Professor Willie Jonker het met sy aanvaarding van ‘n professoraat in Teologie by UNISA sy intreerede gehou met die titel “Om die Regering van Christus in sy Kerk”.[1] Hierin verwys hy oortuigend na die kernaspek van die bestaan van die kerk, naamlik die regering van Christus in sy kerk. Reeds in die eerste woorde sê hy dit duidelik:

“Dat Jesus Christus die Hoof en Here van Sy kerk is en as  Koning direk en persoonlik oor Sy kerk regeer, is die grondwaarheid waarvan die kerkreg moet uitgaan.”

Hy verduidelik hoedat die Reformatore hierdie kernaspek weer na vore gebring het teen ‘n Roomse stelsel waar die kerklike leierskorps die rol van die regering van die kerk oorgeneem het. Beide Luther en Calvyn het hier gepleit vir die regstelling dat Christus in sy kerk, waar die Here Jesus persoonlik regeer. Die ampte moet in diens wees van die regerende Koning, en nie plaasvervangend nie.

Hierdie regering van Christus in sy kerk berus op ‘n paar sake. Ten eerste is daar die belofte van sy teenwoordigheid by sy kerk tot aan die einde:

En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld. Amen. (Matteus 28:20).

Tweedens is daar sy belofte dat Hy deur sy Gees by hulle teenwoordig sal wees:

En Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.  Nog ‘n klein tydjie, en die wêreld sien My nie meer nie; maar julle sien My, omdat Ek lewe en julle sal lewe. In dié dag sal julle weet dat Ek in my Vader is, en julle in My, en Ek in julle. (Johannes 14:16-20)

Derdens is daar die opstanding van die Here Jesus uit die dood. Juis die opdrag in Matteus 28 word gegee post-opstanding, terwyl dié van Johannes 14 die boodskap van lewe as onderbou het. 

Die onmiddelike vraag is natuurlik na die hoe van Christus se regering. As dit dan nie deur die ampte is in plaasvervangende hoedanigheid soos by die Roomse kerk nie, hoe realiseer Christus dan sy regering in die kerk. Die antwoord uit die Skrif en waarna die Reformatore teruggegryp het, is deur sy Woord en Gees. Jonker stel dit soos volg:

“Omdat Christus  die  enigste  Hoof van die  kerk  is,  kan  en  mag alleen  die  Woord  van God in die  kerk  heers.”

En verder:

“Maar dit is dan ook presies die grens van alle kerklike gesag. Die kerk het geen eie gesag op grond waarvan by iets  kan beveel wat nie op grond van Gods Woord beveel moet word nie.”

ook

“Alle gesag in die kerk is Woord  –  gesag.”

Hy maak hierdie kardinale uitspraak hieroor:

“Dit is duidelik dat hierdie hele visie op die kerkregering gedra word deur ‘n onvoorwaardelike vertroue op die lewende teenwoordigheid van Christus in die kerk en op die feit dat Hy deur Sy Woord  so  tot die gemeente sal spreek, dat die  Woord ook werklik gehoor sal word en as Woord van God erken sal word. Alles staan en val hier met die belydenis van die duidelikheid van die Woord van God, wat inhou dat die gemeente deur die werking van die Heilige Gees in staat sal wees om te beoordeel of die Woord wat verkondig word, ook werklik die Woord van God is.” [beklemtoning myne]

Met ander woorde, die uitgangspunt is dat die Skrif die Woord van God is en die prediking in lyn daarmee geskied. Alleen dan kom Christus se regering tot sy volle reg en verdwyn mense en ampte agter die skerms. Waar hierdie primêre beginsel van God se Woord nie meer geld, daar begin dwaling, want die regering van Christus moet nou plek maak vir die regering deur mense. Hetsy dit dan nou regering is deur plaasvervangende ampte of deur sekulêre bestuursbeginsels toe te pas, die mens neem die plek van Christus as alleenheerser oor die kerk in.

Ek lees in die kerkorde van die NG Kerk (2007 sowel as 2011)[2] dievolgende oor die basis waarop die NG Kerk wil staan:

Artikel 1
Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.

Hierdie uitspraak moet nie ligtelik oorgegaan word nie, want juis in hierdie eerste artikel vind die NG Kerk sy eie aanklag oor tendense wat voorop gestel word. Kom ons kyk na enkele kardinale punte wat hier ter sake is:

– Die NG Kerk grond homself op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God

Hierdie is belangrike erkenning dat die Bybel is tog God se Woord; dit is heilig en dit is onfeilbaar. Hiermee onderskryf hulle die belydenis van die kerk van Christus deur die eeue. Dit impliseer noodwendig die Goddelike inspirasie van die Bybel, anders is dit nie Woord van God nie, ook nie heilig nie en allermins nie onfeilbaar nie.

Tog staan dit in skrille kontras met wat ampsdraers in dieselfde kerk oor die Bybel te sê het. Dr Ben du Toit, parlementêre verteenwoordiger van die NG Kerk, ontken openlik alles wat in hierdie punt oor die Skrif bely word. Verwys maar na die artikel Quo Vadis NG Kerk? om te sien hoedat hy die Skrif afmaak as mense woorde oor God, hy betwyfel die goddelike inspirasie daarvan, trek die historiese feite daarvan in twyfel, die Skrif se eie verklaring word afgeskiet. Hy is egter nie die enigste leier / lidmaat in die NG Kerk wat hierdie standpunt handhaaf nie. Daar waar die Ontluikende teologie grondgevat het in die harte van lidmate, kan jy sien hoedat die Skrif se gesag nie meer erken word nie en eintlik maar ondergeskik gestel word aan die idees en geselsies van mense. Die juiste boodskap van die postmodernisme is “geen absolute waarheid” nie, en die belydenis soos in hierdie artikel vervat, is juis uitdrukking van die teenwoordigheid van absolute waarheid in die “heilige en onfeilbare Woord van God”.

– Die belydenisskrifte word bevestig as mede-betrokke by die regering van die kerk

Dit word natuurlik gekwalifiseer as “in ooreenstemming met die Woord van God”. Dit dra dus nie Goddelik-geinspireerde gesag soos die Bybel self nie, maar het afgeleide gesag omdat die oortuiging daar is dat die Gees die voorvaders gelei het om dit te aanvaar as die leer van die kerk omdat dit ooreenstem met die Bybel as Woord van God.

Dit is nie moeilik om te sien hoedat prominente figure in die NG Kerk ook besig is om die plek van die leer van die kerk, veral soos vervat in die belydenisse, af te takel nie. Professor Nelus Niemandt, voorsitter van die Algemene Sinode van 2011, maak die stelling dat lidmate is moeg vir dogma en die kerk is te veel op dogma ingestel. Die alternatief is om, in navolging van Diana Butler Bass se bevindinge, die leer van die kerk aan die agterspeen te laat suig sodat die ervaringswêreld primêr kan staan.[3] Ek het ook al verwys na onder andere Stefan Joubert wat self nie ‘n hoë agting vir die belydenisskrifte handhaaf nie – of dan ten minste nie die idee skep dat hy dit belangriker ag as ander vreemde konsepte nie.[4] Dit klink meer asof hy wil Solo eerder as om te Sola.

Ek bespeur ‘n inkonsekwentheid by die NG Kerk rondom hierdie kritiese aspekte van die regering van Christus in sy kerk deur sy Woord en Gees. In die amptelike dokumentasie word dit mooi uitgespel, soos enige kind van God dit sou wou hê en onderskryf, maar in die praktyk word ander deuntjies gespeel. Tereg stel Jonker dit as volg:

Tog blyk dit telkens weer dat die kerkreg hierdie waarheid uit die oog verloor en dan op een of ander wyse op ‘n dwaalweg geraak.

Hierdie inkonsekwente deurvoering van die kern beginsels is besig om meer chaos in die oesland te saai as toe Simson die brandende jakalse losgelaat het. Selfs hierdie artikel sou nie nodig gewees het nie indien die leiers en lidmate net weer sou ag gee op die Koningskap van Jesus Christus in die Kerk. Na my mening is die NG Kerk welliswaar besig om die grondwaarheid van die Skrif as Woord van God van die tafel af te vee en plek te maak vir die regering van die mens en sy opinies. Christus regeer deur sy Woord en Gees. Hy is die een wat dit tog so duidelik gesê het:

Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar. Judas, nie die Iskáriot nie, sê vir Hom: Here, hoe is dit dat U aan ons U sal openbaar en nie aan die wêreld nie? Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het. Dit het Ek tot julle gespreek terwyl Ek by julle bly; maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het. (Johannes 14:21-26)

Die Gees wat die Woorde van Christus lewend maak in die midde van sy kinders – daar kom Christus se regering tot sy reg. Is ons werklik besig om aan Christus sy regmatige plek te gee? Tot my spyt en skande moet ek dink ons het daarvan afgedwaal en die kudde van Christus is besig om verskeur te word deur inkonsekwentheid ten opsigte van besluite en praktiese uitvoering. Sien, die Roomse kerk sê ook Christus regeer, maar in praktyk beteken dit ‘n plaasvervangende regering, waar die ampsdraer in die plek van Christus regeer. Die NG Kerk bely dit ook, maar die uitlatings soos hierbo bewys die teendeel.

Ons sal goeddoen om te luister na wat Jonker ten slotte te sê het:

“Na alles gedoen is om die kerkorde so suiwer as moontlik te maak, sal nog onthou moet word dat die kerk op elke tree van die  weg bedreig word deur ongehoorsaamheid en verset teenoor die Woord van God. Daarom sal die gebed  vir die kerk nooit ‘n blote formaliteit mag word nie. Die kerk sal voortdurend biddend moet bly om in nederigheid en  beskeidenheid, bewus van eie feilbaarheid, enkel na Gods Woord te luister al word die Woord ook aan die kerk verkondig deur die indiwiduele lidmaat wat miskien opmerksamer luister as ‘n hele formele kerkvergadering. In laaste instansie sal die kerk moet bly bid om die genade om homself nie te wil handhaaf teenoor Gods Woord nie, maar om ruimte te maak vir die Woord, waardeur Christus alleen wil regeer in Sy kerk.”

Mag Christus weer sy plek in die NG Kerk inneem as die Alleenheerser deur sy heilige en onfeilbare Woord wat aan ons gegee is deur sy Gees van Waarheid!

 

Voetnotas

1. Jonker, W.D., Om die Regering van Christus in sy Kerk, 1965
2. Beide hierdie dokumente kan afgelaai word van http://kerkargief.co.za/dokumente.
3. Sien Nelus Niemandt beveel Alternatiewe Leefstyl aan en ook http://www.beeld.com/Rubrieke/Gasrubriekskrywers/Weg-van-kerke-na-nuwe-tuiste-20120819.
4. Sien die reeks oor die Effek van die Ontluikende Kerk op die Evangeliese Kerk, veral oor die effek op die steunpilare in die kerk.

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *