Drie-eenheid

Trinitariese Struktuur

Uit die hantering van die formele struktuur het dit duidelik geword dat die Apostoliese Geloofsbelydenis (AGB) wentel rondom die geloof in die Drie-Enige God. Elke artikel word op een of ander wyse verbind aan een van die drie persone van die Drie-Eenheid. Artikel 1 het spesifiek betrekking op die Vader, 2-7 op Jesus, die Seun, en 8-12 op die Heilige Gees. Dit is onmiddellik duidelik dat die vroeë kerk nie getwyfel het aan hierdie waarheid dat God “een in wese, onderskeie in persone” is nie. Inteendeel, dit was kern in hul godsbegrip, soos die AGB duidelik wys. Die AGB is dus op ‘n baie konkrete vlak nie alleen ‘n uitspraak oor die verlossingswerk nie, maar ‘n belydenis oor die God wat hierdie reddingsplan tot uitvoer bring. Wat opval is dat die belydenis nie die Drie-Eenheid probeer bewys of verdedig nie, maar bloot daaruit put om die rykdom van die wese en werk van God, die Seun, en die Gees bekend te maak.

Verbeel jou jy het grootgeword in ‘n samelewing waar almal afgode aanbid het en dit vreemd is as iemand dit nie sou doen nie. Iemand vertel jou van hierdie god-mens wat gekom het, gesterf het, opgestaan het, en weer sal kom. Die motief hiervan is sy liefde vir die mens en die doel is om vry te maak van sonde en oordeel, en die mens nuut te maak om hom alleen te aanbid. Jy sal nogal wou weet wie is hierdie vreemde “god” wat soveel gedoen het om jou te red. Veronderstel verder jy het hierdie goeie nuus geglo. Jy sou verder wou leer oor hierdie “nuwe”, unieke God, wie Hy is, en wat Hy vir jou gedoen het en nog wil doen.

Hierdie scenario was nie vreemd in die ontwikkeling van die vroeë kerk nie. Afgodery was aan die orde van die dag onder heidense bewind – selfs die keisers was vereer as gode. Wanneer iemand tot bekering gekom het, was sy hele lewe omgedop. Selfs sy godsbegrip was verpletter. So persoon het geskuif van ‘n politeïsme na ‘n monoteïsme. Die AGB was dus in ‘n baie praktiese sin ‘n onderrigmiddel tot die regte verstaan van die Drie-Enige God.

Dit is ook nie so vreemd in ons dag nie. Ons gode is dalk nie almal so fisies en sigbaar van aard nie, maar daar is ‘n baie sterk afval in die kennis van die ware God. Ek wil my verstout om te sê dat ‘n groot persentasie van ons sogenaamde “christelike” bevolking in Suid Afrika het nie meer die begrip van God as Drie-Enig nie, nog minder die vermoë om hulself te verdedig op hierdie punt. ‘n Goeie voorbeeld is die vrees vir die Jehova Getuies, wat vanuit die staanspoor die Drie-Eenheid ontken. Politeïsme, panteïsme, panenteïsme, ateïsme, deïsme, om maar ‘n paar godsbeskouinge te noem, is aan die orde van die dag. Daarom is hierdie trinitariese beskouing so radikaal anders, aangrypend ryk, en intens relevant vir die postmoderne mens.

Die Drie-Eenheid se Bybelse Basis

Die God wat in die AGB bely word, is Drie-Enig, Vader, Seun en Heilige Gees. Dit is seker een van die mees kontroversiële standpunte van die Christelike kerk, en daarmee ook een van die leerstellings wat die meeste misverstaan is in die geskiedenis van die Kerk. Alhoewel die begrip “Drie-Eenheid” of “Triniteit” nêrens in die Bybel genoem word nie, kom die waarheid daarvan op talle plekke in die Skrif na vore. Kom ons kyk eers na die Ou Testament.

Die Ou Testament bied aan ons die sterk oortuiging van ‘n God wat EEN is. Dink maar aan uitsprake soos Deuteronomium 6:4:

Hoor, Israel, die HERE onse God is ʼn enige HERE.

Die Engelse vertalings dra die betekenis nog sterker oor, naamlik “The Lord our God, the Lord is One”. Hy is ondeelbaar, onbreekbaar, een. Sy wese kan met ander woorde nie opgebreek word in kleiner stukkies om meer gode te vorm nie. Dit kan ook nie meer gemaak word om Hom meer God te maak nie. Dit is ‘n belangrike gedagte om aan vas te hou wanneer oor die Drie-Eenheid gedink word. Die wese van God is nie in drie gedeel nie, net so min as wat die somtotaal van Vader, Seun en Gees die goddelikheid tussen die drie vermeerder. Deuteronomium 4:35 herhaal dit as dit sê dat “die HERE God is; daar is geen ander buiten Hom nie.” Die gebod in Eksodus 20:3 teen afgodery is natuurlik gebou op hierdie begrip van God as Een. Telkens verklaar die Ou Testament God as die enigste ware God (monoteïsme) in teenstelling met die baie afgode (politeïsme).  Sien byvoorbeeld ook Jesaja 45:5, 18, 22.

In die Nuwe Testament word die gedagte van God se eenheid opgeneem, om daarmee ‘n kontinuïteit te skep met die Ou Testament. Jesus bevestig dit byvoorbeeld in Markus 12:29 deur terug te verwys na Deuteronomium 6:4. ‘n Skrifgeleerde het die beginsel gesnap volgens Markus 12:32:

En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie.

God is een. Paulus skrywe dit ook in 1 Korintiërs 8:4 en Efesiërs 4:6. Die Bybel in sy geheel ken dus slegs ‘n een God wat een is. Tog vertel dit van ‘n “meervoudigheid” aan God, wat geensins sy eenheid verbreek nie. Genesis 1:26 praat van God wat met Homself beraad hou en besluit “Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis.” Die meervoudsvorm hier kan nie verwys na die engele nie, want hulle was nie betrokke as skeppers nie en die mens is nie na hulle beeld geskape nie. Hierdie is een van die voorbeelde in die Ou Testament waar die Drie-Eenheid in gesprek met mekaar is.

‘n Verdere baie interessante teks is Psalm 110:1-4:

Die HERE het tot my Here gespreek: Sit aan my regterhand, totdat Ek u vyande maak ʼn voetbank vir u voete. U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande. U volk sal baie gewillig wees op die dag van u krygsmag; in heilige feesgewade, uit die moederskoot van die dageraad sal vir U wees die dou van u jong manskappe. Die HERE het gesweer, en dit sal Hom nie berou nie: U is priester vir ewig volgens die orde van Melgisédek.

Op Pinksterdag verklaar Petrus hierdie bogenoemde Psalm as volg:

Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ʼn voetbank van u voete (Handelinge 2:34-35).

Petrus se verklaring is dus dat hierdie nie ‘n belofte aan Dawid was nie, maar ‘n belofte van God die Vader aan God die Seun.

Dan moet ons verwys na Jesaja 63:1-64:8 waar die drie persone van die Goddelike Drie-Eenheid duidelik na vore kom. In die eerste 6 verse, sowel as vers 9 van Jesaja 63 word verwys na die Redder, met ander woorde Christus; verse 10-11 maak melding van die Heilige Gees; 63:16 en 64:8 verwys na die Vader.

Natuurlik verdiep die Nuwe Testament ons verstaan van die wese van God met betrekking tot die Drie-Eenheid. Reeds by die doop van Christus is daar ‘n wonderlike beskrywing daarvan:

En nadat Jesus gedoop was, het Hy dadelik uit die water opgeklim, en meteens gaan die hemele vir Hom oop, en Hy sien die Gees van God soos ʼn duif neerdaal en op Hom kom. En daar kom ʼn stem uit die hemele wat sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ʼn welbehae het” (Matteus 3:16-17)

Petrus beskrywe dit op aangrypende wyse:

Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor (Handelinge 2:33).

Paulus beskrywe die Drie-Eenheid in die lig van die verlossingswerk, heiligmaking en bewaring van die gelowiges:

En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon (Romeine 8:11).

Jesus self het Homself en die Vader telkens as een beskrywe, en dat die Heilige Gees van hulle albei af uitgaan. Bestudeer gerus Johannes 14-17 om hierdie eenheid in die goddelike wese te sien.

Tussen die Ou en Nuwe Testamente is daar dus geen verwarring oor die Eenheid, en daarmee saam die Drie-Eenheid van God nie. Inteendeel, die Nuwe Testament vergroot ons begrip van dit wat reeds in die Ou Testament aanwesig is.

Die Posisie van Christus

Die vroeë kerk het vasgehou aan hierdie belangrike leerstelling, waarvan die AGB ‘n goeie bewys is. Daar was natuurlik strome wat die leer of verwerp (dink hier byvoorbeeld aan Marcion wat die god van die Ou Testament verwerp en die god van Jesus aanvaar, sowel as die verdere ontwikkeling van die Gnostisisme), of verdraai het (hier kan ons byvoorbeeld dink aan die Modalisme wat deur Sabellius [geb. ca. 217 n.C.]  voorgehou is, of Subordinasie soos deur Origenes [184/5 – 253/4] geleer).

Een ding is baie duidelik uit die historiese gegewens, naamlik dat die begrip oor die Drie-Eenheid van God nou saamgehang het met die aanvaarding van die goddelike natuur van Christus. Hierdie stryd is op die spits gedryf deur die stryd met Arius (250-336 n.C.), ‘n biskop van Alexandrië. Hy het die goddelike natuur van Jesus ontken. Christus was ondergeskik aan die Vader. Die Christus is volgens die Arianisme, die voorloper van die hedendaagse Jehova Getuies, nie van ewigheid tot ewigheid nie, maar is deur God geskape en is daarom in wesenlike (ontologiese) sin onderworpe aan die Vader. Arius het dit gebasseer op tekste soos Johannes 14:28 en Kolossense 1:15.

Teen hierdie dwaling het Athanasius opgestaan om die goddelike én menslike nature van Christus te beklemtoon. Jesus is tegelyk God en Mens. Sy werk “The Incarnation of the Word” weerspieël sy sterk standpunt. Dit word ook verwoord in sy belydenis, by verre een van die sterkste uitsprake ten gunste van die Drie-Eenheid in hierdie eerste klompie eeue:

Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene geloof moet vashou. As iemand dit nie heeltemal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder twyfel ewig verlore gaan. Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid eer, sonder om die persone te vermeng of die wese te deel. Want die persoon van die Vader is ‘n ander, dié van die Seun is ‘n ander, dié van die Heilige Gees is ‘n ander. Tog het die Vader en die Seun en die Heilige Gees een Godheid, gelyke eer en gelyke ewige heerlikheid. Soos die Vader is, so is ook die Seun en ook die Heilige Gees. Die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape, die Heilige Gees is ongeskape; onmeetlik is die Vader, onmeetlik is die Seun, onmeetlik is die Heilige Gees; die Vader is ewig, die Seun is ewig, die Heilige Gees is ewig. Nogtans is daar nie drie ewiges nie maar een Ewige, net soos daar ook nie drie ongeskapenes of drie onmeetlikes is nie maar een Ongeskapene en een Onmeetlike. Eweneens is die Vader almagtig, die Seun almagtig, die Heilige Gees almagtig; en tog is daar nie drie almagtiges nie maar een Almagtige. So ook is die Vader God, die Seun God, die Heilige Gees God; en tog is daar nie drie gode nie maar een God. Net so is die Vader Here, die Seun Here, die Heilige Gees Here; en tog is daar nie drie heres nie maar een Here. Want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke Persoon afsonderlik God en Here te noem, word ons ook deur die algemene geloof verbied om drie gode of heres te bely. Die Vader is deur niemand gemaak of geskep of gegenereer nie; die Seun is deur die Vader alleen nie gemaak of geskep nie maar gegenereer; die Heilige Gees is deur die Vader en die Seun nie gemaak of geskep of gegenereer nie maar gaan van Hulle uit. So is daar dan een Vader, nie drie vaders nie; een Seun, nie drie seuns nie; een Heilige Gees, nie drie heilige geeste nie. En in hierdie Drieheid is daar nie eerste of laaste nie, nie meeste of minste nie, maar al drie Persone het gelyke ewigheid en is heeltemal aan mekaar gelyk, sodat in alle opsigte, soos hierbo gesê is, die Eenheid in die Drieheid en die Drieheid in die Eenheid geëer moet word. Wie dus salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid dink.

Die Skrif is duidelik oor die goddelikheid van Christus. Kolossense 1:15-21 besing Christus as die volkome beeld van God, die Eersgeborene oor die skepping, in wie die volle wese van God liggaamlik woon. Hebreërs 1 verklaar sy goddelikheid op aangrypende wyse deur Hom te vergelyk met onder andere die skepping en die engele. In Openbaring 1 sien Johannes ‘n visioen van Christus, wat Homself aan Johannes voorstel in goddelike terme. In Markus 2:3-12 word dit op aangrypende wyse vertel. Jesus is aan die begin van sy bediening. ‘n Menigte het bymekaar gekom om Hom te beleef, en daarom was dit moeilik om by Hom te kom. Vier vriende maak toe ‘n plan en laat sak ‘n verlamde deur die dak tot by Jesus. Jesus doen ‘n merkwaardige ding. In plaas daarvan dat Hy die man genees, verklaar Hy se sondes vergewe. Dit het die Fariseërs en Skrifgeleerdes se nekhare laat rys, want hulle het geweet net God kan sondes vergewe (vers 7). Jesus wis wat in hulle binneste borrel en konfronteer hulle met die vraag of dit makliker is om sonde te vergewe of ‘n lam mens te genees (vers 8-9). Wat Hy dus hier doen is om twee werke wat slegs God kan doen langs mekaar plaas. Beide is beslis ewe onmoontlik by die mens en werke wat aan God toegeskrywe word. Nou gaan Jesus verder en doen die menslik onmoontlike – Hy genees die lam man (vers 10-12). Hierdeur het Hy reeds vroeg in sy bediening sy goddelikheid op sigbare wyse gewys. Na sy opstanding spreek Thomas sy geloof uit met die woorde “My Here en my God!” (Johannes 20:28), ‘n herkenning van die godheid van Jesus. Dit is ‘n konkrete bewys van wat Johannes reeds in sy eerste verse van sy Evangelie skryf:

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.

By die Apostels en die behoudende deel van die vroeë kerk, wat as agtergrond sou dien vir die AGB, was daar dus geen twyfel nie dat God Een is, onderskeie in drie Persone, Vader, Seun en Heilige Gees. In watter sin is die Drie dan Een?

Die Eenheid van God

Die hoe van die Eenheid van die godheid moet verstaan word deur te kyk na die twee begrippe homoousios en persona. Die eerste is ‘n samestelling van die Griekse woord wat letterlik beteken “dieselfde wese”. Ousia kom van die Griekse einai, wat letterlik beteken “om te wees”. Daarom sou mens ook kon sê hierdie woord kan vertaal word as “om dieselfde te wees”. Die betekenis hiervan vir die hoe van die Eenheid van die Drie, is dat hulle wese dieselfde is. Dit wat dus die goddelike wese opmaak, is dieselfde by die Vader, die Seun en die Gees. Bietjie meer oppervlakkig sou mens kon sê hulle is van dieselfde “materiaal”. Wat dus die goddelike wese opmaak, is dit wat die Drie Een maak. Hierdie is in teenstelling met die begrip homoiousios, wat beteken “van soortgelyke wese”. Dit is ‘n subtiele verandering en beteken dat daar meer as een goddelike wese is wat amper dieselfde is, maar tog onderskei kan word van mekaar. So gesien kan ons nie praat van ‘n Drie-Eenheid nie, maar van verskillende wesens wat soortgelyke eienskappe het. Dit is ook verder in kontras met die gedagte van heteroousios, wat beteken “van verskillende wese”. Hierdie sou dan ‘n uitdrukking wees van ‘n politeïsme waar die gode wat die godedom opmaak, radikaal van mekaar verskil. Dink maar aan die verskillende gode van die Grieke en Romeine, of die Hindoes, die Mayas, selfs die postmoderne kultuur. Verskillende gode, elk met sy eie wese en natuur, sonder enigiets in gemeen. By die Sinode van Nicea is duidelik herken dat Christus een in wese is met die Vader, met ander woorde die goddelikheid van die Vader is dieselfde as dié van die Seun en verder is dit dieselfde as dié van die Heilige Gees. Tussen die drie is daar dus slegs een goddelike wese, onverdeeld, en nie die somtotaal van die drie nie. Miskien kan ons so daaroor dink: indien daar nie so iets soos die Drie-Eenheid was nie, sou daar nog slegs die een God wees, onverdeeld. Dit is presies wat die godheid van die drie is, hierdie een goddelike wese wat so sou wees al sou die Drie nie daar wees nie.

Die onderskeid tussen die Drie is dus nie in wese nie. Ontologies is hulle Een. Die onderskeid lê in die begrip Persoon, en hier het die moderne begrip hiervan ons verstaan van die Drie-Eenheid verwar. Persoon word gereeld gelyk gestel met persoonlikheid. Iemand se persoonlikheid word beskou as dit wat iemand ‘n persoon maak. ‘n Persoon word in ons verstaan gesien as iemand met ‘n eie identiteit, onderskeie van ander persone. Dit is ‘n verkeerde begrip wat ons op die Drie-Eenheid wil toepas. Dit lei tot ‘n verstaan van drie onderskeie persone, elk met ‘n eie identiteit en persoonlikheid. So is die God van die Ou Testament gereeld geëtiketteer as wreed en oordeelslustig, terwyl Jesus sag en liefdevol is, en die Gees kragtig en oorredend.  Duidelik weerspreek dit die idee van homoousios, naamlik dieselfde wese wat die goddelike wese van al drie is. Die Bybel leer byvoorbeeld God is liefde, en hierdie liefde is nie beperk tot een van die Drie nie, maar is ‘n wesenseienskap van die goddelike wese, en daarom is die Vader liefde, die Seun liefde en die Gees liefde.

Wanneer gedink word aan die begrip “persoon”, moet dit eerder verstaan word in die sin dat elk van die Drie in die Godheid dieselfde wese het, maar ‘n onderskeie uitdrukking daarvan. Die Grieke het die woord prosopon gebruik, terwyl die Latynse begrip persona hier relevant is. Oorspronklik is dit in teaters gebruik waar dieselfde akteur masker gebruik het om verskillende rolle in dieselfde toneel te vertolk. Paulus gebruik die begrip prosopon byvoorbeeld in 2 Korintiërs 4:6:

Want God wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn-dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die heerlikheid van God in die aangesig (prosopon) van Jesus Christus.

In vers 4 van hierdie selfde gedeelte word Jesus die “beeld van God” genoem, die gedagte wat uitgebreid deur Paulus beskryf word in Kolossense 1 vanaf vers 15. Persoon is dus nie te verstaan as ‘n uitdrukking van ‘n onderskeie geaardheid en identiteit nie, maar ‘n openbaring van dieselfde Goddelike wese in drie onderskeie gestaltes. Dit is dan op so ‘n wyse dat hierdie drie van ewigheid tot ewigheid so bestaan. Daar was dus geen oomblik dat die Drie-eenheid nie bestaan het nie. Nie een is geskape nie, en nie een is ondergeskik aan die ander nie. Sou dit so wees, sou dit die beginsel van homoousios breek.

Daarom kan ons byvoorbeeld in verskillende aspekte al drie teenwoordig sien, elk met ‘n ander rol in dieselfde aksie. Dink byvoorbeeld aan die Skepping. Johannes 1:1-2 leer:

In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

Kolossense 1:15-17 praat ook hieroor:

Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is, trone sowel as heerskappye en owerhede en magte-alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.

Dan lees ons Genesis 1 en sien byvoorbeeld:

In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters. En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.

Ons sien dus hier al drie betrokke by die skepping, maar dan elk op ‘n eie manier, komplimenterend tot die ander.

Miskien nog die voorbeeld van die verlossingsplan van God. Lees byvoorbeeld Efesiërs 1:3-14 om die wisselwerking tussen Vader, Seun en Gees hierin te sien. ‘n Volledige plan met elkeen van die Drie persone in die Drie-Eenheid betrokke, in perfekte harmonie. Die Vader kies, die Seun word mens en die Gees is die waarborg. Kyk ook byvoorbeeld na die wisselwerking tussen Vader, Seun en Gees in die voortbestaan van die gelowige volgens Jesus se gesprek in Johannes 14-17.

Die Drie-Eenheid in die Belydenis

Die Drie-Eenheid in die AGB is onmiskenbaar. Die Vader word in verband gebring met die Skepping (artikel 1) en die posisie wat Christus na sy hemelvaart inneem (artikel 6). Artikels 2-7 het spesifiek betrekking op die Seun, maar dan in verband met die Vader (Hy word genoem “sy [verwysend na die Vader] Eniggebore Seun” in artikel 2), en die Heilige Gees (artikel 3). Die Heilige Gees word veral in verband met die Kerk bely (artikels 8-12), maar ook as die oorsaak van die maagdelike geboorte van Christus (artikel 3). Dus bied dit ‘n wonderlike struktuur om te onthou wanneer die AGB bely word. Soos reeds genoem, bied dit nie ‘n verklaring van die Drie-Eenheid nie, maar ‘n belydenis van die Drie-Enige God, en spesifiek met betrekking tot die verlossingsplan.

Slotopmerkings oor die Struktuur

Die struktuur van die AGB bied op twee vlakke vir ons alreeds ‘n boodskap van die wonder van die Drie-Enige God wat Homself in die verloop van die geskiedenis as die Skepper, Redder en Trooster openbaar. Die struktuur omvat die ganse heilsgeskiedenis, vanaf skepping tot voleinding, en hierin speel elkeen van die Drie persone in die Drie-Eenheid ‘n bepaalde rol. Wat hierdie rolle is, en die detail van elke aspek van die verlossing, word hierna bespreek.

Bibliografie

Anonymous,. “Apostles’ Creed.” Accessed Apr 21, 2014. https://www.biblicaltraining.org/library/apostles-creed

Aquinas, Thomas. “Thomas Aquinas: On the Apostles’ Creed.” Accessed Apr 21, 2014. http://dhspriory.org/thomas/Creed.htm

Baron, John. The Greek Origin of the Apostles’ Creed: Illustrated by Ancient Documents and Recent Research Oxford, London: Parker & Co., 1885

Calvin, John. The Institutes of the Christian Religion Grand Rapids, Michigan: Christian Classics Ethereal Library, 2002

Harnack, Adolf. The Apostles’ Creed edited by Thomas B. Saunders. Grand Rapids, Michigan: Christian Classics Ethereal Library, 1901

Hunt, Dave. How Close Are We?: Compelling Evidence for the Soon Return of Christ Eugene, Oregon: Harvest House Publishers, 1993

Jonker, Willie D. Bevrydende Waarheid: Die Karakter van die Gereformeerde Belydenis Wellington: Hugenote Uitgewers, 1994

Keith, Graham. “The Formulation of Creeds in the Early Church.” Themelios Volume 24 Number 1 (1998): 13-35

Kelly, J. N.D. Early Christian Creeds Londen, New York: Continuum, 1960

Knight, Kevin. “Apostles’ Creed.” Accessed Apr 21, 2014. http://www.newadvent.org/cathen/01629a.htm

Leith, John H. Creeds of the Churches New York: Anchor Books Doubleday & Company, Inc., 1963

Myers, Steve. “Three Days and Three Nights: Did Jesus Keep His Word?.” Accessed Apr 21, 2014. http://www.ucg.org/doctrinal-beliefs/three-days-and-three-nights-did-jesus-keep-his-word/

Rufinus, Tyrannius. A Commentary on the Apostles’ Creed London: Methuen & Co. Ltd, 1916

Schaff, Philip. Creeds of Christendom, With A History and Critical Notes Vol.1 Grand Rapids, Michigan: Christian Classics Ethereal Library, 1877

Schaff, Philip. Creeds of Christendom, With A History and Critical Notes Vol.2 Grand Rapids, Michigan: Christian Classics Ethereal Library, 1877

Witsius, Herman. Sacred Dissertations on What Is Commonly Called the Apostles’ Creed Vol.1 A. Fullarton & Co. Edinburgh and Khull, Blackie & Co. Glasgow, 1823

Witsius, Herman. Sacred Dissertations on What Is Commonly Called the Apostles’ Creed Vol.2 A. Fullarton & Co. Edinburgh and Khull, Blackie & Co. Glasgow, 1823

 

Leave a comment

Your email address will not be published.