Na aanleiding van die artikel Lesse vir die Kerk uit Openbaring 2 en 3 – Tiatire se werke en afvalligheid het die vraag opgekom wat die rol van die vrou dan nou wel in die bediening is. Hierdie is ‘n tema wat veral deur die Feministiese Teologie op die spits gedryf is en waar gelyke posisie en regte en pligte vir die vrou beveg is. Die aanklag in die brief aan Tiatire in Openbaring 2 is dat die kerkleiers die vrou, wat haarself ‘n profetes genoem het, toegelaat het om haar giftige leringe te verkondig.

‘n Platform

In die soeke na Bybelse antwoorde op hierdie belangrike vraag na die rol van die vrou in die bediening, moet ek net eers ‘n paar belangrike opmerkings maak as platform waarvandaan die vraag sinvol beantwoord kan word.

– wesenlike gelykheid

‘n Eerste beginsel is dié van wesenlike gelykheid tussen man en vrou. Vanuit ‘n Bybelse hoek, is dit belangrik om raak te sien die Bybel maak nie die vrou in wese ongelyk of, soos baie dit graag sou wou beskryf, ondergeskik aan die man nie. Daar is van die begin van die mens ‘n wesenlike gelykheid tussen man en vrou. Dit sê Genesis 1:27:

 En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.

 Hier is dus geen ongelykheid nie. Hy hanteer hulle dan ook albei wanneer die straf op hulle sonde uitgedeel word in Genesis 3. Hierin is ook die wesenlike gelykheid duidelik.

– gedeelde verantwoordelikheid

‘n Volgende beginsel is dié van gedeelde verantwoordelikheid. In dieselfde Genesis 1 in vers 28 plaas God op beide man en vrou ‘n gedeelde verantwoordelikheid, “wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip.” Hierdie was nie slegs die pligtestaat van die man of die vrou nie, maar albei word op dieselfde vlak aanspreeklik gehou vir die sfeer waaroor God die mens aangestel het.

– funksionele andersheid

Derdens moet ons let op die Bybelse aanduiding dat daar selfs van die begin af ‘n funksionele andersheid (LW. nie ongelykheid nie) tussen man en vrou. Die verhaal in Genesis 2 bring hierdie gedagte vir ons baie mooi na vore as God vir Adam sekere take gee om te verrig en dan besluit om die vrou te skep met haar unieke rol langs die man. Hierdie andersheid kom ook duidelik uit Genesis 3 as God die vrou se straf konsentreer op wat haar uniek vrou maak en die man op wat hom uniek sou identifiseer as man in die skepping.

Hierdie andersheid is nie slegs op rolle gerig nie, maar behels andersheid ten opsigte van die fisiese, emosionele, geestelike, ens. Ons sou inderdaad kon sê man en vrou is van grondvlak af verskillend bedraad en tog werp dit nie die wesenlike gelykheid en gedeelde verantwoordelik omver nie.

Hierdie drie beginsels moet myns insiens deurentyd in ag geneem word as ons spesifiek wil fokus op die vrou se rol in die kerk. Dit is soos drie kante van ‘n driehoek. Word een sy weggeneem, is dit nie meer ‘n driehoek nie en val die hele struktuur om.

Die toepassing vir die bediening kan dan as volg gesien word. Omdat man en vrou wesenlik gelyk is, is daar nie plek vir onderdrukking van die vrou in die kerk nie. Dit mag net eenvoudig nie, want dit sou hierdie eerste beginsel ondermyn. Verder is dit belangrik om te besef dat beide mans en vroue verantwoordelik is vir die gesonde funksionering en groei van die kerk. Albei word op gelyke vlak aanspreeklik gehou vir die welsyn van die bediening. Die man mag nie op sy eie voortstorm nie, en die vrou mag ook nie wegkruip nie. Ongelukkig moet ons dit ook andersom stel, omdat ons dit meer en meer sien gebeur: die vrou mag nie op haar eie voortstorm in die bediening nie, en die man mag ook nie wegkruip nie. Daar moet ook ‘n oog vir die uniekheid van elkeen se rol wees as ‘n erkenning dat God die man en vrou anders gemaak het om ook ander funksies te kan verrig.

Met dit dan as basis, kan ons kyk na verskillende gedeeltes in die Bybel waar die rol van die vrou uitgelug word.

1 Timotheus 2: 9-15

 9 So ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie, 10 maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke. 11 Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. 12 Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. 13 Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. 14 En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom. 15 Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid.

Die briewe aan Timotheus en Titus is baie anders in karakter as die ander briewe wat Paulus geskryf het. Hulle is dan ook, anders as die ander briewe, baie gefokus op die gesonde inrigting van die kerk. Daar is wel in die ander briewe verwysings hierna, maar hierdie drie briewe konsentreer veral daarop.

Die jong Timotheus word deur Paulus na die gemeente in Efese gestuur om hier leiding te neem en die kerk se struktuur te vestig. Daarna moet hy weer terugkeer na Paulus. Dus was sy rol slegs tydelik van aard en was dit belangrik om die regering van die gemeente vas te stel en die gesonde funksionering daarvan te verseker. Daarom is daar in die brief soveel afwisseling tussen verskillende verantwoordelike partye.

In die eerste klompie verse fokus hy dan op die rol van gebed in die gemeente (v1-2) en motiveer dit vanuit die reddende genade van God (v3-7). Hierna spel hy die man se rol in gebed uit (v8) waarna hy die vrou se plek hanteer.

In verse 9 en 10 fokus Paulus op die “versiering” van die vrou, wat uitloop op “beskeidenheid”, “ingetoënheid” en “goeie werke” (v10 dit wil voorkom asof daar wel morele probleme onder die vroue was en vanweë die belangrikheid van die gebede, moes Timotheus dit konfronteer). Dit op sigself dui aan dat die vrou se rol nie veronderstel is om passief te wees nie, maar sigbaar in die gemeentelike lewe. Dit sny so effe die siening aan stukke dat as die vrou nie in leierskap in die kerk is nie, is sy nie positief aangewend nie. Die sigbaarheid is van so aard dat dit nie die vrou op die voorgrond plaas nie, maar in nederigheid en selfbeheersing.

In die lig van die belangrike gebedsrol van die kerk, is die vrou se rol en benadering belangrik. Sy het ‘n definitiewe plek om te vervul. Paulus kwalifiseer dit egter in verse 11 en 12. Hierdie is die taboe, of dan “negatiewe” as jy wil, van die vrou se rol en draai rondom twee aspekte, naamlik “onderrig” en “heers”.

Die taalkundige struktuur in verse 11 en 12 is soos volg:

v11  stilte

       die vrou moet haar laat leer

       die vrou moet onderdanig wees

v12 die vrou mag nie onderrig gee nie

      die vrou mag nie regeer nie

      stilte

Albei verse het 3 duidelike afdelings en verse 11 en 12 word omarm deur die gedagte van die vrou se “stilte”. Die ander komponente volg dieselfde orde, eers leer, dan heers. In vers 11 word die vrou die een wat dit moet ondergaan, met ander woorde geleer word en onderdanig wees, terwyl in vers 12 dit negatief gestel word dat sy nie die uitvoerder daarvan mag wees nie. Sy moet dus geleer word, maar mag nie onderrig gee nie, sy moet onderwerp terwyl sy self nie mag “heers” nie. Dit alles moet gebeur met ‘n gesindheid van “stilte”. Hierdie stilte word volgens die Thayers Dictionary verduidelik as description of the life of one who stays at home doing his own work, and does not officiously meddle with the affairs of others”.1

Die beginsel wat Paulus duidelik hier vaslê is dat in die sake van lering in die gemeente byeenkoms (hou die konteks van hoofstuk 2 vanaf vers 1 in ag) en kerkregering (let op die kwalifisering dat sy nie oor die man mag heers nie), is die vrou aan die ontvang kant en nie aan die uitdeel kant nie. Sy mag dit ook nie ag as ‘n ontneem van haar regte nie, maar dit aanvaar as die standaard vir die kerk sonder om verder daaroor te top.

Lering / Onderrig

Kom ons kyk dus na die twee sake afsonderlik. Eerstens wat betref onderrig. Paulus laat dit nie toe in die byeenkoms van die kerk nie. Paulus is duidelik oor wie verantwoordelik is vir die lering in die kerk. In hoofstuk 3 hanteer hy dit as deel van die kwalifikasies van die ouderling. So ‘n persoon moet volgens vers 2 bekwaam wees om te onderrig. Lees ook Handelinge 20 waar Paulus die ouderlinge van Efese laat roep en met hulle praat oor hulle rol as opsieners. Ook in 1 Timotheus 5:17 maak Paulus die verband tussen ouderling en lering duidelik: “Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer.”

Wat ons moet raaksien hier in 1 Timotheus (en Titus) is dat die ouderlinge waarvan hy hier skrywe deur die bank mans is. Hulle is verantwoordelik vir lering in die gemeente byeenkoms. Die vereiste vir iemand om ouderling te wees is duidelik om ‘n man te wees (“die man van een vrou” 3:1). Hierdie argument van Paulus stem ooreen met sy argument in 1 Korintiërs 14:34 wanneer hy oor die gawes skrywe:

 “Julle vroue moet in die gemeentes swyg; want dit is hulle nie toegelaat om te spreek nie, maar om onderdanig te wees, soos die wet ook sê.”

Beteken dit dat die vrou glad nie mag lering gee nie? Dit lyk tog asof die Bybel ruimte laat hiervoor. Waarop Paulus in 1 Timotheus 2 en 1 Korintiërs 14 fokus is gesaghebbende lering in die byeenkoms van die gemeente, waar die mans volgens die Skrif die leiding moet neem. Daar is byvoorbeeld die einste Timotheus wat onder die getroue moederlike bediening van beide sy ouma en ma die Skrif leer ken het (2 Timotheus 1:5 en 2 Timotheus 3:15). Dit is duidelik dat Paulus hierdie onderrig in Timotheus lewe hoog geag het.

‘n Ander geval is die van Priscilla en Aquilla by wie Paulus gewerk en gewoon het (Handelinge 18:2-3). Hulle twee was aktief betrokke by die bediening van Paulus (Handelinge 18:18). So verskyn ‘n Jood met die naam Aplollos op die toneel. Hy verkondig die evangelie, maar dit was effe onafgerond volgens hierdie egpaar. Ons lees dan in Handelinge 18:26

 “En hy het vrymoediglik in die sinagoge begin spreek; maar nadat Aquila en Priscílla hom gehoor het, het hulle hom by hulle geneem en hom noukeuriger die weg van God uitgelê.” 

Let wel, hierdie was nie lering in gemeentelike byeenkoms nie en die vers is duidelik dat hulle twee hom saam gepoleer het in sy gebrekkige kennis van die evangelie.

Daar is verseker vroue met die talente en gawes om ander te leer, en dit mag nie verwaarloos word nie. Daar moet altyd die beginsel in ag geneem word dat Paulus dit nie toelaat in gemeentelike byeenkoms waar die mans die leiding moet neem nie. Maar daar is talle voorbeelde waar vroue ‘n sleutelrol kan speel om kennis van die evangelie te onderrig. Paulus verwys byvoorbeeld na die ouer vroue wat die jonger vrou moet leer. Ons dink aan vroue wat saam die Bybel bestudeer, ons dink aan die onderrig van kinders.

Kerkregering

‘n Tweede aspek wat uit 1 Timotheus 2 is dié van “heers” of dan kerkregering. Paulus kwalifiseer. Dit gaan oor heers / regeer oor mans in die konteks van die gemeentelike sake. As ‘n verlengstuk oor die regering van die kerk, moet ons dan 1 Timotheus 3 saam lees. Hier word in die eerste gedeelte geskrywe oor die sogenaamde “opsiener”. Hier gebruik Paulus die begrip “episkopos” en elders word “presbuteros” gebruik. Beide hierdie begrippe word gebruik om die toesighoudende en beskermende rol van die persone wat hierdie rol vervul. Hulle moet besluite neem wat die welsyn van die kerklike lewe raak. Hulle is dan ook uit Handelinge 20 verantwoordelik vir die beskerming van die kudde teen die dwaalleer wat die skape aan flarde kan ruk, dus die beskerming van die suiwer leer.

Uit die voorskrifte wat Paulus in die briewe aan Timotheus en Titus is hierdie rol gereserveer vir mans. Die taal en geslag wat Paulus in die oog het, is moeilik om anders te verstaan tensy jy ‘n baie goeie verbeelding het! Die beskouing van lering soos hierbo uiteengesit, maak dit ook moeilik om dit anders te verstaan.

Waar dit dus gaan oor die toesig en regering, met ander woorde, die outoriteit in die kerk, is daardie rol gereserveer vir die mans. Paulus gaan ook hiervoor terug na die skeppingsorde van Adam en Eva om dit te regverdig. Dit is tog veelseggend dat hy nie verwys na die kulturele omgewing en norme hiervoor nie, maar na die skepping en hoe God dit beplan het.

Die toepassing hiervan is tog duidelik vir die rol van die vrou. Waar dit gaan oor die regering van die kerklike sake, kan vroue nie daardie rol vervul nie as daar enigsins die geval sou wees dat die vrou oor die man moet heers.

Dit beteken nie dat daar nie bestuursrolle is wat sy nie kan vervul nie, maar waar dit hierdie beginsel oortree, dan mag dit nie. Paulus hanteer die kwessie van die gesagsorde in 1 Korintiërs 11, en dan weer nie vanuit die kulturele nie, maar vanuit God se siening van gesag.

Die rol van diakonesse

Ons moet kyk na die rol van diakonesse. In Romeine 16:1-2 lees ons van ‘n vrou met die naam Fébé.

1 Ek beveel by julle aan ons suster Fébé, wat ‘n dienares is van die gemeente in Kenchréë, 2 dat julle haar ontvang in die Here, soos dit die heiliges betaam, en haar bystaan in elke saak waarin sy julle nodig mag hê. Want sy was vir baie ‘n beskermster en ook vir my.

Sleutel begrippe hier is “dienares” en “beskermster”. Die begrip “diakonos” vertaal met “dienares” het die volgende as basis betekenis: one who executes the commands of another, esp. of a master, a servant, attendant, minister.2 Dit impliseer dus ‘n baie dienende funksie. Ons lees van die verwaarlosing van die daaglikse versorging (“diakonia”) van die weduwees in Handelinge 6:1 en die gevolglike aanstelling van die sewe mans om om te sien na die “bediening (diakonew) van die tafels” (Handelinge 6:2).

Wanneer Paulus in 1 Timotheus 3 oor die rol van diakens skrywe, lees ons onder andere:

8 Net so moet die diakens waardig wees, nie uit twee monde spreek nie, nie verslaaf aan wyn nie, geen vuilgewinsoekers nie, 9 manne wat die verborgenheid van die geloof in ‘n rein gewete hou. 10 En hulle moet ook eers ‘n proeftyd deurmaak; daarna, as hulle onberispelik is, kan hulle dien. 11 Net so moet die vroue waardig wees, geen kwaadspreeksters nie, nugter, betroubaar in alles. 12 Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huis goed regeer.

In verse 9 en 12 (in aansluiting by Handelinge 6) is die voorvereiste dat die diakens manne sal wees. Tog kry ons die interessante vers 11. Dit kan op twee maniere verstaan word, naamlik dat dit die vroue van die diakens is of dat dit verwysend is na ‘n groep vroue in die gemeente wat erken word as dat hulle dieselfde rol as die diakens sou vervul. Die argumente is sterker na laasgenoemde, en alhoewel hulle nie as “diakonesse” aangedui word nie, maar as “die vroue”, blyk dit dat daar ‘n groep vroue was wat ‘n baie bepaalde dienende rol in die gemeente vervul het. Die feit dat hulle in dieselfde asem genoem (eintlik omvou) word as die diakens, wil ‘n mens laat dink dat hulle rol wesenlik nie sou verskil van dié van die manlike diakens nie. Die diakens het ook nie ‘n regerende rol in die gemeentelike lewe gehad nie, wat daarom die vrou sou kon toelaat om hier in te skakel. Vers 13 kwalifiseer beide die diakens en diakonesse se rol as “dien” (diakonew).

Ons sien hierdie dienende rol van vroue dwarsdeur die Skrif. In die bediening van Christus was daar talle vroue wat Hom en die dissipels op verskeie wyses bedien het. Dit is hoegenaamd nie ‘n minderwaardige rol om te vervul nie. Ek kry die idee dat daar die persepsie geskep is dat dit belangriker is om te onderrig en besluite te neem as om te dien. Dit is so ver van die waarheid van die Skrif. Die Here Jesus se hele lewe was een van diens en as sodanig is Hy die perfekte voorbeeld om na te volg in die diens van diaken en diakones. Kyk ons ook na die rol wat God in Genesis 2 vir die vrou uitgekap het, kom die rol van diens baie sterk op die voorgrond.

Die praktiese toepassing is wyd. Daar waar dienswerk nodig is, daar kan die vrou betrokke raak. 1 Timotheus 5:9-10 bied ‘n praktiese voorbeeld:

9 Laat ‘n weduwee gekies word, nie minder as sestig jaar oud nie, wat die vrou van een man gewees het 10 en getuienis het van goeie werke, as sy kinders grootgemaak het, gasvry gewees het, die voete van die heiliges gewas het, verdruktes gehelp en elke goeie werk nagestreef het.

Die dienswerk van hierdie vrou word genoem “goeie werke”, “kinders grootgemaak”, “gasvry”, “voete van heiliges gewas”, “verdruktes gehelp”, “elke goeie werk nagestreef”.

Die tweede begrip wat vir Fébé se dienswerk gebruik word, is beskermster”. Die oorspronklike woord “prostatis” dra die betekenis van a female guardian, protectress, patroness, caring for the affairs of others and aiding them with her resources”.3 Baie beslis hou dit nie in dat Fébé gesag sou uitoefen oor Paulus nie. Hy was apostel en het daarom geweet wat sy plek in die gesagsorde was en so-ook hare, maar sy was beslis ‘n sleutel dienaar in die bediening van Paulus en haar gemeente. Sy het gedien met alles wat sy tot haar beskikking gehad het, moontlik nie slegs fisies, finansieel nie, maar ook geestelik en emosioneel.

Dit wil dus voorkom uit die gegewens uit die Skrif (wat baie meer is as wat in ‘n artikel soos hierdie hanteer kan word), dat vroue ‘n geweldig belangrike rol te speel het in die kerk (lees gerus die res van Romeine 16, Filippense 4:2-3, om maar paar te noem) in ‘n dienende en ondersteunende hoedanigheid. Daar moet oop oë en harte hiervoor wees. Daar moet gewaak word daarteen om nie die vrou in ‘n rol te plaas of toe te laat wat sy nie behoort te vervul nie omdat die teen die skeppingsdoel en argitektuur van God vir die kerk indruis. Ware emansipasie van die vrou bestaan dus nie in die toegee aan die Feministiese dryf om die vrou in posisies te plaas wat sogenaamd manlik gedomineerd is nie. Dit bestaan eerder in die gehoorsaamheid aan die wil en standaarde wat God stel in sy Woord vir die vrou. Dit bring geestelike vervulling en stille oorgawe.

Voetnotas

1Thayer’s Greek Dictionary
2Ibid
3Ibid

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: