Ek is besig om na ‘n klompie eienskappe, noem dit karaktertrekke, van dwaling te kyk. Valsheid kom nooit as iets nuuts en onbekends nie, dit word wel anders verpak sodat dit moeiliker herkenbaar is. Dit is ook so dat sekere dwaalleer meer subtiel is en moeiliker om onmiddelik te identifiseer, en daarom is dit nodig om net ‘n paar riglyne neer te sit waarna om te kyk. 

Aan die basis van alles lê jou Skrifbeskouing. Kyk hoe ‘n persoon die Skrif hanteer en uitlê. Kyk hoe hy / sy dink oor die gesag van God se Woord vir leer en lewe. Hierdie is ‘n kritiese riglyn, omdat alle ander eienskappe op een of ander wyse teruglei hierheen. Die Hervorming het gestaan op die Woord van God as gesag vir leer en lewe. Liberale uitkyke op die Skrif ontken hierdie beginsel.1 Die uitvloeisel van iemand se Skrifbeskouing het noodwendig ‘n effek op sy siening van God, want die twee gaan hand-aan-hand – die Skrif is immers God se Woord en openbaring van Homself en sy werke. 

Wat word bedoel met ‘n lae siening van God?

Miskien is dit beter om hierdie vraag positief te antwoord en eerder te kyk na wat ‘n hoë siening van God is. Die twee begrippe skep so effens van ‘n polarisasie, en daarom is dit ook beter om te praat van ‘n bybelse beskouing van God, want dit is waaroor dit uiteindelik gaan. ‘n Beskouing van God wat gefundeer is op die Skrif, wat gevoed word deur die Skrif en wat voortdurend reggestel word deur die Skrif, is wat ek beskou as ‘n “hoë siening van God”.

Hieruit volg dit dus dat wat ons bedoel met ‘n lae siening van God een is wat nie die Skrif as die basis en die rigtinggewende bron gebruik nie. Dit beteken nie die Skrif word nie gebruik nie. Allermins! Ek het nou al baie min dwaling gelees en gehoor wat nie die Bybel betrek nie. Dwaling skep juis die indruk dat die Skrif reg gebruik word, maar verdraai die betekenis van die Skrif so dat die ware betekenis daarvan nie meer na vore kom nie.

Wat opvallend is is dat hierdie valsheid altyd ‘n Skrif-plus benadering het. So word byvoorbeeld die wetenskap, kultuur, sosio-politieke omstandighede gebruik om “saam met die Skrif” die waarheid te ontdek. Wat in der waarheid gebeur is dat die Skrif ondergeskik aan hierdie faktore gestel word en betekenis word so aangepas om die plusfaktore te dien eerder as die Skrif. 

Skrif plus WETENSKAP 

‘n Goeie voorbeeld hiervan is dié van evolusie. Hier word die Skrif in diens van die wetenskap gestel. Die vroom opmerking wat jy gereeld hoor is “die Skrif is nie ‘n wetenskap boek nie”. Toegegee, dit is nie ‘n wetenskapboek nie, maar dit help ons om baie sake wat as “wetenskap” gemerk word, te belig en te beoordeel. Die effek van die evolusieteorie op ons verstaan van God is geweldig, en dit is net verbysterend hoe kerkleiers dit nie besef nie. Daar is talle voorbeelde van die koppeling tussen ateïsme en evolusie. Kerkleiers probeer ons egter wysmaak dat God by evolusie betrokke kan wees, onder die baie mooi en groot term “teïstiese evolusie”. Hiervolgens sou God dan evolusie gebruik as sy skeppingsmetode. Iemand stel die valsheid van hierdie konsep so goed:

 “They do not realize that in the most basic sense the concept of God is entirely excluded from evolutionary thinking.”2

Daar is geen twyfel nie dat met die aanneem van evolusie as geldig, God en sy rol eintlik onttroon is as Skepper en Onderhouer van sy skepping. Evolusie se basiese konstruk maak God as Skepper en Onderhouer onnodig, eintlik oorbodig. Hiermee word God dus ook nie meer as betrokke gesien by die skepping nie, want die skepping kan op sy eie voortbestaan. 

Die implikasies hiervan vir die christen en sy verhouding met God is enorm. As God nie meer die Skepper hoef te wees nie, het Hy geen aanspraak meer op die mens se lewe nie. Gesag en onderdanigheid word ‘n probleem. Die uiterste gevolg is dat God in twyfel getrek word en ons opeindig met ‘n totale verwerping van die bestaan van God. Aan die ander kant word God deel van die Skepping omdat Hy nie meer die Skepper is nie. Hy word dus nou gesien ‘n energie wat in alles en almal is. 

Ons moet verstaan dat die skepping self ‘n manier is hoedat God Homself aan die mens openbaar. Hieroor lees ons byvoorbeeld in Romeine 1:18-21:

“Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.”

Paulus verduidelik hier dat God se toorn is oor dié wat die waarheid onderdruk. Belangrik is die rede hoekom God se toorn openbaar word. Die OMDAT lui dit in, wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit openbaar. Sy werke is sigbaar vir die mens van die skepping van die wêreld af, en deur hierdie werke van God openbaar Hy dit wat van Hom geken kan word, naamlik sy onsigbare dinge, sy ewige krag, sy goddelikheid. Die werke verwys hier na sy skeppingswerk, met ander woorde God het sekere van sy eienskappe openbaar gemaak in sy skepping.

Die rede vir God se toorn oor die goddeloosheid van die mens is juis dit dat die mens, alhoewel hulle God geken het, aan Hom nie eer gegee het nie, maar die idee van God verdraai het en die eer van God verruil het vir die eer van die skepping. Daar is talle ander gedeeltes in die Skrif wat verduidelik wat die rol van die Skepping is in die openbaring van Homself aan die mens. Lees gerus Psalm 19 en Job waar God hom verwys na die grootsheid van Hom as Skepper teenoor Job se nietigheid as mens.

Evolusie lei dus tot ateïsme of panteïsme, en verdraai die waarheid en ken van God so ingrypend dat dit moeilik is om God tussen die bladsye van die Bybel te sien. Hoe langer gelowiges na die leuens van die wetenskap luister, hoe meer sal die samelewing se beskouing van God verval. 

– Skrif plus KULTUUR

Kultuurdruk kan groot wees op ‘n samelewing, en ter wille van oorlewing gee instansies maklik in. Verwys hieroor na die artikel oor Pergamus. Een so ‘n voorbeeld is dié van homoseksualisme. Onder druk van die kultuur waarin ons onsself bevind, word die kerk onder druk geplaas om al meer ruimte te maak vir hierdie sonde. Dit word intellektueel, emosioneel, en selfs “Skriftuurlik” geregverdig. Laasgenoemde is belangrik, want so word die waarheid van die Skrif verbuig om ruimte te maak vir iets wat die samelewing vereis. 

Die impak op ons ken van God is hier belangrik. Deur die eeue, ten minste dan in die Joods-Christelike wêreld is dit verstaan dat God man en vrou geskape het, en dit het die basis van elke gesonde samelewing gevorm wat erns met God gemaak het. Die aanneming van homoseksualiteit sny weereens die plan van God in sy skepping van man en vrou aan stukke. God se skepping van geslagtelikheid en sy beskouing van seksuele reinheid word vernietig. Ons word bekend gestel aan ‘n god wat bereid is om sy eie beginsels te buig, wat veranderlik is in sy opnie oor wat reg en verkeerd is. Die konsekwensies van so ‘n godsbegrip is groot.

Dit is interessant dat Paulus in Romeine 1 hierdie saak aanspreek as ‘n oordeel oor die samelewing omdat hulle Hom as Skepper nie vereer nie. Dit begin in vers 18:

 “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk,”

 Hierna verwys hy na die natuur as openbaring van God en die mens se gevolglike verwerping daarvan en verheerliking van die skepping self (verse 19-23). Dan kom die skokkende gedagte in vers 24:

DAAROM. Met hierdie woordjie bedoel Paulus dat dit wat volg is die logiese gevolg van die voorafgaande. Met ander woorde, omdat God nie meer as Skepper geëer word nie, word God se toorn as volg openbaar. Wat dus vanaf vers 24 volg is die praktiese uitrol van God se toorn. 

Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen. 

Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang. 

En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ‘n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers;  onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig,  mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.

Dit is duidelik – oorsaak en gevolg. Omdat God onttroon is as Skepper deur die mens, word God se toorn openbaar daarin dat Hy die mens oorgee aan selfvernietiging. Homoseksualisme is die openbaring van God se oordeel! Terwyl die mens probeer om van God anders te maak as wat sy openbaring oor Hom leer, bewys God dat Hy wel is wie Hy sê dat Hy is.

Die akkommodasie van homoseksualisme in die kerk is die akkommodasie van ‘n onheilige god wat sonde akkommodeer. Dit is kontra dit wat die Skrif ons leer oor God en sy karakter. 

– Skrif plus Sosio-Politiese druk

‘n Derde terrein waar ons Godsbegrip verlaag is onder die druk van die sosio-politiese druk, en dan veral die klem op die armes en die sosiaal agtergeblewenes. Onder die druk van politieke groeperinge word dit op die spits gedrywe en dit het ‘n defnitiewe impak op ons kerk en hoe ons God verstaan.

Die fokus hier lê op hoe God die mens sien en of Hy die kant van die onderdrukte kies. Laasgenoemde is natuurlik die groot fokus van die liberale teologie, spesifiek ook die bevrydingsteologie. Daar vind ‘n klemverskuiwing plaas en God word daarby betrek. Hierdie klem lê op die sosiale opheffing van die sosiaal verwaarloosdes. God word nou primêr ‘n kampvegter vir hierdie groeperinge. Die lewe en werk van Christus word dan ook so geinterpreteer, dat dit ten diepste te make het met opheffingswerk. 

God, wat geen aannemer van die persoon is nie (Handelinge 10:34), word nou aan die kant van die onderdrukte geplaas. God se onpartydigheid word verander in partydigheid. God se doel om die mens van sy sonde te verlos, word verskuif na sosiale noodverligting. Wanneer jy dink aan die implikasies van die laaste stelling, is dit groot. Die juiste saak wat mens en God uitmekaar gedryf het en waarvoor Hy sy Seun in hierdie wêreld ingestuur het, word nou op die agtergrond geskuif. Die redding van die mens en ‘n herstelde verhouding met sy God word opsygeskuif vir die herstel van sosiale status. 

So leer ken ons dus ‘n god wat nie meer belangstel in die herstel van sonde nie, maar van omstandighede; hy stel nie meer belang in die herstel van die arm gees van die mens nie, maar van die finansiële armoede; ‘n god wat se geregtigheid nie meer verdoem tot die hel nie, maar herstel tot beter lewenskwaliteit. 

In dieselfde Romeine 1 skrywe Paulus:

 “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek. Want die geregtigheid van God word daarin geopenbaar uit geloof tot geloof, soos geskrywe is: Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” (verse 16-17).

Slot

Dit is duidelik dat wanneer die Skrif nie meer as norm gebruik word nie, allerhande uitvalle oor ons beskouing oor God volg. Dwaling moet dus so gemeet word. A.W. Tozer het nogals iets aangrypends gesê:

“The low view of God entertained almost universally among Christians is the cause of a hundred lesser evils everywhere among us… The decline of the knowledge of the holy has brought on our troubles. A rediscovery of the majesty of God will go a long way toward curing them.” 3

 

Voetnotas

1. ‘n Goeie voorbeeld van so ‘n liberale uitkyk op die Skrif is dié van Ben du Toit in ‘n onlangse Kerkbode uitgawe. ‘n Kritiese hantering hiervan deur myself kan ook hier gelees word.
2.  http://www.fpccv.org/classes/Genesis/Lesson04Genesis20090913.htm
3. A.W. Tozer, The Knowledge of the Holy (New York: HarperCollins, 1961), pp. vii-viii. 

 

Sien ook

Eienskappe van Dwaling – Lae siening van God se Woord 
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk (reeks oor die Ontluikende Kerk) 
Hoe ken ons dwaling?
Die uiteinde van dwaling
‘n Kykie in Jesus se hart oor dwaling

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *