Dit gons behoorlik rondom die onlangse gebeure by die Kerkbode, die nuusblad van die NG Kerk, nadat een van sy beriggewers, die bekende – of sal ons sê berugte – Jean Oosthuizen uit sy pos geskors is. Dit nadat hy klaarblyklik die direksie van die blad se naam in die openbaar tot skande gemaak het. Lees gerus die beriggewing hieroor by die volgende skakel. Dit alles nadat die NG Kerk sy borg vir die Woordfees teruggetrek het omdat hulle nie bewus was dat onder andere Dr. Abel Pienaar daar sou optree nie.

Vir ‘n geruime tyd nou al woed daar storms binne die NG Kerk oor leerdwaling. Die teenwoordigheid van sekere prominente figure binne die top leierskap, naamlik Dr. Ben du Toit, Prof. Julian Muller, Prof. Nelus Niemandt (die moderator van die vorige Algemene Sinode), en hul noue verbintenisse en sentimente met groepe soos die Emerging Beweging, die Jesus-Seminar en, veral in Suid Afrika, die Nuwe Hervormers, maak dit nogal ‘n intense stryd. Ontkenning van kern teologiese leerstellings lê aan die hart van hierdie bewerings van liberalisme. Kwessies soos die ontkenning van die maagdelike geboorte van Christus, die fisiese en werklike opstanding van Christus uit die dood, die verwerping van die Skrif as die onfeilbare Woord van God as dat dit maar net mense woorde oor God is, die stadig maar seker wegdoening van die dogma van die kerk wat moet plek maak vir die subjektiewe ervarings van die mens, die aanneem vann onbybelse praktyke soos die Lectio Divina, Kontemplatiewe Spiritualiteit (Contemplative Spirituality), en die stelselmatige wegdoen van die versoeningsboodskap van die kruis van Christus wat plaasvervangend vir die sondaar is, is alles temas wat duidelik herdefinieer word binne die NG Kerk. Dan het ons ook nog nie genoem dat sake soos homoseksualisme, evolusie en die historiese Jesus vraagstuk meehelp om hierdie liberalisme in die NG Kerk te probeer vestig nie. (Loer gerus op die Artiels blad, wat verwys na artikels waar baie van hierdie sake by name aangeraak word).

Die hartseer van die saak is dat die Kerkbode in sy hantering van die saak, dit duidelik stel dat gaan oor die “mark” wat bedien word, wat sogenaamd “teologies konserwatief” is, en om iemand soos Dr. Abel Pienaar te borg is nie goed vir die “handelsmerk” nie:

“Fourie het gister gesê hulle het dit nie teen die sprekers as mense nie. Die direksie het egter nie gedink hulle is die regte soort mense vir Kerkbode se mark nie. Die meeste NG lidmate is teologies konserwatief. Met dié mark het die direksie gevoel die gesprekke is nie tot voordeel van Kerkbode as handelsmerk nie.”

Daar word nie melding gemaak van die onchristelike denke van Pienaar nie en dat dit lynreg teen die leer van die NG Kerk in sy geheel is nie. Moet ons dus aanneem dat gegewe ander tye en kontekste, sy teologie dan tog aanvaarbaar kon wees? In ‘n vorige artikel het ek al verwys na sy onchristelike gedagtes, iets wat nie strook met die waarheid waaraan die kerk behoort vas te hou nie. In sy mees onlangse blog het hy weereens ‘n klompie gedagtes geopper wat die leer van die NG Kerk – en selfs die gesonde leer van die kerk van alle tye – totaal weerspreek en omverwerp. Kyk na ‘n paar van sy gedagtes en oordeel self:

“Daarom sal die onveranderlike God van die verlede moet plek maak vir ‘n nuwe God. ‘n Skuif van Teïsme na Panenteïsme. ‘n God wat nie buite die kosmos staan nie, maar deel is van alles en ja, ook meer is.” Let op die panenteïsme en die verwysing van my na ‘n artikel oor Abel waarna ek boontoe verwys.”

“‘n God wat self die materiële werklikheid is, maar terselfdertyd ook veel meer as die werklikheid.”

“En met hierdie nuwe God, verskuif die teenwoordigheid van God na hier en nou. Nie meer ver en buite iewers nie. Dit sal natuurlik nuwe gelowiges verantwoordelik maak om die natuur en die ekologie as manifestasies van God se teenwoordigheid te sien, en hierdie teenwoordigheid is ook die krag agter die immer-veranderende kosmos.”

Hierdie is maar enkele gedagtes uit sy onlangse blog “Kop en Hart” op Rapport se webtuiste. Dit is ‘n skande op die teologiese integriteit van die Kerkbode om nie die teologie van Pienaar af te wys nie, maar eerder die “konserwatiewe lidmate” te gebruik. Voorts laat die NG Kerk hom ook nie self uit oor hierdie sake nie, terwyl ons weet dat Oosthuizen telkemale, en ongelukkig so, die doel van die liberale teologie van die NG Kerk gepromoveer het. Hy is uitgesproke oor sy sienings oor evolusie, homoseksualiteit, en dies meer. Hy is ook deel van die berugte kletskerk webtuiste, waar liberale, selfs lasterlike, gedagtes oor die Skrif en die Christelike godsdiens gepromoveer word.

In reaksies op die gebeure, verskyn daar twee briewe in Die Beeld, wat hier geplaas word. 

 

GEVAARLIGTE FLIKKER VIR DIE NG KERK

Prof. Hoffie Hofmeyer, emiritus professor, departement van kerkgeskiedenis, UP skryf:

Selde in die onlangse verlede het die glybaan-alams so skerp afgegaan ook vir die NG Kerk soos tans. Dié waarneming is op die spits gedryf deur die berig “Kerkbode- joernalis geskors ná uitlating”( Beeld, 19 Februarie ) en Abel Pienaar en ander se reaksies daarop ( Beeld, 20 Februarie)

Ernstige vrae ontstaan oor watter karakter die NG Kerk wil uitstraal. Natuurlik moet hy eietyds en oop bly, en ook in die 21ste eeu vaandeldraer van die liefdesevangelie wees. Maar die NGK is myns insien om die volgende redes op ‘n glybaan:

Die groot daling in die afgelope twee jaar van byna 50 000 NG liedmate dui, soos met ons samelewing, op ‘n inherent ernstig siek liggaam. Ondanks mooi verduidelikings wys duisende mense met hul voete hulle is ongemaklik met die huidige NGK;

Die NGK het toenemend onverdraagsaam geword deur die gedurige dooddruk van tallose gebalanseerde stamme. Hoekom sukkel hy, net soos die owerheid, so om ‘n gesonde eenheid in verskeidenheid na te streef?

Die NGK het in vele opsigte ‘n dissiplinelose kerk geword. Ons wil so graag alles vir almal wees, dat ons later niks vir niemand word nie. Haas enigeen kan maar soos ‘n wafferse Malema sê of doen wat hy wil;

Van integriteit en geloofwaardigheid het min oorgebly. Word die NGK nog enigsins ernstig opgeneem? Het hy hoegenaamd genoeg gedoen in verband met die morele krisis, bandeloosheid en aggressie in die samelewing soos uit Bredasdorp en Silver Wood?; en

Die kern van die glybaan-probleem is dat die NG Kerk plek-plek verleer het om ‘n eietydse Skrifgetroue en belydenisgetroue karakter te handhaaf . Natuurlik moet die kerk oorloop van omgee liefde maar die uitreik na die armes durf nie ‘n oppervlakkige humanisme word nie.

Mag dit beskik word dat alle NG mense, wat dit ernstig bedoel met die kerk, dié gevaartekens betyds raaksien.

 

KERK SOU MOES PA STAAN VIR DIÉ GESPREK

Ds. Andries Louw ( emeritus) skryf:

Dr. Abel Pienaar se brief “kerk mis weer kans vir ope gesprek “( Beeld, 20 Februarie) het betrekking.

Dit is lankal duidelik dat Jean Oosthuizen hom beywer vir die bevordering van die soort geloofsdenke wat ook deur Dr. Pienaar voorgestaan word. Die gesprek by die Woordfees sou duidelik onder sy  leiding ook in diens van dié agenda staan.

Dit sou ‘n situasie skep dat Kerkbode “pa staan” vir ‘n gesprek waar die mees basiese geloofswaarhede van die Christelike geloof in die openbaar bevraagteken of aangeval sou word – waarskynlik sonder enige teenspraak deur ander wat aan die kerklike belydenis getrou wil bly. Ek ondersteun die direksie se besluit heelhartig.

Dr Pienaar het lank reeds, minstens seders sy bedanking as leraar en lidmaat van die NG Kerk, die Christelike geloof vaarwel toegeroep en ‘n ander stel “geestelike waarhede “ in die plek daarvan aanvaar. Dit lyk egter asof hy ‘n behoefte het om die NG Kerk van buite af tot sy nuwe denke-insigte te bekeer, Miskien sou die geleentheid by die Woordfees die indruk kon wek dat dit selfs van binne is.

Ek gee dr. Pienaar gelyk dat talle lidmate wel “nuut dink” of begin om “anders te glo”. Net so is daar baie wat bekommerd is oor die openbare uitsprake van sommige teoloë en kerkleiers die laaste paar jaar.

Ek stem ook saam dat die NG Kerk by ‘n kruispad gekom het, maar om ‘n ander rede. ‘n Kerk kan nie op twee stoele sit nie. Kerkbode se besluit laat my hoop die kerkleiers begryp dit ook.

Tog sou ek eerder van hulle wou hoor dat dit nie om “teologiese konserwatisme” gaan nie, maar om getrouheid aan die evangelie en aan die kerklike belydenis.

Ter wille van die oop gesprek is ek bereid om met dr Pienaar in ‘n openbare debat te tree – op voorwaarde dat dit gestruktureerd met ‘n neutrale moderator aan die stuur sal plaasvind.

Ek stel voor ons maak die onderwerp: “Kan ons die evangelie nog met integriteit glo?” Ek sal die saak stel dat ons dit inderdaad kan doen.

Dit is duidelik dat daar rede is tot groot kommer oor die teologiese gesondheid van die NG Kerk en die Kerkbode. Dit is myns insiens nodig vir die leiers van die NG Kerk, dit is nou die wat die besluite neem oor waarheen die kerk op pad is en hoe God Drie-Enig se suiwer Woord in elke generasie gehoor behoort te word, om te sê waarheen die NG Kerk oppad is. Gaan denke soos dié van Pienaar, Du Toit, en andere nog duideliker hoorbaar word, of gaan dit vanwee die valsheid daarvan nie langer geduld word nie. Myns insiens is die NG Kerk hiermee weereens gebring tot ‘n kruispad (een waar God in sy genade haar leiers al soveel keer gebring het, en hulle nie aan sy Woord en Gees gehoor gegee het nie). Die waarskuwing van die Openbaring boek se sewe briewe is hier so relevant: Christus is die Here van sy Kerk, en waar dwalinge en sonde en swak wêreldse leierskap die norm word, daar maak Hy die lamp dood. Mag die NG Kerk luister na die hartklop van haar Here en buig onder sy oppergesag en terugkeer na die waarheid van Sy Woord en haar weer daarvolgens laat rig en nie deur stemme wat aangevuur word deur sogenaamde vernuwing nie!

 

Sien ook

Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk (reeks oor die Ontluikende Kerk)
Skrywe Aan die Moderamen van die Algemene Sinode – Prof Johan Janse van Rensburg
Dans Nelus Niemandt met die Ontluikende duiwel?
Die Kerkbode is nou volledig weg van die Bybelse standaarde!
Die gevolge van besluite – Oor die NG Kerk en sy duiwelse standpunt
Die leer van die Sadduseers – springlewendig in die kerk
Sola Scriptura -Ons Wapen teen Dwaling
Nelus Niemandt beveel Alternatiewe Leefstyl aan
Marcus Borg se dwalinge oor Christus
Inkonsekwente opinies lei tot afvalligheid 
Richard Rohr se dwaling van die Kosmiese Christus
Is die maagdelike geboorte van Jesus regtig belangrik
Ben du Toit se keuse tussen twee onmoontlikes
Ben du Toit se teologie en suurdeeg
Abel Pienaar se Onchristelike Christelike Tradisie
The theology your mother warned you about
The Mind of Tony Jones on the Two Natures of Christ
The moral disequilibrium of Tony Jones

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *