Deur WJ Louw (23 Junie 2014)

 

In Mt. 22:31 sê Jesus van gelowiges in die opstanding dat hulle nie in die huwelik uitgegee word nie, want hulle is soos die engele. Laasgenoemde is geeste en het nie geslag nie.

 

Dieselfde moet dan ook van God gesê kan word.

 

Geen wonder nie dat feministe verkondig dat God ook as moeder aangespreek mag word. Ter ondersteuning hiervan wys hulle daarop dat God in die Bybel ook vroulike eienskappe vertoon. ’n Mens sou hierby kon voeg dat die mens in Gen. 1:26 gesien word as bestaande uit man en vrou, ’n twee-eenheid dus.

 

Die opskrif van ’n artikel wat ek onlangs gelees het, is “God is nie manlik nie en daarom ook nie Vader nie”. Wat antwoord ons as Bybelgebonde gelowiges op dit alles?

 

* In die tweede gebod van die wet sê God dat geen gelykenis van Hom gemaak mag word nie. Dit het betrekking op die maak van afgodsbeelde of dan enige beeld van Homself. ’n Dieper geestelike verstaan van hierdie gebod lei daartoe dat God nie anders voorgestel en aan gedink mag word as hoe Hy Hom openbaar het nie.

 

Dit lei tot die derde gebod dat ons die Naam van die Here nie ydellik mag gebruik nie. Sy Naam is die enigste persoonlike iets van God wat die mens kan gebruik. Dit staan vir Sy Persoon, vir wie en wat Hy is. Dit ken ons nie anders as deur openbaring nie. Sy Naam is Here. Hy is heilig en daarom is Sy Naam baie heilig en moet dit met die grootste respek genoem word. Een van die maniere om Sy Naam te eer is om aan Hom te dink en Hom te noem soos wat Hy wil hê. Dít weet ons net uit die Woord van God. Wat dit betref is die derde gebod ’n beklemtoning van die tweede gebod.

 

* Dan is dit duidelik dat hoewel Hy soms met verwysing na Sy skeppingswerke genoem word (soos bergvesting, rots, lig, son, vuur, jaspis – Ps. 94:22; Jes. 10:17, 42:6; Ps. 84:12; Hbr. 12:29; Eseg. 1:27; Opb. 4:3) dit maar alles net beeldspraak is om iets van Sy wonderlike volkomenhede aan te dui. So ook doen Hy dit wat ons aan ’n vrou toeskryf, soos borsvoeding en geboorte skenk (Soos wat Moses van homself en by implikasie van God in Num. 11: 12 sê). Tog val dit op dat Hy nêrens in die Bybel as moeder aangespreek of na verwys word nie. Die naaste daaraan is beeldspraak soos in die gevalle reeds genoem. Daarby is dit nie korrek dat vroulike eienskappe soos teerheid en ontferming nie ook by mans voorkom nie.

 

* Daarteenoor is die siening en noem van Hom as Vader so gewigtig dat

 

(1) in die openbaring van Hom as die Drieëninge Wese Hy Vader, Seun en Heilige Gees genoem word (2 Kor. 13:13).

 

Dat Jesus van God as Sy Vader gepraat het, is ’n feit. Het Sy verhouding met God as Sy Vader egter eers met sy menswording ontstaan of het Hy met Sy menswording dit wat reeds van ewigheid bestaan het, geopenbaar? Is dit nie juis in die verhouding tussen Vader en Seun dat die openbaring van God as liefde in Sy hoogste inhoud getoon word nie? Liefde veronderstel tog ’n verhouding tussen ten minste twee persone. By die doop van Jesus sê die Vader dat hierdie Sy geliefde Seun is. Soos alle gesproke woorde word dit vir ’n oomblik gehoor en dan verdwyn die klank weer. So kan die Vader se liefde vir Sy Seun egter nooit wees nie. Daarom daal die Gees terselfdertyd op die Seun neer as die ewige vergestalting in Sy Persoon van hierdie liefde van die Vader wat tot die Seun uitgaan. Dit sou tog verregaande wees om te beweer dat God toe eers hierdie verhouding geskep het. Wat van ewigheid af tussen Vader en Seun en Heilige Gees bestaan het, word by hierdie geleentheid geopenbaar.

 

Om Sy Naam as Vader toe te skryf aan die skrywers van die Bybel se beperkte ervaring en leefwêreld is om ’n wesentlike aspek van God weg te verklaar en van menslike beperking afhanklik te maak.

(2) Die Seun self leer ons om Sy Vader as ons Vader aan te spreek (Mt. 6:9, Jh. 20:17).

 

Bewus daarvan dat Hy van die Vader uitgegaan het en deur die Vader gegenereer is (Jh. 1:18; Ps. 2:7), noem Jesus Hom Vader. Die enigste ander verwysing uit Sy mond na die Vader is as Sy God (Jh. 20:17). Niemand het enige probleme met die Naam God vir die Opperwese nie. Hy is vanselfsprekend alles wat hierdie Naam inhou. Indien Hy op een lyn met die Naam God ook Vader genoem word (bv. 1 Ptr. 1:2, 3), waarom is die Naam Vader dan nie ewe gewigtig en waar nie? As Jesus van die ewige aspekte van Sy verhouding met die Vader praat, bv. van Sy ewige verheerliking by die Vader, noem Hy Hom nog steeds Vader (bv. Jh. 17:24).

 

* In Jh. 10:17 gee Hy Sy sterwe en opstanding as bewys dat Sy Vader Hom liefhet. Ja, niemand kan na Hom kom as die Vader hom nie trek nie (Jh. 6:44). Hy sien gelowiges as geskenke van Sy Vader (Jh. 17:6). In al hierdie dinge spreek Hy van Sy verhouding met Hom wat Hy Vader noem. Sou Hy dan nie werklik Vader wees nie?

 

* Vanuit die troon gesien watter groter oomblik is daar in die geskiedenis van engele en die mensheid as dit waarvan ons in 1 Kor. 15:24 lees: Daarna kom die einde wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.

 

 God die Vader ” – so staan Hy uit in die oomblik van Sy grootste verheerliking deur die Seun.

 

* By hierdie ewige verhouding tussen Vader en Seun betrek Jesus ook Sy dissipels, bv. Ek in hulle en U in My sodat hulle volkome een kan wees en Ek vaar op na My Vader en julle Vader, en Alles wat julle die Vader in My Naam sal vra, sal Hy julle gee (Jh. 16:23, 17:23, 20:17; ook Mt. 23:9). Die onderstreepte gedeeltes wys dat Jesus nie ’n kultuurgebonde verhouding met en kennis van die Vader kan bedoel nie.

 

* ’n Ander waardevolle Skrifverwysing wat toon hoe basies Sy vaderskap is, vind ons in Ef. 3:14-15 …buig ek die knie voor die Vader van onse Here Jesus Christus van wie elke geslag in die hemel en die aarde sy naam ontvang (53-Hersiening). Letterlik uit wie- – -elke/ alle/ (die) hele – – – familie/ geslag/ linie – – – genoem word

 

– In die Grieks is daar ’n woordspeling en verwantskap tussen Vader (patera) en geslag (patria). Na aanleiding van hierdie woordspeling wil ons sê dat patria hier dui op hulle wat aan die Vader verwant is. Hierdie verwantskap kan op twee maniere ontstaan: Deurdat Hy hulle geskep het soos mense en engele of deurdat Hy hulle wederbaar het en aangeneem het as kinders soos aardse gelowiges. As Skepper is Hy die begin van alle dinge, maar as Vader die maker van die geestelike wesens. Ons praat nooit van Hom as die Vader van bome of berge of perde nie, maar van engele en mense.

 

– Gebed is ’n beoefening van ons geloof waardeur ons verhouding tot die Here seker die intiemste uitdrukking vind en ons waaragtigste belewenis van God ervaar word. Daarom is dit ook iets wat waarheid, opregtheid en erns vra. Jy speel nie met die Heilige en Almagtige nie. Sal hierdie God ons leer om Hom as Vader aan te roep en Hy is nie regtig vader nie?

 

Hoe dink Paulus aan Hom voor wie Hy die knie buig, en Hom so as God vereer? Hy noem Hom Vader (van onse Here Jesus Christus1)

 

Hoe reg is dit nie dat ons tot hierdie God bid nie. Hy is ons aanbidding en verering waardig. By hierdie waardigheid pas Sy Naam as Vader in. Net deur Hom so te noem, hierdie Naam in sigself te gebruik, word Hy alreeds vereer, ja, vereer ons Hom saam met die Seun (Jh. 8:49).

 

…uit wie elke geslag in hemel en op aarde genoem word ( = sy naam ontvang)

Let wel in hemel en op aarde. Nie net vir aardse geslagte nie, maar ook vir die hemelse geld hierdie naam want albei ontvang van Hom. Wat die hemelse geeste betref weet ons uit die Skrif van gerubs, serafs en aartsengele. By die hemelse geeste bestaan manlike of vroulike geslag nie en tog word Hy ook Vader van die geeste (Hbr. 12:9) en engele seuns van God (Job 2:1) ge-noem. Is daar in die hemel ook families en linies soos op aarde onder mense? Of die soorte en ordes van die hemelse geeste met hierdie patria bedoel word, is moontlik maar nie seker nie.

 

Wat beteken dit dan dat geslagte uit Hom genoem word? Dit kan daarop sinspeel dat elke geslag hulle bestaan, karakter en betekenis van God ontvang soos Paulus in Hd. 17:28 sê: In Hom lewe ons, beweeg ons en is ons soos sommige van julle digters ook gesê het: Want ons is ook van Sy geslag (genos; vgl. Opb. 22:16 en Lk. 2:4 vir paralelle uitdrukkings om te sien hoe na patria en genos aan mekaar is).

 

Dit sou ook kon beteken dat God as Skepper van engele en mense daardeur as Vader opgetree het en elke geslag moet Hom daarvoor eer. Dus vanuit die algemene en besondere openbaring wil Hy as Vader geken word.

 

* Ja, die Heilige Gees self leer ons binne ons gees om Hom as Abba, Vader aan te roep (Rom. 8:15-16). Hy is immers die Gees wat van die Vader uitgegaan het en in ons bid (Jh. 15:26; Rom. 8:26-27).

 

* Ten slotte

 

Van ewigheid af, in die tyd en tot in ewigheid eer die Seun, die Heilige Gees, engele en mense Hom as Vader. As dit sou inhou dat ons in hierdie bedeling dit verstaan as dat Hy manlik is, is dit nie vergesog nie omdat vader ’n manlike woord is en Sy Seun toe Hy by ons was, ’n man was. Sy Seun is immers die volledige uitdrukking en openbaring van wie die Vader is (Jh. 14:9; Hebr. 1:3). Laat niemand dit egter verstaan as ’n vernedering vir die vrou nie, want Hy het in die wêreld gekom as saad van die vrou, in ’n maagd ontvang sonder die tussenkoms van ’n man.

 

Om dus te sê: “God is nie manlik nie en gevolglik nie Vader nie”, is myns insiens nie in lyn met Sy openbaring van Homself nie. Jy sou graag mense wat so van Hom praat, wou vra: Wie het dit vir jou gesê? Het God Hom so geopenbaar? Laat ons liewer Skrifgetrou bly in ons denke oor God.

 

Voetnotas

1 Hierdie invoeging van die Seun se Name kom in later Griekse tekse voor, en nie in die heel vroegste nie. Die gedagte is egter nie onseker nie. Hy is in die eerste plek Vader van Sy Seun wat een Wese met Hom is. Dit is seker die hoogste eer wat die Almagtige kan ontvang dat Hy die Vader is van hierdie Seun. En van die Seun aan wie die Vader alle mag in hemel en op aarde gegee het, dat Hy die Seun is van so ’n Vader! Ons kan nie ’n idee vorm van hoe dit die Vader se hart versadig om in Sy Godheid bekend te staan as die Vader van hierdie Seun nie. Kan ons ooit verstaan wat dit vir die Seun beteken om Hom Vader te noem? In die hele Bybel is daar net drie keer dat die Vader as Vader vanuit die hemel direk spreek en twee keer uit die drie getuig Hy van Sy liefde vir die Seun Mt. 3:17, 17:5; Jh. 12:27-28.

 

– Volgens Die Bybel met Verklarende Aantekeninge is dit is ook moontlik om Ef. 3:15 op te neem as ’n verwysing na alle vaderskap:

 

geslag eintlik vaderskap …elkeen wat die naam vader dra, kry dit van Hom wat Vader heet; van Hom is alle vaderskap afgelei.” So opvatting verander niks aan die inhoud van hierdie stuk nie, maar versterk dit eerder.

 

– Dat engele in Job 1:6 seuns van God genoem word, sou ’n argument kon wees daarvoor dat sulke manlike terme soos seuns en vader net maar maniere is om vanuit wat vir ons verstaanbaar is, van sulke wesens te praat. Dit beteken nie noodwendig dat hulle werklik as manlike wesens soos ons dit verstaan, bestaan nie. God sou dan op ’n bogeslagtelike manier Vader en die engele seuns van God moet wees.

 

Die bogeslagtelikheid van wesens in die hemel het Jesus self van getuig. Feit bly egter dat toe God met Sy Seun se menswording hierdie verhoudings vanuit die hemel in ons sfeer van bestaan oorgeplaas het, het Hy verkies om dit in ons geslagsverhoudings uit te druk as Vader en Seun. Hieruit kan ons met vertroue aflei dat Hy dan so by ons bekend wil staan en dat dit nie indruis teen die verhouding soos dit by Hom bestaan nie. Ons het geen reg om dit volgens ons wisselende kultuurwaardes te verander nie. Dit blyk daaruit dat die argument van aanpassing by die kultuur gebruik kan word om afgodsbeelde te regverdig. As dit primitiewe mense kan help om Hom in ’n beeld uit te druk waarom dit dan nie doen nie?

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *