Wanneer ons dink aan die menswording van Christus, is dit onmoontlik om die wonder daarvan te ignoreer. Toegegee, die wêreld sonder Christus is maar min bekommerd oor die feit dat Hy die lewe van die mens betree het. Vir hulle is die fokus maar altyd die wêreld se plesiere en giere. Maar die gelowige staan maar altyd verstom oor die wonder van hierdie gebeure. Die grootste daarvan is sekerlik die feit dat die Seun van God sy ereposisie in die hemele verlaat het om die bestaan van tyd-ruimtelike gebondenheid te betree. Ek dink nie ons kan onsself die realiteit hiervan werklik bedink nie, aangesien ons van die skepping van die mens af tyd-ruimtelik gebonde is. Christus was dit nie. Nog voor tyd en ruimte , was Hy al, en na tyd en ruimte sal vergaan, sal Hy nog steeds bestaan. Maar tussenin het Hy Homself daaraan onderwerp deur die wêreld wat Hyself gemaak het te betree.

Die Bybel skets vir ons ʼn belangrike aspek van Christus wat ons in hierdie wonder moet verstaan. Dit verduidelik sy menswording uit verskillende hoeke. Dink maar aan Johannes 1 – die Woord (Logos) het vlees geword, Hy word hier beskryf as God wat woning maak onder die mens (vers 14). Paulus skets Hom weer in sy self-vernedering as hy oor Hom skrywe in Filippense 2 dat Hy die gestalte van ʼn slaaf aangeneem het. Die Hebreërskrywer weer skets Hom as God se perfekte, finale en algenoegsame Offer. Al hierdie is momente wat die wonder van Christus se inbreek in die wêreld van die mens soveel meer betekenisvol maak. Daar is egter ʼn aspek van Christus se inkarnasie waarop ek hier wil fokus, aangesien dit verrykende gevolge vir ons beskouing van Christus en ons eie verlossing het.

Kolossense 1:15 beskryf Christus as die “Beeld van die Onsienlike God.” Dit behels dat Hy die verteenwoordiger van God, en dan volgens vers 19, die “volle goddelike wese” is (sien ook Kolossense 2:9). Dit verwys nie hier slegs na sy lewenswyse, sy optrede nie, maar in ontologiese sin, met ander woorde, sy hele wese is Beeld van God. Hy is nie “na die Beeld van God gemaak nie” (Genesis 1:26-27; 2:7), Hy “IS die Beeld van God.” Dit is belangrik om hierdie bedoeling van die oorspronklike Griekse teks te sien. Christus het dit nie geword nie, maar Hy “is” dit. Dit is die uitdrukking van sy bestaan en posisie in die Goddelike Drie-eenheid van ewigheid af. Hy het dus nie iewers in die verloop van tyd die Beeld van God geword of aangeneem nie, Hy is dit in sy wese van ewigheid tot ewigheid.

Ons moet hierdie verstaan teen die agtergrond van die gemeente in Kolosse. Daar was ʼn redelike sterk mate van gnostiese gedagtes teenwoordig. Die gnostiek het geglo in die goeie geestelike en die slegte / bose materiële. Dit sou inhou dat die skepping is sleg of boos en die mens ontsnap hierdie bose deur die gnosis, oftewel kennis. Die implikasie sou wees dat God nie kon skep nie, want die skepping is boos en daarom, as God geskep het, was Hyself boos omdat Hy boosheid skep. Verder het dit ook beteken dat God nie mens kon word nie, want dit sou juis die aanneem van die bose, fisiese beteken. Die gedagte was sterk dat die skepping uit god ontwikkel (die Engelse “emanate”) het. Dus was die skepping nie onderskei van die skepper nie, maar ʼn voortspruiting uit god. Uiteindelik in hierdie proses het die ontwikkeling so ver van die oorspronklike god ontwikkel dat hierdie sg. demiurg die vermoë ontwikkel het om te skep. Die resultaat hiervan was die bose skepping. In hierdie proses van emanasies was Jesus een van die vroegstes, dus hoog op nader aan die oorspronklike wese van god. Dit sou dan beteken dat hy nie sou kon skep of self mens word nie, wat hom as boos so kenmerk.

Teen hierdie agtergrond skrywe Paulus dan aan die Kolossense om juis hierdie wanopvattings van God, Christus en sy aandeel in die Skepping te weerlê.

Die Skrif belig dit op ander plekke ook. Hebreërs 1:3 noem Christus “die afskynsel van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese.” Die Griekse vir “afskynsel” is “apaugasma”, wat die gedagte inhou van refleksie. Die skrywer sê Hy reflekteer die heerlikheid van God se wese. Verder is hy die “afdruksel” van God se wese. Die Griekse begrip hier is “karakter”, wat ons kan verduidelik as“the exact expression (the image) of any person or thing, marked likeness, precise reproduction in every respect.”1 Die oorspronklike gedagte is dié van gravering, met ander woorde die wese van God is ingegraveer in Christus. Weereens, soos in Kolossense 1:15 is dit hier in ontologiese sin, met ander woorde Hy het dit nie geword nie, maar IS dit. Dit is sy goddelike natuur dat Hy die Beeld van God, die afskynsel van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese is.

Paulus verduidelik in 2 Korintiërs 4:4 waarom sekere mense verlore gaan. Hy skrywe hulle sinne is so verblind deur die “god van hierdie wêreld” sodat hulle nie die “verligting van die Evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die Beeld van God is” ontvang nie. Duidelik is die inhoud van die Evangelie niks anders as ʼn Persoon nie, en daardie persoon is die Beeld van God. Soos in Kolossense 1:15 word Christus die “(e)ikoon” van God genoem, en weereens vind ons hier die aanduiding dat Christus dit is in sy goddelike wese.

Alhoewel die Skrif vir ons hierdie dit uitwys dat Christus God se perfekte wese is en reflekteer, is die aanduiding van Christus as die Beeld van God nie slegs ʼn verwysing na sy verheerlikte status nie, maar ook in sy inkarnasie het Hy nie opgehou om Beeld van God te wees nie. Om dus Beeld van God te wees, beteken dat Christus dit is as God en as mens. Hy het nie opgehou om Beeld van God te wees toe Hy hierdie wêreld betree het nie. Hy was dit steeds, ook as mens. Hierin is die wonder van die twee nature van Christus opgesluit. In sy goddelike natuur IS Hy Beeld van God, en in sy mensheid IS Hy Beeld van God.

In die inkarnasie van Christus neem Hy as die Skepper, die Perfekte Beeld van God, die natuur van die geskape mens aan, wat geskep is na die Beeld van God. Geen ander natuur sou geskik wees vir die Beeld van God as die natuur wat geskape is na sy Beeld nie. In geen opsig dus het Christus as mens opgehou om die Beeld van God te wees nie. Goddelike natuur en menslike natuur het dus in Hom bymekaargekom in sy inkarnasie om as die Perfekte Beeld van God die taak voor Hom as mens te kon uitvoer.

Iets moet ons sê oor die verdorwenheid van die Beeld van God in die mens. Die sondeval het dit verwoes in die mens, dus was dit geskaad as gevolg van sonde. Christus was egter nie onderworpe aan die sonde nie, omdat Hy uit die maagd gebore is, en nie volgens die vlees, volgens die wil van ʼn mens nie, maar deur die werking van die Heilige Gees in Maria. Dus was die menslike natuur wat Christus aangeneem het sondeloos en die Beeld van God daarin ongeskonde. Niks minder as dit sou voldoende wees vir die volmaakte Beeld nie. Hy wat in sy wese Beeld van God is, kon nie mens word in ʼn sondige natuur waarin die Beeld van God verpletter is deur sonde nie. Dit sou Hom onmiddellik diskwalifiseer as die Perfekte Beeld van God.

As Beeld van God, maak Hy natuurlik dit vir ons moontlik om God op ʼn besondere wyse te ken en in verhouding met Hom te leef. Niemand kan God sien en leef nie is die woorde van die Skrif. In uiterste gevalle is ʼn mate hiervan toegelaat. Dink byvoorbeeld aan Moses se ontmoeting met God volgens Eksodus 33 en 34 wat dan uitloop daarop die Moses God slegs kon sien toe Hy al verby beweeg het (34:6-7). Maar in Christus sien ons die Vader. Jesus het dit self vir sy dissipels gesê:

Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader? (Johannes 14:9)

En Johannes 10:30:

Ek en die Vader is een.

Dit is alleen moontlik indien Jesus God is, en dit nie geword het nie, maar dit van ewigheid af is. Dit is die krag van die waarheid dat Jesus God se volmaakte Beeld is. Hy is dit omdat die ganse volheid van God in Hom woon en die ganse volheid woon in Hom omdat Hy God se perfekte Beeld is.

Paulus beskrywe die betekenis van Christus as Beeld van God as volg:

Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik;  en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag; (Kolossense 2:9-10)

Aangesien die volheid van die Godheid dan in Hom woon, het ons as gelowiges die volheid in Hom. ʼn Paar verse vroeër skrywe Paulus oor hierdie volheid in ander woorde, terwyl hy hulle verseker van sy eie bedoelinge en stryd vir hulle:

om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus, in wie al die skatte van wysheid en kennis verborge is (verse 2-3).

Om te dink aan Christus se menswording kan nie anders as om sy kinders te vul met ʼn groot bewustheid van die wonder daarvan, maar ook met ʼn soeke na die bedoeling daarvan, gevolg deur die praktiese implikasies vir ons eie lewens.

 

Voetnotas

 

1 Jonathan K. Mickelson, Mickelson’s Enhanced Strong’s Greek And Hebrew Dictionaries, 2008

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: