Ook moet hulle vir My ‘n heiligdom maak, dat Ek in hulle midde kan woon. Eksodus 25:8 

Een van die mees aangrypende temas in die Ou Testament is die ordening van die aanbiddingslewe van die volk van God. Hy verlos sy volk uit die land Egipte en bring hulle by die berg Sinai waar God vir Moses ontmoet het. Hier het Hy ‘n bepaalde afspraak met die volk, want by hierdie berg gaan daar veral twee dinge gebeur. Ten eerste gaan Hy sy wet aan hulle gee en hierdie wet sou hulle hele lewenswandel voor Hom, mekaar en die volke van die aarde bepaal. Tweedens gaan God aan hulle sy plan vir aanbidding voor Hom gee. Dit is veral hierdie tweede aspek wat die fokus hier is.

Moses beweeg dus by die berg op om van God te ontvang wat God op sy hart het vir sy volk. Bo-op die berg, begin God met sy openbaring van Israel se aanbidding, en lees ons die volgende aangrypende woorde:

Die plan van hierdie heiligdom is volgens dit wat God aan Moses sou wys, met ander woorde, die volk se aanbidding en bring van offers was nie iets wat deur Moses, die leiers van die volk, of die volk self bepaal is nie, maar deur God. Dit is ‘n belangrike moment om aan vas te hou, aangesien daar ‘n baie bepaalde motief by God is vir die instel van die aanbidding en die inklee daarvan, en hierdie motief kon Moses nie bepaal, beheer of formuleer nie.

Vanuit die Nuwe Testamentiese gegewens het ons vandag baie beter insig in die motiewe waarmee God hier besig was. Hy was nie maar net besig om mooi rituele, klere, ampte, dienswerkers, offers, en dies meer deur te gee as ‘n manier om die volk besig te hou nie. Daar was ‘n baie groter motief hieragter, en dit word alreeds verwoord in vers 8 van Eksodus 25, naamlik sy teenwoordigheid onder sy volk. God wou van vroeg af nie ‘n onbetrokke God wees wat slegs van ver af die handel en wandel van die mens sou gade slaan nie. Volgens wat ons hier lees, was sy hele doel om “boots and all” by sy kinders betrokke te wees. Hulle moes nie wonder oor Hom nie, hulle moes Hom sien, Hom ervaar, sy leiding en versorging ken, en weet dit is Hy wat vir Moses lei en bekragtig. Hy wou in hulle midde woon.

Dit was verseker nie nodig nie, want die God van Israel kan nie vasgevang word in ‘n tent of gebou en gelokaliseer word op ‘n plek soos die afgode van die ander volke nie. Inteendeel, sy teenwoordigheid vul die heelal! En tog die wonderlike begeerte by Hom om so konkreet met sy volk saam te wandel.

Daar was egter ‘n verdere en dieper motief, en dit is dat hierdie teenwoordigheid nie slegs sou wees in die vorm van beelde en tipes nie, maar dit sou persoonlik in vlees en bloed wees. Toe God dus met Moses hier begin om aan hom die plan van die Tabernakel te wys, was Hy reeds besig om die belofte van Genesis 3:15 te stuur en verder te neem. Die hele tabernakel – en latere tempeldiens – was niks anders nie as profetiese wegwysers na die koms van die ware Tempel, die werklike Tabernakel, die Woord wat sou vlees word, God wat sou neerdaal en die gestalte van ‘n mens sou aanneem, om sigbaar en tasbaar onder sy mense te kom wandel en die volle aanbiddingsdiens, met al sy inkledings, tot volheid en vervulling te bring.

Die Tabernakel en Tempel en al die Godgegewe detail daarvan, was ‘n direkte heenwysing na die Here Jesus, sy persoon en sy werk as mens hier op aarde. Daarom mag ons nie sommer net na die Tabernakel kyk as ‘n klompie reëlings om die aanbidding van die volk te orden nie. Wie dit so verstaan, beweeg ver van God se bedoeling met die komende Redder. 

Johannes gebruik in sy evangelie se eerste hoofstuk, en trouens deur sy evangelie, telkens taal wat herinner aan die Tabernakel in die woestyn en die Tempel van Salomo en die latere herstelde Tempel om na Christus te verwys. In vers 14 gebruik die woord “om tent op te slaan” of “om te tabernakel” as hy verwys na die Woord wat vlees geword het. Letterlik sou mens dit kon vertaal as “Die Woord het vlees geword en onder ons getabernakel…”. Verder was daar ‘n paar elemente wat die Tabernakel duidelik getoon het, naamlik God se heerlikheid, sy genade en sy waarheid. Johannes sê dat Jesus se koms was niks minder nie as die Tabernakel van God, vol van heerlikheid, genade en waarheid. Hy het waarlik Eksodus 25:8 in vervulling gebring as dat God onder ons wil woon. Johannes gaan egter verder en wys na Hom as die “Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Nie slegs die struktuur nie, maar dit wat in en om die plek van aanbidding gebeur het, het heen gewys na die Seun van die God wat God onder ons sou word. Selfs sy naam het hierdie begeerte van God om so betrokke te wees uitgespel: “Immanuel, God met ons.” 

Waarom nie opgewonde raak oor die koms van die Seun van God na die wêreld nie? God het baie strategies die geskiedenis in die algemeen, maar ook dié van sy uitverkore volk so gedryf om die wêreld voor te berei vir die Verlosser, sy Seun, om op die regte tyd onder die mens te Tabernakel. Daar is baie stemme wat opgaan teen die onderhouding van Kersfees, omdat die dag 25 Desember, deur die Romeine gebruik is om hulle afgod te aanbid. Tog was die die herinnering van die koms van Christus al lankal ‘n realiteit. Die opteken daarvan in die Evangelies is alreeds bewys dat dit ten minste in die hart van God wat sy eie Woord geïnspireer het, belangrik was. Ons het vandag 25 Desember, en trouens elke ander dag daarna, as ‘n gulde geleentheid om aan mekaar, ons kinders en die wêreld die waarheid van die koms van ons Redder te proklameer. Waarom sal ons hierdie geleenthede by ons laat verbygaan? God se meesterplan is so fantasties dat ons klippe sal wees as ons nie daaroor opgewonde raak nie. Mag ons met vreugde die koms van die ware Tabernakel na hierdie wêreld vier, want Hy is die lig, die lewe, vol van genade en waarheid.
 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *