“Ek glo”. Twee woorde in ons taal met ‘n plofbare effek. Met hierdie woorde is nie alleen miljoene mense nie, maar die ganse mensdom se toekoms radikaal verander.

Dit het begin met ‘n handjie vol mense wat Jesus gevolg het. Na sy hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees, het ‘n beweging begin wat tot vandag nie gestuit kon word nie. Dit ten spyte van die pogings van ongelowiges.

Tereg kan ons nie na hierdie woorde verwys as net woorde nie. Hulle omsluit ‘n konsep wat tegelyk verenig én verdeel. Dit bring diegene wat sê “ek glo” bymekaar in ‘n onbreekbare band, terwyl dit dié wat dit opponeer afksei en buite hou in die hoop dat hulle ook eendag sal kan bely “Ek glo”.

Om die konsekwensie van hierdie woorde op jou lewe te ignoreer is dus dwaas. Hulle bepaal jou hele beskouing van God se verlossingsverhaal en druk as’t ware jou lewe in ‘n bepaalde rigting. Dit herinner aan jou verlede as sondaar vasgevang in die kloue van die vyand; dit behels ‘n radikale ingryping deur God Drie-Enig om jou uit daardie slawerny te bevry; dit hou vas aan ‘n lewe van uitdagings onder God se heerskappy; en dit kyk vorentoe na die finale bevryding en ewige lewe in die teenwoordheid van hierdie God in wie jy glo.

Daarom is hierdie woorde so diep persoonlik. Dit is die verbale en praktiese uitdrukking van jou verhouding met jou Verlosser.
Daar is sekeres wat argumenteer dit is sinneloos, irrasioneel, selfs dwaas om te glo, selfs onnosel dapper om dit hardop te sê. Vir hulle is die verstand, die wetenskap, en die sigbare relatieite die enigste maatstaf. Godsdiens en geloof lê nie op dieselfde vlakke nie. Godsdiens is vir hulle heelwat laer as die waarneembare. Daarom is geloof oorbodig en kan geskrap word. Die ekstreme hiervan is die kommunistiese ideologie waar godsdiens beskou word as “opium van die mense”.

Tog, wanneer ons die inhoud van ons geloof verstaan, moet ons begryp geloof is rasioneel, dit is emosioneel, en dit is intens prakties. Geloof betrek al ons sintuie, al ons emosies, en ons hele liggaam. Dit ondersteun sowel as korrigeer die wetenskap. Dit is tegelyk ‘n diep geestelike kennis van ‘n onsigbare realiteit en ‘n baie praktiese leefwyse. Geloof is geen dwase sprong in die donkerte nie. Inteendeel, dit bring lig omdat dit uit lig voortkom. Daarom is dit nodig om die geloof van die Apostoliese Geloofsbelydenis te verstaan.

Van nature is die mens nie in staat om te glo nie. Nog minder is dit iets waarvoor hy kan werk om so te verdien. In sy oorsprong en wese lê geloof buite die mens.

Paulus skryf in Efesiërs 2:8-9 hieroor.

Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.

Hierdie verse begin deur die twee agente te noem waardeur die mens gered word, naamlik
uit genade
deur geloof.

Hierdie twee is gewortel in die barmhartigheid, die liefde en die goedertierenheid van God (verse 4 en 6). God reik Hy uit na die sondaar om hom te verlos uit sy geestelike doodsheid en bied aan hom ‘n nuwe lewe in Christus. Hy doen dit deur genade te bewys en geloof op te wek. Die twee is soos ‘n siamese tweeling, onafskeidbaar van mekaar. Waar daar oor verlossing gepraat word, is genade en geloof die twee wat onbreekbaar saamwerk.

Die teks verduidelik egter iets belangrik om hierby saam te besef. Die positiewe aspek is die redding uit genade deur geloof. Maar daar is ‘n negatiewe aspek in die teks. Dit word eintlik aangebied as twee negatiewe stellings wat mekaar aanvul. Om dit te verduidelik, moet ons die struktuur in die oorspronklike taal raaksien. Letterlik vertaal sou dit as volg wees:

En dit [genade en geloof] (is)
– nie uit onsself nie, van God (is) die geskenk (οὐκ ἐξ ὑμῶν, θεοῦ τὸ δῶρον);
– nie uit werke nie, sodat niemand mag roem nie (οὐκ ἐξ ἔργων, ἵνα μή τις καυχήσηται).

Met ander woorde, die mens het eerstens nie die vermoë om genade te bewerk en geloof te skenk nie. In hom is daar niks wat dit moontlik maak nie. Dit maak sin gesien in die lig van verse 1-3. Dan verstaan ons die natuurlike toestand van die mens voor sy wedergeboorte. Dit help jou dus niks om in jouself enige iets te probeer vind om jou uit die dood op te wek nie. Jy het niks om mee te spog nie.

Tweedens is daar geen vorm van werk wat jy kan doen om geloof aan te help nie. Die teks kwalifiseer nie werke nie, behalwe om in vers 10 te verwys na werke as die resultaat van redding.

Die skok van verse 8 en 9 is die bewustheid dat daar niks is waaraan die mens kan vasgryp om redding te bewerk nie – nie in homself nie en ook nie in sy optrede en werke nie. Dit maak dus nie saak hoe ‘n “goeie mens” jy is of hoeveel mooi dinge jy vir jou medemens doen nie. Selfs dit is vuil voor God en kan nie redding en geloof verdien nie.

Dit laat ons in ‘n netelige situasie. As ons dan niks het om by te dra nie, hoe kan ons dan glo? Hier is die kern van die oplossing: geloof is God se geskenk aan die verlore mens. Hy gee dit. Hy wek dit op. Hy stel jou in staat om dit ontvang.

Hoe ontvang ons hierdie geloof waardeur ons gered word? Romeine 10:14-17 beskryf dit.

Hoe kan hulle Hom dan aanroep in wie hulle nie geglo het nie? En hoe kan hulle in Hom glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder een wat preek? En hoe kan hulle preek as hulle nie gestuur word nie? Soos geskrywe is: Hoe lieflik is die voete van die wat die evangelie van vrede verkondig, van die wat die evangelie van die goeie verkondig! Maar hulle was nie almal gehoorsaam aan die evangelie nie; want Jesaja het gesê: Here, wie het ons prediking geglo? Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.

Die gedeelte bestaan uit vier vrae om redding deur geloof te verduidelik. Elke vraag het het dan ook in der waarheid slegs een antwoord. Dit begin dan ook by die eindresultaat in vers 14 en werk terugwaarts na die beginpunt in vers 15. Die eindresultaat van geloof is om God aan te roep en Hom die kern van jou geloof te maak. Sonder geloof is dit onmoontlik (vers 14a). Maar, geloof in God is nie moontlik sonder om van Hom te hoor nie (vers 14b). Hierin is alreeds iets vasgevang van geloof wat nie ‘n sprong in die donker is nie. Om in God te glo, moet jy van Hom hoor, want kennis van Hom en sy werke is nodig om geloof op te wek. Maar, om hierdie boodskap te hoor is iemand nodig om dit te vertel (vers 14c).

Die Woord van God is die medium waardeur dit oorgedra word. Wanneer God se Woord verkondig word, wek sy Gees die hoorder se gees op om te hoor én dan gehoor te gee. Dit skep geloof in die sondaar wat dit aangryp deur God se genade en dan daardeur verlossing ontvang.

Die belydenis “Ek glo” bevestig hierdie waarheid aan jouself sowel as aan jou medegelowiges. Jy glo omdat God jou lewend gemaak het en aan jou geloof gegee het. Dit is ook ‘n vermaning om nie op jou eie vermoëns staat te maak om nader aan God te kom nie. Selfs jou beste werke is soos vuil klere in sy teenwoordigheid.

1 Comment

  1. Udo

    Reply

    Hallo WIlliam, jy skryf: “Van nature is die mens nie in staat om te glo nie.” En later skryf jy, “geloof is God se geskenk aan die verlore mens. Hy gee dit. Hy wek dit op. Hy stel jou in staat om dit ontvang.”

    Dan in Johannes 3:18 staan daar: “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.”

    Die Skrif is baie duidelik dat mense veroordeel word juis omdat hulle nie geglo het nie (volgens Joh 3:18). Maar is dit dan nie die geval dat baie velore mense veroordeel gaan woord wat nie geglo het nie TEN SPYTE daarvan dat hulle nie KON glo nie, juis omdat God hulle nie in staat gestel om te glo nie?

Leave a comment

Your email address will not be published.

%d bloggers like this: