8 Juda, jy is dit! Jou sal jou broers loof. Jou hand sal op die nek van jou vyande wees; voor jou sal die seuns van jou vader hulle neerbuig. 9 Juda is ‘n jong leeu; van die roof af het jy opgeklim, my seun. Hy buig hom, hy gaan lê soos ‘n leeu en soos ‘n leeuin; wie sal hom opjaag? 10 Die septer sal van Juda nie wyk nie, nóg die veldheerstaf tussen sy voete uit totdat Silo kom; en aan Hom sal die volke gehoorsaam wees. 11 Hy maak sy jong esel vas aan die wingerdstok en die vul van sy eselin aan die edelste wynstok; Hy was sy kleed in wyn en sy gewaad in druiwebloed. 12 Hy is donkerder van oë as wyn en witter van tande as melk. (Genesis 49:8-12)

Wat sou die beloofde Redder dan wees en wat sou Hy kom doen? Uit ons beperkte, en soms selfsugtige, beskouing wil ons baie graag fokus op die wegneem van die ellende waarin die mens homself bevind, en dan ellende in die wydste sin van die woord. (Ek dink as elkeen sou moes kom sê wat ‘n redder vir hom / haar moet wees, sou ons soveel sienings kry soos wat daar mense is). Daar is geen twyfel dat die mens in absolute ellende verkeer nie. Verder is daar geen twyfel daaraan dat die mens homself nie uit hierdie put van chaos kan bevry nie. Beide van hierdie feite leer ons uit Genesis 3:15 in die manier hoe God die val in sonde hanteer.

Tog, as ons die Skrif, en dan veral gefokus op die Ou Testament lees, sien ons ‘n Redder met meer dimensies as slegs die wegneem van ellende. Dit laat ons dink dat die verlossingsplan van God dieper sny as om net vry te maak van die bande van sonde en die dood. Daar is ander aspekte wat die Seun van God as die Verlosser van die wêreld moes kom vervul. Een van hierdie is die opneem van ‘n koningskap.

Die vasstel van die bloedlyn van die Messias was nie ‘n lukrake proses nie. Reeds in hierdie gedeelte uit Genesis 49 leer ons dat die Messias ‘n Heerser sou wees. En dit is waartoe God gewerk het met die vasstel van sy bloedlyn. Dit moes ‘n koningslyn wees, omdat Hy die koningskap op Hom moes neem.

Ons weet dat Dawid uit die lyn van Juda gebore is. Toe Dawid dan vir die Here ‘n huis wou bou, het God dit omgedraai met die belofte van ‘n ewige koningskap: 

As jou dae vol is en jy met jou vaders ontslaap het, sal Ek jou nakomeling wat uit jou liggaam sal voortkom, laat optree en sy koningskap bevestig. Hy sal vir my Naam ‘n huis bou, en Ek sal sy koninklike troon bevestig tot in ewigheid. … En jou huis en jou koningskap sal bestendig wees tot in ewigheid voor jou; jou troon sal vasstaan tot in ewigheid.” (2 Sam. 7:12-16)

Met hierdie belofte het God die gordyne van sy verlossingsplan net nog verder oopgeskuif om te wys dat die koningskap van die Messias uit die stam van Dawid sal wees as ‘n ewige koningskap. Die profete het hierdie belofte telkens weer opgetel:

“Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.” (Jer. 23:5-6)

“Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors— tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” (Jesaja 9:6-7)

Met die aankondiging van haar swangerskap, het selfs Gabriël dit gesê:

“En kyk, jy sal swanger word en ‘n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.” (Luk. 1:31-33)

Jesus was self bewus van hierdie Rol wat op sy skouers was. In sy verhoor voor Pilatus, haal Hy sy koningskap op (Joh. 18:36-37). Net voor Hy opvaar in die hemel, bevestig Hy dit met die woorde “aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde” (Matt. 28:18).

Met die uitstorting van die Heilige Gees, verduidelik Petrus aan die skare wat gebeur het, en sluit af met hierdie woorde:

“Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe. Omdat hy dan ‘n profeet was en geweet het dat God vir hom met ‘n eed gesweer het dat hy uit die vrug van sy lendene, wat die vlees betref, die Christus sou verwek om op sy troon te sit, het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gespreek van die opstanding van Christus, dat sy siel nie in die doderyk verlaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie. Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is. Nadat Hy dan deur die regterhand van God verhoog is en van die Vader die belofte van die Heilige Gees ontvang het, het Hy dít uitgestort, wat julle nou sien en hoor. Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie, maar hy self sê: Die Here het gespreek tot my Here: Sit aan my regterhand totdat Ek u vyande gemaak het ‘n voetbank van u voete. Laat dan die hele huis van Israel sekerlik weet dat God Hom Here en Christus gemaak het, hierdie Jesus wat julle gekruisig het.” (Hand. 2:29-36)

Daar was dus by die profete en die apostels geen twyfel oor die koningskap van Jesus nie. Dit is die vervulling van God se verlossingsplan deur die eeue al beloof en telkens weer bevestig. Hy sou nie slegs kom om die sonde ellende te herstel nie, maar Hy moes kom om die koningskap op Hom te neem. Oor die koningskap kan ons sekerlik baie sê, maar die fokus hier is nie ‘n teologiese beredenering daarvan nie. Wat opval, en dit is die gedagte hier, is die outoriteit van Jesus as Koning.

Inherent tot koningskap is gesag of outoriteit, iets wat ons duidelik in Jesus se koningskap sien, en gesag lei tot die uitoefening van beheer. Dit word ook so geprofeteer en Jesus self spel dit ook duidelik uit. Beheer verstaan ons tog baie goed. Daar is standaarde wat vasgelê is (sy ewige Woord); dit eis gehoorsaamheid (moontlik alleen as gevolg van genade en die krag van die Heilige Gees in ons lewens); ongehoorsaamheid word hanteer (tugtiging). Dit is tog waaroor die uitoefening van gesag handel, naamlik om te verseker dat daar goeie orde gehandhaaf word in navolging van billike en regverdige stel beginsels en reëls.

Dit is egter belangrik dat Christus se outoriteit nie slegs beheer behels nie, maar ook bekragtiging. Bekragtiging is interessant omdat ons nie altyd aan gesag in hierdie opsig dink nie. In die taak wat Jesus sy kerk oplê, lê dit egter aan die basis van die uitvoering daarvan. Voordat Hy sy apostels die opdrag gee om dissipels te maak, maak Hy daardie geweldig belangrike uitspraak dat ALLE gesag aan Hom gegee is (Matt. 28:18). Hierna volg die opdrag. Hy sluit die verder af met “Ek is met julle tot die voleinding van die wêreld” (Matt. 28:20). Hiermee omvou Hy sy opdrag in sy gesag en sy gesag is nie alleen in eksterne stel reëls nie, maar sy fisiese teenwoordigheid (deur die inwoning van die Heilige Gees). Ons oefen dus sy opdrag uit omdat ons bekragtig word deur Hom wat sy gesag uitoefen. Omdat Hy Koning is, het Hy gesag en omdat Hy gesag het, gee Hy die opdrag om dissipels te maak, en omdat die gesag syne is, is Hy altyd teenwoordig om sy koninkryk uit te brei en te laat posvat in die lewens van dié wat bekend gestel word aan Hom as die Koning en Messias. Sy koningskap is dus in ‘n baie konkrete sin die drakrag van sy kinders se uitleef van die evangelie in ‘n wêreld wat onder die heerskappy van die duiwel en sy duisternis leef.

Wanneer ons dus weer dink aan die geboorte van Christus, laat ons nie vergeet dat Hy nie gekom het net om ellende te verlig nie. Hy het gekom om as Koning die troon van Dawid te bestyg en om te regeer oor sy koninkryk wat die Vader aan Hom beloof het. Sy aardse lewe was hy weliswaar die lydende koning wat moes afreken met Satan en sonde en dit kon slegs ‘n ewige Koning aan ‘n kruis doen. As Hy weer kom, sal dit wees as die regerende Koning. Die viering van sy geboorte is dus in effek die aanbidding van Hom as Koning vir ewig op sy troon as vervulling van God se belofte van ‘n komende Redder.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: