[Hierdie artikel is die derde in ‘n reeks oor hoe om die Bybel te lees. Lees asseblief die eerste en tweede om van die gedagtes hier beter te verstaan.]

Sonder om die indruk te skep dat die lees van die Bybel ‘n resep is, is daar tog so paar belangrike aspekte wat genoem moet word. Sommige sal dit stappe noem, wat nie ‘n probleem is indien daarmee verstaan word dat dit nie ‘n resep is nie, maar ‘n metode tot sinvolle lees. In hierdie sin, dink ek die volgende is ‘n paar belangrike aspekte van so ‘n sinvolle lees:

1. Daar moet ‘n plan wees

Ek onthou jare terug het iemand vir ons gesê hy laat die Bybel oopval, en daar waar dit oopval, is waar God met hom wil praat. Nou ja, hierop het iemand hom geantwoord “’n boek is soos ‘n bok.” Ongelukkig is hierdie manier van lees die onuitgesproke, amptelike benadering van so baie wat die Bybel lees. Maak dit oop en lees, en iets sal tref!

Daar moet ‘n plan wees waarmee jy jou Bybellees benader. Dit is nie ongeestelik nie en dit is nie sonde nie. Inteendeel, dit is baie meer verrykend as die boek-oopmaak of versie-lees tegniek. Jy gaan koop tog nie ‘n roman en kom by die huis, laat dit oopval en begin verwoed lees nie. Jy sal binne die eerste paragraaf al totaal mismoedig wees en die boek neersit met die gevoel dat dit ‘n verkeerde koop was. Jy kry ‘n brief van iemand en begin nie sommer op paragraaf drie lees nie. Dis tog sinneloos. Waarom sal jy dan jou Bybel so hanteer? So asof dit ‘n toorboek is waarmee jy kan omgaan soos met geen ander geskrif / dokument of boek nie! Hou altyd in gedagte dat daar 66 BOEKE in die Bybel is. Jy behoort elkeen te benader soos jy ‘n brief, ‘n epos, ‘n facebook boodskap, ens. lees – met al die voorveronderstellings wat genoem is in gedagte.

Daarom is dit nodig om met ‘n plan te werk. Besluit vooraf wat jy wil lees oor ‘n bepaalde tydperk. Daar is talle lees planne beskikbaar wat maklik op die internet beskikbaar is. My voorstel sou egter wees om primêr te kyk na planne wat bybelboeke in hul geheel hanteer. Ander planne waar hoofstukke, of dan gedeeltes van hoofstukke, gelees word, moet myns insiens altyd volg op ‘n plan wat die geheel hanteer. Jou plan moet ook pas binne jou eie karakter, leefstyl, en volwassenheid in die Here. Onrealistiese planne is nooit positief nie, want dit is net eenvoudig nie haalbaar nie. As jy weet jy kan nie drie uur aan bybellees afstaan nie, is dit sinneloos om ‘n plan te volg waar jy jou Bybel in 3 maande moet deurlees. Wees realisties hieroor.

Nou weet ek sommige mense se aangeleerde gedrag is om totaal deurmekaar te funksioneer en planne skommel hulle so effe. Wees dan kreatief sonder om die basiese beginsels soos hierbo uiteengesit (en wat nog sal kom) te verontagsaam. Jy sal dalk verstom staan om te sien hoe die volg van ‘n bybellees plan op ander terreine vir jou struktuur bring.

Soos reeds hier (en in die vorige twee afdelings) genoem, is ek ‘n groot voorstander daarvan om ‘n boek in sy geheel te lees. Dalk nie in een sessie nie, maar ek verkies verseker nie uitgekose versies nie. Daarom stel ek voor dat jy ‘n plan soek wat bybelboek in geheel hanteer. Dis nie nodig om die Bybel van Genesis tot Openbaring te lees nie, alhoewel so ‘n plan sy voordele het. Jy kan ook boeke uit beide Ou en Nuwe Testament tegelyk lees.

‘n Vraag is natuurlik wat van dagstukke (sogenaamde “devotionals”) of boeke wat jou in 30 dae deur ‘n onderwerp neem? Dit is nie ‘n probleem nie, tensy dit nie die konsep van die bybelboek as geheel oorskadu nie. Hierdie werke is sekondêr. My opinie is ons weet nie hoe om die Bybel te lees nie omdat alles wat ons lees teksvers of onderwerp gedrewe is. Ons moet terugkom waar ons ‘n bybelboek in sy geheel kan lees en verstaan en die plan wat ons uitwerk of volg, moet hierdie beginsel eer.

Die belangrike is dat jy dit moet geniet om die Bybel te lees en dat jy ook die satisfaksie sal ervaar wanneer jy sien dat jou plan realiseer en vrug dra.

2. Lees

Noudat jy ‘n plan het, is die volgende logiese fase om te lees. Dit klink dalk nou na ‘n sinnelose opmerking, maar dit moet genoem word, omdat daar ‘n verskil is tussen bloot lees en interpreteer. Wanneer jy lees, doen jy gewoon wat jy met enige ander boek, epos, of brief sou doen. Jy lees om te geniet wat jy lees. As jy besig is om ‘n historiese boek te lees (byvoorbeeld Josua), moet jy die geskiedenis, die gebeure, die oorloë, die intriges, en dies meer sommer net kan geniet. As jy ‘n brief in die Nuwe Testament lees, moet dit vir jou voel asof jou naam heel bo aan geskryf is. Ons het die bloot geniet van die Bybellees proses grootliks verloor en daarom sukkel ons om die waarhede daarvan in ons lewens te integreer. Ek wil amper sê jy moet dieselfde, indien nie meer nie, genot hê na ‘n bybellees sessie as wanneer jy jou gunsteling genre lees. Akademici kry ‘n “kick” uit geleerde boeke en artikels en hulle raak opgewonde oor wat hulle lees. Sommige mense se tone krul om van ‘n speurverhaal. Dink aan daardie ervaring, want dit is wat jy wil hê wanneer jy die Bybel bloot net lees.

Oor hierdie geniet van die Bybel, is die Bybel self duidelik. Lees maar Psalm 1, Psalm 119. Ons lees daar van ouens wat dit werklik geniet om met God se Woord om te gaan en om dit te integreer in hulle lewens. Hulle het ‘n behae in die Woord van God gehad en Psalm 1 stel dit nogal voor as ‘n karaktereienskap van die nuwe mens in Christus!

Die verskil met die lees van gewone werke is egter dat jy die Bybel met aandag lees juis as gevolg daarvan dat jy kind van God is en Hy met jou daardeur praat. Die Bybel is net eenvoudig op ‘n ander vlak – dit is die Woord van God – en dit is geskrywe met ‘n baie bepaalde doel (2 Tim. 3:14-17). God het dit nie net geïnspireer om jou hoendervleis te gee van lekkerlees nie. Daar is ‘n baie spesifieke rede waarom sy Gees elke skrywer beweeg het om dit op te teken. Daarom, is bybellees ‘n “lees met aandag.” Die idee is dat die genot gesetel sal wees in dit waarmee jy die lees sessie afsluit, met ander woorde, die bewustheid DAT God deur sy Woord met jou gepraat het, sowel as die WAT God se Woord aan jou hart kom vasbind het deur die lees. Daar is ‘n interessante perspektief uit Jesaja 28:9-10:

“Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is? Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie.”

Daarom lees jy nie om klaar te lees nie. Jy lees om by God te hoor wat sy Woord vir jou sê. Hier kom die plan waarna hierbo verwys is weer ter sprake. Die een sessie bou op die voorafgaande en skep weer die platform vir die komende. Benader die Bybel soos ‘n verwarde afkop hoender, en jy gaan verward opeindig – wreed ontnugter deur hierdie boek – en begin staatmaak op “broodkrummels” (dis nou daardie houertjies wat die teksverse so geheel uit konteks verkoop).

Die gedagte met ‘n sinvolle lees is dat jy na die tyd kan sê waaroor die gedeelte handel. Dit laat mens nogal dink aan die begripstoetse op skool. Jy moet verstaan wat jy lees. Dus word “lees met genot” ‘n “lees met aandag” wat uitloop op ‘n “lees met begrip.” ‘n Voorstel is om ‘n notaboekie byderhand te hou. Terwyl jy lees, maak notas van dinge wat jou opval, iets wat interessant is, dalk iets wat onduidelik is, selfs wat moeilik is om te glo. Onthou, met lees wil ons nie hierdie dinge ontrafel nie, maar ons wil dit ook nie nou al verloor in die volledige proses nie. Daarom maak jy notas daarvan. Dit is dalk nie ‘n slegte idee om dan sommer die datum en gedeelte wat jy lees aan te teken nie. So bou jy vir jou ‘n goeie verwysingstelsel op.

‘n Voorstel as dat jy in hierdie fase nie ‘n gemerkte Bybel, ‘n verklarende Bybel, of ‘n dagstuk sal lees nie. Sulke dinge is wat genoem word “geruis” in kommunikasie wat jou verstaan van die gedeelte wat jy lees stuur in ‘n rigting. Dit veroorsaak dat jy fokus op wat gemerk, verklaar of geïnterpreteer word en beïnvloed jou oorsigtelike verstaan van die teks. Dit veroorsaak ook dat jy bo-oor dele lees wat belangrik is, maar nie in hierdie werke hanteer word nie. So verloor jy waardevolle insig in die teks. Neem dus ‘n skoon Bybel, ‘n notaboekie en pen, en begin net lees en maak jou notas waar nodig. Aan die einde van hierdie fase, skryf vir jouself neer wat jy verstaan van die gedeelte in sy geheel. Moenie probeer interpreteer nie. Jy skryf nou net ‘n “begripstoets” om te sien of jy verstaan het wat jy lees. Dit maak jou gereed om na die volgende fase oor te gaan. As jy die gedeelte nie verstaan nie, lees dit weer totdat jy dit verstaan. Hier moet jy dus vloeibaar wees in jou plan. As jy sien ‘n gedeelte se verstaan is meer kompleks, besluit dan om ‘n dag langer (of selfs meer) daaraan te spandeer. Onthou, jy wil God se Woord lees én integreer, nie lees en onvervuld wees oor die proses nie. Wanneer jy aan die einde van ‘n hele boek kom, is dit belangrik om ook net ‘n opsomming te maak van dit wat jy verstaan van daardie hele boek.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: