In ons reeks oor die riglyne vir die identifisering van dwaling, kom ons nou by die derde item, naamlik die siening oor Jesus Christus. Voor ek egter hier induik, wil ek net die verband lê na die eerste twee. Daar is ‘n patroon om raak te sien, en dit alles begin met ‘n Skrifbeskouing. Daar is ‘n domino effek wat van hier af begin uitkring, positief en negatief. Met ander woorde, hoe jy die Skrif beskou, bepaal jou wêreldbeeld. As gelowiges wil ons graag glo dat ons ‘n bybelse wêreldbeeld het. Wel, dit is slegs moontlik indien jy ‘n hoë siening het van God se Woord. ‘n Lae siening van die Woord, lei noodwendig tot ‘n lae beskouing van God. God word geken deur Sy Woord. Dit is hoe Hy gekies het om Homself aan die mens te openbaar. Christus is sy finale openbaring aan die mens en die een wat die woorde van die ewige lewe het en die primêre inhoud van die Woord (beide Ou en Nuwe Testament, maar veral dan die Nuwe). Daarom volg dit net logies dat indien jy ‘n lae siening van die Woord en van die God wie se Woord dit is het, dan sal jy ‘n lae siening van Christus hê.  

Miskien is dit net eers nodig om te verwys na die belangrike profetiese woorde oor die Here Jesus as die struikelblok vir die mens wat nie bereid is om die waarheid van God se openbaring te aanvaar nie. Petrus verwys hierna in sy eerste brief:

“Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion ‘n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie. Vir julle dan wat glo, is Hy kosbaar; maar vir die ongelowiges geld die woord: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword; en: ‘n Steen des aanstoots en ‘n rots van struikeling— vir dié wat hulle daarteen stamp, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is.” (2:6-8).

Hierdie is verwysend na ‘n paar profetiese uitsprake, naamlik Jesaja 28:16:

“daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek lê in Sion ‘n grondsteen, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie.”

Verder oor die verwerping van die hoeksteen in Psalm 118:22:

“Die steen wat die bouers verwerp het, het ‘n hoeksteen geword.”

Ook verwysing na Jesaja 8:14:

“Dan sal Hy vir julle ‘n heiligdom wees, maar ‘n klip waar ‘n mens teen stamp en ‘n rots waar ‘n mens oor struikel, vir die twee huise van Israel, ‘n vangnet en ‘n strik vir die inwoners van Jerusalem.”

Dit is duidelik uit hierdie profesieë en Jesus (volgens onder andere Matteus 21:42), Paulus (Romeine 9:33); Petrus (Handelinge 4:11 en hier in 1 Petrus 2:6-8) dat Jesus, die Christus, ‘n tweeledige effek sou hê, vir die gelowiges uiters positief, en vir die ongelowiges, uiters negatief. 

Jesus het geweet dat Hy hierdie effek sou hê (Mattheus 21:42), maar Hy het ook geweet dat daar dié sou kom, wat oor Hom as die hoeksteen sou struikel, wat juis sy identiteit sou verdraai om hul eie boodskap en dwalinge te versprei. Wat interessant is, is dat Petrus in vers 8 sê hulle sal struikel “omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is, waarvoor hulle ook bestem is”. 

In Matteus 24:4-5 hoor ons Jesus se vermaning:

“En Jesus antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie.  Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei”

Hy waarsku hulle pertinent oor wat gaan gebeur as een van die tekens van die eindtye. Mense sal met verwaandheid na vore kom in die Naam van Christus en hulleself aanbied as die die Chritus. Hulle sal struikel oor die steen, maar met verwaandheid hulleself opstel en aanbied as die hoeksteen. Wat opval is dat hulle sal kom “onder sy Naam”, met ander woorde, hulle sal kom uit die kerk, mense wat hulleself sal aanbied as gelowiges. Ons kan die verwag van ongelowiges om die identiteit van Christus skeef te trek, want hulle aanvaar van nature nie die woord as waarheid nie. Maar die hartseer is dat die profetiese uitspraak van Christus sê is dat mense uit die kerk sal opstaan in sy Naam en hulself opstel as die messias.

Dit is nie verniet dat Jesus dit so ernstig gedruk het dat sy dissipels moes erken en bely wie Hy is nie. In Matteus 16:15-17 eis van hulle ‘n antwoord:

“Maar julle, wie sê julle is Ek? En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is.”

Hierdie belydenis is volgens Jesus die presiese fondament waarop die kerk gebou is:

“… op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matteus 16:18)

Die vaste belydenis dat Hy die Christus is, die Seun van die Lewende God, dit is die basis vir die bestaan van die liggaam van Christus in hierdie wêreld. Daarom is ‘n skeeftrek van die belydenis oor Christus ‘n direkte aanval op die bestaan van die kerk self. Waar die kerk Hom nie meer so ken en bely nie, is dit nie meer kerk nie! 

Paulus het sy hele bediening gebou op die vaste belydenis van Christus as die Here en Redder. in 1 Korintiërs 2:1-2 skryf hy oor sy bediening dievolgende:

“En toe ek by julle gekom het, broeders, het ek nie aan julle die getuienis van God kom verkondig met voortreflikheid van woorde of van wysheid nie, want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus, en Hom as gekruisigde.”

Nou, na sy dood en opstanding, was dit nodig om Jesus verder te identifiseer as die gekruisigde, met ander woorde as die Een wat die volle pad gestap het wat deur God bepaal was om die volledige verlossing te berwerk. Dit is belangrik. Jesus het geprofeteer en gesê hulle sal kom en hulself opstel as Christusse. Paulus skrywe dat dit is verder belangrik om te weet dat die ware Christus is dié een wat aan die kruis gesterf het. 

Daar lê geweldig belangrike konsepte hieragter. Die ware Christus is die vervulling van die profesieë, Hy is die volkome God en volkome mens in een, Hy is God wat mens geword het, Hy is die volkome offer vir die sonde van die mens. Dwaling maak skeiding tussen hierdie kern waarhede. Die studie na die Historiese Jesus vraagstuk poog om die menslikheid en goddelikheid van Jesus te skei, en Jesus as mens aan te bied. Die Jesus Seminar is sterk propageerders hiervan.

Daarom is Paulus so duidelik daaroor dat hy Jesus Christus as die Christus verkondig. Hiermee identifiseer hy die mens Jesus, gebore uit Maria as die Christus, die Messias, die God wat in Jesus tegelyk God en mens was as die een wat aan die kruis gesterf het. Daar is BAIE min “christusse” wat hieraan geken kan word.

Johannes skryf in sy eerste brief:

“Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is. Hulle het van ons uitgegaan, maar hulle was nie van ons nie; want as hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het; maar dit moes aan die lig kom dat hulle nie almal van ons is nie. En julle het die salwing van die Heilige en weet alles. Ek het nie aan julle geskrywe omdat julle die waarheid nie ken nie, maar omdat julle dit ken en omdat geen leuen uit die waarheid is nie. Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën. Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie.” (2:18-23)

Johannes het hier te make met ‘n situasie waar sekeres in die kerk opgestaan het en begin het om te dwaal. Dit word aanvaar dat ons hier ‘n stryd begin sien met ‘n gnostiek wat staat gemaak het op geheime insigte en kennis. Hy bevestig weereens dat dit gaan hier oor die verskil tussen waarheid en leuen en kennis daarvan. Uit die waarheid is daar geen leuen nie. Die leuen verdraai die waarheid oor die Seun en ontken dat Hy die Christus is. In hoofstuk 4 lees ons verder:

“Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld.” (4:1-3)

Nie alleen word daar gesê hulle ontken dat Jesus die Christus is nie, maar hulle bely nie dat Hy mens geword het nie. Duidelike kenmerke waaraan dwaling geken word. Jesus is volgens dwaalleraars nie wat die Skrif oor Hom leer nie. Hulle het ten doel om ‘n ander christus voor te stel, een wat gevorm is na hulle beeld en konsep van christus; hulle stel hulself op as die middelaar tussen hulle god en hulle volgers. Paulus berispe die Galasiërs oor hulle wettiesisme dat hulle daardeur die gevaar staan om ‘n ander christus te volg:

“Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai. Maar al sou ons of ‘n engel uit die hemel julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat ons julle verkondig het, laat hom ‘n vervloeking wees! Soos ons vantevore gesê het, sê ek nou ook weer: As iemand julle ‘n evangelie verkondig in stryd met die wat julle ontvang het, laat hom ‘n vervloeking wees!” (Galasiërs 1:6-9).

Vir die gemeente in Konrinte skrywe Paulus:

“Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval.” (1 Korintiër 11:3-4)

Hy sê dat onder die geweldige krag van dwaling jou so bedorwe kan raak dat enigiemand met ‘n ander Jesus, gees of evangelie kan kom, en jy sal dit vir soetkoek opeet.

Dwaling trek die skrifbeskouing oor Christus krom, met die gevolg dat baie mense daardeur mislei sal word. Daarom is dit nodig vir gelowiges om met fyn onderskeiding na te luister en die “geeste te toets of hulle uit God is”. Die Skrif is ons bron van waarheid en ons riglyn waaraan ons meet en toets, en as iets daarvan afwyk, is dit dwaling wat uitgelig moet word. Luister na wat iemand oor Christus leer en jy sal weet of hy / sy ‘n hoë siening van die Woord, van God en van Christus het. 

 

Sien ook

Eienskappe van Dwaling – Lae siening van God se Woord
Eienskappe van Dwaling – Lae siening van God
Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk (reeks oor die Ontluikende Kerk)

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *