Reeds in Genesis 3:15 word vertel van die saad van die vrou wat die slang se kop sal vermorsel, maar dit sou nie gebeur sonder “letsels” vir hierdie Een wat uit die vrou gebore sou word nie. Die teks is dit baie duidelik: die slang sal Hom aan die haakskeen byt. Nou is die tergende vraag waarna hierdie “haakskeen bytery” dan nou verwys.

Dit wil blyk dat God hier alreeds die wyse van die verlossing in die oog het, en dat Hy met hierdie belofte wel wil sê dat die slang ‘n skynbaar doddlike hou sou slaan, maar tog ook juis in daardie moment die onderspit sou moes delf. Juis in daardie oomblik dat hy die Redder aan die haakskeen sou byt, sou die saad van die vrou die vernietigende hou toedien waarvan die slang nooit weer sal herstel nie.

Die beslissende moment waarheen hierdie belofte natuurlik verwys, is die kruis van Christus. Dit staan as ‘n geweldige belangrike historiese sowel as geestelke moment in die geskiedenis van die skepping, soveel so dat Paulus homself voorgeneem het om niemand anders te verkondig as Christus die Gekruisigde nie. Die kern van die evangelie bestaan vir Paulus in die dood en opstanding van Christus, die moment waarin die saad van die vrou, Christus die Here, deur die satan aan die haakskeen gebyt word, maar waar sy kop vermorsel is.

Nou dan die vraag: was die kruis werklik nodig? Was dit dan nou noodsaaklik vir Christus om aan daardie vervloekte hout te gaan sterf? Hierdie is die tipe vrae wat al meer op die voorgrond gedwing word, namate die ou boodskap van God se verlossing in die Gekruisigde Christus opsy geskuif word vir ‘n humanisties, en liberale godsdiens waar daar straks nie meer plek is vir hierdie tipe brutaliteit nie. Watter pa sal sy seun op so ‘n wrede wyse laat doodmaak en dit dan liefde noem!

Genesis 3:15 skets die probleem van twee kante. Aan die een kant was daar die probleem van die sonde van die geesteswêreld wat so ‘n impak op die mens gemaak het, dat dit aanleiding gegee het tot die tweede probleem, naamlik die sonde van die mens. Vir die eerste probleem sou God se plan verwoestend wees; vir die tweede sou dit verlossend wees. In beide gevalle toon God dat Hy sonde nie sal duld nie, maar vir die gevalle engele is redding nie ‘n opsie nie – eerder vermorseling. Vir die mens is vrymaking egter ‘n wonderlike vooruitsig, omdat die Verlosser die bande van die sonde en die dood venietig het, en selfs die groot aanhitser daartoe uitgeklee het.

Maar waarom die kruis hiervoor gebruik? Kon Hy dit nie maar meer “menslik” gemaak het nie? Die Skrif is baie duidelik oor die dood van Christus en die redes daarvoor. Tog is dit eerstens nodig om na die kruis as metode te kyk. 

Die vloek van die Kruis

Paulus skrywe aan die Galasiërs ‘n baie intense brief waar hy hulle berispe omdat hulle so gou agter die wette van Judaïsme aanloop asof wetsonderhouding ware verlossing kan bewerk. Sy duidelike boodskap is dat die wet nie kan regverdig nie, maar alleen God deur geloof in Christus (3:11). In 3:13 lees ons dan hierdie aangrypende woorde:

“Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word — want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang.”

Hierdie is ‘n aanhaling uit Deuteronomium 21:23 en Paulus maak hiervan ‘n profetiese uitspraak wat op die Messias van toepassing is. In Deuteronomium 21 word hierdie vers gebruik om te verwys na die wyse hoe iemand wat ter dood veroordeel is, moes sterf. So ‘n persoon moes volgens God se voorskrif gedood en aan ‘n “paal” opgehang word (Deut. 21:22). ‘n Verdere voorskrif is dat so persoon nie na sononder nog daar moes hang nie, want hy / sy was onder die vloek van God. Hierdie dood het die oordeel van en verwerping deur God versinnebeeld en was ‘n sigbare uitdrukking van God se beskouing van sonde.

Paulus maak die teks van toepassing op Christus se kruisiging en vergelyk dit met die vloek van die wet. Die regverdige oordeel wat die wet verteenwoordig, het die mens onder vloek geplaas. Christus, wat volgens 2 Korintiërs 5:21 vir ons sonde geword het, moes hierdie profesie in vervulling bring, naamlik om as ter dood veroordeelde aan die kruis te gaan hang en so onder die vloek van God te kom. Hy moes die verwerping en oordeel van God op Hom neem.

Die kruis was dus ‘n goddelike noodsaaklikheid. Die begrip “noodsaaklikheid” impliseer iets wat moet gebeur ten spyte van erge weerstand. Die weerstand het dus nie die nodige krag en om die uiteindelike effek van die noodsaaklike teen te werk nie. Die ander kant hiervan sou ook kon beskrywe wordmet die begrip “onmoontlikheid.” Dit was dus ‘n onmoontlikheid binne die raadsplan van God dat Chritus op enige ander manier sou sterf as die vervloekte kruishout. Hiermee word dus onmiddelik gesê dat die kruis as metode binne die raad van God was. Dit reël dus enige ander wyse of metode onmiddelik uit. Ons sou tereg kon sê dat enige ander wyse van dood was ‘n goddelike onmoontlikheid, omdat die kruis ‘n goddelike noodsaaklikheid was.

Hebreërs 10 belig die offer van Christus vanuit die hoek van Christus se gewillige gehoorsamheid aan die wil van God. Dit word verduidelik as vervulling van die profesie in Psalm 40:6-8. Wat duidelik voorop staan is dat Christus Hom onderwerp het aan die “wil van God” (Hebr. 10:9). Die wil van God hier verteenwoordig God se raadsplan wat van ewigheid af bepaal en in die verloop van die geskiedenis openbaar gemaak is. Daarom was dit onmoontlik dat die wil van God anders sou uitrol, want dit sou veronderstel dat God wel veranderlik is en dat Hy werklik nie alles vooruit ken nie en elke nou en dan deur die mens verras word om gevolglik sy plan te wysig.

Christus moes ter dood veroordeel word

‘n Verdere en belangrike aspek is dat Christus by wyse van “skuldigbevinding” op gepaste wyse die doodstraf moes ontvang. Dit word veronderstel uit die teks in Deut. 21. Dit was nie enigiemand wat aan die vervloete paal gehangheet nie. Dit was dié wat skuldig bevind is en gevolglik ter dood veroordeel was. Hy was “skuldig” bevind deur die Joodse leiers, maar nie deur Pilatus nie. Pilatus het Hom wel oorgelewer as “skuldig” om gekruisig te word. In die oë van God moes Hy egter die skuld dra asof Hyself daaraan skuldig was, daarom het Hy sonde geword om daardie straf te kon dra. Om dus te beweer dat die kruisiging nie noodsaaklike was nie, is om die Skrif as onbetroubaar af te maak, aangesien dit duidelik heengewys het na die kruisiging as die wyse waarop Christus die belofte van Gen. 3:15 sou vervul.

Die Skande van die Kruis

Dan is daar die kwessie van die skande wat daar in die kruisiging was, nie alleen as metode nie, maar ook as ‘n proses, van die vooraf marteling en bespotting tot die uiteindelike hang aan die kruis. Ons weet uit die profesieë dat baie van die gebeure rondom die kruis die vervulling was van wat God by monde van sy profete bekend gemaak het.

Die kruis op sig self was gesien as ‘n skandelike dood. Verbygangers en omstanders het die geleentheid gehad om openlik te spot. Ook die twee rowers aan beide kante sou die skande vererger deurdat Christus met rowers en moordenaars geassosieer is. Sy klere is verdeel en Hy moes naak daar hang – die uiterste toonbeeld van skande (Jes. 47:3).

Die Hebreër brief vertel vir ons in 12:2 en 6:6 van die skande inherent tot die kruis en hoedat Christus dit gewilliglik aanvaar het. In Filippense 2 word ons meegedeel dat die hele proses waardeur Jesus gegaan het een van gewillige vernedering was. Die kruis was die uiterste toonbeeld van sy vernedering.

Die brutaliteit van die Kruis

Dan is daar die kwessie van die brutaliteit van die kruisiging. Die hele proses van kruisiging het sy finaliteit in die fisiese kruisdood gehad. Dit is natuurlik voorafgegaan daar erge marteling en belediging. In ons “verfynde” denke is dit onmoontlik om die realiteit in te dink van dit waardeur die Here Jesus moes gaan. Maar dit was ‘n goddelike noodsaaklikheid anders sou die profesieë vals wees en God ‘n leuenaar en kansvatter.

Jesaja 53 beskryf die grafiese van wat op die Messias gewag het en wat Hy inderdaad ervaar het:

“1 Wie het geglo wat aan ons verkondig is? En aan wie is die arm van die HERE geopenbaar?  2 Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.  3 Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.  4 Nogtans het Hy óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte—dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.  5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.  6 Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.  7 Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ‘n lam wat na die slagplek gelei word en soos ‘n skaap wat stom is voor sy skeerders—ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.  8 Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote—wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.  9 En hulle het Hom sy graf by die goddelose gegee; en by ‘n ryke was Hy in sy dood, omdat Hy geen onreg gedoen het nie en geen bedrog in sy mond gewees het nie.  10 Maar dit het die HERE behaag om Hom te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien; Hy sal die dae verleng, en die welbehae van die HERE sal deur sy hand voorspoedig wees.  11 Weens die moeitevolle lyde van sy siel sal Hy dit sien en versadig word; deur sy kennis sal my Kneg, die Regverdige, baie regverdig maak; en Hy sal hulle skuld dra.  12 Daarom sal Ek Hom ‘n deel gee onder die grotes, en met magtiges sal Hy buit verdeel; omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het.”

Ek het die gedeeltes wat spesifiek die brutaliteit en die pyn van die proses beskrywe beklemtoon. Let op die profetiese aard van hierdie teks, met ander woorde, dieselfde geld hier wat alreeds oor profesie gesê is. Dit is ‘n uitdrukking van die voorkennis van God, en as sodanig is dit onmoontlik dat dit anders sou kon gebeur. Dit sou beteken God het nie werklik vooruit geweet nie, en hierdie was ‘n wilde raaiskoot in die donker wat Hy later kon regstel soos Hy meer kennis sou opdoen (tipiese gedagtes onderliggend aan Prosesteologie en sommige Arminiaanse opvattings).

Slotgedagte

Met al hierdie gegewens op die tafel is dit onmoontlik om aan ‘n kruislose Christendom te dink, want dan dink jy aan ‘n Christendom wat gebore is uit ander motiewe as wat die Skrif vir ons aandui. Om Christen te wees beteken om die kruisiging van Christus as ‘n Godbepaalde kerngebeurtenis te aanvaar en te omarm. ‘n Kruislose kerk is geen kerk nie; ‘n kruislose Christenskap is geen Christenskap nie. Daarom skrywe Paulus:

“Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God” (1 Korintiërs 1:17)

Die kruis as metode was noodsaaklik, so-ook die hele proses wat met die kruisiging gepaard gegaan het en mag ons as sy verlostes dit NOOIT vergeet of “verydel” soos wat Paulus dit noem nie.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *