In ons soeke na die waarheid van die Bybel, moet ons voortdurend waak daarteen dat ons prooi val vir een of ander dwaalleer wat ons op ‘n verkeerde spoor plaas en ons geestelike welsyn en geestelike groei belemmer. Paulus noem in Efesiërs 4:13-15 dat kennis van die Seun van God ons help om tot volwassenheid te groei en ook daarom ‘n teenvoeter bied vir dwalinge:

“totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus;  sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring;  maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus,”

Tog bly die vraag: hoe lyk dwaling, met ander woorde hoe sal ek dit kan sien en identifiseer? Die gebeure inGenesis 3 vertel vir ons alreeds ‘n paar dinge oor die eienskappe van dwaling en valse leer. Hier ontmoet ons die slang en Eva en die slang word beskryf as listiger as al die diere. Hy begin ‘n gesprek met Eva en sy openingswoorde is treffend: “Is dit ook so dat God gesê het” (vers 1). Reeds uit hierdie eerste vers leer ons al ‘n paar eienskappe van dwaling waarna ons moet oplet:

– Daar is ‘n hoë mate van slinksheid by betrokke

Die woord “listig” word hier in die negatiewe sin gebruik van iemand wat sy vernuf en intelligensie gebruik om ‘n ander doelbewus om die bos te lei. Paulus eggo dit as hy in 2 Korintiërs 11:3 sê 

“Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, …”

Dwaling het dit altyd as ondertoon. Dit kan nie anders nie, aangesien die vader daarvan dit toegepas het en ‘n meester op hierdie gebied is. Slinksheid impliseer ‘n berekende plan agter die bepaalde optrede, dus moet ons weet daar is altyd ‘n plan agter valse leer. Dwaalleer val nie sommer uit die lug nie en ontwikkel nie sommer net daar vir die grap daarvan nie. Dit is berekend en gefokus op die verwoesting van die mens, die gelowige en die afbreek van die beeld en reputasie van God.

Daar is geen uitsondering nie. Geen dwaalleraar kan sê dat hy / sy het nie geweet dat dit wat geleer word dwaling is nie en wat die sinistêre bedoeling daaragter is nie. Almal het die waarheid van God se Woord. Insiggewend dat God vir Adam, Eva en die slang hier tot verantwoording roep en nie net die slang nie. Dit laat ‘n mens dink aan Romeine 1 & 2 waar die Skrif baie duidelik is oor die aanspreeklikheid van elke mens voor God vir wat God geopenbaar het.

– Dit gaan altyd oor die Woord van God

Hierdie listigheid het bo alles die oog daarop om die Woord van God af te breek. Let daarop: dit gaan in dwaling ALTYD oor die Woord van God. Nooit word die bybelse waarheid onaangeraak gelaat nie. Dwaling kan nie regop staan solank die waarheid van die bybel hoog gehou word nie. Belangrik om te sien hoe Paulus in 2 Korintiërs 4:2 die listigheid en vervalsing van die Woord met mekaar verbind:

“Maar ons het van die heimlike dinge wat skandelik is, afstand gedoen, en ons wandel nie in listigheid of vervals die woord van God nie; maar deur die waarheid aan die lig te bring, beveel ons ons by elke menslike gewete voor God aan.”

Dwaling is duidelik ‘n direkte aanval teen bybelse waarhede. Die Skrif wys dit self uit. Uit wat die slang vir Eva skep hy nommer een twyfel by Eva oor wat God werklik gesê het, want die duiwel weet wat die krag van twyfel in ‘n mens se lewe is. As hy jou dus op ‘n plek kan kry dat jy die woord van God begin twyfel, dan het hy jou net waar hy jou wil hê.

Hoe sterk kom hierdie konsep van twyfel nie na vore in die postmodernisme nie! Dit is ‘n wegbreek van absolute waarhede soos wat die evangeliese christene dit gehandhaaf het, na wollerige, twyfelagtige narratiewe wat op niks anders gebou is as die subjektiewe ideologië van die mens. Ons kan nie hier op die eienskappe van die posmodernisme ingaan nie, maar hierdie is een van die kern aspekte van dié denkstroom. Die Ontluikende Kerk is dan ook ‘n baie direkte toepassing van die postmodernisme. Selfs hulle voorgangers erken dat hulle self nie aldag weet wat waarheid is en of dit wat hulle beet het die waarheid is nie! Die “postmodernisme” van Genesis 3 is sterk aanwesig in hierdie denke, naamlik “is dat werklik so dat God gesê het”. Dogma, soliede Skrifgefundeerde lering, die vastheid en egtheid van die Woord van God, word op alle terreine in twyfel getrek, byvoorbeeld: Het God werklik die hemel en aarde geskep uit niks? En dit in ses dae? Was Adam en Eva werklik? Was daar ‘n Noag, ‘n sondvloed? Is Christus werklik uit ‘n maagd gebore, en het Hy werklik uit die dood opgestaan? Is daar ‘n werklike hemel en hel? Beteken sending werklik om nie die kruis en sonde en bekering en vergifnis te verkondig nie? 

Hierdie is tipies dwalinge wat in mindere of meerdere mate by die Ontluikendes voorkom, maar dit sou dwaas wees om dit voor hulle deur te lê asof hulle al die krediet hiervoor moet kry. Die slang het alreeds die plan in Genesis 3 in werking gesit – hulle volg net in sy voetspore.

Nie net laat die slang vir Eva twyfel nie, hy breek ook die gesag van God en sy Woord af. As sy woord dan nie waarheid is nie, hoe kan jy dan dan seker wees dit is sy onfeilbare Woord wat Hy geïnspireer het? Hoe kan jy Hom hoegenaamd nog vertrou as die enigste ware God? As jy Hom dan nie kan glo nie, hoef jy mos nie te luister na wat sy Woord van jou vereis nie! Dit is die stryd deur die eeue. Nie om die gesag terug te bring na God toe nie (dit is nie asof Hy dit prysgegee het nie), maar om die mens te oortuig van sy verantwoordelikheid om gehoorsaam te wees aan God en te buig onder Sy gesag en sy Woord. 

Die Ontluikende Kerk, tipies van die postmoderne era, sukkel nie om gesag af te breek in God se Woord nie. Ons het al elders verwys na Rob Bell wat nie respek het vir die Bybel as God se Woord en die maatstaf vir Christelike waarhede nie. Kyk ook maar hoe die invloed van die Neo-Ortodoksie hierin ‘n rol speel. Die postmodernisme hou nie van gesag en struktuur nie. Daarom die afbreek van dogma en suiwer lering en die mens se subjektiwisme wat alles kan bepaal.

Dan is daar ook nog die verdraaing van God se Woord. Vergelyk die oorspronklike opdrag van God aan Adam met die slang se weergawe van die opdrag:

Oorspronklike: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,  maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.” (Genesis 2:16, 17)

Die slang: “Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Genesis 3:1)

Kyk ook nou na Eva se weergawe: “Van die vrugte van die bome in die tuin mag ons eet,  maar van die vrugte van die boom wat in die middel van die tuin is, het God gesê: Julle mag daarvan nie eet nie en dit nie aanroer nie, anders sal julle sterwe.” (Genesis 3:23)

Hier is duidelik drie weergawes. God kom nie na Adam en Eva en vra hoe hulle sy oorspronklike opdrag verstaan het, watse kulturele oorwegings Hy in ag moet neem by sy finale besluit nie. Sy oorspronklike opdrag is oortree en hulle word daarvoor verantwoordelik gehou – selfs die slang. Jy kan nie God se Woord verdraai en dink Hy gaan vir jou vra watter faktore het jou interpretasie daarvan bepaal nie. Sy Woord bly norm, soos Hy dit geinspireer en bedoel het.Wees versigtig dus vir mense wat die oorspronklike bedoeling van God se Woord verdraai deur die vanuit ‘n eietydse kultuur te verstaan. Dit is so dat die boeke van die Bybel almal binne ‘n historiese konteks geskrywe is en dat dit ons help om die oorspronklike konteks beter te verstaan. Tog het Jesus vir geen Fariseër gesê: “Ag siestog, ek verstaan die oorspronklike teks is baie oud en julle omstandighede het verander, so Ek sal verstaan as julle die Wet en Profete anders interpreteer” nie! Hy het konstant daarna verwys as sy bron van gesag, waarheid en selfs dat Hy gekom het om dit alles in vervulling te bring.

Dit vra ons natuurlik om ook met versigtigheid om te gaan met die vertalings wat gebruik word, want soms word ‘n teks verdraaid vertaal. Kyk byvoorbeeld na die Message vertaling van Matteus 6:10:

“Do what’s best—as above, so below”

Warren Smith wys in sy boek Deceived On Purpose: The New Age implications of the Purpose Driven Church dat hierdie frase “as bove, so below” baie sterk New Age ondertone dra 

“and that the term ‘as above, so below’ describes the ’emerging spirituality’ that is quickly moving onto the world’s scene.” (p32)

Daarom is dit nodig om des te meer lering te toets soos die mense van Berea wat die boodskap van Paulus deeglik ondersoek het vanuit die skrifte. Moenie sommer enige vertaling aanvaar as die beste bloot omdat dit anders en mooi klink nie. Daar kan subtiele verdraaings van die Woord van God wees wat jou kan inlei in dwaling.

Jesus sê self:

“Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag.” (Johannes 12:48)

– Daar is altyd valse beloftes

Kyk wat belowe die slang:

“Julle sal gewis nie sterwe nie;  maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken.”

Hy belowe hemel op aarde, godheid, wysheid en kennis ongekend. Klink dit bekend? Die universalisme van Jurgen Moltmann en die Ontluikende Kerk bied so ‘n belofte. Daar is immers nie meer ‘n hel nie. Dus is sonde nou ook nie meer ‘n probleem nie. Almal sal eventueel “hemel op aarde” beleef. En o ja, kennis ongekend. So in die kraal van die hedendaagse hantering van die Skrif dat jou insigte en die van die wetenskap van beter weet as die God van die Bybel.

Paulus sê egter die dwaalleraars is die wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie. (2 Timotheus 3:7)

Daarom dan die vermaning van die Skrif:

“Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het,  en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.  Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid,  sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2 Timoteus 3:14-17)

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *