Titel

Die brief is vernoem na die skrywer Petrus. Dit is dan ook die tweede brief uit die pen van Petrus.

 

Skrywer

Uit die brief self is daar duidelik aanduidings dat die apostel Petrus die outeur van die brief was. In 1:1 identifiseer hy homself as Simon Petrus, ‘n dienskneg en apostel van Jesus Christus. In 1:14 verwys hy na die voorspelling van sy dood deur die Here Jesus self. Hy noem ook verder in 1:16-18 dat hy teenwoordig was by die Verheerliking van Christus op die berg en dat Hy die stem van die Vader gehoor het wat Jesus as sy Seun bevestig het (Mat. 17:1-8). Hy verwys ook in 3:1 na hierdie as sy tweede brief.

Daar is sekere argumente dat Petrus nie die brief geskryf het nie en dat iemand anders dit in sy naam geskryf het. Tog sou dit bedrog wees om ‘n gebeure soos die Verheerliking van Christus te gebruik om outeurskap te bevestig indien dit nie eg was nie. Sulke begrog is dan ook elders in die Skrif afgewys as oneg en ongeloofwaardig (2Tes. 2:2).

Die literêre styl van hierdie brief verskil van die dié van 1 Petrus wat kenners laat meen dit kon nie van dieselfde skrywer kom nie. Daar moet egter in gedagte gehou word dat die gebruik van ‘n “sekretaris” was nie onbekend nie, en alhoewel die apostel nie noodwendig self sou skryf nie, kon hy dit dikteer aan die sekretaris. Dit is nie gesien as bedrog nie, aangesien die boodskap duidelik sy oorsprong by die apostel gehad het. 1Pet. 5:12 noem Silvánus as sekretaris deur wie hy geskrywe het.

 

Datering

Volgens 2 Pet. 1:14 is Petrus bewus van sy dood wat baie naby is. Uit die oorlewering is hy dan ook dood in die tyd van vervolging onder keiser Nero, wat in 68 n.C. dood is. Jerusalem is dan ook verwoes in 70 n.C., dus moes die brief ongeveer 67-68 n.C. dateer.

Ook die datering van Judas speel ‘n rol in die datering van hierdie brief. Aangesien Judas hoogs waarskynlik van hierdie brief gebruik gemaak het, moes dit voor Judas die lig gesien het. Sien ook die datering van Judas.

 

Ontvangers

Min is bekend oor die ontvangers van die brief, maar uit 2Pet. 3:1 kan aangeneem word hy skrywe aan dieselfde groep as dié vir wie hy die eerste brief geskrywe het. Daar skrywe hy in 1Pet. 1:1 aan “die vreemdelinge van die verstrooiing in Pontus, Galásië, Kappadocië, Asië en Bithínië”. Hierdie was dan provinsies in ‘n area van Klein-Asië wat vandag Turkye verteenwoordig. Sy ontvangers was dus meer nie-Jode. 

 

Historiese Agtergrond

Behalwe vir die uiters moeilike sosio-politieke toestande en godsdienstige vervolging van die kerk (sien ook die Historiese Agtergrond van Judas), het Petrus onder die indruk gekom van die opkoms van dwaalleraars wat stadig maar seker die kerk in Klein Asië begin teiken het. Dit is vir hom ook duidelik dat dit nie ‘n tydelike situasie sou wees nie, maar hulle sou vorentoe net nog meer skade aan die kerk berokken. Daarom is dit vir hom nodig om hulle met soveel dringendheid te herinner aan die geestelike gevaar van hulle valse leringe.

Aan die hand van 1:12-15 is daar redelike konsensus dat Petrus ten tyde van die skrywe van hierdie brief in ‘n tronk in Rome moes gewees het. Dit benadruk net die teenwoordigheid van godsdienstige teenstand teen die boodskap van die kerk en die vervolging waaronder die gelowiges moes deurloop. Dit is wel interessant dat hierdie vervolging nie die fokus in hierdie brief was nie, maar juis die teenwoordige gevaar van geestelike dwaling en verval. Gesien teen die lig van die eerste brief wat ‘n bepaalde perspektief op vervolging van die gelowige plaas, is fisiese dood vir Christus nie ‘n probleem nie. Die verval weg van die waarheid in Christus is wel rede vir kommer.

 

Doel

2 Pet. 3:1b-2 lig die spesifieke doel met hierdie (en ook die eerste) brief duidelik uit: 

In albei wil ek deur herinnering julle suiwere gesindheid opwek, 2 sodat julle die woorde kan onthou wat deur die heilige profete tevore gespreek is, en die gebod van ons, apostels van die Here en Verlosser.

Die tema van herinnering is een wat redelik duidelik in die brief na vore kom. Hy verbind homself in 1:12-15 redelik tot die herinnering van die gelowiges oor die waarheid wat hulle geleer is aangaande die evangelie van Jesus Christus en die krag daarvan in die gelowige se lewe (1:3-11). 

 

Teologiese Temas

Petrus het ten doel om die uitwerking van die valse leraars op die kerk te openbaar en die gelowiges in te lig oor die aard van die dwaling waarmee hulle te kampe sal kry. Saam met die brief aan Judas is dit seker die duidelikste beskrywing van die ware aard van dwaalleraars in die Nuwe Testament. Petrus is nie gemik yeen ‘n spesifieke groep binne die kerk nie, maar dwaling in die algemeen. Vir hom lê die ware uitwerking van dwaling in ‘n immorele lewensstyl, en daarom takel hy die leer sowel as die lewe van die dwaalleraars. Hy maak mildelik gebruik van illustrasies uit die Ou Testament geskiedenis om die oordeel oor en karakter van die dwaalleraars te beskryf. Hierdie illustrasies sluit in

  • die rebellie van die geesteswêreld (2:4)

  • die sondvloed (2:5)

  • Sodom en Gomorra (2:6)

  • Bileam (2:15-16)

Verder wil hy ook die effek van die evangelie op die leefstyl van die gelowige duidelik maak (1:3-11).

Daar is ook die klem op die goddelike karakter van die apostoliese geskrifte en getuienis, sowel as die die Ou Testamentiese geskrifte (1:12-21; 3:1-2; 3:15-16). Belangrike komponente hier is die basis vir die leer oor die Skrifinspirasie en die gesag van Paulus se briewe.

Die brief hanteer ook die vraagstuk oor die vertraging van koms van die Here Jesus in detail (3:1-13).

Die brief plaas ook groot klem op kennis. Vir Petrus is die enigste teenvoeter vir die valse lering kennis van die ware leer.

 

Plek in die Kanon

Ten spyte van die duidelike aanduidings deur Petrus die apostel dat hy die outeur van die brief is, was hierdie brief “stadiger” aanvaar tot die Nuwe Testamentiese kanon as die eerste brief. Die Kanon van Muratori verwys nie na een van die twee briewe nie. Origenes verwys aan die begin van die derde eeu vir die eerste keer by name daarna. Eusebius, die kerkhistorikus, het dit ingesluit in sy lys van betwisde boeke, saam met Jakobus, Judas, 2 en 3 Johannes.

 

Literêre Vorm

Die algemene literêre vorm is dié van die brief met die duidelike afdelings:

  • Opening en seëngroet (1:1-2)

  • Liggaam (1:3-3:18a)

  • Afsluiting (3:18b)

Daar is ook die “vaarwel” teks in 1:12-15. Hierdie tipe tekste het die volgende komponente:

  • Aankondiging van die nabyheid van die einde van aardse lewe

  • Herinnering aan wat geleer is

  • Opdrag oor die inrig van die lewe nadat die leier weg is

  • Voorspelling oor die toekoms

 

Struktuur

  1. Opskrif en Seëngroet (1:1-2)

  2. God se genade in Christus is die bron vir ‘n goddelike lewe (1:3-11)

    1. God se krag ter wille van gelowiges (1:3-4)

    2. Verantwoordelikheid om alles te doen om goddelik te lewe (1:5-7)

    3. Effektiewe lewe vir Christus (1:8-11)

  3. Petrus herinner die gelowiges (1:12-21)

    1. Aansporing tot ‘n heilige lewe (1:12-15)

    2. Petrus se ooggetuie ervaring as basis vir sy prediking (1:16-18)

    3. Die waarheid aangaande Christus geanker in die profesieë van die Skrifte (1:19-21)

  4. Evaluering van Valse leraars (2:1-22)

    1. Invloed van die valse leraars (2:1-3)

    2. Oordeel oor die valse leraars (2:4-10a)

    3. Karakter van die valse leraars (2:10b-16)

    4. Invloed van die valse leraars (2:17-22)

  5. Die Dag van die Here is aan die kom (3:1-13)

    1. Spotters beveg die waarheid van die Skrif oor die koms van die Here Jesus (3:1-7)

    2. Die geduld van God bepaal die tydsberekening (3:8-10)

    3. Lewe uit die toekomsverwagting van die koms van Christus (3:11-13)

  6. Slotopmerkings (3:14-18a)

    1. Toewyding (3:14)

    2. Verdraaing van die Skrifte (3:15-16)

    3. Hantering van die leringe van Paulus (3:17-18a)

  7. Afsluiting (3:18b)

 

Leave a comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *