[Onlangs het ons begin met ʼn studie van die Apostoliese Geloofsbelydenis.]

Ten einde ‘n betekenisvolle begrip van die Apostoliese Geloofsbelydenis (AGB) te hê moet ons ook die struktuur daarvan begryp. Die AGB is nie slegs ‘n klomp idees wat uit ‘n hoed getrek en toe sonder nadenke bymekaar gesit is. Allermins! Daar is ‘n duidelike struktuur en dien die belangrike doel om die waarhede daarin vervat saam te bind tot ‘n eenheid ten einde die geloof van diegene wat dit bely te ondersteun. In hierdie sessie gaan ons dan kyk na hierdie struktuur, wat op veral twee vlakke aangebied word, naamlik die formele en die trinitariese. (die volgende sessie, deel 2).

Formele Struktuur

Die formele struktuur is redelik maklik om te volg. Dit is ’n samestelling van twaalf onderskeie geloofsstellings, elkeen met ’n bepaalde fokus en waarheid. Die belydenis begin met die bekende woorde “Ek glo”, of dan “Credo” volgens die Latynse weergawe, of “Pisteuoo” uit die Griekse teks. Verder kan dit dan as volg ingedeel word:

Artikel 1: Oor God die Vader
Artikels 2-7: Oor God die Seun
Artikel 2: Sy identiteit
Artikel 3: Sy 1ste koms: Inkarnasie
Artikel 4: Sy lyding
Artikel 5: Sy opstanding
Artikel 6: Sy verheerliking
Artikel 7: Sy tweede koms: Oordeel
Artikels 8-12: Oor God die Heilige Gees
Artikel 8: Die Heilige Gees
Artikel 9: Sy werk in die kerk
Artikel 10: Sy werk in sondaar
Artikel 11: Sy werk in die opstanding
Artikel 12: Sy werk in die ewigheid

Die AGB is werklikwaar ’n fenomenale samevatting van die volle verlossingsverhaal van die begin tot en met die voleinding. Dit is nie bemoei met leerstellings soos die Doop, die Nagmaal, die presiese detail van die Eskatologiese gebeure, en dies meer nie. Dit fokus op die kernwaarhede wat Christene oor die wêreld heen verenig. Dit is al gesê die herkenning en belydenis van hierdie kerngedagtes is die noodsaaklike om Christen genoem te word. Latere ontwikkelings in die kerk sou spesifieke dogmas in spesifieke belydenisse opneem – wat dan ook meer afgestem is op spesifieke kerkgroeperinge se verstaan van die geloofsleer. Hier dink ons byvoorbeeld aan die belydenisse van die Protestantse gelowiges, en veral dan die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus, die Dordtse Leerreëls, Die Westminster Confession, die Augsburgse Konfessie, die Baptiste Belydenis van 1689, om maar net ’n paar te noem. Die AGB stel nie belang in hierdie fynere detail nie. Dit verskaf ’n neutraliteit sonder om kompromie toe te laat oor die kernwaarhede daarin vervat.

Die AGB het ook ‘n sterk Christologie en Verlossingsfokus. Ses van die artikels word gewy aan Christus, sy persoon en sy werk, terwyl ‘n verdere vyf daarvan daarvan handel oor die praktiese toepassing van die verlossingswerk van Christus deur die Heilige Gees. Hierdie fokus moet ons verstaan teen die historiese agtergrond, naamlik die behoefte om die Evangelie en die persoon en werk van Christus aan die nuwe bekeerlinge te leer. Hiertoe het elkeen van hierdie waarhede sonder twyfel daartoe bygedra. Selfs vandag bied dit ook vir die kerk geweldige aanknopingspunte en wegspringblokke om die Evangelie te kan deel en kinders van God tot dieper gesprek oor elke aspek te lei.

Die formele struktuur lei ons tot ’n diep besef van die volkomenheid van God se verlossingsplan – nie alleen in die vorming daarvan nie, maar ook in die konkrete toepassing daarvan. Vanaf die ewige bestaan van God wat alles gemaak het, tot en met die ewige lewe in Christus, verkondig elke artikel van die AGB ’n belangrike aspek waarby nie verbygegaan mag word nie. Die beeld wat na vore kom, is dié van ’n tydren waartydens die deelnemers by verskillende stasies moet aandoen op hul pad na die eindpunt. Stasies mag nie verbygegaan word sonder dat die beamptes nie die mylpaal afgeteken het nie. Alleen wanneer daar by al die vorige stasies aangedoen is, mag die deelnemers aan beweeg na die volgende en uiteindelik na die eindpunt. Sonder om wetties of metodies hieroor te raak, is dit ’n gedagte om aan vas te hou soos by elke stasie wat die AGB aanbied, stilgestaan word. Natuurlik moet ons almal telkens weer by hierdie stasies kom stilstaan om dit weer te oordink en te internaliseer – iets wat in ons dag ongelukkig nie meer op die voorgrond is nie. Miskien leef ons in ’n te gejaagde wêreld en beteken stilstaan vir ons ’n verlies aan persoonlike voordele; miskien is ons samelewing so selfgesentreerd dat die besef dat ons lewens nie in ons eie hande is nie, vir ons eintlik baie vreemd is; miskien is ons net eenvoudig nie meer bereid om met die Skepper, Verlosser en Trooster ’n ewige afspraak te maak nie.

Wat ook al die redes, die AGB se struktuur stop ons eintlik in ons spore en konfronteer ons met die geestelike realiteite van God se ingrype in ’n verlore wêreld en ons respons daarop. Dit konfronteer ons duidelik met die God van die Skrif, wat ons dan bring by die tweede vlak van die struktuur, naamlik die trinitariese fokus.

Bibliografie

Anonymous,. “Apostles’ Creed.” Accessed Apr 21, 2014. https://www.biblicaltraining.org/library/apostles-creed

Aquinas, Thomas. “Thomas Aquinas: On the Apostles’ Creed.” Accessed Apr 21, 2014. http://dhspriory.org/thomas/Creed.htm

Baron, John. The Greek Origin of the Apostles’ Creed: Illustrated by Ancient Documents and Recent Research Oxford, London: Parker & Co., 1885

Calvin, John. The Institutes of the Christian Religion Grand Rapids, Michigan: Christian Classics Ethereal Library, 2002

Harnack, Adolf. The Apostles’ Creed edited by Thomas B. Saunders. Grand Rapids, Michigan: Christian Classics Ethereal Library, 1901

Hunt, Dave. How Close Are We?: Compelling Evidence for the Soon Return of Christ Eugene, Oregon: Harvest House Publishers, 1993

Jonker, Willie D. Bevrydende Waarheid: Die Karakter van die Gereformeerde Belydenis Wellington: Hugenote Uitgewers, 1994

Keith, Graham. “The Formulation of Creeds in the Early Church.” Themelios Volume 24 Number 1 (1998): 13-35

Kelly, J. N.D. Early Christian Creeds Londen, New York: Continuum, 1960

Knight, Kevin. “Apostles’ Creed.” Accessed Apr 21, 2014. http://www.newadvent.org/cathen/01629a.htm

Leith, John H. Creeds of the Churches New York: Anchor Books Doubleday & Company, Inc., 1963

Myers, Steve. “Three Days and Three Nights: Did Jesus Keep His Word?.” Accessed Apr 21, 2014. http://www.ucg.org/doctrinal-beliefs/three-days-and-three-nights-did-jesus-keep-his-word/

Rufinus, Tyrannius. A Commentary on the Apostles’ Creed London: Methuen & Co. Ltd, 1916

Schaff, Philip. Creeds of Christendom, With A History and Critical Notes Vol.1 Grand Rapids, Michigan: Christian Classics Ethereal Library, 1877

Schaff, Philip. Creeds of Christendom, With A History and Critical Notes Vol.2 Grand Rapids, Michigan: Christian Classics Ethereal Library, 1877

Witsius, Herman. Sacred Dissertations on What Is Commonly Called the Apostles’ Creed Vol.1 A. Fullarton & Co. Edinburgh and Khull, Blackie & Co. Glasgow, 1823

Witsius, Herman. Sacred Dissertations on What Is Commonly Called the Apostles’ Creed Vol.2 A. Fullarton & Co. Edinburgh and Khull, Blackie & Co. Glasgow, 1823

Leave a comment

Your email address will not be published.