Het jy al ooit gewonder hoekom is jy gered? Miskien anders gevra: waarom het God in die geskiedenis ingebreek deur sy Seun in hierdie wêreld te stuur as mens om as mens te leef, te sterf en weer uit die dood op te staan? Baie antwoorde kan sekerlik hiervoor gegee word.

Daar kan geredeneer word dat die redding gaan oor die vergifnis van sonde. Niemand sou teen hierdie bedoeling kan redeneer nie (tensy jy uit die liberale kant is wat nie reken dat die mens sondig is nie). Trouens, die hele offerkultus in die Ou Testament was ʼn skaduwee (of dan ʼn tipe) van die offer wat Christus sou bring aan die kruis sodat die sonde afgewas en vergewe kon word. Verder, was een van sy laaste opdragte op aarde aan sy dissipels dat “bekering en vergifnis van sonde” verkondig moet word.

ʼn Ander argument sou dalk wees om jou van die ewige hel te red. Ook hiermee sou mens uit die Skrif moeilik anders kon redeneer. Christus het ons immers gered van die hel en gebring na die Koninkryk van God. Deur die redding in Christus is die gelowige bevry van die angswekkende gedagte dat God se toorn gaan ontvlam oor sy lewe as sondaar en hy vir ewig in die ewige verdoemenis onder die oordeel van God sal staan.

Nog iemand sou kon sê sodat ons ʼn sinvolle lewe hier op aarde kan leef en ander kan bedien met die Evangelie. Jesus het immers gesê Hy het gekom sodat ons lewe kan hê, en dit in oorvloed. Verder het Hyself die opdragte gegee dat die wêreld moet hoor van die goeie nuus van sy koms, dood en opstanding. Hy het selfs apostels en profete opgerig om bedienaars te wees terwyl Hy op aarde was.

So kan ons die een punt na die ander noem. Almal baie goeie opmerkings, almal Skrifgefundeerde sake en waardig om in diepte te  bestudeer. Tog is daar ʼn aspek waarna ek wil kyk, wat baie min bekyk word vanuit die doel waarom God sy reddingsplan in werking gestel het. Ek dink dit is baie verbloem agter die sondigheid van die mens, en daarom hoor ons dit min en word ons min vertel wat die implikasies daarvan is.

In Romeine 8:29 lees ons die volgende aangrypende woorde:

Want die wat Hy vantevore geken het, dié het Hy ook vantevore verordineer om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun …

 

Hierdie vers begin met ʼn rede waarom God volgens vers 28 alles ten goede laat meewerk vir dié wat God liefhet. Hy swaai nie sommer die negatiewe om in die goeie omdat dit iets is wat Hy kan doen nie. Daar is niks lukraak in God se handelinge nie, selfs nie om die sleg se effek in goeie te verander nie. Vers 29 is die rede, en hierdie rede is sy plan nog voor die grondlegging van die aarde. Hierdie teks gebruik sterk woorde wat verwys na ʼn tyd toe God die bestemming van die mens bepaal het. Die begrip “vantevore geken het” is die Griekse begrip “proginosko”, wat letterlik verwys daarna om iets vooruit te ken nog voor dit sou gebeur. Dit is in die aktiewe verledetydsvorm1 wat aandui dat hierdie gebeure reeds afgehandel is. Die tweede begrip is “vantevore verordineer” is dan die Griekse begrip “proorizo”, wat net soos proginosko in die verledetydsvorm is. Die argument is dan soos volg: Iewers in die verlede het God ʼn ingrypende besluit geneem.

Ongelukkig is dit net hier wat die teologiese ratte losspring en gevegte ontstaan oor die “uitverkiesingsleer” al dan nie, wat dit res laat verdwyn in die niet. Die interessante is dat Paulus nie hierdie leer enigsins hier probeer regverdig of verduidelik nie – dit sal hy doen in die hoofstukke wat volg. Hier is dit vir hom die spilpunt waarom God alle dinge ten goede laat meewerk. Sonder om hieroor te argumenteer, is Paulus  se punt baie direk en duidelik. God se aanpassings wat betref die slegte na die goeie is geanker in sy voorafkennis en besluit rakende sy kinders. Wat Paulus dus in effek wil sê is dat God eerbiedig sy eie voornemens.

Wat volg is egter aangrypend, want dit verdiep vir ons die doel waarom God hierdie besluit gemaak het. Paulus gaan dus verder in sy verduideliking dat die uitverkiesing, en daarom die redding van die mens, het een oogmerk in die lewe van die geredde, naamlik om aan die beeld van Christus gelykvormig te wees. Sondevergifnis, ewige lewe, sinvolle bediening, en watter ander pragtige en waardevolle punte opgenoem kan word vloei hieruit voort. Hierdie is waarom jy deur God gered is, sodat jy aan die beeld van Christus gelyk kan wees!

In ʼn vorige artikel het ons gekyk na Christus as die Perfekte Beeld van God. Dit sal goed wees om dit te bestudeer om ʼn idee van die omvang daarvan te verstaan. In sy Goddelike natuur IS Christus die presiese, perfekte, volmaakte Beeld van die onsienlike God. In sy menslike natuur was Hy dit, en in sy verheerlikte staat aan die regterhand van die Vader is Hy dit. Hy was dit altyd en Hy sal dit altyd bly, want dit het God behaag dat die volheid van die goddelikheid in Hom sou woon (Kolossense 1:19, 2:9).

Nou skrywe Paulus dat die rede waarom God sy reddingsplan in aksie gestel het, was sodat die mens wat gered word na sy voorneme aan die beeld van die Seun gelyk sal wees. Om die diepte te verstaan is dit nodig om terug te beweeg na Genesis 1:26. God is besig met die skepping, dit is dag 6 en alles is geskape behalwe die mens. In vers 26 lees ons dan hoedat God Drie-Enig2 onderling konfereer oor die skepping van die mens:

En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis …

 

Die mens is geskape na God se Beeld. Verse 27 en 28 vertel vir ons van die uitvoering van hierdie besluit om die mens so te skep. Dit is belangrik op hierdie punt om te verstaan dat die mens nie AS die beeld van God geskep is nie, maar NA die beeld van God. Anders as Christus wat die Beeld van God IS, is die mens dit nie. Wanneer ons dus praat van die mens as beelddraer van God is dit dus nie in die sin dat die volheid van die goddelike wese in hom woon nie, maar dat hy die Beeld van God reflekteer van die volmaakte Beeld van God.

Vroeg egter in die bestaan van die mensdom is hierdie beeld van God in die mens verpletter. Genesis 3 vertel vir ons die verhaal hoedat sonde ingekruip en die beelddraers geskend het. In die eerste 9 hoofstukke van Genesis sal hierdie motief telkens weer sy kop oplug, om te wys dat God se handelinge met die mens is gewortel in niks anders as sy besluit in Genesis 1:26 nie. Dit is sinneloos om te dink dat God hierdie geweldige Skeppingsbesluit neem, en dit dan bloot laat vaar. Inteendeel, Genesis 1-9 plaas die stryd om die mens as beelddraer van God voorop en Paulus se opmerking in Romeine 8:29 beklemtoon dat God se handelinge met die mens ALLES te make het met sy voorneme waarom Hy die mens geskep en gered het. Volgens Genesis 5:1 en 3 het die mens selfs na die sondeval bly voortbestaan as beelddraer van God. Die sonde het dit geskend, maar dit nie so totaal verwoes dat dit verlore gegaan het nie. Wanneer God dan nou oor begin met Noag en sy familie, word dit duidelik gestel dat God het die mens na sy beeld geskape, en daarom word die lewe van die mens hoog geag (Genesis 9:6). Dus, deur die skepping, sondeval, oordeel en herstel handel God met die mens vanaf hierdie platvorm.

Paulus neem dit direk op in Romeine 8:29 en deur dit te doen, bring hy skepping en herskepping direk met mekaar in verband. Die Skepping was die werk van God se hande en daardeur is die mens na sy Beeld geskep; so is die herskepping, of dan die wedergeboorte van die mens, weereens die werk van God en word die nuwe mens herskape na die Beeld van Christus. Die ou natuur word nie in hierdie proses opgedollie om die stof van die “ou godsbeeld” af te stof nie. Nee, dit kan nie omdat die ou mens met sy vleeslike begeertes net vyandskap teen God is. In die herskepping ontvang die wedergebore mens ʼn nuwe natuur wat konformeer na die volmaakte Beeld van God, naamlik Christus Jesus.

Die woorde van die Skrif is waar wat sê God laat vaar nie die werke van sy hande nie. Sy plan was van die begin af dat die mens geskep sou wees na sy Beeld. Nie die Satan, die sonde, of die mens se korrupte besluit sou Hom hiervan laat afwyk nie. Dit was inteendeel sy voorneme van nog voor die grondlegging van die aarde af. ALLES wat God Drie-Enig in die verloop van die geskiedenis gedoen het en nog steeds doen is met hierdie doel voor oë, naamlik dat dié wat Hy vantevore geken het, hy ook verordineer het om aan die Beeld van Christus gelyk te wees. Johannes tel hierdie bedoeling op wanneer hy in sy brief skryf:

Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. (1 Johannes 3:2)

 

Die wedergeboorte, die regverdigmaking, die heiligmaking, die genade van geloof en redding het ALLES daarmee te maak dat God sy voorneme eerbiedig en tot uitvoering bring. Daar is egter ʼn groter motief hieragter, wat hierop berus, en dit is naamlik wat die laaste gedeelte van Romeine 8:29 uitspel:

… sodat Hy die eersgeborene kan wees onder baie broeders.

 

Met ander woorde Christus moet die primêre posisie inneem onder die beelddraers. Daarom word sy beeld voorgehou as die beeld waaraan die gelowiges gelyk moet word.

Waarom mis christene so dikwels die bedoeling met hulle redding? Omdat hierdie kernbedoeling van God nie primêr voorop staan soos dit vir God voorop staan nie. Ons fokus op vry van sonde en die hel, Hy fokus op die herskepping na die Perfekte Beeld, Jesus Christus. Dit is duidelik dat Skepping, Herskepping en Voleinding alles draai rondom die Beeld van God, Christus as Perfekte Beeld en ons as geskape en herskape na die daardie Beeld.

 

Voetnotas

1 Auristos indikatief aktief

2 Dit is nie die doel om hier die leer van die Drie-Eenheid te verdedig of te verduidelik nie. Genoeg om te sê dat al word hier nie van drie persone gepraat nie, is hierdie vers wel ʼn aanduiding dat reeds van vroeg af daar geglo is dat God in meervoudigheid bestaan. Die Nuwe Testament sou hierdie meervoudigheid in sy volheid openbaar en verduidelik as die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: