‘n Noukeurige lees van Romeine 10:14-17 wys geloof word ontvang in reaksie op die verkondiging van goeie nuus. Hoe lieflik is die voete van diegene wat hierdie goeie nuus verkondig, skryf Paulus. Hy gebruik hierdie selfde metafoor in Efesiërs 6:15 waar hy die bereidheid om die evangelie te verkondig beskryf as die ’skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede’.

Dit behels die verkondiging van goeie nuus wat lewens verander. Geloof is die gawe van God in reaksie op die Evangelie! “Goeie nuus” is maar net ‘n kort opsomming van iets baie groter. Om die grootheid hiervan te verstaan, moet ons na die detail. Romeine 1:2-7 vervat onder andere die essensie van die Evangelie. Paulus is in diens van hierdie Evangelie waartoe hy as apostel geroep is, en hy maak ‘n paar belangrike stellings hieroor.

Ten eerste is die Evangelie nie iets nuuts nie

Dit is alreeds by monde van die profete beloof en oor ‘n baie lang tyd op skrif gestel. Profete word normaalweg as toekomsvoorspellers beskou. Dit was egter nie die primêre rol van die Bybelse profete nie. Hulle was brengers van God se goeie nuus van genade, liefde, vergifnis en verlossing. Dit was nog altyd God se wil om sondaars tot inkeer te bring. Die profete was sy instrumente deur wie Hy dit gedoen het. Wanneer hulle dit vertel het, is dit ook neergeskryf vir die geslagte wat sou volg. Die Nuwe Testament leer ons egter iets belangrik oor hierdie verkondiging van die profete. Hulle verkondiging het gedraai om die Messias, die Redder wat sou kom om God se wil te beseël. Petrus skryf byvoorbeeld in 1 Petrus 1:10-12:

Aangaande hierdie saligheid het die profete wat geprofeteer het oor die genade wat vir julle bestem is, ondersoek en nagevors, en hulle het nagespeur op watter of hoedanige tyd die Gees van Christus wat in hulle was, gewys het, toe Hy vooruit getuig het van die lyde wat oor Christus sou kom en die heerlikheid daarna. Aan hulle is geopenbaar dat hulle nie vir hulleself nie, maar vir ons dié dinge bedien het wat julle nou aangekondig is deur dié wat die evangelie aan julle verkondig het in die Heilige Gees wat van die hemel gestuur is—dinge waarin die engele begerig is om in te sien.

Ook in 2 Petrus 1:19-21:

En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek. Die profete het die Evangelie verkondig, vir hulle eie tyd, maar veral vir die tyd wanneer die volheid daarvan sou aanbreek in Jesus Christus se menswording. Dit wat hulle gesê het, is nie verlore nie, maar is op skrif gestel sodat die geslagte wat sou volg die helder wordende lig van die Evangelie kon raaksien.

Tweedens was die inhoud van die Evangelie nog altyd Jesus Christus (Romeine 1:3)

Die profete het vooruit beloof en verkondig (nie voorspel nie) Jesus is op pad met volle verlossing in sy mag. Die Apostels en die Nuwe Testament bevestig Hy is die vervulling van al hulle beloftes. Paulus gee eintlik hier vir ons die bril hoe die Ou Testament verstaan moet word, naamlik op soek na die komende Redder.

Jesus het dit self ook gedoen. In Lukas 24 ontmoet Hy die Emmausgangers en wys hy vir hulle die Ou Testament het op Hom betrekking (verse 25-27):

En Hy sê vir hulle: o Onverstandiges, met harte wat traag is om te glo alles wat die profete gespreek het! Moes die Christus nie hierdie dinge ly en in sy heerlikheid ingaan nie? En Hy het begin van Moses en al die profete af en vir hulle uitgelê in al die Skrifte die dinge wat op Hom betrekking het.

Derdens handel die Evangelie nie in die algemeen oor Jesus nie, maar spesifiek oor sy inkarnasie (Romeine 1:3)

Hierdie moment was krities belangrik want daardeur het Hy die onoorbrugbare grens tussen die God-wêreld en die mens-wêreld oorgesteek om as God-mens te leef, te ly, te sterf, en weer lewend te word. Jesaja 53 is hier ter sprake. In hierdie aangrypende hoofstuk word die Dienskneg van God uitgebeeld in sy lyding in die plek van sondaars. Die motief hiervolgens om die sonde van die sondaar op Hom te neem en aan hierdie sondaar die geregtigheid van God toe te skryf.

In die vierde plek is Jesus ook verheerlik deur sy opstanding uit die dood (Romeine 1:4)

Was dit nie vir sy opstanding nie, is ons geloof leeg en sinneloos. Hy het egter die dood oorwin en ons saam met Hom uit die dood opgewek – nou geestelik, eendag ook liggaamlik.

Lees gerus 1 Korintiërs 15 hieroor. In verse 3-8 som hy hierdie gebeure aangrypend op:

Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf. Daarna het Hy verskyn aan oor die vyf honderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het. Daarna het Hy verskyn aan Jakobus; daarna aan al die apostels; en laaste van almal het Hy verskyn ook aan my as die ontydig geborene.

Let op die pragtige vloei van die beloftes wat neergeskryf is en oorgegaan het in ooggetuieverslae. Die verlede en die hede het ontmoet in Christus, en dit skep geloof dat die toekoms met God verseker is. Al die groot momente in Christus se aardse tyd is vooruit vertel: sy menswording om vir sonde te sterf (vers 3), sy dood en opwekking (vers 4). Sy lewe daarna was alles ook beleef deur ooggetuies (verse 5-8).

Petrus bring die hierdie vloei ook aangrypend bymekaar. In sy tweede brief skry hy:

Want ons het nie kunstig verdigte fabels nagevolg toe ons julle die krag en koms van onse Here Jesus Christus bekend gemaak het nie, maar ons was aanskouers van sy majesteit; want Hy het van God die Vader eer en heerlikheid ontvang toe hierdie stem uit die luisterryke heerlikheid tot Hom gekom het: Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het. En hierdie stem het ons uit die hemel hoor kom toe ons saam met Hom op die heilige berg was. En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ’n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ’n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek (2 Petrus 1:16-21).

Die profete, die Skrif, sowel as die Apostels was getuies van die uitrol van God se goeie nuus in Christus. Dit alles lei tot hierdie besef: die Evangelie van God behels nie slegs ‘n reeks gebeure nie, maar is ten eerste die persoon Jesus Christus wat hierdie dinge vervul het. Jesus IS God se goeie nuus.

Daarom, wie in Hom glo, het die ewige lewe en sal in ewigheid nie sterf nie (Johannes 11:25-26). Dit is die ewige lewe, dat ons God ken en sy Seun wat Hy gestuur het (Johannes 17:3).

Waar hierdie Evangelie verkondig word, daar ontmoet God die verlore mens in sy sonde en doodsheid, en daar skenk Hy aan daardie selfde sondaar die geloof in Christus en sy voltooide werk. Geloof reageer op die Evangelie as ‘n geskenk van God. Dit verplaas die sondaar van die dood na die lewe, verlore na gered, verdoem na bevry.

’Ek glo’ bely daar was ‘n ontmoeting tussen die Goeie Nuus van God en my as sondaar, en die sonde moes terugval voor die wonder van Christus. ’Ek glo’ as gevolg van Hom wat my lewe betree het.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: