In ‘n vorige artikel het ek die stelling gemaak dat elke generasie opnuut weer moet kyk na wat hulle oor Christus bely. Dit is een ding om ‘n belydenis te maak oor wat jy glo, dit is egter ‘n vraag hoe jy arriveer by daardie belydenis, met ander woorde wat is dit wat jou geloof, jou opinies, jou waardes bepaal en vorm sodat jy tot ‘n verantwoordelike en verantwoordbare belydenis kan kom.

Ek is seker daarvan die sielkunde sal vir ons baie te vertel hê oor wat ‘n mens se waardesisteem beïnvloed. Daar is, en ek kan myself dit net indink, talle wetenskaplike modelle hieroor. Tog wil ek hier ‘n roete ondersoek wat ek dink van kardinale belang is om na te kyk. Dit is nie ‘n model of sistemiese benadering nie. Ek wil bloot die vraag vra watter effek het dwaling op my kinders se verantwoordelikheid om te bely wat hulle oor Christus glo as ek as ouer nie erns maak met die onderskeid tussen waarheid en dwaling nie

Dit is opvallend watter prominente plek kinders in die Skrif ontvang. Hulle voorbeeld van geloof word selfs deur Jesus voorgehou as iets waarna ons as volwassenes moet soek. By Israel sien ons dat die kinders van kleins af deel is van die verlossingsplan van God. As God sy verbond met Abraham sluit, sluit Hy die kinders daarby in. Die seuns sou dit aan hulle liggame voel deur die teken van die besnydenis. God stel belang in die geslagte, en dan in so ‘n mate dat die een geslag die ander moet voorberei vir die lewe. Dit was nog altyd sy benadering soos ons dit uit die Skrif sien. Onthou die instelling van die Pasga in Eskodus 12 en 13?  God sê oor hieroor:

En hierdie dag moet vir julle ‘n gedenkdag wees, en julle moet dit as ‘n fees tot eer van die HERE vier. Julle moet dit in julle geslagte as ‘n ewige insetting vier. (12:14) … Daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte as ‘n ewige insetting hou. (12:17) … Onderhou dan hierdie saak as ‘n insetting vir jou en jou kinders tot in ewigheid. (12:24) … En as julle kinders julle vra: Wat beteken die diens daar? dan moet julle sê: … (12:26,27)

Hierdie gebeurtenis was belangrik vir die gesin, selfs die uitgebreide familie, in sy geheel. Die huidige generasie moes dit wat hulle van God ontvang het aan die kinders oorgee sodat hulle weer met God sou wandel. Die volk trek uit Egipte en kom by die berg Sinai waar God die wet aan die volk gee – en let wel almal was daar, groot en klein. Die wet sluit die kinders in:

want Ek, die HERE jou God, is ‘n jaloerse God wat die misdaad van die vaders besoek aan die kinders, aan die derde en aan die vierde geslag van die wat My haat;  en Ek bewys barmhartigheid aan duisende van die wat My liefhet en my gebooie onderhou. (20:5,6) … Eer jou vader en jou moeder, dat jou dae verleng mag word in die land wat die HERE jou God aan jou gee. (20:12).

Die ouers se beskouing van God sou gevolge hê in hulle kinders se lewens vorentoe en kinders word reeds van kleins af verantwoordelikheid opgelê om hulle ouers te eer. Hierdie is insiggewend, omdat God reeds bevestig het dat ouers die voertuig sou wees waardeur die volgende generasie die waarheid oor Hom sou leer. Deur die rol van die ouers, sou die kinders weet wie is God, hoe gehoorsaam ons God en leef ons voor Hom, en wat is die die verskil tussen waarheid en valsheid. Geen wonder dat kinders hulle ouers moet eer nie!

Ons maak ‘n sprong na Josua. Met die intog in die beloofde land, moet daar ‘n klipstapel opgerig word en dit sou dien as ‘n gedenkteken en leerskool vir die kinders (Josua 4:6). Aan die einde van die intog, kom hy met daardie geweldige uitspraak: “Kies julle vandag wie julle sal dien, maar ek en my huisgesin, ons sal die Here dien” (Josua 24). Hy neem verantwoordelikheid vir die volgende geslag om te kies om sy huisgesin saam te neem in sy besluit, en dit nadat hy vir die volk die les geleer het van die afvalligheid van die vorige generasie.

Spring ons na Jesus, sien ons hoedat Hy die kinders geseën het en selfs gesê het dat as iemand die koninkryk van God van die kinders weerhou, dit vir daardie persoon ondraaglik sal wees in die dag van oordeel (Matteus 18:6). In Efesiërs 5 tel Paulus die dinamika in die gesin op en lê weereens die wet van God neer as die beginsels wat geld: “eer jou vader en moeder” en bring die dimensie van gehoorsaamheid en respek hier in.

Baie sulke voorbeelde kan uit die Skrif gegee word. Wat belangrik is is om te sien dat daar is ‘n patroon wat God neergelê het en dit is een van “van geslag tot geslag”. Ek as ouer is volgens die Skrif verantwoordelik om my kinders voor te berei om op hulle eie weer die proses aan die gang te sit vir dié wat aan hulle toevertrou word. In my genereasie waarvan ek as ouer deel is, kan ek sê wat EK glo oor Jesus en die Woord en al die Waarheid daarvan; ek kan sê wat EK beskou as valsheid en dwaling. Daar gaan egter ‘n punt kom waar my kinders dit self sal moet doen sonder my om hulle daarin te ondersteun. 

My vraag is of ons genoeg omgee vir hierdie geslag wat aan ons toevertrou is dat ons met alles wat in ons mag is ons sal toespits om hulle voor te berei vir wat op hulle wag. In die gee van die wet, sê God uitdruklik watter effek afgodery op die nageslag sal hê (Eksodus 20:5,6). Om dwaling toe te laat, is om ‘n ander evangelie toe te laat, is om ‘n ander jesus toe te laat, is om afgodery plek te gee in die kerk, is om die pad vir die volgende generasies gereed te maak vir absolute geestelike dorheid en chaos! Die oorsaak-gevolg konsep is so duidelik uit die Skrif in hierdie verband.

Ek hoor baie stemme wat sê, eintlik vra, of dit werklik nodig is om so te konsentreer op die sogenaamde valsheid van die Ontluikende Kerk of dan die geestelike onderstrominge in die hoofstroom kerke wat vra na nuwe spiritualiteit en beskouings oor Jesus, die Bybel, die Kerk en die mens. Dit maak my hartseer, want ons het die verantwoordelikheid om ons kinders deur hierdie geestelike chaos te begelei tot ‘n soliede verhouding met God Drie-Enig. Ons het die verantwoordelikheid om by hulle ‘n liefde te kweek vir die Woord van God. Ons is die verantwoordelikheid opgelê om hulle te leer om te luister na die leiding van die Gees van God. HOE gaan ons dit doen as ons nie weet hoe hierdie beweging stelselmatig besig is om weg te vreet aan ons geestelike welsyn nie? (Kyk veral na die “Die effek van die dwalinge van die Ontluikende Kerk” reeks op hierdie webtuiste). HOE sal ons dit kan doen as ons nie die absolute korruptheid daarvan besef en ons kinders vanuit die Skrif daarteen waarsku nie? As ons nie hierop ag gee nie, is ons besig om ons kinders en hulle kinders ‘n toekoms te gee waar God op die agtergrond verdwyn en die demoniese wêreld van valsheid en dwaling oorneem. Kyk wat sê Jesus:

maar elkeen wat een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n meulsteen aan sy nek gehang word en hy wegsink in die diepte van die see. (Matteus 18:6)

Ek dink hierdie woorde is baie duidelik oor wat Jesus oor ‘n onverantwoordelike aflag, wegskuif, afwater van die huidige situasie in ons kerk dink. As jy ‘n ouer is en hierdie lees, wil ek jou oproep om erns te maak met die geestelike welsyn van jou kinders. As jy dit verwaarloos het, bekeer jou en kom op die plek waar Josua gekom het. Hierdie outjies is aan ons toevertrou en ons moet hulle begelei tot volwassenheid in Christus. Maak Deuteronomium 6 jou anker:

Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE. Daarom moet jy die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as ‘n teken bind op jou hand, en dit moet as ‘n voorhoofsband tussen jou oë wees. En jy moet dit op die deurposte van jou huis en op jou poorte skrywe. En as die HERE jou God jou inbring in die land wat Hy aan jou vaders, Abraham, Isak en Jakob, met ‘n eed beloof het om jou te gee—groot en mooi stede wat jy nie gebou het nie, en huise vol van allerhande goed wat jy nie gevul het nie, en uitgekapte reënbakke wat jy nie uitgekap, wingerde en olyfbome wat jy nie geplant het nie — en jy eet en versadig word, neem jou dan in ag dat jy die HERE nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie. Jy moet die HERE jou God vrees en Hom dien; en by sy Naam moet jy sweer. Julle mag nie agter ander gode aan loop uit die gode van die volke wat rondom julle is nie — want die HERE jou God is ‘n jaloerse God by jou — sodat die toorn van die HERE jou God nie teen jou ontvlam en Hy jou van die aarde verdelg nie. 

Dit gaan nie oor paranoïa en swartsmeerdery nie, maar liefde, verantwoordelikheid en roeping: liefde omdat ons vir God en ons kinders te lief is om toe te laat dat die wolwe hulle geestelik verslind; verantwoordelikheid omdat ons daartoe opgeroep word deur God in sy Woord; roeping omdat ons besig is om die kerk van die toekoms voor te berei om die evangelie van redding en vrymaking in hulle tyd aan die wêreld te verkondig.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *