Die Sadduseërs, soos die Fariseërs, was ‘n godsdienstige groep met wie Jesus tydens sy aardse lewe heelwat koppe gestamp het. Alhoewel hulle en die Fariseërs altwee téén Jesus en sy bediening gekant was, moet ons vir geen oomblik dink hulle het met mekaar saam gestem nie. Inteendeel, daar was redelik groot verskille tussen die groepe.

Hulle was afkomstig van priesterlike agtergrond, en was daarom baie gemoeid met die onderhoud en instandhouding van die Tempel. Wat betref hulle hou van die wet, het hulle slegs die boeke van Moses onderskrywe. Hierteenoor was die Profete en Geskrifte (redelik die Ou Testament soos ons die ken) vir die Fariseërs belangrik. Die Fariseërs was daarom ook meer ingestel op die wet en het ook ‘n toekomsverwagting rondom die Messias en sy heerskappy gehad.

Oor die leër van die Sadduseërs leer ons egter ‘n paar belangrike dinge. Dit is wel nodig om te sê dat Jesus hulle juis berispe het vir ‘n gebrek aan Skrifkennis. Hulle verwaarlosing van die Skrif het hulle laat dwaal.

Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie (Matteus 22:29).

Dit is een van die basiese toetse vir dwaling, naamlik stem dit wat iemand sê ooreen met die Skrif se waarheid. Jesus het self hierdie beginsel hier toegepas. Die Sadduseërs het Hom genader met ‘n vraag, min wetende hulle gaan hulle vasloop teen die Outeur van die Skrifte.

Wat het hulle dwaling dus behels? 

1.     Daar is geen opstanding uit die dood nie

In Matteus 22 lees ons vanaf vers 23 hulle nader Jesus met ‘n vraag oor die lewe na die dood. Vers 23 kwalifiseer hulle as dié  “wat sê dat daar geen opstanding is nie”. Ons moet onthou dat die Sadduseërs slegs die Wet aanvaar het, en daarin is daar niks wat dui op die opstanding as ‘n gebeurtenis nie. Daarom wys Jesus hulle tereg deur nommer een hulle gebrek aan die kennis van die Skrif en die krag van God uit te wys, en tweedens vir hulle op die fynere puntjie te wys dat God is volgens die Wet wat hulle aanhang, die God van die lewendes en nie die dooies nie, wat die opstanding impliseer (vers 31-32). 

Met die ontkenning van die opstanding, was die noodwendige konsekwensie die finaliteit wat die dood dan sou bring. Daar was dus geen nodigheid vir ‘n geesteswêreld nie, wat hulle tweede dwaling aandui.

2.     Daar is geen engele of geesteswêreld nie

In Handelinge 23:8 wys Paulus die verskil tussen die Sadduseërs en Fariseërs uit wanneer hy verwys na hulle dwaling:

Want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie …

Dit het Paulus gedoen omdat hy voor die reg gestaan het as gevolg van sy hoop op die opstanding uit die dode (vers 6). 

By die Sadduseërs het hierdie twee dwalinge mekaar ondersteun, met ander woorde sonder ‘n opstanding was daar nie ‘n nodigheid vir ‘n geesteswêreld of dimensie nie. Dit is egter nie noodwendig altyd die geval nie. Nietemin, die dwalinge van die Sadduseërs wys weereens sy gesig in die besluit oor Bevryding van die Algemene Sinode (AS) van die N.G. Kerk in 2011. Met hierdie besluit het die AS ruimte gemaak binne sy teologie vir veral die tweede punt van die Sadduseërs se dwaling. Hulle besluit lui as volg:

Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer. (BESLUITE RONDOM DIE BEDIENING VAN BEVRYDING – ALGEMENE SINODE VAN DIE NG KERK – 12 OKTOBER 2011)

Dit is wel belangrik om raak te sien dat die besluit nie sê ruimte om nie in die bestaan van die duiwel en demone te glo nie, maar om dit anders te interpreteer. Die probleem met anders interpreteer, is dat dit eintlik die interpretasiemoontlikhede vermeerder, insluitend die nie-bestaan opsie. Hiermee kan enigeen dus ook die bose as duiwels en demone ontken en interpreteer as sielkundige afwykings en siektes. Natuurlik maak dit die speelveld radikaal anders in die kerk as voor hierdie besluit. Die saak hieroor teen Dr Ben du Toit bring weer hierdie saak na vore. 

Daar is nog nie ‘n soortgelyke amptelike standpunt oor die figuurlike opstanding uitgereik nie, moontlik sal daar ook nie (moontlik wel), maar daar is genoeg inligting om vir ons daarop te wys dat selfs die letterlike opstanding van Christus en daarom ook die mens onder geweldige druk is. Mitologiese, figuurlike, nie-letterlike verklarings van die Skrif is veral geneig om in hierdie rigting te praat. Die Nuwe Hervormers is al reeds daar dat hulle dit nie meer erken as letterlik nie.

Jesus het die Sadduseërs as dwaalleraars beskou vanweë hulle gebrek aan Skrifkennis. Paulus het lynreg teenoor hulle geglo dat daar wel ‘n letterlike opstanding uit die dood is (1 Korintiërs 15), anders is ons as gelowiges die ellendigste van alle mense. Beide Jesus en die Apostels was maar terdeë bewus van die bestaan van duiwels en geeste, hulle persoonlikheids eienskappe duidelik beskrywe, en het ook die kerk teen hierdie geesteswêreld gewaarsku.

My gevolgtrekking: Die leer van die Sadduseërs is lewendig in die Kerk in Suid Afrika en is besig om stadig maar seker sy voelers wyer te sprei.. Dit is nodig om die fyn taal nuances te leer wanneer dit gekommunikeer word aan ons. Ons moet leer onderskei en die Skrif reg hanteer, want slegs deur die waarheid te ken word die leuen duidelik – dit leer ons uit die Skrif self.
 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *