Op 18 Mei 2012 plaas Kerkbode sy stel etiese kodes waarvolgens plasings en gesprekvoeringe gereguleer word. Die plasing het ‘n aanloop gehad deurdat ‘n besorge deelnemer ‘n ope brief gerig het aan die NG Kerk (4 Mei 2012). In hierdie brief word verwys na die integriteit van Jean Oosthuizen, die nuusredakteur van die Kerkbode. Dit het uiteraard ‘n redelike storm ontketen, en kort daarna verskyn hierdie etiese kode.

Hier is die volledige kode:

Kerkbode verbind hom tot oop gesprek op sy Facebook- en webblad. Ons doen dit met die wete dat nie al die deelnemers dieselfde geloofsoortuiging deel of lidmate van die NG Kerk is nie. Daarom is die menings wat hier uitgespreek word nie noodwendig die amptelike standpunt van Kerkbode, of die NG Kerk nie.

1. Ons erken die reg van vryheid van spraak. Die Grondwet waarborg vryheid van spraak (Art 16) en sonder slegs oorlogspropaganda, die aanhitsing van dreigende geweld en haatspraak uit. Daardie artikel lui onder meer soos volg:

“Elkeen het die reg op vryheid van uitdrukking, waarby inbegrepe is:• die vryheid van die pers en ander media;• die vryheid om inligting of idees te ontvang of oor te dra;• die vryheid van artistieke kreatiwiteit; en• akademiese vryheid en vryheid van wetenskaplike navorsing.”

2. Ons neem kennis van die Grondwetlike Hof se beslissing in April 2011 (Robert McBride vs The Citizen): “Kritiek is beskerm, selfs al is dit ekstreem, onregverdig, ongebalanseerd, oordrewe en bevooroordeeld, so lank as wat dit ʼn eerlike mening, sonder kwaadwilligheid, in die openbare belang en op ware feite gegrond is.”

3. In ons verbintenis tot oop gesprek wil ons terselfdertyd konstruktiewe gesprek aanmoedig. Ons wil met mekaar verskil sonder dat mense verketter en verdag gemaak word of iemand se integriteit in twyfel getrek word omdat hy of sy ’n ander standpunt as jy mag huldig. Daarom stuur ons weg van persoonlike aanvalle. Ons speel die bal en nie die man nie.

4. Spraakvryheid beteken nie absolute vryheid nie. Ons sal nie kwetsende opmerkings wat gemik is op geloof, ras, geslag of seksuele oriëntasie op die blad toelaat nie. Ons neem kennis van die sensitiwiteit ten opsigte van hierdie sake sonder om beskaafde gesprek daaroor in die kiem te smoor.

5. Deelnemers is welkom om aanhalings en skakels te plaas, maar binne perke en nie strydig met hierdie etiese kode nie. Ons wil gesprek voer en nie na ʼn monoloog luister nie. Daarom kan dieselfde deelnemers nie die een na die ander plasing maak sonder om ander ook ʼn geleentheid te bied om hulle kant van ’n saak te stel nie.

6. Kerkbode se Facebook- en webblad is oop vir kritiek teen die kerk en individue, maar dit is nie ’n propagandaplatform om persoonlike aanvalle teen die kerk of individue te loods nie.

7. Ons wil nie wegskram van die bestaande teologiese verskille nie. Ons verwag wel van deelnemers om nie mede-gespreksgenote onnodig te etiketteer hetsy as fundamentaliste, liberaliste of wat ook al nie.

8. In die gees van die NG Kerk se Luisterseisoen wil ons ook luister na ander stemme. “Ons wil hul hoor wat op ons buitekring bly staan. Waar vreemde stemme hul bekoor” vra ons ook: “Gee my O Here openheid. Gee my ’n oor vir die soekstem van ons tyd.”

9. Ons mag skerp van mekaar verskil maar altyd in ʼn gees van wedersydse respek en verdraagsaamheid. Geen kwetsende persoonlike opmerkings sal toegelaat word nie.

10. Omdat mense uit verskillende hoeke en met verskillende oortuigings en agtergronde na teologiese sake kyk, sal hulle noodwendig met mekaar verskil. Die persombudsman stel dit so: “Wat vir die een na waarheid lyk, kan deur die ander se bril ʼn ander kleur hê. Omdat niemand hier op ‘die’ waarheid aanspraak kan maak nie. Anders as ‘werklikheid’, is ‘waarheid’ immers ʼn subjektiewe (lees: interpretasie) saak, en daarom het niemand ‘die’ waarheid in pag nie.”

11. Al bogenoemde wil ons in ʼn gees van Christelike naasteliefde nastreef.

12. Indien ’n deelnemer op Kerkbode se Facebook- of webblad een of meer van bogenoemde verontagsaam, sal die administrateurs sy/haar toegang blok en/of sy/haar plasing verwyder.

Hieroor maak ek ‘n paar kantaantekeninge wat vir my rooiligte flikker oor waar die Kerkbode staan ten opsigte van sy geloofsbasis.

1. Daar word nêrens melding gemaak van God in die kode nie

Waarom sou dit belangrik wees? Juis omdat dit ‘n kerkblad is en veral die NG Kerk verteenwoordig. Vraag is of God indirek ingelees moet word in die verwysings na Christelike naasteliefde, maar dit is nie genoegsaam om te verduidelik wie die God is waarvoor die forum staan nie. Gesien in die lig van punt 10 van die kode, het ek ernstige probleme met die forum se verstaan van wie God is, want as daar nie absolute waarheid is nie, dan is dit nie die God van die Bybel nie, want Hy is Waarheid en sy Woord is Waarheid. 

2. Nêrens lees ek iets van die rol wat die Bybel in die forum speel nie.

‘n Mens sou darem dink dat ‘n forum wat as verlengstuk van die Kerkbode optree, iets van die Woord in sy etiese kode sou opneem. Die Kerkbode noem homself immers “Vandag se Kerkkoerant vir Vandag se Kerkmense”. Ek kan verstaan dat die opinies deur individue nie die van die Kerkbode of die van die NG Kerk is nie, maar dat die Bybel nie gesprekvoering lei nie, is wel kommerwekkend. Of is vandag se Kerkmense dan Bybelloos, net doos die Kerkbode se etiese kode?

In plaas van regulering deur die Bybelse standaarde, word daar teruggeval op die Grondwet van die land asof dit veiliger is as die Skrif! Met hierdie basis het die Kerkbode in sy hantering van sosiale media homself uit en uit as ‘n sekulêre gespreksforum geidentifiseer en rus dit nie meer op die beginsels wat ‘n gelowige van ‘n forum wat so nou met ‘n kerkgroepering (in hierdie geval die NG Kerk) sou verwag nie.

3. Die Kerkbode ontken die absolute waarheid van God se Woord

As ‘n verlengstuk van die my eerste kritiek, tref veral punt 10 in die kode ‘n mens,  naamlik dat die uitgangspunt van die persombudsman hoër waarde het as die waarheid van God en sy Woord. Hierdie is tipies van die sogenaamde postmoderne era en die verval van soveel kerklike instansies tot niks anders nie as ‘n waarheidlose vergadering van mense. Met hierdie punt het die Kerkbode homself gebrandmerk as ‘n forum waar mense vir dae en dae oor idees kan tjorrel sonder om enigsins by sinvolle konklusies uit te kom, want niemand het waarheid in pag nie.

Die feit dat die mens sukkel om by waarheid uit te kom, beteken nie dat daar nie objektiewe waarheid is nie, en as liefhebbers van waarheid, sou ‘n mens tog wou hê dat daar ‘n soeke sou wees na die waarheid van God se woord en hoe juis dit gerealiseer behoort te word in die samelewing. Nou word eie “werklikhede” en nie “God se waarhede” nie, die uitgangspunt. 

My gevolgtrekking:

Ek dink voordat hierdie kernsake nie duidelik uitgespel word deur die Kerkbode Administrasie nie, is daar geen ander konklusie as dat dit verval het tot liberalisme en homself volledig identifiseer met die postmoderne kultuur en leuens. So val nog ‘n vaste pilaar van die NG Kerk!

Vir verdere inligting oor die kommentaar op die facebook blad self, lees hier.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: