding van hoe kort of lank na sy verlossing uit die vis dit gebeur het, word gegee nie.]

Dit gaan vir Jesus egter om Jona as teken vir die mense van Sý tyd en daarna. Dit is in lyn met hoe Hy ook vir Sy dissipels ín al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het, uitgelê het (Luk. 24:27). In Jona het Hy dan ‘n teken van Sy opstanding gesien.

In die manier waarop Jesus oor Jona as teken praat, is dit duidelik dat Hy die historisiteit van die boek Jona aanvaar. Dit blyk daaruit dat Hy in dieselfde asem van Jona se verblyf in die vis praat as van die Nineviete wat in die oordeelsdag teen die Jode van Jesus se geslag sal getuig. Dit veronderstel dat Jona net so werklik bestaan het as wat die Nineviete bestaan het en dat Jona se ondervinding met die vis net so werklik as die Nineviete se bekering was. Die Nineviete het weer net so werklik bestaan as die Jode van Jesus se tyd en omgewing want albei geslagte sal in dieselfde oordeelsdag verskyn. Net so werklik as wat die ongeloof van die Jode was, was die bekering van die Nineviete. Meer nog, die Nineviete se bekering was net so waar as wat die oordeelsdag is. Het die Regter van die oordeelsdag (Hd. 17:31; let hier op hoe Jesus se opstanding en die oordeelsdag saam genoem word) Hom miskien oor die Nineviete se bekering misgis? Belaglik.

Jesus praat oor Sy opstanding as iets wat beslis sal plaasvind (en ons weet wel plaasgevind het). Jesus se argument kom daarop neer dat mense sou kon getwyfel het of iets soos Jona se ondervinding moontlik was, maar die feit dat dit gebeur het, toon dat dit bo alle twyfel waar is. Net so kan mense twyfel of iets soos ‘n opstanding uit die dode sonder om daarna weer te sterwe, moontlik is. Jesus stel dit as ‘n sekerheid. Dit sal gebeur.

Indien Jona se ervaring net ‘n storie met ‘n les was, sou dit afbreuk gedoen het aan die bewyskrag wat Christus daaraan gee. Ons sou dan kon gevra het of Hy werklik uit die dood sou opstaan as dit op dieselfde vlak lê as die “storie” van Jona se viservaring. Feit is dat Jesus se opstanding uit die dood histories ‘n veel groter wonder as Jona se viservaring was. Waarom sou ‘n mindere wonder dan so ongelooflik en minder werklik wees? Hierdie raamwerk van Jesus se getuienis oor Sy eie opstanding verleen aan die historisiteit van Jona se ondervinding met die vis en die bekering van die Nineviete veel geloofwaardigheid.

Onthou dat Jesus in hierdie gedeelte oor geloof in Hom praat (die Nineviete se geloof in Jona se prediking sal getuig teen die ongeloof van die Jode in Hom wat meer as Jona is). ‘n Beskouing dat Jona se viservaring en die Nineviete se bekering net ‘n soort gelykenis of storie was, sou Sy eie opstanding ook maar ‘n soort gelykenis maak wat net een of ander geestelike les wil tuisbring. Geloof daarin sou dan ook maar die soort geloof wees wat ‘n mens het wanneer jy ‘n storie met ‘n geestelike les/se lees en so ‘n soort geloof kan geen verskil maak aan die ewige saligheid van mense nie. Hierop wil ‘n mens soos Paulus uitroep: Anathema! Al sou ‘n engel uit die hemel so iets vertel. (Gal. 1:8)

Allen probeer die bevestiging van Jesus se woorde vir die historiese karakter van die boek wegredeneer : …It is not strict exegesis that is reflected in Jesus’ use of the narrative of Jonah and the fish, but the popular understanding, which the Lord took up and employed as a vehicle for truth concerning himself. …his reference merely reflects the contemporary view without necessarily endorsing it for the student of the OT. Moreover, allowance must be made for a figurative element in the teaching of Jesus.. (A.w. p.180)

[Terloops, hierdie argument aanvaar natuurlik dat die Jode van Jesus se tyd en daarvoor Jona se ervaringe as geskiedenis beskou het. Daar is nooit aan hulle enige tradisie oorgedra van Jona se verhaal as ‘n blote gelykenis nie.]

Laat die Skrif self op hierdie teorie van Allen antwoord. Elders waarsku Jesus ook oor die oordeelsdag, hierdie keer oor die Joodse stede Kapernaum, Betsáida en Górasin wat Hom en Sy boodskappers verwerp (Mat. 11:20-24; Luk. 10:11-15). Hy gebruik Tirus en Sidon, Sodom en Gomorra as voorbeelde van stede met wie dit in die oordeel verdraagliker sal gaan as met stede waarin Hy Sy werke gedoen het en wat tog nie in Hom geglo het nie. Jesus se woorde oor Jona en die bekering van die Nineviete pas duidelik in by dieselfde waarskuwing as hierdie oor die ander stede. Die wyse waarop Jesus praat van Sodom en Gomorra as plekke wat histories bo alle twyfel onder die oordeel van God gekom het, van Kapernaum en Betsáida as plekke waarin Hy tog werklik Sy wonders gedoen het, gee aan Sy getuienis oor Tirus en Sidon mos die krag dat hulle werklik tot bekering sou gekom het. In die lig hiervan bewys wat Hy oor Nineve se bekering sê, dit wat Hy oor Tirus en Sidon se bekering sê. As Jesus van al hierdie ander plekke en wat daarin en daarmee gebeur het, as werklikheid praat, waarom sou Hy in Nineve se geval dan skielik maar net by Sy hoorders se opvatting aansluit? Al hierdie waarskuwingsgedeeltes staan baie sterk in die teken van dieselfde werklikheid en historiese betroubaarheid as wat die oordeelsdag self verseker kom.

Hierdie twyfel oor die boek Jona bring jou uiteindelik by die vrae: Het Jesus werklik hierdie woorde gesê? Is Hy die Seun van God? Het Hy werklik uit die dode opgestaan? Het Hy geweet waarvan Hy praat? Natuurlik. Prys die Here!

Probleme rondom die aanvaarding van die historiese karakter van die boek kan onder twee hoofde opgesom word:

# probleme vanuit die mens se ervaringsveld en kennis van die natuur.

# probleme vanuit argeologiese gegewens.

Probleme vanuit die mens se ervaringsveld en kennis van die natuur

Dit laat die twee “verhale” van Jona se oorlewing in die vis en die wonderbare plant na ‘n opgemaakte storie lyk. Omdat ‘n verklaring nie vanuit die mens se rede en ervaring daarvoor gegee kan word nie, sou die boek vir wetenskaplik ingestelde mense ongeloofwaardig wees.

Die antwoord hierop is voor die handliggend:

* Die wetenskap self worstel op verskillende terreine met feitlike gegewens waarvoor dit nog nie ‘n verklaring het of tot onlangs toe nie gehad het nie, bv. die vraag of lig uit bewegende partikels bestaan of suiwer ‘n golfbeweging is. Vir lank is daar gesoek na ’n versoening tussen die relatiwiteitsteorie van Einstein en die kwantumteorie van Böhl en ander. Of dit al gevind is, weet ek nie. Tog word altwee as waar aanvaar.

* Sydlow Baxter (Explore the Book, in loc.) vertel van twee geleenthede waar matrose deur walvisse ingesluk was en weer lewend daaruit gehaal is nadat die walvisse geharpoeneer was. In een geval die volgende dag en in die ander drie dae later. Ook RK Harrison (Introduction to the Old Testament, p. 907) wys daarop dat verskeie soortgelyke verhale al gepubliseer is maar dat sommige deur persone wat daarby betrokke sou gewees het, ontken is. Almal kan egter nie so afgemaak word nie. Verder sê hy : ..while the true whale whose habitat is in the Arctic Ocean rather than in the Mediterranean Sea (en dus waarskynlik nie die genoemde vis van Jona se ervaring sou gewees het nie, WL) cannot swallow a man, the sperm whale most probably can. Despite this constitutional objection it was shown as long ago as 1915 that even a true whale can save a man from drowning if he managed to negotiate the air supplytract of the mammal and reach the laryngeal pouch (G. Macloskie, Bibliotheca Sacra, LXXII 1915, pp. 336f).

* Hoekom sal die geskiedenis van Jona meer ongeloofbaar wees as byvoorbeeld Israel se verlossing uit Egipteland met daarby die droogvoetse tog deur die see of deur die Jordaanrivier of die val van Jerigo se mure of die son wat stilgestaan het? Die geskiedenis van Jona is in lyn met die wonderbaarlike karakter van die hele Skrif. Kan dit anders as dat die onbeperkte Wese dikwels die grense van ons ervaring en kennis sal oorskry wanneer Hy in die beperkte, geslote kring van tyd en ruimte inbreek om met individue en volke, ja, met die mensdom te handel? Sou Hy dit nie juis doen om te toon dat Hy alleen God is teenoor die aanspraak van die heidene oor hulle sogenaamde gode nie? In Jona sien ons hoedat Hy Sy mag en soewereine beskikking ten dienste van Sy ontferming gebruik. Vir geloof is God die grootse van alle feite en realiteite. Gesien vanuit die feit dat dit God is wat handel, is dit histories geloofbaar dat bonatuurlike dinge by geleentheid sal gebeur.

Vanuit ons geloof in God gesien, kan ‘n mens op die twyfel oor die historiese karakter van die boek Jona reageer deur die volgende vrae te vra en daarop te antwoord:

– Kan God so iets doen?

– Sou Hy dit wou doen?

Kan God so iets doen?

Natuurlik. Enigiets is vir Hom moontlik, anders is Hy nie God nie (vgl. Jer. 32:27 Ek is die Here, die God van alle vlees. Sou enige ding vir My te wonderbaar wees? Mk. 14:36 Abba, Vader, alle dinge is vir U moontlik… )

Sommige mense se probleem met Jona se viservaring is dat hulle God te klein is. Daar is dinge wat Hy nie kan doen nie. Waarom het hulle nie probleme daarmee dat die mens ‘n duikboot kan maak wat tientalle mense vir weke onder die water kan huisves nie? Dit is ‘n belaglik om te dink dat die Skepper van die ganse heelal nie ‘n vis kan maak wat een man drie dae lank binne in hom onder die water kan laat lewe nie. Is God dan tot minder in staat as die mens wat Sy skepsel is? Inteendeel, die mens kan ‘n duikboot maak, maar nie ‘n vis nie. (Robert Barr)

Sou God dit wou doen?

Die boek self en die res van die Bybel antwoord hierop ‘n duidelike ja. In die eerste plek in die lig van wat Hy die profeet wou leer en met hom wou bereik. In die tweede plek in die lig daarvan dat Hy vir die Nineviete ‘n buitengewone bewys gee dat Hý Jona stuur. In die derde en belangrikste plek in die lig van wat Hy daarmee vir ons wou leer oor Christus se opstanding uit die dode en die verkondiging van Sy Woord daarna aan die heidene. In die vierde plek omdat Hy God is teenoor die afgode van Nineve en ander tye. Sy gedagtes en werk gaan ons s’n ver te bowe. Juis Jona se ervaring met die vis onderstreep hoedat Hy die ewige God is wat vooruit dink en werk – met die oog op Sy Seun se koms en ons verlossing.

Probleme vanuit die argeologie en die buite-Bybelse geskiedenis

Dit bring ons by ‘n derde vraag: Het God dit gedoen?

Deist en Allen noem in hulle kommentare oor Jona die volgende redes waarom die boek nie histories verstaan moet word nie:

* Opgrawings toon dat die ou Nineve nie naasteby die groot stad kon gewees het wat in die boek veronderstel word nie. So byvoorbeeld lees ons in 3:4 Nineve was ‘n ontsaglike groot stad, drie dagreise te voet. Deist wys daarop dat die stad ’n omtrek van ongeveer 10 kilometers moes gehad het toe dit ná Jona se tyd vergroot is. Dit was dus in Jona se tyd kleiner as na Sanherib se vergroting daarvan.

Die volgende verklarings is al vanuit die historiese betroubaarheid van die boek gegee:

Dr. Jan Ridderbos oor hoofstuk 3 vers 3: Onses insiens is die oplossing dit dat vers 3 aangee hoeveel tyd Jona nodig gehad het om die stad deur te trek (drie dagreise te voet, WL). En dan het ‘n mens niks vreemds nie, dat hy vir ‘n stad met ‘n middellyn van een dagreis drie dae nodig het. Hy kon tog nie reguit geloop het nie, maar moes soek na geskikte plekke, pleine, ens. (Korte Verklaring: Jona)

Bybel met Verklarende Aantekeninge (T.F.J. Dreyer): drie dagreise te voet, letterlik: ‘n gang van drie dae; die omtrek van “groot Nineve” was, blykens opgrawings, inderdaad ongeveer drie dagreise te voet. Die eintlike stad Nineve was wel veel kleiner, maar wanneer die omliggende plekke soos Resen en Kalag as voorstede van Nineve beskou word, soos wel die geval in Gen 10:11 en 12 is, dan is hierdie “groter Nineve” ongeveer 60 myl (= 100 km, WL) in omtrek.

* Daar is geen argeologiese bewyse van enige grootskaalse bekering van die Nineviete in antwoord op ‘n koninklike edik nie.

Die argeologie leer ook iets anders. Latere konings of die kroniekskrywers het soms inskripsies wat volgens hulle mening ongunstig op hulle volk se geskiedenis reflekteer, verander. In Egipte byvoorbeeld het die afgodiese priesters na die dood van die monoteïstiese farao, Ikhnaton, die herinnering aan sy geloof in net een god probeer uitwis. “Very naturally, after Ikhnaton was gone, the people, particularly the priests, made a savage effort to destroy everything that Ikhnaton’s artists and craftsmen had produced. They succeeded so well in this work of destruction that not a great deal has survived to reveal to us the marvellous art and religion of Ikhnaton’s revolutionary reign” (Breasted, James Henry Ancient Times, p. 121)

Dit is ‘n fout om die huidige stand van argeologiese kennis ‘n maatstaf vir die historiese betroubaarheid van die Bybel te maak, ja, om argeologiese bewyse bokant die Bybelse getuienis te stel, asof die Bybel fouteer as dit nie met die argeologiese gegewens rym nie.

[So byvoorbeeld wou geleerdes nie Lukas se getuienis oor die goewerneurskap van Cirenius ten tye van Jesus se geboorte aanvaar nie omdat Cirenius dan eers na Christus se geboorte goewerneur van Sirië geword het (6 n.C.). Voldoende getuienis het egter later aan die lig gekom dat Cirenius jare voor sy goewerneurskap reeds vir ‘n tyd lank in amptelike hoedanigheid in Sirië gedien het (Deissmann; Major), of as ‘n keiserlike legaat (Ramsay) of as goewerneur (Calder). Dit is onseker of die datum vir sy vorige offisiële optrede 10-7 of 3-2 v.C. was. ( Norval Geldenhuys, Commentary on the Gospel of Luke, p. 105-106). Let egter daarop dat die argeologie vir baie geleerdes groter bewyskrag gehad het as die Bybel.

So ook is dit verwerp dat Beltsasar koning van Babel was toe Daniël aangekondig het dat sy regering die bepaalde nag omvergewerp sou word. Daar is geredeneer dat Nabonidus die koning van Babel was toe die Meders en Perse dit verower het. Toe het nuwe ontdekkings getoon dat Nabonidus hom tot ‘n vesting in die woestyn onttrek het en sy seun Beltsasar as heerser in sy plek in Babel aangestel het.

Hoewel Nabonidus met die Persiese inval na Babilon teruggekeer het om teen Kores se leër te veg, was hy blykbaar nie in Babilon teenwoordig toe die Perse dit ingeneem het nie. Toe ook kon geleerdes verstaan waarom laasgenoemde aan Daniël die derde plek in die ryk gegee het en die aand van die inval as koning kon waargeneem het.1]

Om te beweer dat die grootskaalse bekering van die Nineviete nie kon plaasgevind het nie omdat die argeologiese getuienis daarvoor ontbreek, is om dieselfde fout as voorheen te herhaal. Konings na hierdie Ninevitiese koning van die boek Jona kon enige inskripsie of ander getuienis daaroor laat vernietig het of latere ontdekkings kan dit nog bevestig. Aalders wys daarop dat onder Adad-Nirari III (812-783 vC) daar ‘n beweging was om Nebo as die enigste god te aanvaar (soos na verwys deur Gispen in Christelijke Encyclopedie vol.4, Jona). Dit kon die gevolg gewees het van hierdie besoek van Jona. Dit kan selfs wees dat die Assiriese kroniekskrywer hulle hoofgod Nebo ingebring het omdat dit vernederend sou gewees het om te vertel dat ‘n koning van Nineve die aanhang van ‘n ander nasie se God wou bevorder.

‘n Mens sou verder kon vra watter argeologiese bewyse daar is vir Ester en Mordegai en die edik wat teen die Jode uitgevaardig was of van die slagting van ‘n groot deel van die bevolking van die Persiese ryk deur Jode? Tog is dit so ‘n historiese werklikheid vir die Jode dat hulle ‘n jaarlikse fees daaroor hou. Dwaal hulle omdat die argeologiese getuienis van Ester se geskiedenis ontbreek?

Of watter historiese, buite-Bybelse bewys is daar van Jesus se opstanding? Hierdie soort van argument oor die boek van Jona het in die konsekwensies daarvan al vernietigende gevolge vir die geloof van vele gehad.

* Nog ‘n argument teen die boek se historiese karakter is dat 3:6 praat van die koning van Nineve in plaas van die koning van Assirië soos wat op Assiriese inskripsies gedoen word (Allen). Ons sou kon byvoeg dat ook in 2 Kon.17:4-6, 19:36 van die koning van Assirië gepraat word.

RK Harrison antwoord: The practice was not uncommon in Hebrew writings as indicated by the reference to the king of Edom (2 Kgs. 3:9, 12) and the king of Damascus (2 Chron. 24:23… the usage in Jonah is similar to that which describes Ahab of Israel as “king of Samaria (1 K. 21:1) and Benhadad of Syria as “king of Damascus” (2 Chron. 24:23). (a.w. p. 909)

Die vraag sou ook kon gevra word waarom die skrywer van ‘n soort gelykenis oor Jona dan nie ook na die koning van Assirië verwys nie? Net soos in ‘n geskiedenis sou dit tog ook in so ‘n tipe vertelling beter gepas het. Deist antwoord dat die skrywer juis deur die invoeging van foutiewe historiese gegewens wou wys dat hy nie ware geskiedenis skrywe nie, maar iets anders.

Gelykenisse in die Skrif word wel vanuit die konkrete menslike situasie vertel. So byvoorbeeld praat Jesus van ‘n priester, Leviet, ‘n koning, ‘n ryk man, ensovoorts. Tog is daar geen gelykenis waarin die verteller geskiedkundige persone as karakters gebruik nie, los nog maar om doelbewus foute of onwaarhede te vertel om op die manier te wys hy vertel nie geskiedenis nie. Jesus gebruik wel hiperbool soos in die gelykenis van die groot bedrag wat die man aan die koning skuld. Die hiperbool en die rede daarvoor is egter onmiddellik duidelik. Geen gelykenis in die Skrif skep die gevaar dat die hoorder / leser onder ‘n valse indruk oor die aard daarvan gebring sal word nie.Waarom sou Jona die uitsondering wees?

Die boek Jona gee self die verklaring waarom die koning volgens die stad aangedui word:

Die Here se opdrag het twee keer gelui dat hy na Nineve moet gaan (1:2; 3:3). Vanuit die klem op God in hierdie boek word in die res van die boek van die plek gepraat soos God daaroor gepraat het. Hoewel Jona volgens die verwysing na die stad as baie groot waarskynlik ook in die omliggende dorpe gepreek het, word dit alles as Nineve gesien. Die klem val deurgaans op Nineve. Hierby pas die titel koning van Nineve in. Waarom dit histories nie pas nie, kan ek nie insien nie. Dit kom dikwels in die Bybel voor dat geskiedenis vanuit ‘n sekere hoek vertel word en dit bevraagteken nie elders die historisiteit daarvan nie.

[Barclay gee ‘n voorbeeld hiervan. Hy wys daarop dat die geskiedenis van 2 Konings 19 ook deur twee sekulêre historici vertel word. Egiptiese rekords, soos opgeteken deur die Griekse historikus, Herodotus (2.141), vertel daarvan. In 1 Konings staan dat die engel van die Here uitgegaan het en die nag die Assiriërs in hulle kamp verslaan het. Die Egiptiese vertelling skryf die Assiriese nederlaag toe aan muise wat die nag hulle pylkokers en boë en handvatsels van hulle skilde opgevreet het. Die Chaldese historikus, Berosus, soos vertel deur Josefus (AJ X 1.5), sê weer dat ‘n “pestelike ongesteldheid” die nag oor Sanherib se leër gekom het.

Barclay kombineer die laaste twee vertellings as ‘n verklaring van wat op die natuurlike vlak gebeur het: “ What happened was that plague, carried by rats and mice, decimated Sanherib’s army and left him no choice but to beat a hasty retreat.” Hy wys dan op die Hebreeuse, Bybelse benadering tot die geskiedenis: ”Each historian from his point of view is right. But to the Hebrew historian the whole happening is the direct action of God, with no secondary cause. This is the typical biblical view of history. History is the arena of the direct action of God. For the Hebrew, God has a purpose, and history is the sphere in which that purpose is being carried out…” (William Barclay, The Bible as History, bl. 15-16).

Bybelse geskiedenis is profetiese geskiedenis d.w.s. geskiedenis waarin God Hom openbaar en ons deur Sy oë na die geskiedenis laat kyk. Om dit uit te bring word die presiese manier waarop Hy gewerk het, soms nagelaat of kursories gestel omdat die kern waarom dit gaan, die klem moet kry. Ons sien dit al op die eerste bladsy van die Bybel. Die prosesse waardeur die skepping tot stand kom en waarmee die natuurwetenskap dit besig hou, word nie genoem nie. Wat belangrik is, is dat God skep en die wese van Sy proses is dat Hy deur Sy Woord alles tot stand bring.]

* “Verder was Nineve teen die tyd dat die historiese profeet Jona ben-Amittai geleef het (in die agste eeu voor Christus tydens die regering van Jerobeam II) nog nie die hoofstad van Assirië nie. Volgens die verhaal woon die koning in die stad en word hy “die koning van Nineve” genoem, soos Agab in 1 Konings 21:1 kortweg die koning van Samaria genoem word, bedoelende die koning van Israel.” (Deist)

Dieselfde antwoord as hierbo sou ook gegee kon word. Indien die skrywer van ’n gelykenis wou aansluit by ‘n historiese agtergrond waarom het hy dan nie die agtergrond korrek gegee nie? Dit sou tog sy gelykenis/ storie aan trefkrag laat wen het. Altwee benaderings word deur dieselfde beswaar gedruk. Dit oortuig nie om hierdie argument teen die historiese karakter van die boek ten gunste van die nie-historiese aard daarvan te gebruik nie.

Die beswaar bring jou uit by die betroubaarheid van die korrelasie tussen die verskillende volke van die verlede se geskiedenisse. Velikovsky het myns insiens redelik oortuigend aangetoon hoedat ‘n totaal verskillende korrelasie tussen die geskiedenis van Egipte en Israel opgestel kan word as die heersende korrelasie. (Sien sy Ages in Chaos.) Waarom het geleerdes dan nie Velikovsky se korrelasie aanvaar nie? Velikovsky meld dat “a distinguished scholar who followed this work from the completion of the first draft in 1942 … said that he knows no valid argument against the reconstruction of history presented here, but that psychologically it is almost impossible to change views acquired in the course of decades of reading, writing and teaching.” Daarteenoor kan gesê word dat dit al dikwels gebeur dat wetenskaplikes hulle menings verander het in die lig van nuwe feite. Wat my egter hinder is dat sover my kennis strek Velikovsky dood geswyg is. Na my wete het niemand op sy boek probeer antwoord en sy bewyse weerlê nie. Indien wel sou dit die indruk skep dat geleerdes of met hom stilweg saamstem of dat hulle nie ‘n antwoord daarop het nie.

Velikovsky het nog beplan om ‘n boek te skrywe waarin hy die geskiedenis van die Mesopotamiese ryke met Israel s’n wou korreleer. Of hy ooit daarby uitgekom het, weet ek nie. In die lig van die uitspraak hierbo is dit egter onseker of geleerdes dit sou aanvaar het of dat dit ‘n geruime tyd kan neem om aanvaar te word. Meer navorsing sou seker eers gedoen moet word. Intussen moet ‘n mens maar werk met die heersende korrelasie, hoewel die moontlikheid bestaan dat dit aan ernstige gebreke mank gaan.

Net soos hierbo wil ek waarsku dat om Skrifgegewens vanweë verskille met argeologiese gegewens af te wys, nie altyd die toets van die waarheid sal kan deurstaan nie. Uitsprake op grond van argeologiese gegewens bly voorlopig van aard.

Dit is natuurlik moontlik dat vanweë die profetiese karakter van die boek se geskiedenis Nineve vooruit as hoofstad uitgemaak word. Die sinvolheid daarvan is geleë in die feit dat toe die Assiriese mag wel later deur die oordele van God gebreek is (soos deur Nahum voorspel), Nineve die hoofstad was. Die verowering en verwoesting daarvan het teruggeslaan op die waarskuwing vroeër deur die profeet Jona dat dit sou gebeur as Nineve hom nie bekeer nie. Die bekering met Jona se besoek aan Nineve was nie blywend nie. Assirië het tot sy ou weë teruggekeer. Die Here het Nineve vooruit gewaarsku en deur die behoud van die eertydse Assiriese hoofstad toe die koning en inwoners hulle bekeer het, ook die latere Nineve tot bekering bly roep.

Feit van die saak is dat ons hier met profesie te doen het, al sou daar by sommige ‘n vraag wees oor die literêre karakter daarvan. Omdat profetiese geskiedenis ook van die toekoms as huidige werklikheid kan praat, is die bogenoemde argument geen bewys dat die boek gelykenis is nie.

[Vergelyk hiervoor die tweede deel van Jesaja as voorbeeld van profetiese vooruitgryping in die geskiedenis.

Dit is uit die tweede deel van die boek Jesaja duidelik dat dit teen die agtergrond van die Babiloniese ballingskap gelees moet word. Persone wat die eenheid van die boek handhaaf sien dit as vooruitprofesie. Hoewel Babel in Jesaja se tyd nog nie ‘n moondheid was nie, word dit reeds as moondheid van die ballingskap gesien. Selfs die Jode se bevryding deur die Persiese koning Kores word aangekondig (Jes. 44:24-45:16) hoewel hy eers aan die einde van die ballingskap op die toneel sou kom. Hierdie standpunt het geen probleem daarmee dat ‘n profeet meer as ‘n eeu voor die tyd so kon skryf nie, want God spreek deur hom.

Een van die doelstellings van hierdie vooruit-verkondiging is dan ook om te bewys dat die

Here alleen God is omdat Hy teenoor die afgode se onmag oor die geskiedenis beskik en

daarom vooruit kan sê wat gaan gebeur (Jes. 41:26; 42:9; 44:7; 45:11; 46:9-10; 48:3).

Daarby bevestig die manier waarop die Here deur die profeet in die profetiese verlede of teenwoordige tyd praat, asof die ballingskap alreeds ‘n werklikheid is, juis dat dit Hý is wat

spreek. Wat nog in die toekoms van die mens se ondervinding lê, bestaan alreeds by Hom as die ewige. So kon in die boek van Jona as profetiese geskiedenis geskryf word asof Nineve alreeds die hoofstad van die Assiriese ryk was.

Vir die tweede standpunt is die ballingskapsagtergrond van Jesaja 40vv. te sterk dat hierdie profesieë al so lank voor die tyd geskryf kon gewees het. Daarom moet die boek liewer gesien word as geskrywe deur ten minste twee en selfs drie profete: Jesaja en ‘n onbekende profeet/e wat dan maar gerieflikheidshalwe Deutero-Jesaja en selfs Trito-Jesaja genoem word. Laasgenoemde profeet/e sou in die tyd van die ballingskap of selfs daarna gelewe het.

Hierdie standpunt ontneem die tweede deel van Jesaja die bewyskrag van God se grootheid. Eintlik maak dit van God ‘n leuenaar omdat die boek die indruk gee dat Hy vooruit sê wat gaan gebeur terwyl Hy dit in werklikheid eers na die tyd gedoen het toe almal mos geweet het hoe die geskiedenis verloop het. Dit bring mee jy aanvaar dat jy hier glad nie met ware profesie te doen het nie maar met ‘n mens wat uit homself spreek.

Sowel die standpunt wat op die eenheid van die boek staan, as die ander standpunte kom met taal en ander argumente vir hulle siening se korrektheid. Daarom dra die argumente vanuit die inhoud van die boek meer gewig (sien hierbo oor God se voorspelling van die geskiedenis).

Ek skaar my deurgaans by die uitgangspunt wat die grootheid van God beklemtoon want in die Bybel gaan dit om Sy eer. Soli Deo Gloria! Amen en amen!]

‘n Kenmerk van die Bybelse openbaring is dat dit in die geskiedenis gegrond is. So byvoorbeeld berus dit op die feit van ‘n Persoon, Jesus Christus, wat werklik in die geskiedenis geleef het, ‘n volk wat werklik in die geskiedenis bestaan, Israel, en gebeure wat werklik in die geskiedenis gebeur het. Die meeste van die ander literatuursoorte (briewe, profesieë, gedigte) berus ook op hierdie historiese feite of sluit daarby aan. Die boek Jona pas hierby in en is meer oortuigend as dit in werklike geskiedenis gegrond is as wat dit maar net ‘n soort historiese roman met ‘n geestelike strekking is.

Belangriker nog. Die grootheid van God in die boek Jona is tog baie groter as die dinge wat in die boek staan werklik gebeur het as wat dit maar ‘n geestelike verdigsel is.

As ek moet kies tussen argeologiese getuienis en Jesus se getuienis is daar nie eers ‘n keuse nie, veral waar Hy oor Sy opstanding en die oordeelsdag getuig en oor geloof in Hom praat.

Ten slotte

Ook ander argumente vir die historisiteit van Jona en teenargumente vir die fiktiewe karakter van die boek en omgekeerd kan aangehaal word. Bogenoemde is myns insiens egter die vernaamste. Al die argumente teen die historiese karakter van die boek is bevredigend weerlê terwyl die argumente vir die historiese karakter vir my meer oortuigend is. Laasgenoemde is natuurlik subjektief en hang van die ingesteldheid teenoor die Skrif af waarmee na die argumente gekyk word. Dit geld natuurlik vir ander studente van die Bybel ook. Vir my is die Bybel in sy geheel en al sy dele deur God geïnspireer en daarom volkome betroubaar.

Voetnotas

1 The 15th day Sippar was seized without battle. Nabonidus fled. The 16th day Gobryas (Ugbaru), the governor of Gutium, and the army entered Babilon without battle. Afterwards Nabonidus was arrested in Babylon when he returned (there)… (Aangehaal uit die Nubanaid Kroniek soos gevind in Merrill F. Unger, Archeology and the Old Testament, p. 299.)

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: