[Hierdie artikel is die vyfde in ‘n reeks oor hoe om die Bybel te lees. Lees asseblief die eerstetweedederde en vierde om van die gedagtes hier beter te verstaan.]

Nou dat ons so paar van die brûe bekyk het wat ons interpretasie van die Bybel beïnvloed, is dit nodig om ‘n paar belangrike beginsels van interpretasie van nader te bestudeer. Hierdie beginsels moet deurentyd deel van die proses vorm om die betekenis te ontsluit. Dit is sake wat nie agterweë gelaat mag word nie, aangesien die ondervinding al geleer het dat waar dit vergeet word, volg skewe interpretasies wat baie maklik die deure oopgooi vir grootskaalse dwaalleer om pos te vat.

Interpretasie deur gesonde leesbegrip 

Daar is ‘n interessante verskynsel waar mense die betekenis van ‘n bybelteks wil vasstel. In plaas daarvan om met dit wat die teks bied te werk, word daar telkens gesoek na ‘n sogenaamde “dieper” betekenis. Om dit te verstaan, moet ek dit verduidelik aan die hand van die bepaal van betekenis by die lees van ander werke.

Wanneer iemand ‘n geskiedenisboek lees, is die benadering tot verstaan onmiddelik dat die werk ‘n klomp feite oor die historiese gegewens gaan deurgee en dit word ook so verstaan. Wanneer ‘n brief gelees word, is die leesproses natuurlik en word dit as persoonlike kommunikasie gelees en die woorde, sinne en paragrawe ook so bymekaar gebring om die betekenis deur te gee. Wanneer jy na die tyd vir iemand sou vra wat hy verstaan van die boek of die brief, is die betekenis maklik en duidelik om oor te dra.

Met die lees van die Bybel gebeur daar egter ‘n eienaardige ding. Baie keer lees ons die oppervlak en vra na ‘n dieper betekenis, asof die algemene taal- en leesreëls nie meer geld nie. Die Bybel word so een of ander esoteriese, mistieke geskrif met geheime betekenisse wat slegs kenbaar word as jy deur die “oppervlakkige” en “voor-die-handliggende” kan beweeg. Hierdie benadering lei tot wat ons noem vergeesteliking of die allegoriese interpretasiemetode, waar ware betekenis slegsbeskore is vir die “ingewydes”.

‘n Baie bekende voorbeeld hiervan is die vyf klippies wat Dawid optel om sy slingervel mee te laai (1 Samuel 17:40). Elkeen van hierdie klippies verteenwoordig nou op geestelike (lees “dieper”) vlak een van die bedieninge wat volgens Efesiërs 4:11 aan die kerk gegee is (die sogenaamde “5-point ministry”). Jy word nou ‘n Dawid wat die Goliatte met die “5-point ministry” moet bydam! My seuns sal so iets geniet, want dit beteken hulle kan klippe met ‘n rek slinger, maar dit is ongesonde hermeneutiek. Die basiese beginsels van taal en lees word so gruwelik oortree. Onmiddelik is die vraag: met watter een van die vyf het Dawid toe uiteindelik vir Goliat doodgegooi? Wat het van die ander vier klippies (of dan bedieninge) geword? Indien jy dit kan bepaal, weet jy watter bediening potensieël die “belangrikste” is. Sulke interpretasie lei jou net al dieper in ‘n maalkolk van verwarring in.

Dit moet egter nie verwar word met ‘n geldige interpretasiemetode bekend as tipologie nie. Tipologie is nie hierdie oppervlakkige vergeesteliking van die teks nie, maar speel ‘n baie bepaalde rol in veral die Nuwe Testamentiese interpretasie van die Ou Testamentiese gegewens oor Christus. Later meer hieroor.

Daar is ook ‘n ander benaring wat net soveel chaos veroorsaak, en dit is dat alles nou letterlik verstaan word, en dan gebruik ek letterlik hier in die eng sin van die woord, waar geen ruimte vir beeldspraak wat so belangrike plek in taal het, gelaat word nie. Veral die wysheidsliteratuur word baie maklik so misbruik. Wanneer die Psalmdigter byvoorbeeld vra “wat buig jy jou neer, o my siel?” (Psalm 42:5), bedoel hy sekerlik nie dat sy siel so krom is soos ‘n hoepel in sy binnekant nie. Daarmee sou hy dan ook moes sê sy siel het ‘n fisiese vorm anders sou dit nie kon buig nie. Dit is duidelik figuurlike taal om ‘n werklike emosionele en geestelike ervaring van terneergedruktheid te beskryf. So benadering waar die gebruik van beeldspraak verwaarloos en selfs geignoreer word, lei tot wat genoem sou kon word ‘n biblisistiese benadering, waar die teks in alle opsigte tot op sy been toe letterlik verstaan moet word. Volg jy dit nougeset, moet daar baie wees sonder hand of oog, omdat Jesus gesê het kap af en ruk uit as dit jou pla! Duidelik is dit nie die betekenis in die teks gewees nie.

Die antwoord is eerder daarin dat jy die teks lees vir wat dit is (en nie wat jy wil hê dit moet wees nie), en die algemene reëls en gebruike van taal eer en volg. Ek is daarvan oortuig dat God die mens se taalvermoë – waarmee Hy die mens geskape het – geëer het in die inspirasieproses. Waar jy ‘n brief in die bybel lees, moenie dit as iets anders lees nie. Dit is ‘n brief. Moenie byvoorbeeld ‘n gelykenis verwar met historiese geskiedskrywing nie. Jy gaan jou rieme lelik styfloop. Kyk ook wat die teks jou bied in terme van verskillende taalvorme en gebruike. Dit is net so gevaarlik om ‘n metafoor letterlik te lees as om ‘n feit as metafoor te verstaan. Die Evangelies is byvoorbeeld geskiedskrywing, so waarom sou ons dit dan wil lees as byvoorbeeld mitologiese verhale? Die Psalms is wysheidsliteratuur, wat so verstaan moet word, anders gaan ons darem oor baie mure spring en bendes in die Cape Flats of Hillbrow met mag en mening bestorm, want Dawid sê dan met sy God spring hy oor ‘n muur en loop hy bendes storm (Psalm 18:29)! Die hele geveg rondom Genesis 1-11 as figuurlik kom onder andere daarvan dat Genesis nie as geskiedskrywing gelees word nie, maar as mitologiese stories. Die verdraaide resultate is duidelik en lei tot allerhande inkonsekwenthede. Dink byvoorbeeld aan Paulus se teruggryp na die eerste Adam in vergelyking met die tweede Adam. Indien Genesis 1-11 dus nie historiese feite is nie, het die eerste Adam dus nie bestaan nie. Beteken dit nou dat die tweede Adam ook nie werklik was nie? Ons kan die gevolge verder neem, maar dit is nie hier nodig nie.

Wanneer ek byvoorbeeld met my kinders raas, weet hulle ek is kwaad, want normale begrip van taal en stemtoon sê vir hulle daar is nou moeilikheid. Ter illustrasie verwys ek na die brief aan die Galasiërs. Hierdie brief begin met baie hard raas met die Christene wat die Joodse gebruike en wette wil navolg. Lees jy dit mis, verloor jy ‘n ongelooflik belangrike aspek in die interpretasie van hierdie brief. Trouens, dit is in der waarheid uit die teks self nie moeilik  om te sien nie indien. Daar is geen esoteriese of mistiese betekenis aan hoe Paulus hierdie brief begin nie. Hy is kwaad en hy berispe.

Dit punt is dus dat die tipe teks en die taalgebruik jou moet lei in die vasstelling van betekenis. Waar jy dit verontagsaam deur die Bybel as volledig geestelik of volledig letterlik te interpreteer, loop jy jou vas in inkonsekwenthede wat lei tot waninterpretasie. Daarom is die lees van enkel verse so gevaarlik, omdat dit hierdie hele beginsel omseil. Hoe verstaan jy ‘n enkele vers wanneer dit uit sy oorspronklike konstruksie gehaal word sonder die gevaar om verkeerd te interpreteer?

‘n Goeie beginsel om te volg is dat die Bybel moet verstaan word in sy mees natuurlike vorm, en waar beeldspraak en ander metafore ensovoorts gebruik word, wil dit ‘n werklike waarheid of realiteit oordra. So verwring ons nie die Skrif na een kant van die spektrum nie, maar laat dit toe om die oorspronklike betekenis vir ons te gee.

Interpretasie deur taalbegrip 

Taal is ons primêre kommunikasie middel en wanneer ons in normale gesprekke met mekaar is, verstaan ons mekaar tot ‘n groot mate. Sonder om op te let, luister ons na woorde, sinne, paragrawe, en argumente en vorm ons ‘n begrip van dit waaroor daar gepraat word. Dieselfde gebeur terwyl ons lees, behalwe dat ons die fisiese woorde, sinne, paragrawe, en argumente met ons oë sien en nie hoor nie. Tog is dit essensieël dieselfde proses.

Om te kan interpreteer, beteken dat jy die taalkonstruksies wat jy lees in die teks kan identifiseer en daarvan sin maak. Toegegee, ons is nie almal taalkundiges nie, maar as ons dit ‘n vereiste sou moes maak vir ons verstaan van ‘n bybelteks, het baie min gekwalifiseer – en sou ons weer die Roomse benadering moes volg waar die Skrif weggeneem is van die sogenaamde hoi poloi. Tog weet almal hoe om ‘n gewone storieboek te lees en te verstaan, of om in ‘n gesprek met ander sinvol deel te neem. Die rede is dat jy ‘n natuurlike taalvermoë het omdat jy ‘n mens is! Daarom het niemand onder normale omstandighede regtig ‘n geldige verskoning om nie te verstaan wat gekommunikeer word nie.

Ek het al daarna verwys dat die Bybel is geskrywe in Aramees, Hebreeus of Grieks. Die algemene is dat ons met vertalings daarvan werk. Daarom is dit voordelig om, waar moontlik, verskillende vertalings met mekaar te vergelyk, selfs verskillende tale. Dit help net om die taalkonstruksies raak te sien en ook om enige verskille wat so ‘n vergelyking uitwys, te kan bestudeer. (Ek sal later meer volledig aandag gee aan die kwessie van verskillende vertalings).

Dit is belangrik om te kan identifiseer wat die aksie(s) is wat uitgevoer word (werkwoorde), wie dit doen en aan wie dit gedoen word. Is die aksie(s) aktief of passief? Is dit hede, verlede of toekoms? Is dit opdragte of vertellings? Waarna verwys die byvoeglike naamwoorde en bywoorde? Al hierdie vrae is nodig op taalkundige vlak om betekenis reg te kan bepaal.

‘n Belangrike aspek hier is om die teks wat jy lees op te breek in kleiner eenhede en daarna weer die eenheid van die onderskeie eenhede te bestudeer. Jy sou seker hierdie proses kon vergelyk met iemand wat ‘n toespraak hou. Gewoonlik sal ‘n spreker sy toespraak in die geheel toespits op ‘n spesifieke tema. Om egter hierdie enkele tema te belig, kan hy gebruik maak van verskillende hoof- en ondersteunende argumente. Jy luister na die toespraak, identifiseer die argumente en bring dit voortdurend in verband met die sentrale tema. Vergelyk ook maar net hierdie reeks. Die sentrale tema is ‘n suksesvolle en genotvolle lees van die Bybel. Om dit reg te kry, beskryf ek dit stapsgewys, maar (hopelik) hou elke onderafdeling direk verband met die sentrale tema.

Dink aan byvoorbeeld die toespraak van Petrus op Pinksterdag in Handelinge 2, of die Bergrede (Matteus 5-7), of die sogenaamde Profetiese Rede van Jesus (Matteus 24-25), of die gesprek van Jesus tydens die laaste maaltyd (Johannes 13-17) as voorbeelde uit die Skrif. So het elke bybelboek in sy geheel ‘n spesifieke doel met onderskeie argumente (ons noem hulle tradisioneel perikope) wat uiteindelik bydra tot die verstaan van die sentrale tema. Soms sal ‘n skrywer sy doel met die boek / brief heel in die begin stel (Handelinge 1, Judas verse 3 en 4), ander kere weer aan die einde (die Johannes Evangelie – 20:30) en soms word die sentrale tema nie genoem nie, en jy as leser ontdek dit deur die argumente saam te bring. Elke argument is in der waarheid ‘n diskoers in die kleine met sy eie ondersteunende argumente.

Dit is ook belangrik om te sien dat hierdie onderskeie argumente, punte van belang, temas, ens. saam met mekaar beskou moet word ook. Dus kan jy nie een argument uitlug ten koste van die ander nie. Jy sal moet vra hoe pas dit in by die ander argumente om die hooftema te ondersteun. Lees dus aandagtig en kyk waar daar logiese oorgangspunte is na ‘n volgende tema en maak ‘n nota daarvan. Wanneer jy die hele teks gelees het, sal jy ‘n deeglike opsomming hê van al die onderskeie punte van die argument. Uit hierdie indeling gaan dit vir jou duidelik begin raak hoe dit geheel in mekaar steek. Onthou altyd die ekonomie van woorde in die Bybel. Die skrywers het nie die luukse gehad van woordverwerkers, ens. nie. Wat hulle geskryf het, moes tel. Nie alle argumente tel ewe veel gewig nie, dalk is dit net ondersteunend. Maak ‘n nota hiervan, sodat jy nie onnodig – en verkeerdelik – ‘n argument se status verhef of verminder nie. Elke punt moet sy regmatige plek inneem in die geheel van die teks.

Studiebybels en kommentare maak hierdie tipe analise effe makliker, maar moet nie as die absolute norm aanvaar word nie. Dit is altyd goed om meer as een uitleg van byvoorbeeld ‘n spesifieke bybelboek te vergelyk. Twee voorbeelde hiervan is onder andere oor die brief van Judas en 2 Petrus.

In die volgende afdeling sal ek verder fokus op meer van hierdie beginsels wat help in die interpretasie van die Bybelteks.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: