‘n Interessante (en belangrike) vraag wat gereeld gehoor word is “hoe lees ek die Bybel dat ek dit kan verstaan en dit ‘n impak in my lewe het?” Hierdie vraag het natuurlik ‘n paar faktore wat dit nodig maak om ‘n sinvolle benadering te soek. ‘n Eerste faktor wat genoem kan word is die bekering van mense. God maak mense deur sy genade nuut en skenk aan hulle die geloof om Hom aan te gryp. Tog is dit nie daar waar die proses eindig nie. Daar is kennis en groei nodig en die Skrif self in die hande van die Gees van God is hier die bron waaruit hierdie aspekte gestimuleer word. Daarom moet nuwe kinders van God geleer word hoe om die Bybel reg te hanteer.

‘n Tweede faktor is die geloofsoordrag na die volgende generasies. Ouers en mentors het die verantwoordelikheid om geloof oor te dra na hul kinders en na die volgende generasie. Elke opkomende generasie moet geleer word hoe om die Bybel reg te hanteer sodat hulle met God kan wandel in die lig van sy Woord. As hulle dit nie geleer word nie, word die deur wyd oopgemaak vir ‘n wêreldse en liberale lees en verstaan van die Bybel.

Verder het baie van ons van die begin af die Bybel verkeerd leer lees. Dit kan wees vanweë verskeie oorsake, persoonlike agtergrond, ens. Hierdie verkeerde lees moet “ontleer” en herstel word. ‘n Tendens wat baie gewild is, is die versie-benadering. Myns insiens is dit nie ‘n positiewe hantering nie, tensy daardie “versie” gebruik word binne die parameters wat vereis word vir korrekte Bybelse eksegese en interpretasie. Die indeling in hoofstukke en verse het natuurlik sy goeie punte, maar dit het ons lui gemaak en laat ons fokus op spesifieke verse ten koste van die geheel. My benadering is dat in die tyd toe die Bybel neergeskrywe is, was daar nie die luuksheid van drukpers ens. nie. Elke woord was belangrik. Ek wil dit amper noem die “ekonomie van woorde” waarmee die tekste op skrif gestel is. Elke woord het getel, en nie alleen sekeres nie. Daar was nie die geleentheid om rond te speel met woorde en sinnelose dinge te skryf nie.

Daar is ook die kompleksiteite van die lewe waarmee die kind van God daagliks gekonfronteer word. Morele vraagstukke word in ons gesigte gedruk en dit vereis van ons om standpunt te stel en toe te sien dat ons wandel in die lig van God. Dink maar aan kwessies soos homoseksualiteit, aborsie, sosiale onreg, korrupsie, moord, siekte, ens. Die wêreld se slimkoppe het baie antwoorde en pogings tot oplossings, maar vir die kind van God is daar ‘n bron waarteen al hierdie sake gemeet moet word, naamlik die Bybel. Lees jy nie jou Bybel nie, of lees jy dit verkeerd, voorspel dit verkeerde opinies en kompromie oor sake wat van kardinale belang is vir ‘n lewe van heiligmaking.

‘n Vyfde rede is die konstante aanslag teen die Woord van God. Elke geslag het sy eie uitdagings, en indien die Skrif nie reg hanteer word nie, voorspel dit dwaling en growwe afwykings van die Christelike geloof. Op talle plekke in die Skrif kry ons die verwysing na die “geloof” as die somtotaal van die Christelike leerstellings soos vervat in die Bybel. Die brief van Judas is ‘n oproep om ter wille van hierdie geloof te stry, met ander woorde te sorg dat die suiwerheid van die ware en gesonde leer beskerm word. Die aanslag is direk gemik teen die Woord van God en word aangeblaas deur die duister geesteswêreld onder aanvoer van Satan. Dit is ‘n aanval om alle geloofswaarhede te verwater en af te breek ter wille van die mens en sy positiewe ervarings, weg van die Bybel en die gesonde leer daarin vervat. ‘n Reg lees van die Bybel rus die kind van God toe om staande te bly in hierdie stryd, geanker in die waarheid van God se Woord soos oorgelewer deur die profete en apostels en op Skrif gestel onder inspirasie van God se Gees.

Almal is nie teoloë in die wetenskaplike sin van die woord nie, maar elke kind van God het die verantwoordelikheid om erns te maak met die Bybel. Daarom is dit nodig om erns te maak met hierdie vraag. Ek probeer dus nie hier ‘n wetenskaplike redenasie bou nie en probeer ook nie ‘n standpunt verdedig nie. Die doel hier is om op ‘n praktiese vlak deur te gee hoe ek reken ‘n gesonde lees van die Bybel kan lyk. Daar is verseker ander benaderings wat dalk ander aspekte beter uitlug. Elkeen moet dus uit al die inligting (dit is nou uit gesonde bronne – ek sou byvoorbeeld nie aanbeveel dat iemand vir Benny Hinn of Joel Osteen vra hoe die Bybel verstaan moet word nie) ‘n sinvolle benadering bou wat pas by jou eie karakter en leefstyl sonder om die kern beginsels van gesonde eksegese en interpretasie te verwater.

Voorveronderstellings

 Natuurlik is daar ‘n paar belangrike voorveronderstellings wanneer ons die Bybel lees. Hierdie voorveronderstellings is belangrik, aangesien dit die manier hoe jy verstaan wat jy lees direk bepaal. Daarsonder is dit maklik om tot ‘n ander – selfs verkeerde – verstaan te kom en so op ‘n dwaalspoor weg te raak. Hier wil ek verwys na van hierdie voorveronderstellings. Daar kan verseker meer oor elkeen gesê word, maar dit is nie die doel hier nie. Ek wil net ‘n paar kern aspekte wat die lees van die Bybel raak uitwys.

1. Bybel is God se Woord

Hierdie aspek kan nie onderbeklemtoon word nie. Wanneer jy die Bybel oopmaak, is dit iets anders as ‘n roman of ‘n digbundel of nie-fiksie waarmee jy dalk besig is. Nie dat daardie skrywers onbelangrike goed skrywe nie, maar hulle werke is hul eie, hulle skeppings. Byvoorbeeld is hierdie artikel lerend van aard oor ‘n belangrike aspek, maar dit is nie God se Woord nie en kan dus nie dieselfde impak hê as die Bybel self nie. Die Bybel is geen toorboek wat van die tafel af gaan opstyg wanneer dit langs ander boeke gesit word nie (my kinders sou natuurlik reken dit is “awesome” as dit sou gebeur – en ek vermoed ‘n paar ander grootmense ook). Dit is Woord van God omdat dit deur sy Gees aan die skrywers geïnspireer is en daarom SY woorde aan mense is.

Dit het natuurlik implikasies om te sê dit is God se Woord. Dit beteken jy aanvaar die oorsprong daarvan as nie uit ‘n mens nie, maar uit God. Dit beteken jy aanvaar die gesag wat daarin opgesluit en daardeur uitgeoefen word in jou lewe. Byvoorbeeld die verstaan van die oproepe tot bekering in die Bybel. Sou dit bloot mense woorde wees, sou ons kon sê dit is ‘n interessante benadering tot ons foute. Maar omdat dit God se Woord is, is dit nie sommer maar interessant nie, maar ‘n opdrag, en ook nie foute nie, maar sonde.

Dit is ook belangrik om hier daarop te wys dat die Bybel as Woord van God verskillend verstaan kan word. Daar is die “ortodokse” verstaan, naamlik dat God het dit geïnspireer en daarom was dit nog altyd, is dit nou en sal dit tot in ewigheid sy Woord bly, onveranderlik, foutloos en kragtig. Daar is egter ‘n ander gevaarlike verstaan daarvan en dit is dat dit die woord van God word in die tyd en geleentheid wat dit gelees word. Hierdie is ‘n gevaarlike beskouing, omdat dit afhanklik is van die mens se hantering en nie meer van God nie. (Lees gerus die reeks oor die effek van die Ontluikende / Emerging beweging om dit beter te verstaan.) Dan is daar eenvoudig die ontkenning dat die God se woord is, met ander woorde, dit is mense woorde oor God. Natuurlik skaar ek myself by die “ortodokse” verstaan en dit is hoe ek die Bybel lees.

2. Bybel is ‘n Geloofsboek

Die Bybel is nie in die eerste plek ‘n geskiedenis, biologie, wetenskap, ens. handboek nie. Dit is God se openbaring van Homself, sy raadsplan, sy handelinge met en betrokkenheid by mense en die skepping in die verloop van wat ons verstaan as tyd. Daarom is dit nie ‘n seminaar handleiding oor byvoorbeeld die biologiese prosesse wat plaasvind wanneer die mens gevorm word in die baarmoeder nie, maar is die invalshoek hier duidelik dat God betrokke is by daardie proses van die begin tot die einde.

Dit beteken nie dat die Bybel nie hierdie ander aspekte hanteer of minder belangrik ag nie. Dit is ryk in die beskrywing van historiese gebeure en die presiesheid daarvan. Dit gee nogal gedetailleerde inligting oor onder andere die Skeppingsproses en die onderhouding daarvan. Die profesieë is gebaseer op ‘n in diepte voorkennis van God oor die verloop van tyd (verwys hier na die profesieë oor die geboorte van die Messias). Dus, al is dit ‘n geloofsboek, kan en mag ons nie hierdie bykomende inligting verwaarloos nie. En tog, omdat dit ‘n geloofsboek is, is dit belangrik om te weet dat wanneer jy dit lees, lees jy oor hoe God die verloop van tyd en ewigheid beheer en terselfdertyd volkome betrokke is by al sy handewerke.

So ‘n benadering tot die Bybel dwing natuurlik geloofsvrae en -antwoorde tot die voorgrond; dit bring geestelike en morele kwessies na vore wat ‘n bloot historiese lees nie doen nie.

3. Bybel is baie geskrifte

Een van die wyses waarop ek dink ons verstaan van die Bybel baie seerkry, is omdat ons die Bybel primêr sien as een boek. Daarom lees ons alles dieselfde en veronderstel ons soms dinge in een boek op grond van iets in ‘n ander boek, wat probleme skep met eksegese en interpretasie.

Die Bybel is ‘n biblioteek of, as jy wil ‘n boekrak, met 66 boeke daarin. Die lekker van hierdie biblioteek is dat jy dit kan ronddra (en deesdae selfs op jou selfoon en tablet kan lees). Dink aan die Bybel as ‘n biblioteek met ‘n verskeidenheid van boeke wat ‘n diversiteit na vore bring. Daar is geskiedenis, profesie, gedigte, wysheidsliteratuur, briewe, apokaliptiek, ens. Dit dwing jou om elke boek te lees vir sy eie waarde en plek binne die biblioteek. Elke boek het sy eie boodskap om by te dra.

Dit beteken nie dat die eenheid van die Bybel hierdeur opgehef word nie. Anders as ander biblioteke, is die Bybel onvolledig sou selfs ‘n gedeelte uitgelaat word, wat nog te sê boeke in hul geheel. Die uitgangspunt is dat elke individuele boek bydra tot die kollektiewe verstaan en interpretasie van al die ander boeke in die Bybel. Dus is die Bybel “baie maar een” en dit moet verreken word wanneer jy dit lees, anders gaan jy baie waarhede inboet, mis lees, verkeerd lees, verkeerd interpreteer of bloot weglaat.

4. Bybel is God se finale en volledige openbaring

God se Woord is die openbaring van Homself en volgens hierdie Woord is dit ook sy finale openbaring. Dus is daar nie ruimte meer vir ekstra of nuwe openbarings nie. Dit is tipies wat ons sou beskryf as ekstra-Bybelse openbaringe of dan ‘n Bybel-plus benadering.

Die Bybel, die 66 boeke van hierdie biblioteek, is in sy totaliteit volkome afgehandel deur God se Gees. Indien jy hierdie voorveronderstelling weggooi, laat jy ruimte vir nuwe openbarings van God se kant en word die afgehandeldheid van die Bybel by die afgrond afgegooi. Dan kan enigiets geld. Sola Scriptura en Tota Scriptura is wat hier belangrik is om in ag te neem.

Onthou net altyd openbaring of profetiese uitsprake is anders as lering of onderrig. Eersgenoemde veronderstel nuwe inligting oor wat in die toekoms gaan of nie gaan gebeur nie, terwyl laasgenoemde bestaande openbaring neem en daaruit onderrig sonder om nuwe toekomsgebeure te gee. Lering het ‘n defnitiewe plek binne die liggaam van Christus, terwyl nuwe openbarings ongeldig is. Onthou om altyd hierdie onderskeid te handhaaf.

Slotopmerkings

Nou is die vraag natuurlik of jy die Bybel kan lees indien jy nie hierdie voorveronderstellings het nie? Natuurlik, maar dan moet jy eerlik wees oor dié waarmee jy dan wel die Bybel lees, want dit plaas – net soos hierdie wat hier genoem is – reeds ‘n bril op jou oë waarmee jy lees en jy sal moet definieer hoe lyk jou bril en waarom jy juis daardie bril en nie ‘n ander nie aanhet. Eerlikheid hiermee bring deursigtigheid – ‘n probleem wat mens gereeld optel by diegene wat oneerlik en met alternatiewe motiewe die Bybel hanteer. Sê dan eerder jy is ‘n ateïs as om dit te probeer systap en ander op so wyse om die bos te probeer lei. Hierdie eerlikheid is goed nie net vir die geloofsgemeenskap nie, maar ook vir jouself, want so weet jy hoe jyself die Bybel benader.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *