keiser sonder klere

In ‘n onlangse berig in Die Beeld, spreek Prof. Nelus Niemandt, moderator van die Algemene Sinode van die NG Kerk, sy bekommernis uit oor die moontlike verwerping van die sogenaamde Belydenis van Belhar.

Daar is groot druk op die leiers van die NG Kerk om hierdie belydenis as vierde belydenis in die betrokke denominasie te aanvaar (alhoewel die voorstel is “sonder dwang”). Die druk word natuurlik versterk deur ‘n hele paar faktore. Ten eerste is daar die groot hoeveelheid lidmate en leiers wat hierdie politieke dokument en dus nie waardig om belydenisstatus te ontvang nie. Die ontstaan en historiese konteks waaruit die ontwikkel het, speel natuurlik ‘n groot rol hierin, maar so-ook die inhoudelike. Alhoewel dit temas van God se geregtigheid, ens. bevat, is dit nog geen rede om dit te aanvaar as ‘n belydenis nie.

‘n Tweede faktor is die huidige teologiese klimaat binne die NG Kerk. Die NG Kerk het deur die eeue al bewys dat dit baie wyd uiteenlopende standpunte kan akkommodeer.1 Die vrug is duidelik sigbaar in die aanvaarding van vreemde sienings wat sy gereformeerde identiteit heeltemal afbreek. Affiniteite vir die teologiese gedagtes van die Ontluikende (Emergent) beweging, ‘n aanvaarding van ‘n sogenaamde nuwe hermeneutiek waarin die Bybel as Woord van God ontken kan word, om maar enkeles te noem, veroorsaak dat daar nie eenstemmigheid kan wees oor leerstellighede nie.

Hiermee saam, en voortvloeiend uit hierdie vreemde – en moet ons dit maar sê anti-konfessionele teologieë – is daar ook die siening dat die huidige belydenisgrondslag nie meer relevant is nie.2 Dit word beskou as argaïes, uitgedien, en die oorsaak van ortodokse dood. Hierdie anti-konfessionele posisie dwing egter die vraag op die voorgrond, naamlik as jy dan nou jou huidige belydenis verontagsaam, wat glo jy dan? Dit is in die aard van die kerk dat hierdie tipe vraag gevra sal word, want die kerk is die liggaam van Christus en Jesus het die kerk gesanksioneer met hierdie vraag en die gevolglike opsommende belydenis (Mattheus 16:13-19). Dus kan ‘n kerk van weë sy wese nie anti-konfessioneel wees nie en word daar binne die NG Kerk gesoek na alternatiewe om die outydse te vervang met ‘n moderne konteks en inhoud.

Daar is natuurlik ‘n vierde faktor wat direk voortvloei uit die aanvaarding van vreemde teologieë en dit is die sogenaamde “missionale” gedagte.3 Aan die basis hiervan lê ‘n vreemde siening van die Koninkryk van God. Die skriftuurlike transformasie van sondaar na nuwe mens in Christus, word vervang met sosio-politiese opheffingswerk. Sonde word nie meer aangespreek nie, maar nood. Die uiterlike omstandighede word belangriker geag as die innerlike korruptheid van die mens. Die kerk is nie nie missionêr nie, maar missionaal, met ander woorde dit is gefokus op die verbetering van lewenskwaliteite en verontagsaam sy profetiese rol as verkondiger van “bekering en vergifnis van sonde.” Die Koninkryk van God is dus nou verander om alle mense in te sluit en die oogmerk is die verbetering van lewensomstandighede. Waar Chritus dit duidelik gemaak het dat sonder wedergeboorte en vernuwing die voorvereiste is vir burgerskap in Sy Koninkryk, gooi die nuwe teologie die burgerskap oop vir alles en almal. Die ongerealiseerde aard van die Koninkryk word op die agtergrond geskuif ter wille van die hier en die nou.

Daar is ook die totale onkunde oor die huidige belydenisse by die grootste gros lidmate. Dit is te verstane gesien in die lig daarvan dat die belydenisse baie min gepreek word. Dit word ook nie meer geleer in die katkisasie nie. Inteendeel, aan die hand van die nuwe teologiese oriëntering, word daar ‘n vyandskap hierteen opgewek, want ervaring word gestel bo die leerstelling. Natuurlik hang dit saam met ‘n postmoderne siening van waarheid, wat duidelik sê dat daar geen absolute waarheid meer kan wees nie. Dus het die Bybel as primêre gesag en die Belydenisse as afgeleide gesag, geen seggenskap meer nie. Inteendeel, dit is onderdrukkend en beperkend en veroorsaak ‘n onnodige terugkeer na ortodoksie en fundamentalisme.

In die artikel, noem gebruik Niemandt die beeld van ‘n tuin om die kerk mee te vergelyk. Saad word gesaai, maar alles word blykbaar nie ewe gou ryp nie. Selfs is daar die saad wat glad nie opkom nie! Ek weet nie of die beeldspraak hier intensioneel was nie, maar tog kan mens nie anders as om te dink aan die gelykenis van die Saaier nie (Matteus 13, Markus 4), ‘n gelykenis wat juis die aard van God se koninkryk en die ontwikkeling daarvan so mooi verduidelik. My vraag aan die hand van Niemandt se beeld is of die nie-aanvaarding dan nou sou beteken dat die grond nie vrugbaar was nie? Dit wil my tog so lyk, aangesien hy self sê daar is op sekere plekke “vrugbare grond gevind, maar op ander plekke nie.” Die benadering is baie gevaarlik, want daarmee skep hy juis die indruk dat diegene wat Belhar nie wil aanvaar nie, onvrugbare grond is en dus eintlik nooit tot volle wasdom sal kom nie. Kan ‘n mens so ‘n opinie handhaaf oor ‘n dokument waaroor daar soveel kontroversie is? Is Belhar dan die Woord van God wat gesaai moet word en die wat dit nie aanvaar nie, die teiken van die voëls wat die saad oppik?

Niemandt maak egter ‘n baie insiggewende opmerking oor die effek wat verwerping van Belhar sou hê. Hy meen

“… as die NG Kerk Belhar sou verwerp, sal dit wyd gesien word as ’n terugkeer na apartheid. Baie gemeentes en lidmate wat reeds positiewe besluite oor Belhar geneem het nie, sal moeilik daarmee kon saamleef.”

Hierdie stelling drup so van die politiek jy kan dit met ‘n koevoet nie stukkend breek nie. Diegene wat Belhar so op die voorgrond druk, se argument is dat dit nie polities gemotiveerd is nie. Tog is Niemandt se eintlike groot bekommernis dat die verwerping as ‘n politiese nederlaag sou beskou word! Is die keiser toe uiteindelik sonder klere gevang! Gaan die aanvaarding van Belhar dan al die politiek van die verlede regmaak? Moet ons dit nou aanvaar omdat die verwerping ons sogenaamd weer in apartheidsgewaad gaan kleë? Myns insiens is hierdie benadering nie die voorbeeld van iemand wat ‘n kerk skriftuurlik en teologies moet bedien nie. Hiermee sê hy dus eintlik dat alle kritiek teen die Belhar dokument ter wille van polities korrekte skuif opsy geskuif moet word. Is die kerk dan nie juis uit die wêreld afgesonder om nie polities aan ‘n stelsel te koppel nie, maar om die Woord van God in die krag van sy Gees te verkondig nie – al sou dit kritiek en teenkanting beteken?

Om die godsdienstige gebruik vir politieke gewin is ‘n baie gevaarlike speletjie en moet maar liefs vermy word. Saul was op ‘n stadium in groot moeilikheid en het geweet as God nie saam oorlog toe gaan nie, is dit verby met hom. Slegs Samuel as God se gesant kon die nodige offer bring om God se seën op die oorlog te verseker. Saul se manskappe het egter begin dros en Samuel het nie opgedaag nie. Toe neem Saul sake in eie hande en bring self die offer. Die gevolge hiervan was verwerping van sy koningskap. Hy het probeer om die godsdienstige te gebruik om sy posisie te versterk en sy outoriteit te bevestig:

“Daarop vra Samuel: Wat het jy gedoen? En Saul sê: Ek het gesien dat die manskappe verstrooid raak van my af; en toe u nie kom op die afgesproke tyd nie, terwyl die Filistyne in Migmas bymekaarkom, het ek gesê: Nou sal die Filistyne na my toe aftrek in Gilgal, en ek het die aangesig van die HERE nie om genade gesmeek nie; daarom het ek myself sterk gehou en die brandoffer gebring.

Toe sê Samuel vir Saul: Jy het dwaas gehandel, jy het die gebod van die HERE jou God wat Hy jou beveel het, nie gehou nie; want anders sou die HERE jou koningskap oor Israel vir goed bevestig het. Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die HERE het vir Hom ‘n man na sy hart gesoek; en die HERE het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die HERE jou beveel het nie.” (1 Samuel 13:11-14)

Voetnotas

1. JJ Kotze, TF Burgers, JJ du Plessis, Ben du Toit en Raamwerkverskuiwings

2. VERGEETBOEKE?? Die waarde van ons belydenisskrifte

3. World Evangelisization or World Transformation? A call to revive the Biblical understanding of evangelism

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: