In Genesis 3:15 het God belowe dat die Verlosser en, in daardie konteks, ook Oorwinnaar oor die duiwel, uit die vrou gebore sou word. Hy sou dus volgens die plan van God mens moes word om waarlik Verlosser te wees. Nou is die tergende vraag hoedat Hy hierdie belofte van Hom sal waarmaak, en hoe sal Hy die regte bloedlyn bepaal.

Ons lees dan van sy handelinge met Abraham, Israel in en uit Egipte en in die beloofde land. Dan kom ons by die kort, maar baie aangrypende verhaal van Rut. Op ‘n hele paar vlakke is Rut ‘n boek oor die verlossing en die Verlosser. Wat egter hier van belang is hoe God die bloedlyn van die komende Messias beheer.

Die verhaal is bekend. Naomi en haar man en twee seuns verhuis na ‘n heiden land. Daar trou die seuns met twee dogters van heidense afkoms. Kort voor lank sterf Naomi se man en twee seuns en sy sien nou vir haar geen ander toekoms as om terug te gaan na haar land van herkoms nie. Die twee dogters, Orpa en Rut pak die tog terug saam met hulle skoonma aan, maar op ‘n punt word hulle twee voor die keuse gestel om eerder terug te keer na hulle eie land en hulle lewens daar verder te leef. Orpa sien die sin daarvan in, groet en keer terug. Maar Rut kom met die ongelooflike woorde:

“Moenie by my aandring dat ek u moet verlaat om agter u om te draai nie; want waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God.” Rut 1:16

Die God van haar man en haar skoonouers het haar lewe in die greep van sy hande geneem en haar hart gedraai na Hom toe. Toe sy hierdie woorde geuiter het, was daar by haar nie die geringste gedagte waarheen God met haar lewe oppad was nie. In haar geboorteland vestig Naomi en Rut hulself en deur die beplanning en kennis van die godsdienstige en kulturele gebruike van Naomi, ontmoet Rut vir Boas. Hy moes optree as die losser, ‘n gebruik wat heen sou wys na die verlossing en die Verlosser. 

‘n Mens sou kon redeneer dat alles maar net die gang van die lewe was, en dat die lewe op natuurlike wyse positief gedraai het vir Rut. Tog ontdek ons God aktief betrokke in die verloop van hierdie hele verhaal. Nie slegs in die bymekaarkom van Boas en Rut nie, maar ‘n mens sou ook moes sê in die wegtrek van Naomi en haar man na ‘n heiden land.

God se belofte aan Abraham was dat hy vir die volke tot ‘n seën sou wees. Hierdie belofte het dus wyer gestrek as sy etniese volk, wat later sou ontwikkel tot die volk Israel. Die nasies van die aarde was by hierdie belofte ingesluit. Deur die vestiging van Naomi en haar man in die heidenland, het God die stap geneem om die heidene in te sluit in sy reddingsplan. Die huwelik met Rut was onder sy beherende hand. Hy verander haar hart om Hom te aanbid en “haar eie te maak”, en so-ook deel te word van God se volk. “U volk is my volk.” Daar was vir haar geen ander alternatief nie. Dit wat vir ons vreemd sou voorkom in die handelinge van God deur ‘n heiden vrou in te trek in sy redding, was volkome binne sy wil. (Dit is aangrypend dat Boas nie die eerste losser was nie, maar tweede in lyn. Toe hy melding maak van Rut was saam met die lossing ingesluit is, het die eerste losser geweier (4:1-6). Dit sou nie deug om ‘n Moabitiese vrou te los nie.)

Wat egter verder verstom oor hierdie verhaal is die uiteinde daarvan. Nadat alles gedoen is om die lossingsrituele te ondergaan, seën die oudstes en getuies vir Boas met hierdie aangrypende woorde:

… mag die HERE die vrou wat in jou huis inkom, maak soos Ragel en soos Lea wat saam die huis van Israel gebou het; en verwerf mag in Éfrata en maak ‘n naam in Betlehem! En mag jou huis word soos die huis van Peres wat Tamar vir Juda gebaar het—uit die nageslag wat die HERE jou uit hierdie jong vrou sal gee!” (4:11-12) 

Min sou hulle besef watter groot voorreg wag op hierdie man en vrou. Min sou hulle besef hoe God agter die skerms besig was om vir die komende Redder ‘n geslagslyn vas te stel, om sy belofte van verlossing en uitkoms aan Adam, Eva, Abraham, Isak, Jakob, Israel en die nasies in vervulling te bring. Die verhaal sluit af met hierdie aangrypende vertelling:

So het Boas Rut dan geneem, en sy het sy vrou geword; en hy het by haar ingegaan, en die HERE het vir haar swangerskap gegee, en sy het ‘n seun gebaar. … En Naómi het die kind geneem en op haar skoot gesit, en sy het sy pleegmoeder geword. En die buurvroue het hom ‘n naam gegee en gesê: Vir Naómi is ‘n seun gebore! En hulle het hom genoem Obed; hy was die vader van Isai, die vader van Dawid. En dit is die stamboom van Peres: Peres was die vader van Hesron, en Hesron die vader van Ram, en Ram van Ammínadab, en Ammínadab van Nagson, en Nagson van Salma, en Salmon van Boas, en Boas van Obed, en Obed van Isai, en Isai van Dawid.” (4:13-22)

 Mattheus sluit hierdie verhaal in onder die inspirasie van die Heilige Gees in sy geslagsregister van Christus: “en Salmon die vader van Boas by Ragab, en Boas die vader van Obed by Rut, en Obed die vader van Isai, en Isai die vader van koning Dawid …” (Matt. 1:5-6). Hou in gedagte dat Mattheus se teikengehoor is die Joodse volk, wat ‘n patriargale stelsel was. In hierdie twee verse word die name van twee vroue – heidens daarby – genoem, naamlik Ragab en Rut. 

Rut se verhaal staan as ‘n toonbeeld van die beheer wat God uitgeoefen het om die bloedlyn van sy beloofde Redder vas te maak. Hy gaan haal haar uit ‘n heidenland om daarmee die insluiting van die heidennasies in sy plan duidelik te maak. Uit haar nageslag word die Messias gebore omdat God dit so gewil en soewerein bestuur het, ten spyte van al die hartseer waardeur hierdie vrou (en haar skoonma) moes gaan. God was dus nou deur Rut besig om Genesis 3:15 tot vervulling te stuur.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *