Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige geestelike Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.

Ek is seker daarvan daar is min mense wat nie al gewonder het of God werklik bestaan nie. Is Hy nie maar net ‘n skepping van ons eie verbeelding nie, vir watter redes ons ookal ‘n god sou nodig hê. Het die mens nie maar oor tyd gereken om iets buite homself te hê as ‘n ankerpunt is ‘n noodsaaklikheid tot oorlewing nie? Is die moderne beweging weg van ‘n godheid nie dalk ‘n regstelling om die bande wat geloof in ‘n onwerklikheid kan hê nie dalk reg nie?

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) spring weg met hierdie belangrike kwessie en maak daarvan ‘n beide ‘n geloofsaak sowel as ‘n getuienis. ‘n Geloof diep gewortel in die hart van die gelowige dat God wel is kom tot uiting in die getuienis en belydenis – verklaring as jy wil – dat God is. Die punt wat die artikel maak is heel eenvoudig. Geloof in God is nie net ‘n hart saak wat jy vir jouself hou nie. Dit is ook nie net ‘n klompie woorde wat jy kan sê sonder oortuiging daaragter nie. Geloof dat God is betrek jou alles. Dit wat binne is én dit wat gehoor (en gesien) word. Laat mens nogal dink aan Jesus se woorde:

Wat die hart van vol is loop die mond van oor. (Lukas 6:45)

Jakobus het dieselfde idee in sy kort briefie. Geloof sonder die uiterlike is nie geloof nie. Hy maak nogal ‘n baie gewigtige stelling:

Selfs die duiwels glo in God, en hulle sidder. (Jakobus 2:19)

‘n Mens besef onmiddelik daar is geloof en dan is daar hartsgeloof. Die NGB help ons verstaan die geloof van ‘n Christen is diep in die hart gewortel, maar borrel op na die oppervlak in ‘n lewe wat dit bevestig, in woorde wat dit onderstreep.

Ons word ook hier herinner aan Hebreërs hoofstuk 11, wat in essensie vir ons dieselfde boodskap gee. By elkeen van die geloofshelde wat genoem word, is daar ‘n gemeenskaplike faktor: ‘n diepgewortelde geloof in die hart dat God is. Hulle lewens het daarvan getuig, al het dit vir hulle in die meeste gevalle in hierdie aardse bestaan sleg uitgedraai.

Die Bybel begin self in sy eerste woorde hiermee en dit vorm die grondslag vir alles wat daarna geskryf is:

In die begin het God die hemel en die aarde geskep …(Genesis 1:1)

Net, sonder enige omvattende beskrywings of verduidelikings of uitgebreide bewyse word God voorgestel. Hy is en Hy het alles gemaak. Klaar. Niks meer nodig nie. Dit is die oortuiging wat agter daardie woorde sit. Ons het nie nodig om God te bewys nie – Hy doen dit self. Hoe doen Hy dit? Hy gee ons die geloof wat ons nodig het om met dieselfde oortuiging te kan sê ons glo in God.

Verder kwalifiseer hierdie artikel ook hoe hierdie God is in wie ons glo. Hy is ‘n “enige, enkelvoudige, geestelike” wese. Kom ons kwalifiseer elkeen van hierdie drie eienskappe:

Enig:

Hiermee bely ons God is een. Nie 2 gode nie, nie 3 gode nie, nie baie gode nie. Hy is een God. Die Ou Testament is hieroor duidelik. Deuteronomium 6:4, die bekende belydenis oor God sê Hy is “‘n Enige God”. In Israel se monoteïsme was ‘n dualisme of politeïsme ondenkbaar. Daarom die sterk weerstand teen Christus se aanspraak op Goddelikheid. Aanvaarding daarvan sou in hulle oë beteken die appelkar word verbrand.

Die belydenis gaan nie op hierdie stadium in op die leer van die Drie-eenheid nie. Hier word beklemtoon God is een. Miskien verloor ons soms hierdie perspektief met ons swaar klem op die drie-eenheid en lei dit daartoe dat ons een van die Drie persone in die Drie-eenheid verhef bo die ander twee. Dalk is dit ‘n sobere gedagte om te bely ons God is een God. Onverdeeld. Die Vader is nie belangriker as die Seun nie en die Seun is nie belangriker as die Gees nie, ens. Die Drie is Een, God is Een. Dieselfde wese, dieselfde wil, dieselfde plan.

Enkelvoudig:

Hiermee bedoel ons God is nie die somtotaal van sy eienskappe nie, maar eerder Hy is sy eienskappe. Dink byvoorbeeld aan ‘n koek resep. Dit het ‘n paar bestanddele wat bymekaar gevoeg word en dan word dit ‘n koek. Die koek is die resultaat van ‘n paar bestanddele wat bymekaar gevoeg word. Dit beteken die koek wat ons bak is nie enkelvoudig nie, maar saamgesteld. God is nie so nie. Die eienskappe wat volg in artikel 1 is nie bymekaar gevoeg en die resultaat is God nie. Die teenoorgestelde is waar. God is volledig elkeen van daardie eienskappe. Hy is goedheid, Hy is liefde, Hy is geregtigheid, ens. Daarom is een eienskap ook nie belangriker as ‘n ander nie. Daarom opponeer sy eienskappe ook nie mekaar nie. Sy geregtigheid staan byvoorbeeld nie in opposisie teenoor sy liefde nie. Hy is tegelykertyd liefde én geregtigheid. Dit weerlê natuurlik ‘n argument wat baie populêr in ons tyd is: hoe kan ‘n liefdevolle God ‘n sondaar straf? So argument is ‘n weerspreking van ons geloof in ‘n enkelvoudige God. Ons behoort so te dink aan al sy eienskappe. Hy is elkeen daarvan ten volle en nie een daarvan is belangriker as die ander of opponeer die ander nie.

Geestelik:

God is nie vasgevang in of saamgestel uit materie nie. Die verwysings na sy liggamlike eienskappe (antropomorfismes) is bloot die mens se manier om te dink ‘n wese wat heeltemal anders as ons is. Hierdie aspek het verrykende implikasies vir ons aanbidding. Jesus trek self die lyn wanneer Hy met die Samaritaanse vrou hieroor praat. Soos ons het sy ook ‘n verkeerde konsep van aanbidding gehad. Aanbidding was beperk tot ‘n tempel of spesifieke plek. Jesus help haar reg. God is gees en kan nie in ‘n plek vasgevang word nie. Daarom is aanbidding ook nie beperk tot ‘n waar nie, maar tot ‘n hoe:

God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid. (Johannes 4:24)

God het dit ook vir Dawid laat verstaan toe hy vir God ‘n “huis” wou bou. God word nie vasgevang in plekke en altare nie. Hy word eerder in gees en waarheid aanbid (2 Samuel 7).

Hierna noem belydenis ‘n klompie van die eienskappe wat God is. Let wel, die belydenis is duidelik: “Hy is” en nie “Hy is saamgestel uit …” nie. Hy is elkeen van hierdie eienskappe en hy is elkeen van hulle volledig.

Spasie laat ons nie toe om hier op elkeen in te gaan nie, maar dit is belangrik om oor elkeen van hierdie eienskappe te dink en mediteer en natuurlik te ondersoek hoe dit ons geloof prakties raak.

Die vraag aan die einde van hierdie artikel is nie of God bestaan nie, maar eerder glo jy dat God is? Is jy in jou hart oortuig dat God bestaan, dat Hy die enigste God is wat volledig elkeen van sy eienskappe is. Glo jy dat Hy nie deel van hierdie materiele wêreld is nie bloot omdat Hy nie materieel bestaan nie?

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *