[Hierdie artikel is die vierde in ‘n reeks oor hoe om die Bybel te lees. Lees asseblief die eerstetweede en derde om van die gedagtes hier beter te verstaan.]

In die vorige afdeling het ek verwys na die eerste 2 fasette van ‘n lekker en sinvolle lees van die Bybel, naamlik om met ‘n plan te werk, en tweedens die proses van lees. “Lees met genot” word gedoen met aandag om uiteindelik te verstaan. Die eerste fase van verstaan, is om bloot te kan weergee waaroor die gedeelte wat gelees is handel. Met ander woorde, wie die karakters is, wat die plot is (in die geval van ‘n verhaal), wat is die ontknoping, ens.

Hier begin die groot verskil tussen die lees van die Bybel en die lees van ander boeke en artikels. Onthou dat een van ons primêre vertrekpunte is die lees van die Bybel is dat dit is God se Woord en verder dat Hy met ons daardeur praat om sodoende ook ons lewens daardeur te verander. Dus, is die uiteindelike doel nie om net die Bybel se stories te ken en verstaan soos ons ander verhale en boeke op ons rak ken en verstaan nie. Die Woord van God moet geïntigreer word in jou alledaagse lewe. Dit is die praktiese implikasies van die beginsel van Sola Scriptura. “U Woord is ‘n lamp vir my voet en ‘n lig op my pad” moet ‘n realiteit wees in jou alledaagse lewe. Besluite, standpunte, vrae, bekommernisse, en dies meer moet alles aan die lig van God se Woord onderwerp word sodat sy Gees jou daardeur kan lei. As dit slegs by kennis en lekkerlees bly, dan is die oefening sinneloos en sonder vrug. My veronderstelling is hier dat wie hierdie artikel lees is reeds kinders van God, en daarom is die benadering anders as met die ongelowige, wat uiteraard die Bybels anders sal lees en vir verskillende behoeftes en bedoelinge.

As gevolg dan van hierdie andersheid, betree ons moeiliker fases van die proses en is die onmiddellike fase wat volg dié van interpretasie. Nou word nie net meer gevra wat vertel die teks nie, maar wat BETEKEN die teks. Let wel, dit is nog nie toepassing nie – dit kom nog. In hierdie fase poog ons om te verstaan wat die betekenis is van die teks wat voor ons lê. Dit is uiteraard nie die maklikste proses nie. Die Rooms Katolisisme se antwoord hierop is om die Skrif te weerhou van die “gewone mens” en dit in die mag van die leierskap plaas om uitleg te voorsien. Met die toegang tot die internet, is inligting as’t ware op ons vingerpunte en is interpretasie vryelik beskikbaar. Die uitdaging bly om tussen die twee uiterstes van geen en ‘n magdom inligting op ‘n plek te kom waar jy kan verstaan wat jy uit die Bybel lees en dit sinvol en met vrymoedigheid kan interpreteer, sonder om oordonder te word of om net staat te maak op die inligting uit ander oorde.

‘n Belangrike mikpunt in die interpretasie van die Bybelteks is om so na as moontlik te kom aan wat dit moes beteken het vir die eerste lesers van daardie teks. Nou ja, dit is dalk moeiliker as gesê, en dit wys die geskiedenis ook vir ons met al die dwaalleer wat sommer vroeg in die geskiedenis van die kerk opgespring het met verdraaide interpretasies van die tekste. Daarom is daar ‘n paar faktore wat in ag geneem moet word hierin. Kom ons noem dit brûe wat oorgesteek moet word in die proses van interpretasie.

‘n Eerste brug is kultuur. Onthou dat in alle gevalle werk jy met ten minste 2 kulture, soms meer. Die teks sal jy lei in die onderskeie kulture wat betrokke is bo en behalwe die 2 basiese. Hierdie 2 kulture is jou eie en die ander is dié van die skrywer van die boek. Jy moet altyd die kultuur van die oorspronklike in ag neem in jou interpretasie en besef dat dit ernstig kan verskil van jou eie. Neem byvoorbeeld die Oosterse kulture waar drake positief gesien word, terwyl drake in die Bybelse geskrifte die bose uitbeeld. Dus, as jy sonder meer jou eie kultuur inlees in die teks, het jy groot probleme met die interpretasie van daardie teks. Die wyse hoe kontrakte en ooreenkomste in Abraham se tyd gesluit is, verskil wesenlik van ons hedendaagse wetstelsel, met die gevolg dat jy nie gaan verstaan hoekom kap hy diere in die helfte as God met hom die verbond sluit nie. Nog minder gaan jy dit verstaan dat God alleen tussen die opgekapte diere deur beweeg. Uit die aard van die saak beteken dit dat jy elke boek histories sal kan plaas om te weet waarna om voor op te let betreffende kultuur. Ons weet almal kultuur ontwikkel en is nie stagnant nie en dieselfde geld vir die kulture van die Bybelse boeke.

Dan is daar die taal brug. Die boeke van die Bybel is nie in 1933/1953 Afrikaans geskrywe nie, ook nie in King James 1611 Engels nie. Die primêre tale van die bron tekste is Hebreeus, Aramees en Grieks. Nou is dit so dat nie almal hierdie tale ken nie, maar daar is baie goeie boeke op die mark en gratis rekenaar sagteware om jou te help om by oorspronklike woorde en betekenisse uit te kom. Dink byvoorbeeld aan die Strong’s Dictionary en soortgelyke werke. Net ‘n waarskuwing. Hierdie tipe boeke en sagteware is wonderlike hulpmiddels, maar dit is algemene kennis dat betekenis bewerk word deur konteks. Dus, nadat jy al die moontlike opsies van ‘n woord se betekenis het, moet die konteks van die woord steeds die finale woord spreek. Soms is dit ook so dat ‘n spesifieke woord slegs een maal in die hele Bybel gebruik word. Dit maak die lewe van interpretasie so effe meer ingewikkeld, maar tog vervullend as jy jou huiswerk gaan doen en so bietjie dieper navors oor die teks.

Ons is bevoorreg dat ons verskillende vertalings het om mee te werk, en dit is nie ‘n slegte idee om dieselfde teks in verskillende vertalings van verskillende tale te lees nie. So kom jy vinnig agter waar is die dele waar vertalings dieselfde teks anders hanteer.

‘n Derde brug is die geografie. Dit is ‘n handige hulpmiddel om te weet waar watter berg, dorp, dam, rivier, see, ens. lê. Dit help jou om beter te verstaan hoe die Israeliete deur die woestyn beweeg het, hoe Paulus se sending reise gelyk het. Dit help jou ook byvoorbeeld om die ligging van die 7 gemeentes in die Openbaring brief te verstaan. Jy kry ook ‘n beter begrip van Christus se bewegings tussen die dorpe wat Hy besoek het. Kennis van die plante laat jou sekere dele net beter verstaan en interpreteer. Die argeologiese ontdekkings dra ongelooflik baie by tot ‘n beter verstaan van die fisiese omgewing waarvan die Bybel ons so baie detail gee. Belê in ‘n Bybelse Atlas en ander materiaal wat hierdie dinge verduidelik en wys. Sagteware soos theWord en e-sword doen ongelooflik baie om hierdie tipe materiaal teen baie billike pryse en selfs gratis beskikbaar te stel.

‘n Vierde brug is die geskiedenis. Nou is dit so dat die meeste mense met afgryse vervul word as die woord “geskiedenis” op die tafel geplaas word. Tog, as jy nie weet waar jy vandaan kom, is dit moeilik om te sien waarheen jy op pad is. ‘n Verstaan van die Bybelse geskiedenis is al ‘n baie goeie begin om die konteks van ‘n Bybelboek te verstaan. Om byvoorbeeld te weet Paulus was in die tronk terwyl hy Filippense geskrywe het, maak die woorde “Verbly julle altyd in die Here, ek herhaal: Verbly julle!” soveel meer betekenisvol. Om nie te verstaan dat Johannes skrywe teen ‘n vroeëre vorm van gnostisisme nie, gaan baie van die fynere nuanses oor sonde, sondigheid en versoening laat verlore gaan in byvoorbeeld sy eerste brief.

Daar is ‘n rede hoekom ek hierdie 4 faktore brûe noem en nie hekkies nie. ‘n Hekkie skep die indruk dat dit ‘n struikelblok is, en struikelblokke het ‘n negatiewe konnotasie. Dit is nie wat ons wil hê wanneer ons die Bybel lees nie. Jy wil juis ‘n positiewe ervaring hê. Interpretasie is nie maklik nie, maar is baie moontlik wanneer jy die brug oorsteek na die ander kant. Daar is absoluut geen rede waarom enige gelowige hoef terug te deins vir die interpretasie proses nie. God is deurentyd in die proses betrokke – dit is immers SY Woord.

Wat hierdie faktore wel vra is dat jy jouself sal toerus met hulpmiddelle om daardie brûe oor te steek, en dit is dan uiteindelik die uitdaging van hierdie afdeling. Maak vir jou hulpmiddels bymekaar wat jou kan help op elke brug en leer hoe elkeen werk. As iets vir jou werk, laat ‘n “comment” by hierdie artikel oor die spesifiek hulpmiddel sodat die ander wat hier lees, ook daardie roete kan ondersoek.

In die volgende afdeling gaan ons kyk na ‘n paar beginsels wanneer ons die Skrif interpreteer. Onthou ook om die uitdaging van die vorige deel aan te pak. Onthou, die uitdagings is daar sodat hierdie nie ‘n sondagskoolles is nie, maar ‘n praktiese hulp om die Bybel te lees en te hanteer.
 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: