En Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt.” – Genesis 3:15
 

Die Bybel neem nie lank om bekend te maak in watter absoluut chaotiese toestand die mens gedompel is nie. Aanvanklik was die vooruitsigte goed. Genesis 1 vertel van ‘n goeie skepping en sluit af met God wat die Sabbatsrus beoefen omdat alles wat Hy gemaak het goed was – dit is nou nadat Hy die mens na sy beeld gemaak en aangestel het om te heers en om te vermeerder op hierdie aarde. Die potensiaal was groot. Genesis 2 vertel dit net van ‘n ander oogpunt. Weereens die wonderlike moontlikhede. Man en vrou kom bymekaar uit in wat ons as ‘n dieptesnit van Genesis 1:26-28 kan beskou.

En dan, so teen alle verwagting in, die gebeure in Genesis 3. Die leuen, die misleiding, die verleiding, die oortreding, die ongehoorsaamheid, die oordeel en die dood! Hoe vinnig word die bordjies nie verhang sommer so hier in die begin van die Skrif – en daarmee die begin van die mens se bestaan nie,. Wat goed moes wees, is nou besoedel. Wat mooi moes wees, is nou lelik. Wat ‘n wandel met die Skepper moes wees, is nou ‘n wegkruip en totale verlorenheid omdat die mens sy eie beperktheid en die uiterste aakligheid van die kennis van goed en kwaad ontdek het. Wat vrede en lewe moes wees, is nou dood en oordeel.

Wat opval is dat God nie kop verloor nie. Hy tree toe tot die situasie as die God wat weet waarmee Hy te make het, Hy deins vir geen oomblik in skok terug oor die mens se ongehoorsaamheid nie. Allermins! Hy tree op as die regverdige Regter maar terselfdertyd as die genadige Redder. Die mens het sy opdrag geminag en God is regverdig daarin dat Hy die vonnis oor hierdie oortreding voltrek. Hy het gesê dood sal volg op ongehoorsaamheid, en so voltrek Hy dit in sy geregtigheid. Sonde mag nie ongestraf bly by die Heilige God in wie daar geen sonde is nie. 

Maar Hy los nie die mens in sy verdoemde ellende nie. Terwyl Hy sy regverdige uitspraak lewer, gee Hy hierdie fantastiese belofte, en daarmee saam die eerste profetiese belofte van ‘n komende Redder. Hierdie is so gelaaide belofte oor God se genadige redding uit die sonde ellende, dat ‘n mens eintlik verstom staan oor die vermoë van God om sy volle reddingsplan in ‘n paar woorde op te som.

God se belofte berus by Homself sonder enige rol van die mens. Die mens het geen vermoë in homself om sy eie redding te bewerk nie, Net die voorafgaande gebeure spel dit uit. Maar God tree toe en belowe dat Hy verlossing sal bring en moontlik maak. Daarom dat ons kan sê dit is uit genade alleen, nie uit ons eie werke sodat ons in onsself kan roem nie.

God se belofte behels ‘n Persoon. Redding is nie deur iets of deur ‘n rits gebeure te verkry nie, maar deur die koms en werk van ‘n Persoon. Hier in die begin van die Skrif weet ons nog nie sy naam is Jesus Christus nie, maar hoor ons reeds die belofte van ‘n Verlosser wat by magte sal wees om die effek van die sonde, naamlik die dood, sal uitwis en ‘n weg tot vryheid sal bring. Juis daarom mag ons nie verlossing soek in enigiets of enigiemand anders as ons Here Jesus nie. Dit sou ‘n minagting wees van die belofte van God.

God openbaar in hierdie belofte die prys wat Christus sou moes betaal om juis hierdie vrymaking te bewerk. Reeds hier word die geweldige stryd tussen Christus en die duiwel duidelik gemaak, en die prys vir die verlossing sou ‘n byt aan die hakskeen wees, met ander woorde ‘n wond wat die Verlosser sou opdoen om die mens, nou onder die mag van die sonde en in die kloue van die vader van die leuens, te bevry. Die prys sou sy lewe wees, ‘n skynbare oorwinning vir die magte van die bose. Ons moet tog nie dink die feit dat die genade van God in sy Seun vry is, dit Hom nie ‘n prys gekos het nie. Hy moes ‘n duur prys betaal. Daarom mag ons ook nie die vrye genade hanteer asof dit net nog iets is wat ons toekom nie. Die prys was duur, die toepassing ins ons lewens is uit vrye genade, en daarvoor behoort ons lewens te leef van totale dankbaarheid en nederigheid in die besef van die geweldige koste van verlossing.

Die belofte roep ook oorwinning hardop uit. Alhoewel die Verlosser gewond sou word, sal Hy die duiwel en sy werke verbrysel. Die dood het geen houvas op die Here Jesus gehad nie. Hy het self gesê Hy lê sy lewe gewillig af om dit weer self op te neem. Hierin sien ons die goddelike aard van die beloofde Redder, want daar is geen mens wat in beheer is van die dood nie. Slegs die Skeppergod het die vermoë om deur die dood te beweeg en lewend en triomfantelik aan die ander kant uit te kom. Daarom is dit ook ‘n belofte van lewe terwyl die dood as oordeel oor die sonde uitgespreek is. Die dood bly steeds die oordeel oor die sonde, maar die finale slag vir die duiwel was die opstanding uit die dood. Daardeur het Christus die duiwel se werktuig as kragteloos verklaar en sedertdien is die gelowige nie meer bevrees vir die dood nie, maar hoopvol omdat die dood geen angel meer het nie. Dit is kragteloos gemaak deur die verlossing deur die kruis en die leë graf.

Daarom spel die belofte ook die effek van verlossing deur die beloofde Redder uit, naamlik lewe. Ons moet onthou dat die dood van krag geraak het as gevolg van die regverdige oordeel. Slegs verlossing wat vrymaak van hierdie dood is ware verlossing. Dit is wat God hier beloof. ‘n Uitkoms van die dood wat die mens in die gesig staar. En daarom bied Hy lewe, en nie oppervlakkige lewe van tydelike aard nie, maar ‘n lewe saam en in verhouding met die Redder deur die pad van die dood en die opstanding. Die dood verseker die wegneem van die sonde terwyl die opstanding die nuwe ewige lewe verseker.

Voorwaar is hierdie ‘n belofte wat ons verstom laat oor die God wat Homself so totaal aan die redding van sy skepsels verbind. Hy wat die sonde straf is tegelyk die Een wat die straf ophef deur mens te word en die weg na verlossing oopmaak langs ‘n weg wat vir ons onsinnig lyk, maar vir Hom die enigste roete is. Niks minder nie as Hyself was nodig om ons redding moontlik te maak.

Of jy nou oortuig is daarvan dat Kersfees verkeerd is al dan nie, verby hierdie realiteit kan jy nie beweeg nie: die koms van die Redder is reeds vroeg in die bestaan van die mensdom (en die Skrif) beloof en dit is so ‘n belangrike moment in die geskiedenis van die mensdom dat dit nie verwaarloos mag word nie. Die Skrif maak iets groots van die koms van Christus na hierdie sondige wêreld omdat juis dit ‘n vervulling van hierdie belofte is. Laat ons dus bly wees en Hom aanbid wat saam met die oordeel, onmiddelik die Vryspraak en Verlosser beloof het.
 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: