Miskien is dit nodig om weer opnuut hierna te kyk. Ons leef immers in “nuwe en opwindende tye” waarin die mens baie “vryheid” beleef op baie terreine van sy lewe. Kennis ontplof, tegnologie en wetenskap maak dinge bekend wat maar ‘n paar dekades (wat nog eeue) gelede terug ondenkbaar was. In so ‘n konteks is dit mos ondenkbaar dat die Bybel absolute gesag in gelowiges se lewens kan hê? Rob Bell sê byvoorbeeld:

 “This is part of the problem with continually insisting that one of the absolutes of the Christian faith must be a belief that “Scripture alone” is our guide. It sounds good, but it’s not true.” (Rob Bell, Velvet Elvis: Repainting The Christian Faith (Zondervan, 2005), p. 067)

 Een van die belangrikste redes waarom Luther “in opstand” gekom het teen die Rooms Katolisisme, was juis die feit dat die Skrif ondergeskik was aan die kerklike instansie en nie andersom nie. Die reformasie het as een van hulle eienskappe die SOLA SCRIPTURA bely, naamlik die onfeilbaarheid en genoegsaamheid van die Bybel as God se Woord. 

Dit word bevraagteken, of moet ons eerder sê aktief teengestaan, en sal in twyfel getrek word vir solank ons in hierdie sondige bedeling lewe. Hierdie teenstand is natuurlik nie iets nuuts nie. Reeds in Genesis 3:1 vra Satan vir Eva “Is dit ook so dat God gesê het: …” Die doel hier is baie duidelik: breek die gesag van God se Woord in Eva af; die tegniek is net so duidelik: saai twyfel deur leuens. En sedert hierdie dag, is daar ‘n stryd teen die woord van God en die outoriteit daarvan in God se mense se lewens. Wat ons dus vandag beleef is niks nuuts nie, net ‘n hernieude aanval geloots teen die kerk om dieselfde twyfel te saai deur gebruik te maak van dieselfde tegniek, naamlik leuens. Natuurlik ook nou vanweë die sondigheid van die mens, is daar ‘n geneigdheid om eerder in opstand te kom eerder as te onderwerp. Ons kan baie mooi argumente teen baie filosofiese en teologiese denkstrome ophaal – en dit moet gedoen word, maar die inherente rebelsheid van die mens mag nie misgekyk word nie. Uit ons sondige aard wil en kan ons nie aan God se gesag onderwerp nie. 

Wat wel skokkend is, is dat hierdie vlaag van teenstand hudiglik nie van buite die kerk kom nie, maar van binne en dit word gelei deur manne en vroue wat deur baie as “evangelies” bestempel word. Selfs dit is die vervulling van soveel profesieë in dieselfde Bybel wat hulle probeer afmaak as net nog ‘n boek.

Waarin lê die gesag van God se Woord dan? Die Skrif is hieroor ook duidelik: In GOD. 

 2 Timotheus 3:16:

“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek,”

Die Grieks hier is “theopneustos”, opgebou uit “theos” [God] en “pneo” [uitasem], dus letterlik “deur God uitgeasem”. Dit is ook belangrik om hier te let op die “hele” voorvoegsel. Nie selgs gedeeltes daarvan nie, maar in sy totaliteit is die Skrif deur God uitgeasem. Daar is dus geen onduidelikheid hier oor die bron van die Skrif se gesag nie.

2 Petrus 1:21:

“want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie. Nee, deur die Heilige Gees meegevoer, het mense die woord wat van God kom, verkondig.”

Die Heilige Gees was verantwoordelik vir hierdie hele proses wat ons ken as die “Goddelike inspirasie van die Bybel”. Al was mense deel van die proses, is God die Outeur van sy Woord en daarom dra dit Sy gesag en nie dié van die mens of kultuur nie. Selfs Jesus erken die gesag van die Woord sonder teenstand. Hy gebruik dit selfs toe Satan Hom versoek in die woestyn. Hy kon dalk teologies diep redeneer met die duiwel, maar Hy kies om telkens te verwys na die Skrif as “daar staan geskrywe”. 

Die omvang van die goddelike gesag van die Bybel is ook uit die Woord self duidelik. Uit 2 Timotheus 3:16 sluit dit onderrig in die waarheid, bestry dwaling, die regstel van verkeerdhede en kweek van ‘n regte lewenswyse. Klink vir my asof die Bybel se gesag ons lewens in totaliteit omvat en nie slegs gedeeltes daarvan nie. God se Woord dra gesag en hierdie gesag vra van ons reaksie, en die eerste reaksie van ons kant af is om die gesag van die Bybel te erken. As jy nie tot hierdie stap oorgaan nie, is dit nogals redelik onmoontlik om God se Woord toe te pas, want hoe sal jy dit doen uit jou eie vermoë! Die feit dat jy nie die gesag van die Woord aanvaar nie, is  juis die openbaring van die rebelse streep inherent in die mens as gevolg van sy sondigheid.  

 

Sien ook

Is die Bybel die Woord van God?

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *