“Toe Israel ‘n kind was, het Ek hom liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.” Hosea 11:1

 Die Ou Testament is in my oë nogal ‘n getuienis van hoe akkuraat en gedetailleerd God met die geskiedenis omgaan. Dinge word presies gesê en ook so presies in vervulling gebring. Dan is daar gedeeltes in die selfde Ou Testament wat ‘n mens so effe laat wonder waarmee is God besig. Hosea 11:1 is so gedeelte. In hierdie profesie het dit baie beslis met die volk Israel te make. Hosea verwys hier terug na die tye toe die volk in Egipte in slawerny was en God hulle onder die leiding van Moses uitgelei het. Die woorde verwys natuurlik terug na God se opdrag aan Moses en die woorde wat hy vir die farao moes gaan sê:

“So spreek die HERE: My eersgebore seun is Israel.” (Eksodus 4:22)

As dit egter hier gebly het, was dit baie eenvoudig. God het Israel tot volk verkies, daar is ‘n besondere verhouding tussen God en hierdie volk, gekenmerk deur ‘n baie gelaaide begrip “eersgebore seun”. Moses verwys na die volk en Hosea verwys na die volk in sy geheel. Voor die hand liggend. Tog bring God ‘n stok in die speek van ons interpretasie, iets waaroor ons vinnig kan beweeg, maar nie moet nie, aangesien dit ons die geskiedenis en die profesie anders laat verstaan.

Mattheus vertel ons die verhaal van Herodus se jaloesie en poging om Jesus om die lewe te bring. Die wyse manne word in ‘n droom gewaarsku om ‘n ander roete in te slaan terug na hulle geboorteland (Matt. 2:12). Josef ontvang op soortgelyke wyse die opdrag om Maria en Jesus te neem en na Egipte te vlug om daar te bly tot Herodus sou sterf (Matt.2:13). Dit het hy gedoen en Mattheus, onder leiding van die Gees van God, vertel die terugkeer uit Egipte was ‘n vervulling van Hosea 11:1 se laaste gedeelte “uit Egipte het Ek my seun geroep.” So word ‘n vers wat histories van aard is in Hosea ‘n profetiese vooruitskouing van die Redder wat sou kom, en wat na die volk Israel as geheel verwys, word nou van toepassing op die Individu, Jesus Christus!

Terug by die Ou Testament is God van Genesis deurentyd besig om die geskiedenis te ontvou met die oog op die koms van die Messias wat Hy in Genesis 3:15 reeds beloof het. Deel van hierdie ontvouing is die rol van die volk Israel. In Genesis 22:18 belowe God aan Abraham dat in sy nageslag al die nasies geseën sal wees. Galasiërs 3:16 maak hierdie toepassing weereens van toepassing op die persoon Jesus Christus en nie die volk nie, terwyl Genesis 22:18 verseker nie die rol van die volk uitsluit nie. Israel was tegelyk die draer van die Seun van God en ‘n tipe van die Seun van God. Die eerste is maklik om te verstaan in die lig die historiese gegewens. Die tweede het te make met die wyse hoe God telkens in die Skrif van beelde gebruik maak om te wys na die realiteit. Dink byvoorbeeld aan die Tabernakel / Tempeldiens. Behalwe dat dit op ‘n baie werklike wyse die aanbiddingslewe van die volk gereguleer het, was dit ‘n skaduwee van die Messias wat sou mens word (Joh. 1:14) en verder van dit wat in die hemel ‘n realiteit is (Heb. 8:9). 

As God dus vir Abraham sê in jou nageslag sal al die nasies geseën word, word sy volk as draer van die Verlosser, ook die skaduwee of skadubeeld van die Verlosser. As Moses vir Farao moet sê die volk Israel is sy eersgebore seun, dan is dit nie ‘n sinnelose gebruik van woorde nie, maar om te sê dat die besondere verhouding van God tot sy volk is ‘n tipe van die baie besondere verhouding tussen God en die Redder wat uit hulle gebore sou word. As Hosea sê God het sy seun uit Egipte geroep, dan is dit hier die tipe wat in die antitipe, sy ware Seun, Jesus Christus, in vervulling gebring is. 

Israel as God se eersgebore seun was dus God se wyse om aan die nasies te wys dat die Redder wat sou kom nie sommer enigeen sou wees nie. Hy sou die Seun van God wees. As die engel dan Christus se geboorte aankondig, lees ons Hy sal die Seun van die Allerhoogste genoem word. Johannes noem Hom weer die “uniek gebore Seun van God” (Joh. 1:14,18). 

Toe God in Genesis 3:15 die belofte gegee het van die komende Redder, het dit die belofte gehad van iemand baie spesiaal. Hy sou voortaan die geskiedenis bestuur om deur die volk Israel ‘n bloedlyn vas te stel waardeur sy Seun in die wêreld sou kom. Israel was tegelyk die bloedlyn vir en die heenwysing na hierdie Redder, die Seun van God, Jesus Christus. Ons kan slegs verstom staan in aanbidding voor God Drie-enig wat op so ‘n wyse ons kom verras met sy alwysheid en soewereine beheer om sy plan tot vervulling te bring.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: