Op 21 Mei 2012 berig die Christian Post dat Richard Dawkins, die bekende evolusionêre bioloog en miskien nog bekender ateïs hy ondersteun die plasing van die King James Bybel in skole in Brittanje. Hy sal so ver gaan, sê hy, omdat dit te befonds sou hy die geleentheid daartoe kry!

Sy motiewe is tweeledig. Ten eerste literêr en tweedens moreel. Hy wil graag hierdeur bewys die Bybel is nie werklik nodig vir morele waardes nie.

Nou, enige persoon, maak nie saak aan watter kant vir die draad jy staan nie, sal onmiddelik wonder of Dawkins iets sterkers as braaivleisrook ingekry het. Ek kan net dink hoe die ateïste op en af sal hop – dis nou uit pure verwarring en ontsteltenis. Maar ook sal die Christene op en af hop, moontlik in verwagting dat die ou sy hart verander het.

Baie keer wonder ‘n mens hoe God kan toelaat dat iemand soos Dawkins net kan aangaan om Hom te laster soos hy wil. Ons waarheidsgeoriënteerdes, fundamentaliste as jy wil, is nogal geneig om vinnig te sê die Here moet so iemand “uithaal”. Hy maak meer skade as goed – en dan maak hy / sy, soos in Dawkins se geval, ‘n fortuin daaruit.

Dink net aan die erge dwaling wat hierdie persoon in die wêreld inbring. Evolusionêre bioloog. Dis sy beroep, en met dit staan sy beskouing van die skepping lynreg teen wat in die Bybel geleer word. Daarmee saam is hy nog ‘n ateïs ook en dit propageer hy volstoom. Mens sou dink hy moet hom by sy beroep hou, maar hy is aktief besig om te bewys die Bybel is net literatuur en die God van die Bybel bestaan nie. Mens sou uit ons menslike oogpunt wou hê die Here moet die aarde oopmaak en hom insluk vanweë al die chaos wat hy veroorsaak. Tog gebeur dit nie en die vraag is hoekom nie. Dan kom ‘n berig soos hierdie en dan wonder jy oor die humorsin van die God van die Bybel.

Iets oor hierdie saak laat my dink aan die Farao van Egipte (nie dat ek dink Dawkins is die Farao nie). Tien keer lees ons God het die Farao se hart verhard en tien keer dat die Farao sy eie hart verhard het. Tog lees ons ‘n baie insiggewende vers oor die Farao in Romeine 9:17:

Want die Skrif sê aan Farao: Juis hiervoor het Ek jou laat optree, dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam verkondig kan word op die hele aarde.

Hierdie vers is ‘n eggo van Eksodus 9:14-16:

Want hierdie keer sal Ek al my plae in jou hart stuur, en teen jou dienaars en jou volk, dat jy kan weet dat daar niemand op die hele aarde is soos Ek nie. Want anders sou Ek my hand uitgestrek en jou en jou volk met die pes getref het, en jy sou van die aarde verdelg gewees het; maar juis hierom het Ek jou nog laat bestaan, dat Ek jou my krag kan toon, en dat hulle my Naam op die hele aarde kan verkondig.

Al ooit gewonder hoekom God nie met die intrapslag die Farao se hart verander het om sy volk te laat trek nie? Want volgens die Skrif wou Hy 

  • Sy krag aan Faro toon

  • Sy krag in Farao toon

  • Sy Naam verkondig oor die hele aarde

  • Homself aan Farao openbaar as uniek

Dink net bietjie oor die absolute briljante meesterplan van God met hierdie man se lewe. Hy is die destydse heerser oor alles en almal. Sy woord dra mag. Hy is die seun van Ra, in effek ‘n god in homself. Daar is niemand soos hy nie en almal eer en respekteer dit.

Tog sê God self vir hom dat ten spyte van al hierdie titels en prestasies en posisies en rykdom en wat nog als, kon Hy hom uitwis, van die aarde verdelg, maar Hy wou nie, want Sy plan was veel groter as wat ons kan raaksien met ons menslike oog. Ons weet almal wat die uiteinde van hierdie geskiedenis was en hoe God absoluut getriomfeer het en alles wat Hy met Farao beplan het in vervulling gebring het.

Terug by ons vriend Dawkins en die Bybels. Verstaan mooi. Dawkins se woord dra gesag in die wêreld van ateïsme en evolusie. En al is daar soveel waarheid in sy opinies soos wat daar ‘n man op die maan is, is hy nog steeds dié gesag op die terrein van evolusie in die wêreld vandag. Hiermee saam het hy The God Delusion geskrywe wat spesifiek daarop gemik is om die Bybel en die God van die Bybel te onttroon.

My opninie as ek lees wat hy sê oor die plasing van Bybels in Britse skole? God is besig om in Sy soewereiniteit Dawkins te gebruik om sy eie standpunte te weerlê. Hoekom sê ek so? Omdat die Bybel die enigste ware korreksie is op al die leuens wat Dawkins voor staan.

  • Hoe het die Skepping ontstaan? (Gen 1 en 2, Job, Psalm 104)

  • Die proses van evolusie? (Gen 1 en 2)

  • Wie is God? Die Skrif se die skepping is die algemene openbaring, terwyl die Woord die besondere openbaring is (Psalm 19, Romeine 1)

Daar is iets wat Dawkins nie verstaan oor God se Woord nie. Dit is soos ‘n hammer wat valsheid verbreek, dit is soos ‘n skerp tweesnydende swaard wat skeiding maak tussen siel en gees en die diepste hartsmotiewe van die mens ontbloot, die mens word gered deur die Woord omdat dit geïnspireer is deur God self en dit wys na die Lewende Woord, ons Here Jesus Christus.

Verder reken Dawkins die Bybel as morele rigtingwyser is bog. Die verassing is dat dieselfde Woord sê dit is ‘n lamp vir die voet en ‘n lig op die pad, dit is die rigtingwyser vir die jong mens om sy pad suiwer te hou. Oor die wet sê die Skrif dat dit ons wys na ons eie sondigheid en ons behoefte aan die redding in Christus.

Hoe anders werk God nie as wat ons dit sou doen nie! Hy maak voorwaar die wysheid van die mens dwaas. Dawkins verstaan nie dat deur die plasing van Bybels en daarmee saam die lees daarvan so baie mense se lewens kan verander onder die kragtige hand van God.

Daarom my slotgedagte. God is soewerein Mnr Dawkins! Hy laat Homself nie skud en skommel deur menslike opinies nie, maar sal sy Woord uitstuur en die sal nie leeg na Hom terugkeer nie, maar doen dit waarvoor die beplan is.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *