onveranderlike god

Beste Ds Jaco,

Ek het onlangs jou twee skrywes, of is dit nou blogs, gelees oor die onveranderlikeheid van God.1 Ek het natuurlik soos baie ander sou, eers die eerste gelees, en ‘n week later die tweede. Ek verstaan dat jy in die tweede blog probeer om regstellings te maak op die eerste, maar dit lyk my tog dat in die breë, jou siening oor God se onveranderlikheid nie drasties verskil tussen die twee blogs nie. Ek skrywe dus vir jou hierdie reaksie op albei blogs, omdat ek selfs vrae het oor die “regstelling” wat jy probeer maak het. Ek plaas dit sommer ook op my eie webtuiste, sodat hierdie reaksie ook beskikbaar is vir my eie lesersgroep.

Eerstens net die rede hoekom ek nou juis op jou twee blogs reageer. Jy sien, ek is ook van die Paarl, en volgens my speel jy ‘n redelike belangrike rol in die kerklike lewe, veral dan dié van die NG Kerk, hier in ons pragtige vallei. Die feit dat jy dus hierdie rol speel, maak dat jou standpunte redelike gewig dra by diegene wat deur jou bedien word. Dit respekteer ek. Die probleem is egter dat jy in hierdie twee blogs nie slegs ‘n randkwessie aanraak nie, maar iets wat die Christelike siening van ons God direk raak. Dit is in my oë ‘n saak wat die boodskap van die Evangelie direk raak.

Jy kan seker al aflei dat ek nie met jou siening saamstem nie. Ek dink jou standpunt lei tot ‘n verkleining van ons God en ‘n verheffing van die mens en sy posisie voor God. Dus dink ek jy handhaaf ‘n lae siening van God en ‘n ongesonde hoë siening van die mens, spesifiek dan soos verwoord in die genoemde blogs.

My eerste kritiek het die make met die opeenvolging van die twee skrywes. Met die tweede bied jy verskoning aan oor die “onduidelike en selfs dubbelsinnige formulering” in die eerste. Tog sien ek nie dat die standpunte van die eerste herroep word as verkeerd nie, behalwe vir die een baie belangrike, naamlik dat God in sy “wese en karakter” nie verander nie. Dit is ‘n radikale aanpassing van die eerste skrywe. Daar het jy die geweldige stelling gemaak:

God se liefde vir ons is onveranderlik, en Hy is onveranderlik in sy trou. Maar God Self? Is Hy onveranderlik? Ek meen nie so nie. En die getuienis van die Bybel bevestig dit: God kan verander, en Hy verander inderdaad.

Ek moet sê, hierdie het my geweldig ongemaklik gemaak. Ek kon nie dink dat ‘n teoloog bekend met die Gereformeerde teologie, en kan ek moontlik verder sê, bekend met die ortodokse beskouing van God, so iets kan skrywe nie!

Toe die regstelling: God kan nie in sy wese en karakter verander nie! My vraag is nou: hoe swaai die pendulum so vinnig? Binne die bestek van ‘n week, van ‘n siening dat God “Self”, met ander woorde, sy wese, dit wie Hy is, sy karakter, kan verander, na een waar sy wese en karakter onveranderlik is? En verder, hoe is dit moontlik dat volgens die eerste skrywe die veranderlikheid van God se “Self” deur die Bybel bevestig word, maar in die tweede sy onveranderlikheid deur dieselfde Bybel bevestig word? Hierdie weerspreking van jouself antwoord jy ongelukkig nie in jou tweede skrywe nie. Jy tipeer jou eerste stellings as onduidelik en selfs dubbelsinnig, maar jy verduidelik nie die skielike swaai van die een end van die kontinuum na die ander nie.

Nou weet ek die NG Kerk (NGK) gaan tans deur geweldige skommelinge, en ek wonder of vrae daaroor deur lidmate nie dalk hierdie hewige reaksie by jou ontlok in jou worsteling met die kwessies waarmee die NGK worstel nie. Jy sal met my saamstem die konsekwensies van stellings is soms klein, soms baie groot. In hierdie geval het die kombinasie van verskillende stellinge, wat mekaar so kontrasteer, geweldige implikasies. Nie slegs teologies nie, maar ook pastoraal.  As God onveranderlik is, dan is sy Woord ook tog onveranderlik, maar as Hy kan verander, kan sy Woord ook anders geïnterpreteer word en dit dan toegeskryf word aan die veranderlikheid van God.

Iets wat my nogal opval tussen die twee skrywes is die negatiewe benadering in die eerste teenoor die meer positiewe in die tweede. Kom ek verduidelik. In die eerste word die siening van God onveranderlikheid gesien as die resultaat van die Griekse filosofie wat abstrak oor God gedink het. Hier koppel jy nogals die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) aan hierdie tradisie. Volgens jou praat die Bybel nie so oor God nie. Wat jy dus hier sê is dat die belydenis, skynbaar in navolging van die Griekse filosowe, verkeerd praat oor God as dit Hom onveranderlik noem.

Hierteenoor verwys jy nogals redelik baie in die tweede skrywe na die openbaring van God, iets waarop die ortodokse en Gereformeerde leer baie staatmaak.

Ongelukkig hanteer jy nie hierdie teenstrydighede nie. Jou lesers het na my mening gevolglik ‘n baie verdraaide siening van die historiese ontwikkeling van die leer oor God se onveranderlikheid, sowel as ‘n baie negatiewe siening oor die belydenisse, as dat dit die Griekse filosofie eerder as die Skrif navolg. Ek dink jy is hulle ‘n verskoning en historise regstelling verskuldig hieroor. Ek beskou so benadering as uiters onverantwoordelik, veral gesien in die lig van die NGK se huidige worsteling met die Belhar dokument. Die amptelike standpunt is steeds dat die belydenisse aanvaar word “omdat dit ooreenstem” met die Skrif en nie “in soverre dit ooreenstem” nie. Jou stelling oor die NGB ondersteun na my mening eerder die laaste, wat ‘n wegbeweeg van die amptelike NGK standpunt impliseer.

Dit bring my by ‘n volgende n punt, en dit is natuurlik jou siening oor die openbaring van God. Jy maak ‘n paar standpunte daaroor, maar wat my veral vir ‘n ses geslaan het, is die standpunt:

‘n Uitdaging waarmee ons sit, is dat God se openbaring nie vir ons alles uitspel nie. Hy laat ons toe om deur ons nadenke oor sy wil vir ons steeds nuwe insigte te kry.

In die lig van Deuteronomium 29:29 kan ek met jou heelhartig saamstem met die eerste deel van hierdie stelling. Moses sê dit baie mooi:

Die verborge dinge is vir die HERE onse God;

Hy volg dit natuurlik op met die geopenbaarde dinge waarmee ons ons moet bemoei. En hy begrens dit deur die heinings van die Skrif daarom te plaas. Wat my nogal opval in Moses se stelling is nie dat die ongeopenbaarde dinge verder ondersoek moet word nie, maar dat die volk die geopenbaarde dinge moet navolg binne die veilige parameters van die Skrif. Inteendeel, hy sê in soveel woorde die woorde van die wet is die geopenbaarde dinge! Daar is dus begrensing as dit by God se openbaring kom, en daardie begrensing lê nie by God self nie, maar in wat Hy besluit het om te openbaar en wat om nie te openbaar nie.

maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid, om te doen al die woorde van hierdie wet.

Wat ek egter lees in die tweede deel van jou standpunt is die onbegrensdheid van God se openbaring wat deur die mens gedryf word. Dit lyk vir my jy is van mening dat dit wat nie aan die mens geopenbaar is nie, wel deur die mens ondersoek en ontdek kan word. Dit is in kontras met die Gereformeerde siening dat wat ongeopenbaar is, God se jurisdieksie is en nie ons s’n nie. Het Moses nie self geskryf dat wat geopenbaar is, is vir die mens, maar wat ongeopenbaar is, is vir God nie? Wanneer ons dus hierdie lyn begin oorsteek, beweeg ons op die terrein wat God vir Homself gereserveer het. Dit klink vir my na gevaarlike terrein, want daar kan ons in ons eie wysheid baie dinge gaan ontdek wat vir ons aanneemlik en aanvaarbaar is – maar nie vir God nie. Ek moet sê dit is ‘n siening wat nogals aanklank kan vind by diegene wat buite-Bybelse en nuwe openbaringe soek. Dit kan ook natuurlik ‘n kultuur wat sukkel – selfs weier – om God se begrensing te aanvaar, help om nuwe leringe te formuleer en dit dan toe te skryf aan die openbaring van God wat deur die mens verder ontdek kan word. Dit is egter ‘n verwerping van die eeue oue beginsel van Sola Scriptura. Dit klink my ook baie naby aan die misleiding van die slang teenoor Eva in Genesis 3. Hy het daar alreeds die onbegrensdheid van God se openbaring op die tafel geplaas.

Dit bring natuurlik jou Skrifbeskouing in gedrang, want as God se openbaring onbegrensd is, en Hy ons toelaat om tot nuwe insigte te kom, dan is die Skrif nie meer sy finale en gesagvolle openbaring nie, maar net nog ‘n fase in sy onvolledige openbaring. So gesien, maak jou siening in die tweede skrywe sin vir diegene wat soos jy dink, naamlik dat God sy planne kan verander. Ongelukkig weerspreek jy jouself, want in jou eie woorde staan “sy woord en sy beloftes” vas, maar let op, sy plan kan verander! Dus, soos ek jou lees, is jy nie bewus van die geweldige verwarring wat jy skep as jy hierdie twee stellings maak nie. By watter woord en beloftes hou hy homself dan? As Hy sy plan kan verander, dan gaan hierdie woord en beloftes gedurig aan die verander bly, want is dit nie so dat sy woord en beloftes primêr sy plan uitspel nie! Jou stelling dat die Bybel nie oor alles afgehandelde uitsprake gee nie, bevestig vir my jou skuif weg van die Sola Scriptura beginsel.

Hierdie siening van jou laat my dink jy het jou Gereformeerde baadjie hier uitgetrek en dié van die Prosesteoloë aangetrek. Dit laat my verder vermoed dat jy nou ‘n vorm, indien nie volledig nie, van Oop Teïsme aanhang.2 God verander sy planne na gelang van die omstandighede waarmee Hy te make kry. Dit is dalk vroom om hierdie mate van veranderlikheid by God te koppel aan sy liefde vir die mens, maar dit is glad nie vertroostend nie. Hierdie veranderlikheid van God maak Hom juis die slaaf van omstandighede, selfs van die mens se ontwikkeling en nuwe insigte. Hoe verder die mens indring in die ongeopenbaarde spasies, hoe meer uitdagend lyk dit vir my gaan dit vir God raak om sy planne aan te pas.

Sonder om te veel in te gaan op jou voorbeelde, moet ek iets sê oor jou konsep van God wat vashou aan ‘n uitegdiende plan. Dit bevestig net weereens vir my dat jy wegbeweeg het van die Gereformeerde beskouing van God se openbaringsplan ten gunste van ‘n openbaring wat gefragmenteerd is en meer die resultaat is van konstante aanpassing eerder as ‘n wonderlike kontinu wat sy vervulling in die voleinding sal bereik. In hierdie lig dink ek jy verstaan die gedagte van die koningskap heeltemal verkeerd, so-ook dié van die besnydenis.

Wat my wel bekommer is jou siening oor Christus se koms na die wêreld. Jy het op hierdie punt geen regstelling gemaak in jou tweede skrywe nie, wat my laat vermoed jy is steeds van dieselfde mening oortuig, naamlik dat Christus se koms so ‘n plansverandering by God was, en nie sy primêre plan nie. Dit raak natuurlik die evangelie direk, nie net in sy inhoud nie, maar ook alle ander leerstellings wat direk hiermee te make het, bv. God se ewige raadsplan, die uitverkiesing, Christus se ewige priesterskap en koningskap,  God se gedetaileerde uitwerk en bestuur van die geskiedenis om by die volheid van die tyd te arriveer sodat sy Seun kon mens word, om maar ‘n paar daarvan te noem.

Jy maak die stelling dat God het verander omdat Christus mens geword het en ‘n menslike natuur bygekry het. Beteken dit werklik God het in sy wese verander? Jou eerste skrywe stel dit so. Nou wonder ek waar staan jy hieroor na jou tweede skrywe? Dit is tog duidelik dat God nie verander het in sy wese met die menswording van Christus nie. Die vergaderings van Nicea en Konstantinopel, asook die belydenis van Athanasius het dit duidelik gemaak dat die twee nature in Christus onvermengd was, sodat Hy is sy godheid volledig God gebly het, en in sy mensheid volledig mens was. Die godheid het nie in Christus ‘n stukkie mensheid bygekry nie! Behoede ons, want dan sou uitsprake deur God nie meer geld dat hy nie ‘n mens is wat sou lieg nie.

Verder wil dit vir my voorkom asof jy van mening is dat Christus se menswording plan B was, en nie God se oorspronklike verlossingsplan met die mens nie. Natuurlik plaas hierdie leerstelling die voorkennis van God onder die soeklig. As dit sy plan B is, dan beteken dit plan A het misluk. Watter waarborg het ons nou dat plan B nie ook ‘n totale mislukking is nie? Ek moet sê, as ons so moet redeneer, wil dit vir my voorkom asof God net eenvouding nie opgewasse is teen die sondigheid van die mens nie. Kyk maar net na al die elende rondom ons? Menslik gesproke is plan B dan ook ‘n mislukking. Dink maar net aan die konsekwensies van jou eie standpunt vir jou eie bediening.

Ek vertrou jy lees hierdie reaksie nie as ‘n poging om jou “aan te vat” nie, maar as iemand wat terdeë besorg is oor die praktiese implikasies van jou standpunte en die impak wat dit het op die bediening en uitleef van die Evangelie in ons vallei. Moontlik is baie van die wat ek hier sê die gevolg van ‘n verkeerde verstaan van dit wat jy probeer sê, en indien dit is, vra ek dan ‘n duideliker verduideliking sodat onduidelikhede uitgeklaar kan word. Ten minste kan ek met jou saamstem oor die een teks wat jy aanhaal, naamlik Romeine 11:33-36:

O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnapeurlik sy weë! “Wie ken die bedoeling van die he re? Wie gee Hom raad? Wie bewys Hom’n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?” Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen.

William King

Voetnotas

1. ‘n Onveranderlike God, ’n Onveranderlike God? (2)

2. Ek gee ‘n definisie van Oop Teïsme hier: “Open Theism is the thesis that, because God loves us and desires that we freely choose to reciprocate His love, He has made His knowledge of, and plans for, the future conditional upon our actions. Though omniscient, God does not know what we will freely do in the future. Though omnipotent, He has chosen to invite us to freely collaborate with Him in governing and developing His creation, thereby also allowing us the freedom to thwart His hopes for us. God desires that each of us freely enter into a loving and dynamic personal relationship with Him, and He has therefore left it open to us to choose for or against His will.” (http://www.iep.utm.edu/o-theism/). Lees gerus die res van die skrywe by hierdie skakel.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: